Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Georgie lei die Sang

Dit was in die oorlog. Daar was 'n lugaanval op die stad. Baie mense is gedood en beseer, en 'n hele aantal huise is in die puin gelê.

Die hospitale was vol van die beseerdes, en die dokters en verpleegsters het nog nooit hulle hande so vol gehad nie.

En toe, een koue wintersmôre, het daar 'n vreemde ding gebeur.

Dit was nog baie vroeg - nog nie sesuur nie - dit het net begin lig word. 'n Verpleegster het by 'n groot hospitaal uitgekom, en op die trappies het sy iets gesien wat soos 'n bondel klere lyk. Sy het ondersoek ingestel, en daar het sy 'n seuntie toegedraai gevind! Hy was seker nie ouer as vier jaar nie, en die droefheid in sy groot bruin oë het dadelik haar hart aangeraak.

"Wat doen jy hier so vroeg in die oggend?" het sy vriendelik gevra. Die seuntjie het nie geantwoord nie, maar gewys na 'n stukkie papier wat aan sy jassie gespeld was.

Die verpleegster het dit afgehaal en gelees: "My naam is Georgie. Ek is nog nie vier jaar oud nie. My Mammie is dood. My ouma is dood. Sorg asseblief vir my."

"Jou arme kind," het die verpleegster gesê terwyl sy hom optel en teen haar vasdruk. "Maar wat sal ons met jou maak?"

Sy het die snaakse bondel na binne geneem en gevra wat hulle met Goergie moes doen.

Die ander verpleegsters was ook baie jammer vir hom, en wou alles doen wat hulle kon om hom te help, haar die besige dokters het gesê dat hulle nie nou met Georgie kon sukkel nie. Hy moet dadelik na 'n weeshuis gestuur word.

Maar die verpleegster wat Georgie op die trappies gevind het, wou nie hê dat hy so gou moes weggaan nie, en sy het besluit om self iets te probeer doen. Sy het orals gesoek na 'n hoekie waar sy Georgie kon sit sodat hy nie in die pad sou wees nie.

Sy het gesoek en gesoek, maar al die plekke was vol. Eindelik het sy 'n hoekie gevind in die saal vir ou dames; daar was 'n plekkie net groot genoeg vir 'n kinderbedjie.

Die oumense het baie gelang gestel in Georgie, en hulle het glad nie omgegee om hom daar te hê nie, want dit het hulle ten minste iets gegee om oor te gesels. En dan ook was Georgie baie stil en hy het niemand gehinder soos sommige gevrees het nie.

Die eerste aand daar in die vroue-saal het die verpleegster gekom om hom in sy bedjie toe te maak. Nadat sy hom naggesê het en wou loop, het Georgie met haar gepraat en gesê:

"Ek wil 'n gebedjie opsê." Ewe ernstig het hy die verpleegster aangestaar. Die verpleegster was verbaas. Hoe kon 'n seuntjie van nog skaars vier jaar iets weet van bid, het sy gedink? Hy moes seker 'n baie goeie Moeder en 'n goeie ouma gehad het.

"Nou, goed," het sy gesê. "Sê maar jou gebedjie op. Hoe sal ons begin?"

"Maak toe jou oë," het Georgie gesê.

Die verpleegster het geglimlag en gehoorsaam.

"Hou jou hande saam," het Georgie gesê, en weer het die verpleegster gehoorsaam.

"Nou is ons gereed," het Georgie gesê, en hy het begin.

Hier is die gebedjie wat hy gebid het:

"Jesus, troue Herder, hoor my;
Seën U lammetjie vannag.
Wees in die donker my naby,
Bewaar my veilig tot die dag.
Amen."

ToeGoergie sy ogies oopmaak, was die verpleegster net besig om hom 'n soen te gee.

"Ek sing dit môre," het sy gesê.

"Goed," het die verpleegster gesê, "jy sal."

Die volgende oggend het Georgie sy gebedjie gesing. En af en toe gedurende die dag het hy dit gesing tot bewondering van almal in die saal.

En toe, een aand, was daar weer 'n lugaanval. Die alarm is geblaas, en almal was vreesbevange, alhoewel almal geprobeer het om dapper te wees.

Die bomwerpers het hulle bomme gelos en dood en verwoesting gesaai.

Die hele hospitaal was verdonker, met die weerkaatsing van die soekligte deur die wolke kon gesien word.

Die afweergeskut het losgebrand, en onder die lawaai kon die bomontploffings gehoor word. Die bomwerpers het al nader gekom, en die ou dames in die hospitaal het die komberse oor hulle hoofde getrek, asof dit sou help. Skielik was daar 'n geweldige ontploffing sommer digby die hospitaal. Die geboue is geskud en al die vensters is stukked geruk. In sommige gevalle is selfs die venterrame uitgeruk.

Die vroue het gegil van vrees, en een het beswyk aan hartverlamming. die arme Georgie wat aan die slaap was, is deur die slag wakker geskud, en hy het begin huil. Hy het aanhoudend gerope: "Ek wil my ouma hê! Ek wil my ouma hê! Maak lig die donker! Maak lig die donker!"

Die verpleegster het na hom toe gegaan en gevra: "Is jy veilig, Georgie?"

"Ek wil my ouma hê!"  het Georgie huilend gesê. Maak lig die donker!"

Die verpleegster het hom opgetel en geprobeer stilmaak. Toe het sy skielik 'n ingewing gekry.

"Georgie," het sy gefluister, "Sing".

"Ek wil nie sing nie," het Georgie snikkende gesê. "Maak lig, maak lig-"

"Nee, Georgie, jy moet sing," het die verpleegster gesê. "Dit sal ons almal help."

"Wat moet ek sing?"

"Sing daardie gebedjie van jou. Toe, toe, Georgie, sing dit."

En toe het Georgie met 'n huilstemmetjie begin sing:

"Jesus, troue herder, hoor my:
Seën U lammetjie vannag.
Wees in die donker my naby,
Bewaar my veilig tot die dag."

Daar het toe 'n wonderlike ding gebeur.  Daar ver in die saal, in die stikdonker, het 'n ander stem bewerig begin saamsing. Dit was een van die ou dames, en sy het Georgie se liedjie gesing: "Jesus, troue Herder, hoor my."

Toe het nog een, en nog een begin sing daar in die donker, en eindelik het almal gesing.

Georgie se bangingheid het begin oorgaan, en hy het al harder gesing. Almal het sommer beter gevoel toe hulle hom hoor, want dit was asof sy liedjie God baie naby gebring het.

Hulle het aangehou sing totdat die lawaai van die lugaanval gedaar en die ligte weer aangeslaan was. Dit was 'n baie mooi ding wat Georgie daardie nag gedoen het!

Miskien sal julle ook eendag so iets kan doen; ek bedoel om in die nag te sing; sang wat ander sal bemoedig en hulle vrees sal wegneem.

Al is julle ook hoe klein, net so klein soos Georgie, kan julle help om ander mense bly te maak.

Dit is wat die Bybel bedoel waar ons lees: "'n Klein seutjie sal hulle drywe."

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell