# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Ek het jou gemaak

Ingenieur Jacobs het sy vrou so lief gehad dat hy na haar dood 'n lewensgroot wasbeeld van haar gemaak het. Elke aand as hy tuiskom, het sy op haar gewone plek aan die tafel gesit, gekleed in haar trourok en met 'n stuk breiwerk in haar hande wat nooit meer kon beweeg nie. Dan het hy haar op haar was-voorkop gesoen, en soos voorheen met haar gepraat. 

Net nou het sy nooit geantwoord nie.

Sy belangstelling in sy werk het verflou. Sy vorige energie het so onrusbarend gekwyn dat die direkteure en die firma se dokter hom moes versoek om af te tree. Onverskillig daaroor het Jacobs huis toe gegaan na sy swyende vrou. 

Bedags het hy broeiend rondgedwaal in die huis sonder lus om uit te gaan of sy ou vriende te besoek. Etenstye het hy sy vrou se plek ook gedek, en met haar oor die dood gesels. Soms het hy kwaad geword, en met sy vuis op die tafel geslaan. Maar nooit het haar sagte glimlag verander tot die tere woorde wat hom altyd laat voel het asof blomblaartjies oopvou in sy hart nie.

Sag en geduldig het sy net bly glimlag. Eendag, miskien omdat die lente buite die huis gefluister het of omdat waansin oplaas daarin geslaag het om sigself agter 'n herwonne bedrywigheid te versteek, het ingenieur Jacobs 'n robot begin bou om hom die stilte te help verdrywe. Maande aaneen was hy besig aan die inmekaarsit van stukkies yster, elektriese draad en gloeilampies, en die vasstel van die oneindig ingewikkelde samehange wat nodig is vir selfs eenvoudige meganiese handelinge soos 'n arm op te lig of skielike klankglowe tegemoet te swaai. 

Hy het die robot gestalte van 'n mens gegee, en hom Andries genoem. Die dag toe Andries klaar was, het ingenieur Jacobs hom losgelaat in die woonstel kamer waar hy gou geleer het om vaste voorwerpe te vermy. In die aand het Jacobs Andries langs die tafel naas die wasbeeld van sy vrou laat staan. Onder die ete het hy met die robot gesels. Sy vrae en die robot se antwoorde was altyd dieselfde, ses in getal, want dit was al spraak waarmee hy Andries kon bedeel. 

"Wie is jy?" het hy gewoonlik begin. 

Dan het die robot se foto-elektriese oë groen geblits, en sy ystermond geklepper soos hy monosillabes in 'n grafstem uitspel: "Ek is An-dries die ver-dom-de robot."

"En waarom is jy hier, Andries?"

"Om oor lief-de te praat."

"Wat is liefde Andries?"

"Aan-hou be-weeg en ge-raas maak."

"En wat gebeur as mens ophou beweeg, Andries?"

"Onvermydelike dood."

"En wat is die dood, Andries?"

"Nim-mer. Al-tyd."

By die laaste vraag het Jacobs geskaterlag en die tafelrand vasgegryp met sy blou-beaarde hande só aan skud dat die washande van sy vrou ook gebewe het:

"Maar wat is lewe, Andries?"

Waarop die robot sy aaglik-klepperende mond weer eens laat hoor het:

"Nim-mer. Al-tyd."

Dan het Jacobs sy mes en vurk opgeneem, en aan sy swyende gesellin vertel: "Het jy dit gehoor, Bettie?"

Byna die hele dag lank was Jacobs besig om sy robot te verbeter. Hy het Andries so ver gekry om te kom as sy naam genoem word, om 'n voorwerp in sy ysterhande te neem en dit fyn te druk.

Maar Andries het niks op sy eie gedoen nie, en slegs op telekommandeerde bevele reageer. 

Eenmaal het hul daaglikse gesprek Jacobs in so 'n woede laat uitbars, dat hy sy stoel na Andries gegooi en al die breekware op die tafel verpletter het. "Jou verdom-de robot, wie is jy om van die dood te praat!" het hy in hygende spot die robot se monosillabiese spraak nageboots, "jy wat nie eens le-we kan on-der-vind nie! Moe-nie ver-geet dat ek le-wen-dig is nie! Le-wen-dig!"

Die dag daarna het hy uitgegaan om 'n pot verf te koop. hy het teruggehaas deur die sonnige strate, die voordeur gesluit, en Andries se massiewe metaallyf met swart oordek. "Nou rou jy, Andries," het hy vertel, "oor Bettie wat dood is, en oor my wat ook moet sterf."

Snags het die twee gestaltes hom van oorkant die tafel aangestaar: die grimmige swart ysterding, en die wasbeeld, eteries in haar sneeuwit klere soos 'n appelboom oordek met blooisels. Hy het selde geëet, en dikwels maar net voor hom gesit en staar met sy kop afgehurk tussen sy skouers, en sy lippe geluidloos aan die beweeg. Al meer het hy in 'n angskoma verval waarin trane na sy oë wel en een vir een op sy wange droë. Daaruit het hy vol vertwyfelde energie ontwaak. "Wat is liefde Andries?" het hy geroep. En dan het die robot soos 'n doodsroggeling uit die graf geantwoord: "Aan-hou beweeg en ge-raas maak."

