My Volk+ (Die Trekpad van 'n Nasie) ADULT PHARMA 
AFRIKAANSE KORTVERHALE

Fascistiese pampoen

'n Man het 'n pampoen gekoop vir sy verjaardag die sestiende september. Hy het die pampoen in 'n ou koerant gevou en dit sorgvuldig onder sy arm gehou. Op pad huis toe het die reisigers in die bus hom agterdogtig aangekyk en die kondukteur het ontevrede vlak agter hom sy snor kom stryk. Hy weet nie of dit sy verbeelding was nie maar dit was kompleet asof daar 'n grommende geluid van die pampoen kom.

Tuis het die man die eentonige trappe na sy vyfde-verdiepingwoonstel blasend opgeklim en hy had moeite om die deur oop te sluit want hy moes die pampoen al stywer onder sy blad vasklem. Sy swartoogdogtertjie het hom kom soen en gesê naand pappa wat het jy onder jou arm. Sy vrou het stuurs iets gebrom en gevra wat nou so danig in die vuil ou koerant mag wees en gekla dat sy moeg is.

Die man het gesê dis 'n pampoen wat ek gekoop het vir my verjaardag die sestiende september en sit dit met sorg in die yskas sodat dit vars kan bly. Sy vrou het gesê dat daar vis sal wees vir aandete en die kind het nuwe skoene nodig vir die skool. Skielik was daar 'n kabaal vanuit die yskas en sy vrou het gaan kyk en gegil die verdomde pampoen het die vis opgeëet. Die man het haar probeer gerusstel dis maar net 'n ou pampoen kom laat ons hom op die vensterbank in die aandlug sit om af te koel dis vir my verjaardag die sestiende september. Maar in die môre was die pampoen weg en van die dogtertjie het slegs haar ou skoene onder die bed oorgebly. Die man se vrou het vir dae aaneen geween.

Die maan het kleiner geword soms het brokkies daarvan op die aarde geval en toe opeens een aand was daar 'n groot rooi rollende grommende bal soos 'n pampoen in die naglug. Nou het die man geweet sy dogterjie is die prinses in die maan. Maar hy was diep ongelukkig. Hy het sy kop vasgehou en gekreun my pampoen my pampoen wat sal ek nou hê om aan te smul vir my verjaardag die sestiende september.

Breyten Breytenbach

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7