# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Droogte

Hoë pilare stof loop oor die bruin vloer van die aarde. Die wortels van die verskroeide gras wag op reën; dorstig vir groen liefde strek die ontsaglike dorre vlakte eindeloos uit na sy horison. Een reguit liniaal-getrekte spoorweglyn pyl van onder die middagson-goed na waar 'n nag fluwelig koel met sterre sal wees. Die landskap is dié van droogte. Klein soos twee korrels sand bou 'n witman en 'n swartman 'n muur. Vier mure. Dan 'n dak. 'n Huis.

Die swartman dra blokke steen aan en die witman plaas hulle in die muur. Die witman staan binne die mure waar daar effens skadu is. Hy sê: "Jy moet buite werk. Jou vel is swart, jy kan die son beter verdra as ek."

Die swartman lag teen sy spiere se geglinster in die son. 'n Honder jaar gelede het sy voorouers donker oeste met hul assegaaie gemaai en die drif van die swart son in hul ledemate, in die Ngoma-dans uitgetrap. Nou lag die swartman terwyl hy begin frons. 

"Waarom praat jy altyd van my swart vel?" vra hy. "Jy is vervloek," sê die witman. "Lank gelede het my God jou met duisternis vervloek."

"Jou God is wit," verweer die swartman kwaad. "Jou God lieg! Ek is lief vir die son en ek vrees die nag!"

Die witman praat dromerig voort: "Lank gelede het my voorvaders oor die see gekom. Van ver het hulle gekom, in wit skepe hoog soos bome, en op die land het hulle waens gebou en met die seile van die skepe oorgetrek. Ver, ver het hulle gereis en hul kampvuur-asse wyd oor hierdie groot en barbaarse land versprei. Maar nou is hul kinders moeg, ons wil huise bou en julle wartes leer om in vrede met ons te lewe. Dit is hoog tyd, selfs al sal julle velle altyd swart bly..."

Trotsig verset die swartman hom: "En my voorouers het hulle assegaaie in die bloed van joune gedoop en gesien dat dit rooi is soos ons s'n."

"Dis tyd dat jy die bloedige verlede vergeet," sê die witman verdrietig, "kom, jy moet leer om saam met my te werk. Ons moet hierdie huis bou." 

"Jy kom om my te leer dat God wit is, dat ek 'n huis vir die witman moet bou!" Die swartman staan met gevoude arms.

"Kaffer!" roep die witman, "sal jy nooit niks verstaan nie! Doen wat ek sê!"

"Ja, baas," brom die swartman.

Die swartman dra blokke steen en die witman plaas hulle in die muur. Hy maak die mure sterk. Die son blaak moordadig neer. Ver, soos 'n enigste boom in die dorsland, loop 'n hoë pilaar stof op die bewende horison. 

"Verdomde hitte!" brom die witman, "as dit maar wil reën."

Hy vee die sweet vererg van sy voorkop weg en hy kom styf regop om weer te sê: "Jou voorouers is dood. Dis tyd dat jy hulle vergeet."

Swyend kyk die swartman hom aan met oë wat antwoord: Jou voorouers is ook dood. Ons is alleen hier. 

Alleen in die dorre en verlate vlakte bou die witman en die swartman 'n huis. Hulle praat nie met mekaar nie. Hulle bou die vier mure en dan die dak. Die swartman werk buite in die son en die witman binne in die skadu. Nou kan die swartman slegs die witman se kop en skouers sien. Hulle lê die dak. 

"Baas," vra die swartman oplaas, "waarom het hou huis dan geen deure en vensters nie?" Die witman het treurig geword. "Dit, ook, kan jy nie verstaan nie," sê hy sag. "Lank gelede in 'n ander land het my voorgeslagte mure gebou om die see uite te hou. Dik, waterdigte mure. Daarom het my huis ook geen deure en vensters nie." 

"Maar hier is g'n groot water nie!" roep die swartman uit, "die sand is droog soos 'n skedelbeen!" 

Jy is die see, dink die witman, sonder om verder te praat. 

Hulle lê die dak. Hulle spyker die laaste plank, die laaste sinkplaat, die swartman buite en die witman binne. Nou kan die swartman die witman nie langer sien nie. 

"Baas!" roep hy, maar hoor gee antwoord. 

Die Inkoos kan nie uitkom nie, dink hy met skrik, hy kan nie die lug sien of weet wanneer dit dag of nag is nie. Die Inkoos sal sterf in sy huis!

Die swartman hamer met sy vuiste op die huis en roep: "Maar baas, geen groot water sal ooit hierheen kom nie" Hier sal dit nooit veertig nagte reën soos die Boek van jou wit God sê nie!"

Hy hoor geen antwoord en hy skreeu: "Kom uit, baas!"

Met sy vuiste nog steeds gelig asof  om weer te klop, staar die swartman verwilderd op in die hemel sonder 'n enkele wolk, en rondom hom na die horison waar die warrelwinde rooi-warm stof die vreeslike Ngoma van die droogte dans. Dan stamel die swartman verlate en beangs: "Kom uit, baas...Kom uit na my..."

Jan Rabie

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7