# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Dis Saliger om te Gee as om te Ontvang

Daardie storie van Joan en haar juwele laat my dink aan 'n ander dogtertjie wat eendag alleen winkel toe gegaan het.

Ons sal haar maar Gwennie noem, sodat julle nie kan uitvind wie sy regtig is nie.

Gwennie het vir 'n tyd by haar ouma gekuier, en die twee het groot vriende geword. Hulle was altwee baie hartseer toe die dag genader het dat Gwennie weer moes teruggaan na haar Moeder en Vader.

Een agtermiddag was Gwennie 'n bietjie rusteloos, en sy het ouma gesoebat om haar 'n bietjie met die motor uit te neem. Maar ouma kon op daardie oomblik nie gaan nie. Dit het Gwennie droefgeestig gemaak, en ouma was baie jammer dat sy haar nie kon uit neem nie.

'n Rukkie later het ouma vir Gwennie geroep. "Ek het aan 'n plan gedink," het ouma gesê. "Hoe sal jy daarvan hou om heeltemal vingeralleen winkel toe te gaan? Ek bedoel om iets moois vir jouself te gaan koop."

"Ek sal vreeslik daarvan hou!" het Gwennie uitgeroep. "Ek wou altyd graag alleen gaan. Maar ek het nie geld nie."

"Toe maar," het ouma gesê, "ek sal jou 'n paar sjielings gee, en dan kan jy vir jou koop wat jy graag wil hê."

"Mag ek na Woolworth's gaan?"

"Ja, as jy wil."

"O, ek is so bly!" het Gwennie uitgeroep, want dit was een van die dinge wat sy baie graag wou doen. Sy was gou aangetrek en reg vir die stad. Ag, hoe heerlik was dit vir haar om heeltemal alleen te stap, met haar eie geld in haar sak om te koop wat sy wou!

Eerlank was sy by die winkels en het sy die uitstalvensters besigtig. Later is sy by een van die groot winkels in, en Gwennie het daar soos in 'n droom rondgestap.

Maar wal sal sy nou koop - dit was baie moeilik om te besluit. Daar was baie dinge wat haar aandag getrek het, maar sy het net twee sjielings gehad.

Sy het aan 'n pop gedink, maar ag nee wat, sy het reeds baie poppe gehad.

Miskien 'n beursie of handsak? Of verf of 'n paar mooi sakdoekies?

Toe het sy 'n pragtige plant op 'n rak sien staan, en dit kos slegs nege pennies. "Ouma sal baie daarvan hou," het sy gedink terwyl sy daar besluitloos staan.

"Ek is seker dit sal ouma baie gelukkig maak," het sy gedink. en toe, terwyl daar 'n rilling van vreugde deur haar liggaampie gaan, het sy die plant gekoop en betaal.

Sy het so gelukkig gevoel oor hierdie kopie dat sy gevoel het dat sy van die orige geld nog iets vir ouma wil koop. Nadat sy baie gedink het, het sy besluit om vir die orige geld vir ouma 'n mooi siffie te koop. "Ek is seker dat ouma baie daarvan sal hou," het Gwennie vir haarself gesê.

Sy was gou weer onderweg huis toe, ewe trots oor die goed wat sy gekoop het. Dit het vir haar gevoel of haar voete skaars op die grond raak.

Met 'n stralende gesig het sy die huis binnegekom, met die twee pakkette styf teen haar vasgedruk.

"Ouma kyk wat het ek vir ouma gekoop!" het sy uitgeroep. "Vir my?" het ouma gesê, "Maar ek het dan gesê dat jy vir jou iets moet koop."

"Ek weet," het sy gesê, "maar ouma sal baie hou hiervan, en ek is so gelukkig."

"So gelukkig?" het ouma gesê onderwyl sy die twee pakkette uit Gwennie se hande neem, en daar het trane in haar oë gekom. "En waarom is jy so gelukkig?"

"Wel, ouma, onderweg huis toe het ek gedink dat 'n mens baie gelukkiger is as jy gee liewer as om te ontvang. Om te gee is soveel heerliker as om te ontvang. Dink ouma nie ook so nie?"

"Dit is altyd so," het ouma gesê, en sy het Gwennie 'n liefderyke druk gegee.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell