# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Dirkie Uys

'n Seun jaag met drie burgers deur die veld, teen die skuinste van die koppie langs, met die rietspruit agter en dongas en ongelyktes voor. Dis Dirkie Uys, vyftien jaar oud, seun van kommandant Piet Uys. En sy vader het daar op die wal van die rietspruit agtergebly. 

Hoe het dit dan tog gekom? Vanoggend, gister, eergister was alles so anders. Saterdag het die twee kommando's uitgetrek, driehonderd vier-en-sewentig ruiters,  met nog pakperde vir bykomende ammunisie en voorrade, en kommandante Uys en Hendrik Potgieter vooraan. Van anderkant die Drakensberge het hulle hier na Natal toe gekom om hul mede-Trekkers te help toe die noodroep hulle bereik het na die moord op hul leier, Piet Retief, en daardie donker nag toe die Zoeloe-leër in een verskriklike aanslag onder man en vou en kind gemaai het. 

Hulle sou die Strafkommando wees om Zoeloekoning Dingaan te gaan terugbetaal vir wat hy gedoen het, en hulle het goed gevorder, tot 'n paar uur te perd van sy hoofstat af. Nou is dit Woensdag, en hulle het in één slag die Vlugkommando geword. 

Vanoggend het hulle die Zoeloes se spoor gekry. Gretig het die kommando's aangedruk en spoedig die impi's gewaar; een teen die hang van 'n lang, hoë heuwel; die ander onder op die valkte. 

"Waar wil jy slaan, neef?" het kommandant Uys vir kommandant Potgieter gevra. 

"Op die vlakte," het kommandant Potgieter dadelik geantwoord, en versigtig het hy en sy burgers wegbeweeg, snuffel-snuffel in elke mielieland om seker te maak dat daar nie dalk van die vyand skuil nie, met verspieders in elke kloof op om eers te gaan kyk. 

Maar kommandant Uys gee sy perd die teuels en roep: "Kom burgers!" Toe storm hy, met sy manskappe agterna - en Dirkie ook. Dan is hulle nog net vyftig tree weg. Hoe sit die Zoeloe-krygers nie ingeryg nie, ry op ry, drie regemente een na die ander, skuilend agter hul skildvelle.

Die burgers spring van hul perde af en lê aan.

Die eerste sarsie val, en die voorste ry swart krygers tuimel. Die rye wat nog staan, probeer vertwyfeld 'n paar werpassegaaie tussen die aanvallers inslinger, maar hulle is nie in 'n oop geveg bestand teen die gewere nie. Wat daar nog van die drieduisend oor is, draai om en hardloop. 

"Op hulle spoor, burgers!" roep kommandant Uys, maar dit is nie eens nodig nie. Wild en vry, wild en vry teen die hewelhang langs, af na die vlakte, op in die klowe jag hulle die vlugtende vyand. Die jaende burgers verdeel in groepe, die groepe kleiner groepies. Dis waarvoor hulle gekom het: om Dingaan se mag te verpletter. 

Dirkie Uys bly by sy vader se groep, laai en skiet saam met die ander, en die oorwinningsroes maak hom lighoofdig. Maar sy vader, die kommandant, moet sorg vir sy manne.

"Genugtig! roep kommandant Uys skielik. "Kyk daardie twee Malans." Die Malan-neefs het in hul waaghalsigheid heeltemal van  hul makkers af weggebreek en hoog teen die heuwels tussen twee bosryke klowe beland. Dit kan doodsake wees as die Zoeloes hulle afkeer. 

"Wie kom saam met my?" roep die kommandant. "Ons moet die twee daar gaan afhaal." 

Vyftien burgers, en Dirkie, volg hul leier. Die Malans word gewaarsku. En nou? 

Skielik lewe dit in die klowe van die Zoeloes. Die swart krygers is om en tussen hulle. Vuur! Vuur! Vuur! en moenie ophou nie. Maar daar raak iets met die vuursteen van kommandant Uys se voorlaaier verkeerd, en hy hou 'n oomblik stil om dit reg te maak. Toe tref die assegaai sy heup. Die kommandant pluk dit self uit en smyt dit van hom weg. Die bloed stroom. 

Toe die kommandant en sy klein groepie burgers eindelik weer byeen is, slinger hy in die saal. 

"Vader!" Dirkie help hom lawe. 

"Ons moet verder," kommandant Uys. Oral wemel die veld en hange nou van Zoeloes. Die hoofkommando is nêrens te sien nie en moes seker gevlug het. Hulle is heeltemal alleen. 

Dirkie laai en skiet skoot vir skoot saam met die ander burgers terwyl hul stadig, pynlik stadig terugval, maar telkens soek sy oë na sy vader. Die Zoeloes laat hulle g'n oomblik met rus nie, diep klowe vertraag hulle gang. 

'n Paar honderd tree verder word kommandant Uys weer flou, en hulle moet hom vir die tweede maal bybring. Maar hy kan nie meer alleen regop bly nie, en aan weerskante ry nou 'n burger om hom te stut. 

Daar is g'n sprake meer van 'n geveg nie. Die burgers skiet net wanneer dit nodig word om die aanvallers van hul lyf af te hou. In die agterhoede sneuwel die twee Malans. Nie baie verder nie trap 'n burger se perd in 'n gat en slaan neer. Voor die man weer in die saal kan kom, word hy ook dodelik getref. 'n Groep breek weg en probeer agter om 'n klipkop uitjaag, maar hulle ry teen 'n Zoeloe-impi vas, en nog drie burgers bly in die slag. Twee ander raak afgesonder.

By kommandant Uys is daar nog net drie burgers oor - en Dirkie. 

Hulle kom by 'n rietspruit. Daar is ook Zoeloes, maar die groepie druk deur. Op die oorkantste oewer val kommandant Uys vir die derde maal in 'n beswyming, maar hy veg terug na die lig. 

"Lê my...op...grond...neer," beveel hy.

Hulle doen dit. 

"Ek kan nie...verder nie," stamel hy, en daar is bloed op sy lippe." 

"Hier moet ek...sterf...Red julle self...en veg dapper...tot die einde toe...Hou God voor oë...en sorg vir my vrou...en kinders."

Die burgers huiwer nog. Hulle kommandant hier laat bly? En tog: daar is niks meer wat hulle vir hom kan doen nie. Dirkie staar swygend na die stil liggaam van sy vader. 

"Kom," sê een van die burgers, "ons kan nie langer draai nie. Anders is ons almal vandag dood."

Hulle beweeg na die perde toe. Dirkie huiwer nog, en dan jaag hy ook agterna. Maar hy kan nie sy vader nie sommer so vergeet nie. Hy kyk agtertoe, weer en weer. Toe hy omtrent honderd tree weg is, sien hy die Zoeloes op hom afstorm. Die komandant moes die gedruis en geskree gehoor het, want hy lig sy kop. Hy lewe nog.

"Nee! Vader!" In daardie oomblik vergeet Dirkie sy eie liggaam. Hy weet net dat hy by sy vader moet wees. Met een swaai pluk hy sy perd om en jaag terug - terug na die dood toe, maar met sy hart in hom. 

Drie swart krygers val nog voor sy geweer, maar dit gaan stadig met die ou voorlaaier. Toe is hulle op en oor hom. Dirkie Uys het sy lewe vir sy vader afgelê, al het hy geweet dat daar nie meer redding kan wees nie. 

Die Groot Afrikaanse Heldeboek

Pieter W. Grobbelaar

Human & Rousseau

ISBN 0-7981-0281-0

Dirkie Uys