# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Een Diens is 'n Ander Werd

"Totsiens, Ronny."

"Totsiens, Moeder."

"Wees soet by die skool, hoor!"

"Ek sal!" het Ronny geskreeu toe hy by die hekkie uit is.

Toe hy om die draai is, het Moeder weer by die huis ingegaan, en sy het 'n bietjie bekommerd gelyk. "Ek wens dat Ronny nie so 'n selfsugtige seun was nie. Hy wil altyd alles net vir homself hê, en dit gaan so swaar om hom te oorreed om iets vir 'n ander te doen. Ek sou graag wil weet wat ek kan doen om dit te verander."

Daardie namiddag het Ronny bofbal by die skool gespeel. Die seuns het maar geniepsig gespeel en die bal baie hard gegooi en geslaan. Eindelik was dit Ronny se beurt om te kolf.

Ronny het baie van die spel gehou, en as hy maar kon kolf was hy baie gelukkig. Spoggerig het hy gaan staan. Hy het die eerste bal baie goed dopgehou,en hy het dit 'n vreeslike hou geslaan - dwarsoor die muur van die speelgrond, maar dit was 'n ontoelaatbare hou.

Toe die twee bal kom, het hy weer so geweldig geslaan - hy wou die bal sommer tot daar in die straat slaan om die seuns iets te gee om lank oor te praat. Maar Ronny het misgelaan. Pleks dat hy die bal slaan, het die bal hom hard teen sy voorkop getref.

Toe hy met sy hand aan die plek voel, was dit vol bloed. Ronny het bleek geword, sy kolf laat val, en in die rigting van die skool gestap.

Die seuns het nom na een van die klaskamers gehelp.

"Ek sal netnou weer reg wees; gaan speel julle maar," het hy vir die seuns gesê, en daarmee het hulle hom verlaat.

Ronny het sommer baie siek gevoel. Hy het gewens dat hy by die huis was, sodat sy moeder die wond kon behandel.

Juis op daardie oomblik het een van die senior seuns die klaskamer binnegekom.

"Wat makeer?" het hy belangstellend gevra. "Het jy seergekry?"

"Ja, so 'n bietjie," het Ronny ewe dapper gesê. "Die bal het my teen die voorkop getref."

"Ek is jammer. Kom saam met my, en dan sal ek jou voorkop baai as jy wil."

"Dankie," het Ronny gesê. "Dis taamlik geswel, is dit nie?"

"O, ons sal dit gou regmaak," het die groot seun gesê. "Jou hele kop is darem nog nie af nie, is dit?"

"Nee," het Ronny met 'n flou glimlaggie gesê, ten spyte van die pyn.

Saam is hulle na die kleedkamer, en daar het die groot seun, saggies, net soos sy moeder, die wond gebaai en dit verbind met verbande uit die noodhulpkissie. Toe het hy vriendelik middag gesê, en na sy eie klaskamer gegaan.

Toe Ronny daardie aand tuiskom, het hy opgewonde vertel wat gebeur het. "Was dit nie 'n virendelike seun daardie nie?" het hy gesê.

"Weet Moeder, ek het nog nooit tevore met hom gepraat nie. Ek kan nie verstaan waarom hy so goed was vir 'n totale vreemdeling nie."

"Dit was baie gaaf van hom," het Moeder gesê. "Ek stel dit baie op prys. Jy moet hom dit sê hoor. Ek hoop dat jy ook altyd so vriendelik en behulpsaam sal wees, Ronny."

"O, ek kan nie so goed soos daardie seun wees nie," het Ronny met 'n sug gesê."

Twee dae het verloop. Weer was dit aand. Ronny moes al om vieruur daardie agtermiddag tuis gewees het, en daar was nou nog geen teken van hom nie. Dit het vyfuur geword en nog geen Ronny nie. Moeder het haar eers vererg, en toe het sy baie onrustig begin word.

Om half-ses, net toe sy besluit om die polisie te bel, het Ronny opgedaag. Moeder het voor die deur vir hom gewag.

"Ronny," het sy hom hard aangespreek, "wat bedoel jy daarmee om nou eers tuis te kom? Weet jy hoe laat dit is? Ek kan dit nooit toelaat-"

"Toe maar, Moeder, e-e-e-k moes huis toe loop."

"Huis toe loop! het Moeder verbaas uitgeroep. Het ek jou dan nie jou busgeld gegee nie? Ek het dit vir jou vanmore gegee voor jy weg is."

"Ja, Moeder het," het Ronny gesê met 'n ondeunde glimlaggie. "Moeder het my die trippens gegee, maar ek het dit aan een van die seuns gegee."

"Die geld weggegee!" het Moeder nog meer verbaas gesê. "En waarom?"

"Ek kon dit nie help nie," het Ronny gesê. "Sien Moeder, ek het een van die klein seuntjies by die bushalte gekry - hy is nog in standerd een. Hy het bleek en siek gelyk. Toe ek hom vra wat makeer, het hy gesê dat hy siek voel en dat hy sy busgeld verloor het. Wel, wat kon ek toe doen? Ek moes hom eenvoudig my geld gee, en self huis toe loop. Daarom is ek so laat."

"Ag, my dierbare seun!" het Moeder gesê, terwyl sy Ronny omhels, en ook sommer 'n paar trane op sy hals laat val.

"Wat makeer nou, Moeder?" Dis sommer niks vergeleke met wat daardie seun nou die dag vir my gedoen het nie."

"Ag Ronny," het Moeder gesê, "Dit beteken vreeslik baie vir my."

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell