# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Dokter Diedericks leer om te lag

Dit is in die nasomer aan die einde van Maart.

Dokter Diedericks is 'n geneesheer. Hy lê alleen in sy slaapkamer in sy ruim huis en dink aan sy langdurige en ongeneeslike siekte, waaraan al sy geld en al sy mediese kennis en dié van sy kollegas niks kan doen nie. Ook nie die liefde van sy vrou en al sy kinders, wat almal reeds getroud is en naby hom woon nie. Hulle besoek hom gereeld en probeer hom troos, koop allerlei vir hom, maar dit help niks nie.

As jou lewe bedreig word, kan jy nie opgewonde raak oor 'n nuwe skeermes of 'n nuwe naskeerroom om die vel lekker te laat voel en sulke ietsies nie. Sy siekte maak hom somber. Hy kan nie verstaan waarom juis hy wat so baie ander se pyn help verlig het, nou so baie en so lank moet ly nie.

Hy kon nog so baie vir ander gedoen het. Hoekom moet mens sterf as jy nog wil lewe? Hy het sy lewe lank met die siekte en dood van ander gewerk; nou moet hy aan sy eie werk. Het hy nie verkeerd gekies toe hy besluit het om medikus te word nie - om só jou lewe lank met siekte en dood te werk?

Sy vrou kom uit die kombuis en praat met hom. Sy kan sien hy voel al weer sleg. Sy probeer hom opbeur. Sy staan daar in die deur, besorg oor die lang siekte van haar man, self aangetas deur maande se medelye, vrees...

"Jan is ook siek," sê sy. "Hy moet glo 'n ernstige operasie ondergaan."

Sy het dit 'n uur gelede ook al gesê, en hy begryp dat sy hom probeer troos, maar soos netnou verval hy in homself, antwoord nie daarop nie. Dit maak haar bedruk dat hy so weinig spraaksaam is; dit maak haar so trietsig as hy daar so stil sit sonder om 'n woord te sê. Met 'n sug wat hy nie kan hoor nie gaan sy weer weg.

Een van sy kleinkinders kom binne met iets lekkers wat sy dogter vir hom stuur. Hy eet dit nie maar vra dat sy dit vir hom moet gaan bêre vir later. Al die medelye en meelewing en sorg en besorgheid laat hom nog sieker en ernstiger voel. Dit maak hom bang, verswaar die erns van sy siekte.

Toe hy weer heeltemal alleen is, dink hy; ek kan dit nie haal nie; eendag sal die groot en finale verwoesting kom. Maar wat is daar in sy lewe om verwoes te word? die dood het alleen sin as dit iets sinvols verwoes.

Hy gaan 'n entjie stap saam met sy kleindogter wat weer huis toe gaan. Hy wandel moeilik deur die strate. Dit is 'n pragtige laatsomer-oggend. Die bome staan in hulle veelkleurige blare. Die son is sag. Hy onthou: "In a somer season when soft was the sonne". Hy weet nie of hy weer 'n somer sal beleef nie.

Hy dink daaraan dat hy die laaste tyd - dalk die laaste tyd van sy lewe - so min met sy vrou en kinders gesels, dat hy hulle verwaarloos - 'n siekte wat die gesondes verwaarloos! dat hy so met sy eie siek gedagtes besig is. Hy moet by sy dogter ingaan, dink hy. Hy moet iets doen vir die lewendes, tot die einde toe. Hy stap in, vra haar uit na haar gesondheid, en dit maak haar gelukkig dat hy ineens so spraaksaam is.

Toe voel hy skielik hoe 'n koue hom bekruip. Sy dogter sien dit. "Voel Pa siek?" vra sy besorg.

"Ek is dan al maande siek..."

"Maar is Pa nou sieker?...? Ek vat Pa gou terug met die motor."

"Nee, toe maar, dit is nie ver nie; miskien is dit goed dat ek die entjie stap. Die bietjie wat ek self kan doen, moet ek doen."

Sy stap saam met hom.

Toe hy by die huis kom, is hy reeds koorsig en duiselig. Hy wankel. Dadelik gaan hy lê, en terwyl daar 'n rilling deur sy liggaam gaan, sê hy vir homself: Daar het hy my nou; ek het dit maande lank al verwag...

Hulle ontbied sy kollega wat na hom omsien.

Die dae het weke geword, die weke maande, die maande byna 'n jaar en nou is dit die einde, dink hy. Dae lank lê hy en yl, sien gestaltes wat nie bestaan nie. Soms is daar helder oomblikke, maar helderheid en beneweling gaan nou  ongemerk en gemaklik in mekaar oor.

Toe versink hy in 'n droom. Dit is 'n durende droom, wat aanhou selfs wanneer hy by sy bewussyn is, wanneer hy iets drink, of ietsie eet, of sy natuurlike behoeftes doen.

Hy droom dat hy in 'n pragtige duur motor ry, iets soos 'n Jaguar. Dit is 'n lang reguit teerpad, uitstekend gemaak, en hy ry sag. Hy is sterk en bestuur self; Maar die rit beangs hom. Dit is nie 'n rit soos van iemand wat blymoedig is nie. Hy sit alleen in die motor met sy oë angstig op die lang reguit pad gerig, want 'n vrees is in hom dat hy by 'n hek sal kom. Daar is geen rede om bevrees vir 'n hek te wees nie, want daar is vandag mos nie meer hekke op die grootpaaie nie. En as daar hekke was, sou hy hulle immers self kon oopmaak. Tog laat hy toe dat die vrees oorheers. Tog maak die gedagte aan die hekke hom so bevrees dat hy vir niks anders aandag het nie. As daar afdraaipaaie, stilhouplekke, omdraaikans is, dan sien hy hulle nie. 'n Skok gaan deur hom. Daar sien hy inderdaad 'n hek. Toe hy nader kom, sien hy dit is oop. Met 'n sug van verligting ry hy deur.

Hy voel onrustig. Hy maak sy oë oop, maar die wakendes by hom kan sien dat hy verby hulle kyk en deurmekaar is. Hy maak bewegings met sy hande asof hy 'n  motor bestuur, en mompel ongeduldig oor die hek wat daar is, maar oop is - dis tog sinneloos.

"Daar was 'n hek," roep hy verskrik uit. "Maar gelukkig was dit oop."

Sy vrou sit haar hande op sy hand en kop.

Hy bedaar.

Hy reis verder. Daar is weer 'n hek, en weer 'n hek, maar hulle is almal oop. Tog laat elke nuwe hek hom skrik - die feit dat hulle oop is... dit word dus vir hom makliker gemaak om voort te reis, voort, die eindeloosheid in, sonder terugkeerkans. Hy dink daaraan dat hy nog nie vasgestel het of daar remme aan sy motor is nie. Hy soek met sy voete, vind die remme, toets hulle; die motor gaan staan. Toe sien hy dat hy betyds gerem het. Hy staan voor 'n hek wat toe is. Daar staan 'n man, 'n gewone verkeersman soos by 'n padblokkade. Die man loer by sy venster in.

"Waar reis u heen?"

Hy weet nie dadelik wat om te antwoord nie. Toe sê hy: "Waar almal heen reis."

Die man maak die hek oop.

"Ry dan maar," sê hy.

So hou dit aan. elke maal is daar 'n hek en staan daar 'n verkeersman wat vra waarheen hy ry. Altyd gee hy dieselfde antwoord, en elke keer mag hy dan verder reis. Maar sy vrees word al sterker. Dalk kom daar 'n hek en 'n man wat nie wil oopmaak nie. Maar voorlopig gaan dit goed. Altyd weer maak 'n verkeersman die hek vir hek vir hom oop.

Toe kom daar 'n hek met 'n man wat anders lyk, wat 'n nuwe vraag vra: "Wie is u?"

"Ek is Dokter Diedericks. Ek is 'n geneesheer."

"Ja, ek weet van jou. Ons weet van al jou weldade. Ry maar."

Die man maak die hek vir hom oop.

Hy ry nou deur baie hekke en wys net elke keer na die kenteken op sy voorruit wat aandui dat hy 'n geneesheer is. Dan laat hulle hom vriendelik deur. Party keer hom net voor om hom te groet en 'n goeie reis toe te wens. Party van die hekwagte was sy pasiënte wat lankal dood is, hom nooit betaal het nie en hoom nou eers bedank. Aan die een kant stel dit hom gerus, aan die ander kant ontstel dit hom - die reis voder te maklik en te vinnig, sonder dat hy weet waarheen.

Toe kom hy by 'n hek waar daar twee manne staan. Dit maak hom weer beangs. Hy besef instinktief dat dit hier moeiliker sal gaan. Hy hou stil. Bang wag hy vir hulle.

"Wie is jy?" vra een.

"Ek is dokter Diedericks. Ek is 'n geneesheer, en het baie mense gesond gemaak. Ander kon ek nie genees nie, maar ek het hulle lyding verlig, dikwels sonder vergoeding. Ek isonderweg verby party van hulle en hulle het my bedank en deurgelaat."

Die twee manne aarsel, en 'n tyd lank staan hulle eenkant met mekaar en beraadslaag sonder dat hy kan hoor wat hulle sê. Lank bekyk hulle hom twyfelend.

Toe vra een: "Is dit jy wat met die groot treinongeluk in Johannesburg by die arm derdeklaspassasiers aan die agterkant van die trein begin dokter het...?"

"Ja, dit is ek."

"Dan kan jy maar ry."

Lank ry hy ongesteurd verder. Dit lyk of daar nie meer hekke is en manne wat vrae stel nie. Wyd en oop lê die wêreld, sonder iets wat jou keer, met 'n landskap wat boomloos en hemelloos is, eindeloos uitgestrek, sonder sonskyn, maar nie donker nie, asof onder bewolkte lug, grys, met 'n reguit pad wat onbelemmerd in die verte oor die vlaktes uitstrek.

Naderhand ry hy deur 'n digte mis. Plotseling is daar weer 'n hek, en weer staan daar twee manne.

"Ons het oor die radio van die ander hekwagte gehoor dat hy kom. Jy is dokter Diedericks, geneesheer."

Groot angs bevang hom.

"Ons moet jou uitvra. Wat het jy vir jou pasiënte gesê wat jy gesond gemaak het?"

"Wat bedoel u?"

"Het hy hulle ooit vertel dat jy nie die enigste of eintlike geneesheer is nie..dat die pasiënte moet saamwerk...?"

"Ja, dit het ek dikwels..."

"Het jy hulle ooit vertel van die genesende krag van God die Here?"

Hy laat sy kop sak in skaamte.

Nee, dit het hy nooit vertel nie. Maar hy het hulle altyd bemoedig, hulle min geld gevra - hy het baie arm pasiënte verniet gedokter.

"Ek het nie ryk geword uit my praktyk nie."

"Ja," sê hulle, "ons weet dit reeds."

Hulle aarsel nog so 'n bietjie. Toe, langsaam, asof hulle nog twyfel en hom 'n groot guns bewys, maark hulle die hek oop.

Neerslagtig ry hy verder. Dit word al moeiliker. Netnou sal hulle hom weer vrae stel wat hy ontkennend moet beantwoord. Dan sal hulle hom nie laat deurgaan nie. Waarheen dan? Daar is immers nie omdraaikans nie. 'n Lewe van toewyding en harde werk - en tog het hy foute gemaak; was hy nalatig, sonder om te weet dat hy nalatig was. Hy het baie ellende verlig of weggeneem, maar het hy vreugte verkondig? Moes hy nie liewer predikant geword het nie? Hy het baie aan ander mense, vreemdelinge, gedoen, maar het hy ooit aan homself gewerk? Aan sy geliefde huismense? Hy voel skuldig - maar hy weet nie mooi waaroor nie. Hy het lus om te probeer omdraai en te kyk of hulle weer die hekke vir hom sal oopmaak oppad terug huis toe. Hy maak wilde stuurwielbewegings met sy hande asof hy vinnig met 'n motor omdraai. Sy vrou sit haar hande op syne. Hy bedaar.

Toe sien hy iets wat hom tegelyk van hoop en wanhoop laat bewe. Hy sien 'n hoë rots voor hom en bo-op die rots 'n groot kerk, soos hulle in die Middeleeue gebou het. Dit is 'n pragtige groot kerk. Ineens is daar sonlig oor die landskap. Die sonlig blink in die groot kerk en vensters. Daar staan talle groot blink motors om die kerk. Maar hoe sal hy daar kom?  Hy sien nog hekke voor hom, en 'n steil, kronkelende pad na die kerk toe, hoog op die rots.

Hy het verwag dat hy 'n gesing en bede uit die kerk sou hoor kom. In plaas daarvan hoor hy 'n aanhoudende jubelende gelag uit die gebou opklink. Dit verstom hom. DIs of hy deur die groot vensters teen die hoë mure silhoeëtte van verminkte gestaltes sien, maar hulle lag, of hulle krul so van die lag.

Daar is hy ineens al weer voor 'n hek. 'n Indrukwekkende man staan voor die hek, lank en fris gebou, maar deurdringende juweelagtige oë. Hy staan vreesloos orent, soos iemand wat baie mag het, soos 'n regter, soos 'n engel wat soos 'n regter aangetrek is in 'n toga.

Hy hou vol vrees 'n hele ent van die hek af stil.

"Waar gaan jy heen?" roep die man van ver af.
"Na die kerk toe, u edele," antwoord dokter Diederiks.

"Wie is jy?"
"Dokter Diedericks."

"Waarom is jou gesig so strak? So bevrees? so ernstig? Waarom lyk jy so bedruk? Waarom lag jy nie? Ek laat alleen mense deur wat lag. Hy wat in die hemel woon, lag." Om te bevestig wat hy gesê het, wys die man met 'n vinger na 'n plek in 'n dik boek wat hy by hom het, oopgeslaan, met die oopgeslane kant na Diedericks toe. Diedericks kan egter niks daarvan lees nie, dit is te ver, en dit is in klein skrif, gedruk op dun papier. Hierdie woorde verbaas hom. Dit klink amper spottend.

"Ek weet alles van jou af. Dat jy gely het in jou jeug, dat jy daarom gesluit het om geneesheer te word om ander se lyding te verlig, dat hy 'n baie swygsame en stug mens is omdat hy so baie lyding gesien het, dat jy baie siekes genees het, baie behoeftiges en armes gratis behandel het, dat jy hard gewerk het, baie nagevors het om die mense se lyding te verlig, maar dat jy nooit gelag het nie, nie Bergson oor die lag gelees het nie, of Norman Cousins nie."

"Maar ek het baie in die Bybel gelees. Ek was nie 'n kerkmens nie, maar ek was 'n Bybelmens."
"Dan het jy nie goed gelees nie."

Skielik raak Diedericks opstandig, begin hy sy man staan: "Waarom moet ek lag? Moet ek lag oor my een kind wat dood is, oor my eerste vrou wat ek verloor het, oor al die lyding wat ek in my lewe gesien het, oor my eie lang siekte van nou al byna 'n jaar, oor die pyn wat ek self gely het van my geboorte af tot nou toe? dit is nie maklik om daaroor te lag nie."

Die man is inskiklik: "Nee, dit is nie altyd maklik om te lag nie. Abraham en Sara en Hagar se seun het al moeilikheid met die geslag gehad, en Job met die mense wat jonger as hy was, en die Prediker, maar Dawid..."

Diedericks raak al dapperder:  "Moet ek lag as die ongeluk my tref? Moet ek oor verwoesting en broodgebrek lag? moet ek oor my sondes lag, of oor dié  van ander mense?"

"Maar het jy ooit jou pasiënte leer lag? Het jy ooit dié wat gesond geword het, aangemaan om te lag, dié wat jy genees het, gewaarsku om te gaan en te lag? Het jy ooit gelag omdat jy geneesheer was en nie die pasiënt nie? Het jy daaraan gedink dat jy tot jy siek geword het 'n lang lewe gehad het om te lag? Dat jy nou nog daaroor kan lag?"

Dan volg daar 'n lang stilte.

"Wat moet ek nou doen? vra Diedericks.

"Omdraai."
"Waarheen?"

"Terug na waar jy vandaan gekom het."

"Om wat te doen?"

"Om te gaan leer lag. Daar moet 'n tyd wees om te lag."

Die man lag en laat hom omdraai.

Toe hy terugry, is daar skielik geen hekke nie.

Stadigaan word hy weer beter, langsaam, met tye van nuwe verswakking. Ure lank sit hy sonder om te roer, sy gedagtes soos 'n groot glas water. dan dink hy oor sy droom..."Die droom wil my iets leer, ek weet nie hoekom nie."

Toe kom die predikant op besoek, iets wat nooit vroeër gebeur het nie. Die predikant het altyd gedink die dokter het hom nie nodig nie, en die dokter het gedink  die predikant is iemand wat redeneer: "Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van die plesier: wat bring dit?"
Hy hoor weer hierdie gedagte toe hy die predikant daar voor hom sien. Dit klink vir hom bekend-vreemd, asof dit nie sy eie gedagte is nie, asof hy dit dink met die stem van die man wat hom laat omdraai het.

Dokter Diedericks sien hoe die predikant hom aankyk. "Dalk dink hy dit is klaar met my."

"Moet ek vir u iets lees, dokter?" vra die dominee.

"Graag," antwoord Diedericks.

"Wat sal ek vir die geneesheer lees?" dink die dominee. Hy soek. Bly rond.  Vra: "Wat moet ek vir u lees?"

"Dominee kan  maar lees wat u wil."

Die man is sterwende, dink die predikant, sy taak is voltooi, hy gaan huis toe, al kon hy nog lank gelewe het.

"Dan sal ek vir u lees uit Prediker 7. Ek lees van vers 1 tot 16."

Hy begin lees. Dokter Diedericks neem elke woord op, al lyk dit of hy skaars hoor. Toe die dominee by vers 3 kom, roer dokter Diedericks asof hy die dominee wil stilmaak. Maar hy sê niks nie. Toe die predikant by vers 6 kom, roep Diedericks "Dit is genoeg." Dit is of hy helder raak. Asof hy iets ontdek het, roep hy: "'n Mens kan lag terwyl hy treur." Hy raak stil. Doodstil sit die predikant en mevrou Diedericks in die vertrek by die dokter, verstom. Hulle kyk na die sieke. Sy mond is nog oop in 'n naroep. Sy oë is toe. Hy sak terug in die groot leunstoel met die hoë rug. Sy mond vertrek. Dit lyk asof hy dood is...of hy lag...

T.T. Cloete                                                                                                                    

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7