# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Getroue ou Wagter

Van honde gepraat, laat my dink aan iets wat ek verlede somer gesien het op 'n afgeleë plek. Ons sal hom maar Wagter noem, want ek het nooit sy regte naam gehoor nie.

Dit was op die lang treinreis van die ooskus van Amerika na Chicago. Die trein was besig om die westelike hange van die Rotsgebergte uit te klim; met kronkels en draaie het hy steeds hoër geklim, duisende voet bokant seespieël.

Dit is 'n baie verlate stukkie wêreld daardie, maar dit het darem 'n skoonheid van sy eie. 'n Mens ry soms vir myle sonder om wonings te sien, behalwe so nou en dan 'n eensame huisie, of 'n groep werkers langs die spoor.

Daar is vir jou regtig 'n niemandsland!

En om dan skielik 'n hond te sien!

Eers kon ek my oë nie glo nie, en ek het by die venster uitgeleun om seker te maak. Ja, dit was 'n hond - 'n pragtige swart jaghond - wat so hard as wat hy kon langs die trein gehardloop het.

Waar sou sy huis wees? Waarom was hy daar? Sou hy wou hê dat die trein moet stop en hom oplaai? Toe het daar 'n interessante ding gebeur. Uit die laaste wa het iemand 'n koerant gegooi. Dadelik het die hond gestop, omgedraai, dit gegryp as asof hy baie belang gestel het in die nuus van die buitewêreld. Toe het een van die kuiers gekom na die venster waar ek gestaan en kyk het na die hond. Ek het hom gevra of hy my iets kon vertel van die hond.

"Ja," het hy gesê, "dit is die getrouste hond wat ek nog ooit gesien het. Hy behoort aan 'n man wat daar gunter woon, en vir jare nou al, winter of somer, is hy hier om sy baas se koerant te kom haal."

"Maar wat van die winter wanneer dit sneeu, en julle 'n sneeuploeg moet gebruik om die spoor voor die lokomotief  skoon te maak?" het ek gevra.

"Vir hom maak dit geen saak nie. Of dit kapok, reent, of hael, hy is altyd hier op sy pos. Om die waarheid te sê, as ons hom nie sien, sou ons wonder wat gebeur het."

Getroue Wagter! Ons bewonder sy moedigheid!  Ek het weer by die venster uitgeleun om nog eens te kyk hoe sy swart lyf glinster toe hy daar om die draai verdwyn.

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell