# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Geen glas tussen-in nie

Hier is 'n baie mooi storie wat ek 'n tydjie gelede gehoor het. Sover ek weet, is dit heeltemal waar; al wat ek nie weet nie is die seun se regte naam, en daarom sal ons hom maar Peter noem. 

Peter het in een van die armste agterbuurtes van 'n groot stad gewoon. Hy was 'n weeskind. Sy Vader en Moeder het gesterf toe hy nog baie klein was. Hy het destyds gewoon by 'n vrou wat dikwels na die kantien gegaan en haar dronk gedrink het. Sy het hom baie geslaan, en nooit genoeg gegee om te eet nie. Sy klere was vuil en stukkend, en sy tone het by sy skoene uitgesteek.

Dis miskien nie eens nodig om te sê dat Peter nooit sakgeld gekry het om vir hom lekkers of speelgoed te koop nie. Een van die dinge waarvan hy baie gehou het, was om voor die winkelvensters te staan en kyk na die mooi goed daarbinne. Hy kon natuurlik nooit eens aan die goed raak nie, want alles was agter die glas van die vensters. Soms het hy met sy hande aan die glas geraak en hom verbeel dat hy aan die mooi speelgoed binne vat.

Daar was een ding wat hy baie graag wou gehad het, en dit was 'n kassie vol van daardie soldaatjies. Hy kon soms vir 'n lang tyd staan en kyk na daardie soldaatjies in hulle veelkleurige uniforms. As hy maar net een van daardie soldaatjies kon besit as sy eie!

Hy moes egter maar tevrede wees om net na hulle te kyk daar agter die glas. Eendag het Peter 'n ongeluk gehad. Terwyl hy 'n straat oorgesteek het, het hy oor 'n hond gestruikel en geval met die gevolg dat 'n motor oor sy been gery het. Mense het om hom saamgedrom, en baie gou was hy in 'n ambulans onderweg na die hospitaal.

Hy het wakkergeskrik in 'n skoon, wit bedjie, en 'n baie vriendelike gesig het oor hom gebuk. Alles was so anders as wat hy aan gewoond was, dat hy gedink het dat hy in die hemel moet wees.

Later, toe hy begin beter voel het, het die verpleegsters hom gehelp om regop te sit, en hulle het aan hom gesê dat as hy soet is, mag 'n baie spesiale persoon hom kom besoek.

Dit was Kersfees, en in die namiddag het 'n paar van die verpleegsters die saal binnegekom met 'n baie deftige dame. Die dame het presente aan die kinders gegee, en eindelik het sy by Peter se bedjie gekom.

Met 'n glimlag het sy 'n doos aan Peter gegee, en hy het baie mooi gesê: "Baie dankie mevrou." Gretig het hy die papaier afgeeskeur.

Skielik het hy gegil van blydskap, so hard dat almal omgekyk het om te sien wat hom so blymaak.

"Jy lyk baie bly," het die dame met 'n glimlag gesê.

"O, dis die soldaatjies, en daar is geen glas tussen-in nie!"

Daardie woorde van Peter, het my laat dink aan amper net sulke woorde in die bybel, waar die apostel Paulus sê: "Nou sien ons deur 'n spieël,...maar eendag van aangesig tot aangesig."

Wat Paulus bedoel het, was dat alhoewel ons nie nou alles kan hê wat ons graag wil hê nie, en ons so dikwels verkeerd verstaan word, sal ons eendag, wanneer Jesus kom, alles duidelik verstaan en sien. Al die mooi dinge sal aan ons gegee word, en daar sal geen glas tussen-in wees nie.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell