# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Frederick Fritz Joubert Duquesne

Frederick "Fritz" Joubert Duquesne (soms geskryf as Du Quesne en uitgespreek in Afrikaans as Doe-kein) (21 September 1877 – 24 Mei 1956) was ’n Suid-Afrikaanse Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, Anglofoob, makelaar, saboteur, spioen en avonturier wie se haat vir die Brittehom gedryf het om vrywillig in albei Wêreldoorloë vir Duitsland te spioeneer.

As Boerespioen was hy bekend as die Swart Luiperd en hy is ook bekend as die man wat Kitchenerse dood veroorsaak het aangesien hy beweer dat hy in 1916 die HMS Hampshire gesaboteer en laat sink het waarop Lord Kitchener was op weg na Rusland. As Duitse spioen was sy kodenaam DUNN. In 1942 is hy en 32 ander lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat skuldig bevind in die grootste spioenasieverhoor in die geskiedenis van die VSA.

Frits Joubert Duquesne is in Oos-Londen in die Kaapkolonie in 1877 gebore. Sy gesin het na sy geboorte na Nylstroom in die Zuid-Afrikaansche Republiek verhuis waar hulle begin boer het. Toe hy 17 was, is hy na Londen gestuur om te gaan studeer. Daarna het hy aan die Académie Miltaire Royale in Brussel gestudeer. Genl. Piet Joubert, ’n held in die Eerste Vryheidsoorlog en Kommandant-Generaal van die Suid-Afrikaansche Republiek (1880–1900) was sy oom.

Terwyl hy in die Britse weermag was het hulle deur sy ouers se plaas in Nylstroom gereis waar hy met sy eie oë gesien het hoe Kitchener se Verskroeideaardebeleid geïmplementeer is. Hy het ook nuus ontvang dat sy suster verkrag en vermoor is en dat sy moeder aan’t sterf was in ’n konsentrasiekamp. Duquesne was vervul met afgryse en haat. Hy het daar besluit dat hy op Kitchener en die Britte sou wraak neem. Kitchener was die teiken van die mislukte poging van massa sabotasie in Kaapstad.

Vir baie jare, van die begin van die Tweede Vryheidsoorlog af, was Duquesne onder bevel dat hy die geprese Amerikaner Frederick Russell Burnham, verkennerhoof vir die Britse magte, moes vermoor. Hulle het mekaar egter eers in 1910 ontmoet toe albei in Washington, D.C. was waar hulle stemme gewerf het van die Amerikaanse Kongres om die invoer van Afrika-wild toe te laat in die V.S.A. (H.R. 23621). Na sy terugkeer na Amerika het Burnham aktief gebly in kontraspioenasie vir Brittanje en baie van dit het te doen gehad met Duquesne.

Van die grootste goudmyne in die wêreld was in die Boeregebied en gedurende die Tweede Vryheidsoorlog is van die goud per trein gestuur na die neutrale Portugese hawe by Lourenço Marques (nou Maputo), Portugees-Oos Afrika, om te betaal vir wapens en ammunisie. In die laaste maande van die oorlog is van hierdie goud per skip na Nederland gestuur om te betaal vir die ammunisie. Duquesne was in beheer van een van die groot goudvragte wat per wa na Lourenço Marques gestuur is maar die goud het nooit die bestemming bereik nie. Terwyl hulle in Portugees Oos-Afrika was het ’n onenigheid tussen die Boere ontstaan. Na die onenigheid het Duquesne opdrag gegee dat die goud in die Luiperdgrot weggesteek moes word, maar dat die waens verbrand moes word. Wat van die goud geword het sedertdien is steeds ’n raaisel.  

Na sy ontsnapping van Bermuda het Duquesne in New York Stad te lande gekom waar hy werk gekry het as verslaggewer vir die New York Herald. Hy het bekend geword as ’n reiskorrespondent, grootwildjagter en storieverteller terwyl hy in New York was. Die Tweede Vryheidsoorlog het ten einde geloop met die ondertekening van die Verdrag van Vereeniging en, met sy familie nie meer in die lewe nie, het Duquesne nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie. Hy het deur naturalisasie ’n Amerikaanse burger geword in Desember 1913.

Hy is na Port Arthur gestuur om verslag te lewer oor die Russies-Jappanese Oorlog, asook na Marokko om oor die Riffynse Opstand verslag te lewer. Teen 1910 het hy Theodore Roosevelt se persoonlike skietinstrukteur geword en saam met hom gaan jag. Hy het ook later in Australië verskyn en na homself verwys as “Kaptein Claude Sloughton” van die Wes-Australiese Ligte Berederegiment waar hy lesings oor die Groot Oorlog gelewer het.

Nadat hy in 1914 ’n Duits-Amerikaanse nyweraar in die Amerikaanse Middeweste ontmoet het, het Duquesne vertrek na Brasilië as “Frederick Fredericks” met die voorwendsel dat hy “navorsing oor rubberplante” sou gaan doen. Hy het egter tydbomme wat vermom is as mineraalmonsters, op die Britse skepe geplant. Van hierdie skepe het die Salvador, Pembrokeshire en die Tennyson ingesluit. En van sy bomme het ook ’n brand op die Vauban tot gevolg gehad.

In 1916 is Duquesne vereer met die Ysterkruis vir die sabotering en ondergang van die HMS Hampshire, waarvan Veldmaarskalk Kitchener en die meeste van die bemanning verdrink het. Volgens Duitse rekords het Duquesne die identiteit van die Russiese Graaf Boris Zakrevsky aangeneem en by Kitchener in Skotland aangesluit. Oppad na Rusland het Duquesne die sein vir ’n Duitse U-boot gegee om hulle te waarsku dat Kitchener se skip oppad was. Hy het in een van die vlotte ontsnap net voordat die Hampshire gesink is.

In 1916 het Duquesne ook ’n berig in die koerant geplaas waarin hy sy eie dood aankondig in Bolivia aan die hand van boorlinge van die Amasone. Toe hy in New York op 17 November 1917 gearresteer is op aanklagtes van versekeringsbedrog vir “mineraalmonsters wat verloor het” met die skepe wat gesink het aan die Brasiliaanse kus, waaronder die Britse stoomskip Tennyson wat op 18 Februarie 1916 gesink is, het hy ’n groot lêer met koerantuitknipsels oor bomontploffings op skepe by hom gehad, asook ’n brief van die Assistent Duitse Visekonsulaat in Managua, Nicaragua. Die brief het aangedui dat Kaptein Duquesne ’n man was wat aansienlike diens gelewer het vir die Duitse saak. Teen hierdie tyd het die Britse owerhede ook na Duquesne gekyk as die agent wat verantwoordelik is vir die “moord op die oop see, brandstigting, vervalsing van admiraliteitsdokumente en sameswering teen die Kroon”.

Amerikaanse owerhede het ingestem om Duquesne aan Brittanje uit te lewer indien die Britte hom daarna sou terug stuur om tronkstraf uit te dien vir die bedrog wat hy gepleeg het.

Na sy arrestasie in New York, en in afwagting op uitlewering aan Brittanje, het Duquesne voorgegee om verlam te wees en is hy gestuur na die gevangenesaal te Bellevue Hospitaal. Op 25 Mei 1919, na byna twee jaar se skynverlamming, het hy homself as ’n vrou vermom en ontsnap deur die tralies van se sel te sny en oor die muur na sy vryheid te klim. Polisiekommissaris Richard E. Enright het die volgende bulletin uitgestuur:

Hierdie man is gedeeltelik verlam in die regterbeen en loop altyd met ’n kierie. Mag vra vir behandeling by ’n hospitaal of privaat dokter. Hy het ook ’n velsiekte wat ’n vorm van ekseem is. Indien gevind, arresteer, hou en kontak Speurafdeling, Polisiehoofkantoor, New York Stad en ’n offisier sal gestuur word met die nodige papiere.

Ongeveer ’n jaar later het hy in Boston opgeduik onder die skuilnaam afgetrede Britse majoor Frederick Craven. Hy het verskeie ander skuilname ook gebruik waaronder Kolonel Beza, Piet Niacud asook Kaptein Fritz du Quesne (sy regte naam en rang).

Van hierdie tydperk in sy lewe is min bekend, slegs dat hy as vryskut joernalis gewerk het en ’n agent vir Joseph P. Kennedy se rolprentvervaardigingsagentskap was. Dit is ook gedurende hierdie tyd dat hy met Clement Wood saamgewerk het om sy biografie bekend as Die man wat Kitchener se dood veroorsaak het. Die regte is aan ’n rolprentmaatskappy verkoop.

In 1932 is Duquesne verraai deur ’n vrou wat sy werklike identiteit aan die FBI verskaf het. Hy is gearresteer en die Britse owerhede wou hom weer uitgelewer hê. Hy het homself in die hof verdedig. Die regter het beslis dat, alhoewel die klagtes meriete gehad het, die wet van beperkings reeds verval het.

Op 28 Junie 1941, na ’n ondersoek wat twee jaar geduur het, is Duquesne gearresteer deur die FBI saam met twee ander medewerkers op aanklagte dat hulle geheime inligting omtrent Geallieerde wapentuig en skeepsbewegings aan Duitsland gelek het. Agente het daarin geslaag om lede van Duquesne se sindikaat te verfilm waar hulle inligting aan William G. Sebold, ’n geheimde FBI-informant en dubbelagent, lek.

Op 2 Januarie 1942 is die 33 lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat, die grootste spioenasiesindikaatskuldigbevinding in die geskiedenis van die VSA, gevonnis tot ’n totaal van meer as 300 jaar tronkstraf. Een Duitse spioenmeester het later gesê dat die sindikaat se vonnis die doodshou vir hulle pogings tot spioenasie in die VSA was. J. Edgar Hoover het sy FBI se ontbloting van die sindikaat as die grootste in die geskiedenis van die genoem.[13] Tydens sy verhoor het Duquesne aangevoer dat sy aksies gemik was teen die VK as wraak vir die misdade wat hulle aan hom en sy mense gedurende die Tweede Vryheidsorolog gepleeg het.

Hierdie keer het die 64-jarige Duquesne nie ontsnap nie; hy is gevonnis tot 18 jaar tronkstraf. Hy het ook ’n 2 jaar konkurrente vonnis gekry en hy is ’n boete van $2,000 opgelê vir die oortreding van die Wet op Registrasie van Buitelandse Agente. Hy het sy vonnis in die Leavenworth Federale Strafgevangenis in Kansas uitgedien waar hy mishandel en geslaan is deur ander gevangenes. In 1954 is hy vrygelaat weens siekte nadat hy 13 jaar van sy vonnis uitgedien het. Hy het as hulpbehoewende op Welsynseiland (nou Roosevelteiland) op 24 Mei 1956 gesterf op 78-jarige leeftyd.

Duquesne was ’n meester in selfbevordering en ’n baie goeie storieverteller. Verskeie bronne regdeur die wêreld maak melding van hom al is dit een van sy aliasse. Dit is welbekend dat hy aantreklik, sjarmant, intelligent en vlot in verskeie tale (Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Spaans en Portugees).

Sy sjarme was onder die vroue bekend maar hy het ook ’n indruk op mans gelaat. ’n Dominee, A.J. van Blerk wat saam met Duquesne in Bermuda geïnterneer is, het hom beskryf as “ ’n aantreklike man, goed ontwikkel, met helder blou oë en pragtige swart hare wat tot op sy skouers gehang het” in sy boek “Op die Bermudas beland”.

Op ’n “Gesoek” plakkaat is Duquesne beskryf soos volg (sy lengte, gewig, velkleur en oogkleur is verkeerd):

  • Frederick Joubert Duquesne alias Kaptein Claude Stoughton, Frederick Fredericks, Piet Nicaud, Fritz Duquesne, Fordham.
  • Beskrywing – ouderdom 40 jaar, lengte 5’ 7’’, gewig 115 pond, donker bruin hare, bruin oë, donker gelaat.
  • Duquesne reis gereeld rond. Hy skryf stories, is ’n spreker en verslaggewer en kan aansoek doen vir sulke betrekkings. Hy praat goed. Praat Nederlands, Duits, Frans en Spaans vlot.

Die lewe van Fritz Duquesne was die onderwerp van ’n dokumentêre rolprent in 1999 van die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Francois Venter. Dit het ses Stone-toekennings gewen.

Die 1945-rolprent The House on 92nd Street is gebaseer op die “Duquesne Spioenasiesindikaat-sage” van 1941, maar is nie histories akkuraat nie. Die skrywer Charles G. Booth het ’n Oscar-toekenning vir beste storie gekry


Frederick Russell Burnham

 LIZZIE VAN ZYL

Gesterf 1901 in die Konsentrasiekamp te Bloemfontein

Hul bevel het gelui om ons lande leeg te vee:

Die bejaardes, die swakkes, die kinders.

Hul wou ons dwing om ons bodem oor te gee:

As trofee vir die boosgesindes.

Hul dryf ons voort - vir ons klagtes het ons géén

En hok ons in ‘n kamp. [tolk -

Wanneer sinds Bybel dae was ‘n hele volk

Onderworpe aan so ‘n ramp?

By ons aankoms het die seleksie reeds begin:

Wat met die vyand geheul -

Was vuur en water en kos en beddens gegun,

Maar óns staan voor ons beul!

Lizzie’s pa veg nog: Haar ma moet nou betaal

En hongerporsies kry.

Die tere Liz se krag het nou gefaal:

Só kon sy nooit gedy!

Die siekehuis begrawe elke dag

Vyftig Boerekind’s -

‘n Streng en brute mediese gesag

Van wreedaards allesins.

„Swaksinnig is wat Engels nie kan praat”!

Nou lê Liz tussen húl

Wat swaai en tjank – só groot is tirannehaat:

„Só onderwerp óns júl!”

„Moeder! Moeder!” roep Liz se swak klein stem,

„Jy sál jou mamie sien!” -

So roep ‘n Boere vrou. Sis die nurse met klem:

„Sy’s lastig buitendien!”

Is dit u adelike eer en trots, u lordskap?

U majestueuse roem?

God sal u ryk nog straf in sý gramskap -

En tot sy ondergang doem!

Die doringbos het gebrand maar nooit verteer.

Net so, die Boerevolk!

Met die hulp van ons magtige God sal ons triomfeer

Oor ons ewige vyand se dolk!

                © Pieter Cohen Hamburg