Hy het opgehou praat met sy vrou, en in gesprek met die robot onbewus in dieselfde stotterende monosillabes verval. Nou kon hy dit nie meer verdra om Andries te lank uit gesig te verloor nie; hy was altyd aan die roep na hom, en besig om te spot met sy gebreke of sy lelike gevreet.. "Alles ná die mens se ewebeeld gemaak," het hy Andries meegedeel. "God, die duiwel, en jy. Ja-nee, ek het hou na my ewebeeld gemaak sodat ek vir jou kan lag." En dan het hy Andries een beweging tot vyftig maal laat herhaal, of sy battery in die middel daarvan diskonnekteer. Andries het altyd net gelyk of hy geduldig wag dat Jacobs moet klaarkry. 

Op 'n dag het Jacobs die ragfyne trourok van die wasbeeld afgepluk, en oor Andries se swart karkas gehang. 

"Jou moeilikheid is dat jy lelik is, ek moet jou mooi maak". Hy het gesnak van die lag. "Nou't ek jou lief!"

In heldere oomblikke het die wilde koorsglans in sy oë net aangegroei; selfs as hy stil in sy leuningtoel lê, was hy ongeduldig besig met 'n nuwe idee, 'n nuwe plan om Andries te verbeter.

"Weet jy dan nie ek is 'n skitterende ingenieur nie?" het hy teen die robot gespog, "en dat ek tot in alle ewigheid beroemd sal wees nie. Ja, ja, Andries, weet jy dan nie ek gaan jou lewendig maak nie?"

En hy het voortgeyl teen die onverstoorbare robot oor hoe mens regtig net vir 'n wese in menslike gestalte bevrees kan wees, en hoe sot dit is dat hy nie vir hom, Andries, bevrees is nie. "Jy's verkeerd, liefde is vrees," het hy die robot doodsbleek verseker.

Tog het hy die staaldeur in Andries se bors 'n hele week lank nie oopgemaak nie. Hy was kalm toe hy oplaas begin aan die laaste deel outomatiese kamratte wat binne Andries se staaldop ingepas moes word. Dit was maklik om Andries se foto-elektriese oë te laat reageer op die liggaamshitte van 'n lewende wese, heel maklik om die mikrofone in Andries se ore te reël. Wat moeilik was, was om Andries daartoe te bring om sulke liggaamshitte, gepaard met beweging en geluid, te agtervolg, dit geduldig en onverbiddelik te agtervolg totdat hy dit bereik, en om dit dan met sy ysterarms te omhels tot dié warmte koud word en geluid en beweging verstil.

Toe alles klaar was, het ingenieur Jacobs die robot weer eens in die sneeuwit trourok geklee. Hy het die skakelaar nie aangeslaan nie, maar sy maer, uitgeputte lyf na sy stoel gesleep. Lank het hy roerloos bly sit. Teen die namiddag het voetstappe die huis genader en het iemand, waarskynlik 'n koppige vriend, aan die voordeur geklop. Jacobs het sy kop nie gedraai en skynbaar nie gehoor hoe die stappe weer wegsterf nie; slegs langsaam met 'n triomfantelike glimlag uitgekruip langs die uitgeteerde vore van sy gesig. Baie lnagsaam het hy opgestaan, die robot genader, en die skakelaar gedraai. 

Meteens, toe die robot opleef en na hom toe swaai, het hy buite bereik weggespring. "Aan-hou-be-weeg en ge-raas maak! Onthou jy, Andries?" het hy triomfantelik gehyg. "Snap jy dit nou?" Hy het ingespring agter die tafel, verder weg van die robot wat nader kom met opgehefde ystertstange. Die wasbeeld het op die vloer geval, glimlaggend, afgryslik naak. Jacobs het verbygespring na 'n ander van die kamer. Andries was stadig, maar seker. Hy het omgeswaai om sy maker opnuut waarvoetig maar onverbiddelik te agtervolg.

"Sien jy, nou's jy verlief op my!" het Jacobs honend gespot waar hy teen 'n muur aanhurk en kyk hoe die robot nader kom. Met elke tree het hy die trourok gebewe soos 'n bloeiselblom in 'n September-bries, nagmerrieagtig in teenstelling met die starre swart kop en groot swart ystertange opgelig om te gryp. Gehurk teen die muur, het Jacobs gesien hoe sy dood in die gewaad van sy liefde nader  kom. "Nou's jy ook verlief!" het hy gehyg. 

Net toe die robot byna by hom was, het hy weggespring, vry. Waansinnig het hy gestamel: "Nee, nee, Bettie, ek is nog nie reg vir jou nie!" En hy het gestorm na die naaste deur, dit oopgeruk, toegeklap, en agter hom gegrendel. 

'n Bietjie later het hy teruggekom, aangetrek in sy troupak, 'n blom in sy knoopsgat. Terwyl sy bruid hom weer eens nader, het hy met 'n hooghartige glimlag gesê: "Ek het jou mos self gemaak."

Jan Rabie

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7