# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Grense van Vrede

Nie so lank gelede nie, het ek gery met die pragtige hoofweg langs die kuslyn van Mexico na Kanada, en eindelik het ek gekom by 'n pragtige poort, gebou in die vorm van 'n boog. 

Dit was eers vir my vreemd om so iets te sien, want daar was dit gebou in die middel van 'n ploegland, en sonder 'n heining aan weerskante. Ek het gewonder waarom hulle so 'n pragtige poort daar gebou het op so 'n afgeleë plek.

Maar toe ek nader kom, het ek die rede ontdek. Hierdie boog staan op die onsigbare grenslyn tussen Kanada en die Verenigde State - 'n grenslyn wat vir meer as drieduisend myl strek oor grasvlaktes en berge en deur bosse en mere, van die een kus na die ander, en sonder een enkele fort of vesting. Dit is inderwaarheid 'n grenslyn van vrede!

Hierdie mooi boog-poort is 'n simbool van blywende vriendskap en welwillenheid tussen daardie twee groot lande. Op die een kant van die boog staan die woorde, "Broeders wat saamwoon in Eensgesindheid".

En op die anderkant staan die woorde, "Kinders van een Moeder".

Aan bedie kante van die boog wapper die vlae van die twee volke, die Union Jack, en die Stars and Stripes.

Maar wat my die meeste getref het, was die hekke by daardie poort.

Hekke! vra julle? Hoe kan daar hekke wees as daar geen heining is nie?

Dit is die snaakste hekke wat ek nog ooit gesien het; hulle was so klein en swak. As iemand hulle ooit sou toemaak, sou die wind hulle sommer wegwaai! Net bokant die hekke het die volgende woorde gestaan: "Mag hierdie hekke nooit toegemaak word nie."

Sou dit nie 'n goeie ding wees as daar sulke poorte kon wees op die grense van alle lande nie? As sulke simbole van vriendelikheid en welwillendheid alle forte en vestings en die duisende myle van versperrings tussen volke kon vervang, sou hierdie wêreld seker 'n baie aangenamer plek wees om in te woon! Baie van die probleme wat daar vandag is, sou verdwyn! Alhoewel so iets miskien nie moontlik is weens toestande soos hulle vandag is nie, behoort seuns en dogters vredespoorte op te rig net waar hulle kan, sodat hulle na ander kinders en hulle probleme deur daardie poorte sal kan kyk.

Alhoewel ons nie landsgrense kan verander nie, kan ons ten minste sorg dat daar geen versperrings tussen ons harte en ander harte is nie. In ons omgang met ander mense, of dit kinders by die skool is, of die bure wat langs ons woon, en of hulle ryk of arm is, moet ons onthou dat ons almal "kinders van een Moeder is". En sover as dit in ons mag is, moet ons lewe "soos broeders wat in eengesindheid saamwoon." Laat die poorte van ons hart altyd vir almal oop wees.

Op hierdie manier sal ons almal kan bydrae tot die bewaring van vrede.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell