# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Geoffrey se Orkesmanne

Dit het gebeur onderweg terug van die orkes. Ek bedoel die rusie het toe plaasgevind. As 'n spesiale guns is Geoffrey en sy suster Anne een aand na 'n orkesuitvoering geneem.

Hulle het graag gaan luister, en hulle het hulle Pappie belowe dat hulle hulle vir weke soos engeltjies sou gedra as hy hulle na die orkes sou neem. Maar natuurlik, sodra die uitvoering verby was, het hulle soos gewoonlik al hulle mooi beloftes vergeet.

Wel, een aand, na hulle weer by die orkes was, en Pappie, Geoffrey, en Anne op die punt gestaan het om huis toe te gaan, was die twee weer aanmekaar.

Albei wou Pappie se regterhand neem. Dit was sommer 'n lawwe ding om oor rusie te maak, want Pappie het ook 'n linkerhand gehad wat net so lekker vasgebou het as sy regterhand.  Maar, soos ons weet, ontstaan rusies gewoonlik oor nietige dinge.

"Ek was eerste daar," het Geoffrey gesê.

"Nee, jy was nie; ek was," het Anne gesê.

"Ek was eerste, weg is jy hier," het Geoffrey gesê. "Maar watter saak maak dit tog?" het Pappie gevra. "Ek het Pappie se regterhand eerste gehad," het Geoffrey gesê.

"Nee, ek het," het Anne gesê. "In elk geval, dis my beurt."

"Dit is nie."

"Dit is."

"Dit is nie."

"Hou dadelik op, julle!" het Pappie desperaat uitgeroep. "Wat sal die mense van julle dink wat so laat in die nag hier staan en rusiemaak?"

"Dis my plek," het Geoffrey uitgeroep, sonder om die geringste notisie van sy Pappie te neem, en hard besig om Anne weg te druk.

"Dis nie joune nie, dis myne," het Anne geskreeu terwyl sy Pappie se regterhand stywer vasklem.

"Sal jy nou ophou, Geoffrey?" het Pappie baie beslis gesê. Kom van jy my ander hand."

"Ek wil nie," het Geoffrey stuurs gesê, en hy het ook sommer begin agterbly. Ek sal alleen huis toe loop."

"Goed," het Pappie gesê. "Maar ek sal jou gedrag vanaand nie gou vergeet nie."

So het hulle dan begin huis toe stap. Geoffrey het al meer en meer agtergeraak. En hy het sy voete gesleep soos watter ou man.

Dit was al lank verby slapenstyd toe hulle eindelik by die huis kom, en Moeder het die kinders bed toe gestuur sonder om te vra waarom hulle so laat was. Geoffrey was gou onder die komberse en vas aan die slaap.

Kyk! Wat is dan nou aan die gang. Hy was weer terug by die orkes. Maar dit kan nie wees nie! Dit is tog; en tot sy groot verbasing was hy die dirigent. Agter hom was honderde mense, onder hulle baie wat hy herken. Baie seuns van sy skool was ook daar. Hy het vreeslik trots gevoel. Was hy dan nie dirigent van die orkes, en dit voor al sy skoolvriende nie. Aai! maar sal hulle nie graag in sy plek wil wees nie? Hy het besluit dat hy hulle sou vergas op die heerlikste musiek wat hulle nog ooit gehoor het.

Hy het sy oog so laat val oor die orkeslede. Ja, hulle was almal daar. Was hulle gereed om te begin? Ja. Toe het hy so 'n paar rapse met sy stok gegee, vreeslik trots, maar nie een van die manne het 'n beweging gemaak nie.

Hy het weer 'n paar rapse gegee, maar niemand het die geringste  notisie van hom geneem nie.

"Begin!" het hy geskreeu. "Kan julle nie hoor nie? Begin!"

Toe het die tamboerslaner sy tamboer begin hamer, en die man met die skuiftrompet het een lang blêrgeluid gemaak. Die mense agter hom het gelag. Hy kon hoor hoe sy skoolvriende giggel.

"Speel!" het hy weer geskreeu. "Begin! Begin almal van julle!"

Hy het woes die maat begin slaan met sy stok. Die man met die fluit het 'n harde noot geblaas en toe opgehou. Toe het die kornette elk verskillende deuntjies begin speel. Geoffrey was raadop. Hy het sy arms geswaai in 'n poging om die maat te slaan, maar alles was deurmekaar. Elke orkesspeler het sy eie deuntjie gespeel. Geoffrey het vir hulle geskreeu om na die musiek voor hulle te kyk, maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie. Die verwarring was te verskriklik. Elke speler het sommer woes op eie houtjie te kere gegaan, sonder om hom aan die ander te steur. Sommige het "Three Blind Mice" gespeel, en ander "Home Sweet Home," nog ander het "Old Man River" en "Amerika" alles deurmekaar gespeel. elke orkeslid het gespeel wat hy wil, hoe hy wil, en wanneer hy wil.

Wat Geoffrey betref, wel, niemand het van hom enige notisie geneem nie. Hy kon net so goed nie daar gewees het nie. En tog het hy gevoel dat hy verantwoordelik was. Die gehoor het groot dinge van hom verwag. Was dit al wat hy kon doen! Dit was te vreeslik; die lawaai het al erger geword, en Geoffrey was rasend.

"Stop!" het hy gegil so hard as wat hy kon. "Stop julle daar! Kan julle nie hoor nie? Doen wat julle gesê word. Waarom luister julle nie na my nie? Stop! Stop! hoor julle!"

"Toe nou maar," het Moeder gesê, terwyl sy haar hand op sy hoof sit. "Dis alles reg, bedaar maar, Geoffrey."

Geoffrey het penregop in die bed gesit. "Dan is ek nie by die orkes nie," het hy gesê.

"By die orkes?" het Pappa gelag. "Jy is in die bed, man!"

"O!" het Geoffrey gesê. "Pappa moes hulle gehoor het. Hulle wou nie doen wat ek hulle gesê het nie. Hulle was baie ongehoorsaam. Elkeen het sy eie deuntjie gespeel so luid as hy kon, en hulle het nie die geringste notisie van my geneem toe ek vir hulle geskreeu het nie."

"Wie?" het Pappa gevra.

"Die Orkesmanne, natuurlik. Het Pappie nie die lawaai gehoor nie?"

"Nee, ek het nie," het Pappie gesê. "Ek het 'n lawaai gehoor, en ek het ook iemand hoor rusiemaak toe ons vanaand van die orkes af gekom het."

"O, ja, nou onthou ek," het Geoffrey gesê, want hy was nou nugter wakker. "Ek wonder of dit die rede is waarom ek daardie vreeslike droom gehad het?"

"Ja, ek dink so," het Pappie gesê.

"Wel, nou praat ek nie meer nie," het Geoffrey gesê terwyl hy weer op sy kussing wegsak.

Toe Geoffrey die volgende oggend wakkerskrik, het hy nie sy droom vergeet nie; en Pappie het hom altyd aaraan herinner wanneer hy geneig was om ongehoorsaam te wees.

Elke keer wanneer Geoffrey tekens getoon het van koppigheid en ongehoorsaamheid, was dit net vir Pappie nodig om te vra, "Wat van jou orkesmanne?"

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell