# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Frans Malan

Frans Malan is 'n Afrikaner. Hy glo in God, gaan elke Sondag kerk toe, herdenk elke jaar Geloftedag, en stem in elke verkiesing vir die Nasionale Party. Hy het 'n sagte hart en lewe gelukkig. 

Min dinge kwel hom. Hy stel nie belang in hoeveel kernduikbote Rusland in vergelyking met die V.S.A het nie en hy is nie werklik geinteresseerd in wat die Eerste Minister se planne vir Suid-Afrika is nie. Solank Frans sy werk goed doen en sy gesin behoorlik onderhou, is hy tevrede. In sy 37 jaar het hy nog nooit rusie gesoek of sy vuiste gebruik nie. Selfs in sy kinderdae al het sy ma gesien hier is 'n mens wat moeilikheid vermy. 

Frans is die stadsklerk van Gansbaai. Dit klink bedrieglik, want Gansbaai is nie 'n stad nie; dit het skaars meer as duisend inwoners, maar niemand het nog daaraan gedink om Frans iets anders te noem nie - hy is en bly maar stadsklerk. Frans is lief vir sy werk, want hy is lief vir die inwoners van Gansbaai. Hulle is arm mense. Die meeste van hulle is vissers wat 'n soort hardheid het as gevolg van die hardheid van die see waaruit hulle hul bestaan maak, en Frans sien sy rol in die gemeenskap as een van beskermheer. 

Hy het gesorg dat die eiendomsbelasting met elke jaar se begroting so laag moontlik bly, en hy kom dit taamlik maklik regkry, want sy beleid is een van besparing as een van verbetering. Hy sal 'n straat liewer nie laat teer nie erder om dit wel te teer en te weet hy moet die groot onkoste daaraan verbonde uit die belastingbetaler se sak verhaal. Afgesien van die vismeelfabrieke op die dorp is daar geen ander groot nywerheid of onderneming nie. Gansbaai is nie 'n dorp wat sal ontwikkel of uitbrei soos ander dorpe nie - die inwoners weet dit en hou daarvan, en Frans het gesorg dat dit so bly. Hy woon al sy hele lewe op Gansbaai, en hy weet wat die mense wil hê.

Een aand na werk het Frans op sy stoep gesit en oor Walkerbaai uitgetuur. Sy huis is naby die Kelders-hotel, 'n baken in Gansbaai, en het 'n onbelemmerde uitsig oor die hele baai. Hy het so gesit en kyk, amper in 'n dwaal, en sy blik het effens na regs gedraai. Die Kleinrivierberge het in 'n blou dynserigheid gelê. Dit was einde Juliemaand, en hoewel dit laatwinter was, het Frans sonder 'n trui op die stoep gesit. Die noordoostewind, 'n warm bergwind, het met rukke gewaai. Frans kon die hitte op sy vel voel, en dit het hom laat uitsien na die somer. Nou nog kan hy nie die winterweer van die suidwestelike Kaap waardeer nie. Hy het 'n hartstogtelike liefde vir hitte, en koue gepaard met reën, eintlik enige koue, laat hom mislik voel, asof dit iets is wat dinge in hom uitbring wat nie sy ware self is nie. 

Sy vrou, Susan, het die kinders van 'n sportbyeenkoms by die skool gaan haal, en behalwe die goudkleurige labrador wat by sy voete gelê het, was hy alleen. Hy kon hoor hoe die branders breek teen die rotse voor die huis. Frans het gedink, ek voel goed en is gelukkig. Dit is iets wat hy meer as enighiets anders in sy lewe gevoel het. Vanaand voordat hy gaan slaap, sal hy die Here daarvoor dank. 'n Beweging reg voor die huis het Frans se aandag getrek. Die oomblik toe hy daarop fokus, het 'n man wat klaarblyklik na Frans toe nader gestap gekom het, gaan staan. 

Hy het Frans gegroet: "Middag, Maaster." Die labrador het opgestaan en lafhartig begin blaf. Dit was al 'n ou hond.

"Middag," het Frans gesê. 

"Maaster sal-ie omgie as 'k Maaster die hand kô gie nie?"

"Wat wil jy hê, kêrel?" Frans het 'n kriewelrigheid in hom gevoel. Hierdie man was een van die baie wat in die bosse en duine langs die kus gewoon het. Hulle het nie gewerk nie en was in min dinge geinteresseerd, behalwe om brandspiritus te drink.

"Maaster onthou my mos van verliede djaar."

Frans het gedink. "Ek ken nie jou gesig nie."

"Maaster het sieker vergiet, maa wag, lat 'k naderkô, almiskie sien Maaster my dan bieter...Maaster worry nie? 'K ka maa kô om Maaster die hand te gie?"

Die labrador het 'n laaste blaf gegee, haar kop effens geskud, en met 'n sug weer gaan lê. Frans het ook gesug. Hy het sy geirriteerdheid verraai met die uitgerekte lettergreep van sy antwoord: "Jaaa..."

Die man het stadig nader gestap stoep toe, wiegend op sy voete. Frans het gedink die man weet nie waar op die wêreld hy is nie. Die trappies kon hy net-net opklim sonder om te val. Eindelik het hy Frans bereik en sy hand uitgesteek. Hy het gesê: "Hier's my hand, Maaster." Frans het sy hand uitgesteek sonder om op te staan. 

"Maaster sa' my help?" Frans het homself verwyt dat hy die man laat opkom het, want hy gaan nou moeilik van hom ontslae raak. Hy het gevra: "Wat wil jy hê?"

"Maaster, 'k loep allien, 'k loopie saam met daai annerie." Hy het 'n rukkie gehuiwer, gewieg, sy oë geknip. "Maaster ka mos sien, hier staan 'k allien."

Frans het weer gesug. "Wat wil jy hê? Kyk hoe lyk jy."

"Dis just die point, Maaster, kyk hoe lyk 'k. En 'k loep allien; Maaster, help my met 'n klein dop."

"Dink jy nie jy het al genoeg gedrink nie?"

"Maaster, net 'n klein dop." Hy het met sy vinger beduie. "Net so 'n kleintjie vir 'n groet babelaas; Here, Maaster, 'k voelie oraaitie."

Frans het opgestaan en begin om die huis in te stap.

"Jene, Maaster, mens ka sien djy's 'n kind vanie Here."

Toe Frans eers binne is, het die man afgebuk en die hond gestreel. Sy het haar kop opgelig en haar stert het begin waai. Hy het op sy hurke gesit en met die hond gepraat. Net toe Frans weer verskyn, het die man so gewieg dat hy van sy hurke op sy sitvlak te lande gekom het. "Daa val 'k nou af!" het hy uitgeroep, meer vir homself as vir iemand anders. Die hond het haar poot in die lug na hom uitgehou om weer gestreel en gekrap te word. 

"Hierso," het Frans gesê, "vat dit en gaan". Die man het na die dik sny brood en twee lemoene in Frans se hand gekyk. "Nou spiel Maaser dam nie die game nie. Kos helpie vi verkoue nie."

Frans het hom vererg. "Kyk, jy kan dit vat en loop, of loop sonder enigiets."

Die man het orent gestrompel en gesê: "Nes Maaster wil, nes Maaster wil." Hy het die brood en lemoene geneem. "Dankie, Maaster." Hy het omgedraai om te loop, hom bedink, weer omgedraai, die kos lomp na sy linkerhand verskuif, en gesê: "Hier's my hand, Maaster, en Maaster moet wiet, 'k loep allien."

Toe hy na 'n rukkie deur die onderste tuinhekkie stap en dit met 'n gesukkel agter hom toekry, het Frans nie meer so gelukkig as voorheen gevoel nie. Die volgende paar dae het Frans hom oor die arme skepsel se lot bekommer. Dit het hom ontstel dat daar mense is wat so lewe - in die bos slaap, omtrent nooit eet nie, en net aan drank en brandspiritus dink. Hul gestel is so swak dat hulle min weerstand het, en elke nou en dan, met 'n vlaag onverwagte koue weer, gaan een aan blootstelling dood. Frans het homself gesien as iemand wat omsien na die hele gemeenskap, wat ook hierdie mense insluit. Maar hy was nie emosioneel ongebalanseerd oor hulle nie. Hy het geweet daar is al pogings aangewend om hulle te rehabiliteer, sonder enige welslae. 'n Paar jaar gelede is hulle almal in 'n inrigting in Kaapstad opgeneem, en enkele dae na die voltooiing van hul behandeling was hulle weer terug in hul boslewe.Om hul verstand so te benewel dat hulle nie deel is van die realiteit nie, sodat hulle geen behoefte aan warmte of beskutting het nie, was vir hulle belangriker as om kos, klere en 'n bed te hê, maar nugter te wees. En Frans het gedink, maar daar moet tog een of ander manier wees waarop mens hulle kan help. 

Susan en Frans het op die stoep gesit toe hy weer daar aankom. Hy het nugterder gelyk as die eerste keer, en ook nie gewag of gevra vir 'n uitnodiging nie. Die hond het 'n paar blawwe gegee en gaan lê. Hy het die treetjies opgeklim. Susan was nie soos Frans nie. Sy het gesê: "Skoert hier! Waarvoor biedel jy? Gat soek werk!" Die hond het haar ore effens agtertoe getrek. "Madam praat nou hard met 'n skepsel vanie Here. 'K 't eintlik die Maaster kô sien."

Frans het opgestaan en nader gestap na hom toe. "Wat is jou naam?" "Antonie, Maaster. Antonie Spandeel." Susan het gesê: "Wat lol jy met hom, Frans? Lat hom loep."

Frans het nie van sy vrou se onsimpatieke houding gehou nie. Sy was met almal en alles so, maar nou kon hy dit nie verdra nie. Hy het gesê: "Ek sal vir jou kos gee, maar nie drank nie." 

"Nie, Maaster, vandag drink 'k nie, maar as maaster vi my 'n bietjie koffie en suikertjies ka gee, somme soe gemix in 'n blikkie...dis al wat 'k wil hê. Maaster; al vi vandag."

"Nou goed." Frans het omgedraai om in te gaan, skielik daaraan gedink wat Susan vir Antonie sal sê terwyl hy in die huis is, weer omgedraai, en gesê: "Kom saam met my." Toe het hy na Susan gekyk en haar met sy hand stilgemaak toe hy sien sy wil begin beswaar maak teen...wel, hy het geweet teen baie dinge. Antonie het verleë sy mus afgehaal en hulle het saam na binne getap. 

In die kombuis het Frans twee stukke aluminiumfoelie afgeskeur, 'n paar eetlepels koffie in die een toegedraai, en 'n paar eetlepels suiker in die ander een. "Hierso," het hy gesê. Antonie het sy lyf effens voertoe gebuig toe hy nader kom en dit neem. Hy het gesê: "Baie dankie, Maaster, baie dankie." In die kleinerige kombuis kon Frans ruik hoe Antonie stink. Hy het na hom gekyk: sy skoene het soveel gate in gehad dat mens skaars kon sien dit is skoene, sy bruinerige langbroek was oortrek met vuil, donker vlekke en ook plek-plek geskeur. Aan sy bolyf het hy net 'n stukkende vuil trui gehad, en geen hemp nie. Hy het 'n breërige neus gehad en die wit van sy oë was bruin verkleur. 

Terug op die stoep het hy sy mus opgesit en gesê: "K sa vir Maaster 'n present bring, dis oraait, moenie worry nie. 'k loep allien. Da groet 'k vi iers, bye Maaster, bye Madam."

Frans het net sy kop geknik. Susan het gesê: "Ja, loep!" Die hond het met haar kop op haar voorpote gelê, en sonder om dit weer op te lig geloer hoe hy by die tuinhekkie uitgaan en om die draai verdwyn. Frans het binnetoe gegaan. Hy het ongelukkig gevoel. 

Dié aand toe hy vir sy twee klein seuns gaan nagsê, het hy met sy Bybel in hulle kamer gaan sit. Hy het vir hulle gelees: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Op sy eenvoudige en onoorspronklike manier het hy vir hulle verduidelik dat mens in jou lewe ander mense moet help voordat jy enigiets anders doen. 'n Goeie Christen mag niemand veroordeel of haat nie, en dit help nie jy sê dit net of word 'n diaken nie. Jy moet dit voel en dit uitlewe. En hy het homelf 'n bietjie verbaas toe hy sê: "Daar is baie verkeerde dinge in hierdie wêreld, maar die verkeerdste ding is om jou rug te draai en mense wat ly nie raak te sien nie."

Hy het hulle goeienag gesoen en die lig afgeskakel.

Later toe hy en Susan in die bed is, het sy gesê: "Daardie skollie wat hier was, jy gie nie wier vir hom kos-ie."

'n Dag of twee later het Antonie daar aangekom met 'n vuil wit plastieksak in die hand. Fans was besig om aartappels te plant in sy groentetuin, oor naby die tuinhekkie. Hy het nie 'n vroeë somer verwag nie, hy het maar net gehoop op een. So lief was hy vir hitte.

Antonie kon skaars op sy bene staan. hy het aan die tuinhekkie vasgehou en die sak opgelig. Hy kon nouliks duidelik praat: "Hier's...hier's Maaster...se present." Hy het effens gegiggel, en voortgegaan: "Dja, my present...wat 'k Maaster wiet...wat 'k gepromise...het."

Frans het oor sy skouer gekyk, nader gegaan en gesê: "Moenie dat my vrou jou sien nie."

Antonie het oor die hekkie gehang, die sak in een hand. "Hoe...sê...Maaster? Wi djy...nie..." Hy het weer begin giggel. "Wi...Maaster...nie my...present...hê-ie?" Frans het met een hand die hekkie oopgemaak, en met die ander arm Antonie gestut sodat hy nie val nie. Hy het gesê: "Kom lê agter hierdie muur, dan sal my vrou jou nie sien  nie."

Antonie het 'n paar tree van die hekkie padgegee, gestrompel, en eindelik geval. Met moeite het hy regop gesit gekom, en met sy rug teen die muur geleun. Hy was nou nie van die huis se kant af sigbaar nie. Frans het hom dopgehou. Hy het niks gesê nie. Daar was 'n vae en verdwaasde uitdrukking op Frans se gesig. Die kort geskeerde hare op die kroontjie van sy kop het in alle rigtings gestaan soos 'n dom skoolseun wat algebra probeer verstaan.

Antonie het skuins geval en hom op sy elmboog gestut. Hy het gesê: "Maaster...'k 't...hier's Maaster...se witmossels..." Hy het die sak met die ander hand opgehou. Frans het dit geneem. "Dankie...Wag, wag net hier. Ek sal vir jou iets kry." Hy het haastig deur die hekkie gegaan en opgestap huis toe. By die stoepdeur het hy geaarsel. Hy het gesug van verligting toe hy die geluid van 'n naaismasjien in die rigting van sy vrou se naaldwerkkamer hoor. Op sy tone het hy na die kombuis geloop. Hy het die mossels op die tafel neergesit, die brood in die broodblik in die helfte deurgesny, 'n klompie aartappels geneem, en weer op sy tone na die deur geloop. Halfpad daarheen het die hond van die gang se kant te voorskyn gekom. Toe sy hom sien, het haar stert begin waai. Sy het hom vakerig dopgehou terwyl hy uitsluip, gegaap, en haar uitgerek net toe hy by die deur uitgaan. 

Antonie het in 'n bondeltjie gelê toe hy daar aankom. Vandag het hy 'n baie ou en verflenterde baadjie aangehad, en hy het die bokant daarvan met albei hande half oor sy gesig getrek gehou. Frans het sy naam 'n paar keer geroep, maar daar het geen antwoord gekom nie. Met die kos in sy hande het Frans die patetiese figuurtjie weer half verdwaas beskou. Sonder enige waarskuwing het 'n vlaag woede oor Frans gekom. Hier lê hierdie armsalige niksnuts, wat al hy my simpatie verdien? Onmiddellik het Frans aan die mossels gedink. Hy het die bondeltjie mens voor hom gehaat. En toe hy dit besef, het hy liewer geword vir hom. Hy het afgebuk en die stuk brood en appels in die een baadjiesak geprop. Hy wou Antonie gryp en hom teen sy eie hart vasdruk. Die vuilsoet reuk van spiritus het hom gewalg. Dié aand het hy frikadelle gemaak van die mossels, wat hy en sy seuns alleen geëet het. Susan hou nie daarvan nie. En sy het ook nie daaraan gedink om hom te vra waar hy dit gekry het nie. Hieroor was hy bly. 

Die somer het gekom en gegaan. En vir die eerste keer in sy lewe het Frans nie van die hitte gehou nie. 'n Ligte suidoostewind het knaend gewaai - 'n warm, droë wind, wat die temperatuur tot na aan veertig grade opgeskuif het. Die dae was lank en vol sweet. Vyfuur soggens was dit al lig, en na agt saans het die son eers gesak. Die skerp lig het Frans se oë seergemaak, en as hy oor die see gekyk het, het hy gehoop op donkerte.

Op 'n aand het hy vir sy vrou gesê: "Susan, ons het 'n bediendekamer, maar nie 'n bediende nie. Ek gaan Antonie vra of hy nie hier wil kom bly nie."

Sy het gevra: "Wie's Antonie?"

"Die man wat eendag hier aangekom het, onthou jy..." Susan het gedink, en uitgeroep: "O, daai lae lak!" Sy het kwaad na hom gekyk. "Frans, jy's sieker gek! 'K sal-ie toelaat dat daai skollie in my hys woenie."

Frans het gesoebat: "Maar hy hoef nie in die huis te kom nie, die bediendekamer is buite, hy al net daar bly." Hy het 'n rukkie gedink en gesê: "Susan, die man het geen heenkoms nie, hy het nêrens om te slaap nie, hy het nie kos om te eet nie, die minste wat ons kan doen, is om vir hom 'n dak oor sy kop aan te bied."

Sy het gesê: "En kort voor lank trek ieder wat inie bos woen hie in; nie, Frans, jy bemoei jou net al wier met anner mense se sake, jy ka dit vergiet, daai skollie kômie op my werfie."

Frans het na haar gekyk en gedink, sy sê my werf. Hy het hartseer en moedeloos gevoel, en geweet dit sal nie help om verder te praat nie. Wat doen 'n mens met so 'n vrou? het hy gedink.

Hierna wou Frans nie meer hê Antonie moes na hom kom om kos te vra nie, maar hy sou 'n ander plan maak, hy sou na Antonie gaan. Elke dag as hy met die hond gaan stap het, het hy geloop in die rigting van die Plaat, die lang sandstrook al langs die kurwe van die baai, en vir Antonie kos of geld geneem. Antonie het twee geliefkoosde blyplekke gehad: in 'n digte ghwarriebos, of op 'n duin met 'n oorhangende rots, en Frans het hom gewoonlik by een van hierdie plekke kry, alleen of saam met 'n groepie ander. Frans het geweet dat wat hy so baie sê, "'K loep allien", nie regtig waar is nie. 

'n Klein krisis het ontstaan toe Antonie Frans eendag vra of hy by sy huis kan gaan bad. Antonie het gesê: "Natierlik nie innie hysie, Maaster, daar's mos servant's quarters." Frans het 'n rukkie hieroor nagedink en gesê: "Wag net vir 'n dag wat my vrou nie daar is nie, ek sal jou hier kom haal." Hy het weer 'n rukkie gedink, aan Susan, en gesê: "Goed, kom ons gaan maar nou." Hy kon hom nie meer aan haar steur nie. En sy het dit toevallig nie eens agtergekom nie, hoewel sy by die huis was. Frans het die aand in die bed daaraan gedink om vir haar te sê: Antonie het vandag hier gebad. Maar toe dink hy verder, wat sal dit tog help? Hy het besluit om môre vir Antonie R10 te gee.

Dit was besig om winter te word. As Frans soggens op pad was werk toe kon hy die diep skaduwees in die Franskraalberge sien, 'n teken dat die son ver noord is. Dinge was besig om te verander in Frans. Hy het nie meer gelyk na die gelukkige mens wat hy altyd was nie. En die belangstelliing wat hy gehad het in die welsyn van die inwoners van Gansbaai het verdwyn. Toe'n gesondheidsinspekteur voorstel dat 'n nuwe rioolskema vir die dorp beplan word, het Frans sy voorstel gesekondeer. Die burgemeester het 'n spesiale vergadering belê, want hierdie skema sou 'n halfmiljoen rand kos, wat net gedeeltelik deur die provinsiale Administrasie gesubsidieer sou word. Frans het steeds gemeen die skema is 'n goeie gedagte, en na die vergadering het die raadslede aan mekaar gevra: "Wat het oor Frans Malan se lewer geloop?"

Vn die koue en nat weer het Frans se hond erg rumatiek begin kry, heelwat erger as die vorige jaar. As sy voor die kaggel gelê en slaap het, kon sy nie behoorlik opstaan nie. Sy kon haarself net met die voorpote oplig, want haar agterlyf was heeltemal verlam. Frans het haar Caledon toe geneem en die veearts het haar aan die slaap gesit. 

Die hond se dood het 'n groot uitwerking op Frans gehad. Hy het nie werk toe gegaan nie en met niemand gepraat nie. Hy het aanhoudend gedink: hoe kom ek by iemand of by iets uit? Regtig uit? Nie soos by my hond wat dood is nie. Regtig by iemand, 'n mens.

Die kinders het hulle ma gevra: "Wat's verkeerd met Pappie?"

Sy het gesê: "Hoe moet 'k wiet? Toe, loep spiel nou." Sy het egter regtig bekommerd begin raak toe dit een aand laat word en Frans nog steeds nie terug is van sy wandeling nie. Later was dit tienuur en sy het haar bedink en besluit om te wag vir die môre. miskien kuier hy maar net by 'n vriend, het sy gedink. 

Dit was Julie toe Frans vir die eerste keer brandspiritus drink. 'n Motreëntjie het neergesif toe hy saam met Antonie en 'n groepie ander onder 'n rots sit en 'n halwe bottel brandewyn uitdrink voordat hulle die spiritus daarin gooi. Die mengsel het Frans se keel soos vuur gebrand, en dit het gevoel of daar kole in sy maag is. Hy het gekots, en soos een van die ander die oorblywende spiritus in die plastiekhouer skoon begin drink.

'n Vlaag wind het skielik met 'n ruk opgekom. Dit het baie koud geword. Frans het vir Antonie gesê: "Wi djy nie in my hys kô blyie, Maaster?" Sy oë was glaserig. Antonie het gesê: "Daa noem Maaster my Maaster." Hy het Frans 'n klap op die skouer gegee. "Dis dam lekke nê? Nou's ons altwie Maasters!"

Frans het voor hom probeer uitkyk, maar hy kon nie sy oë fokus nie. 


M.C. BOTHA

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7