# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die voorgeskiedenis van die mens in Afrika

Navorsers na die oorsprong van die mens is dit vandag feitlik eens dat die menseras in Afrika ontstaan het. Die versameling van die getuienis om dié opvatting  te staaf en die bekendmaking daarvan aan die wêreld het 'n enorme bydrae tot die 20ste eeuse wetenskap gelewer. Die ontdeking, in 1924 - van die eerste deurslaggewende fossielgetuienis - die Taung-skedel uit Suid-Afrika - is trouens sestig jaar later in 'n vooraanstaande Amerikaanse tydskrif beskryf as een van die twintig wetenskaplike ontdekkings wat aan die 20ste eeu sy beslag gegee het. 

Waarom Afrika?

Watter omstandighede wat gunstig was vir die verskyning en gevolglike ontwikkeling van die menseras (die hominiede), het in die vroeë Afrika oorheers? Die eerste faktore is geografies. Afrika beslaan bykans 'n kwart van die aarde se bewoonbare landoppervlakte, en byna drie kwart van sy 30 000 000km2 lê tussen die Kreefs- en Steenbokskeerkring. Hierdie uitgestrekte warm gebied was die smeltkroes waarin sogenaamde Ethiopiese faunagebied ontwikkel het. volgens apleontologiese getuienis het die hominiede as 'n deel hiervan ontstaan. Molekulêre en fossiel-getuienis dui sterk daarop dat dit laat in die Mioseen of teen die begin van die Plioseen (omstreeks 5,7 miljoen jaar gelede) gebeur het. Die menseras is dus 'n produk van die trope en subtrope, en vandag nog getuig sy liggaamsfunksies van 'n organisme wat by hitte aanpas. Afrika se verbintenisse met Eurasië het veroorsaak dat daar van tyd tot tyd groot wisselings van dierelewe tussen Afrika en Asië plaasgevind het. Ongeveer 5-6 miljoen jaar gelede  het die Mediterreense bekken grotendeels opgedroog, en in dié tyd het verskeie Asiatiese oerdiere, onder meer die olifantfamilie, verskeie antiloopfamilies, hiënas en sabeltandkatte, blykbaar die eerste keer na Afrika gemigreer.

Teen hierdie dierkundige agtergrond het die hominiede blykbaar in Afrika te voorskyn getree. Daar is egter geen getuienis dat hulle een van die groepe was wat droogvoets van Asië na Afrika geloop het nie. Inteendeel, alle beskikbare genetiese veranderinge uit reeds bestaande  hoër primate in Afrika ontstaan het. Voor dié tyd moes daar geskikte groepe voorgangers op die vasteland van Afrika gewoon het, in sekere bevolkings moes daar genetiese mutasies plaasgevind het, en die omgewing - sowel fisiek as bioties - moes nét reg gewees het vir die oorlewing en opbloei van die pas ontstane hominiede. Die rol van die Asiatiese oerdiere wat Afrika binnegekom het, en die uitdagings wat 'n steeds meer verdorrende vasteland gestel het, moet nog verder ondersoek word, maar dit is duidelik dat dié faktore deel uitgemaak het van die agtergrond van dié vreemde nuwe tweebenige diere wat binne 'n paar miljoen jaar die aarde sou verower. 

Die Taung-kind

In Februarie 1925 het professor Raymond Dart van Johannesburg die wêreld verstom met die aankondiging dat die skedel van 'n fossielkind in November 1924 ontdek is by die Buxton-kalkgroef naby die Stana dorpie Taung ("die plek van Tau, die Leeu"), sowat 80km noord van Kimberley, en vandag deel van Bophuthatswana. In sy beskrywing van dié skedel het Dart die aandag gevestig op die klein hoektande, soortgelyk aan dié van hominiede en heeltemal verskillend van dié van ape. Die basis van die skedel het daarop gedui dat die kop betreklik goed gebalanseer was op 'n ruggraat wat feitlik regop moes geees het, in teenstelling met die posisie by ape, waar die kop vooroor hang van 'n ruggraat wat skuins geplaas is. Dart het dus by die Taung-skedel twee belangrike kenmerke van hominiede uitgewys, naamlik verkleining van die hoektande 'n regop liggamshouding. Maar dit was die kenmerke van die brein wat die grootste belangstelling gaande gemaak het. Die Taung-skedel was vergesel van 'n pragtig behoue endokraniale afgjietsel. Sulke afgeitsels ontstaan wanneer 'n breinholte na die dood gevul raak met sand wat dan afgeset word, byvoorbeeld deur kalk. So ontstaan 'n getroue beeld van die grootte en vorm van die binnekant van die skedel, en ook van die kenmerke van die breinoppervlak wat in lewe aan die binnekant van die breinholte afgedruk is. Die oppervlak van die endokraniale afgietsel van die Taung-skedel het 'n rykdom besonderhede oor breinwindings en bloedvate getoon. Die eerste opspraakwekkende kenmwerk van die endokraniale afgeitsel was die totale grootte daarvan nouliks groter as dié van 'n sjimpanseebrein was, en ongeveer ewe groot as die brein van 'n gorilla; sy volume was nie meer as een derde van dié van die moderne menslike brein nie.

Maar Dart het ook op die afgietsel merke gevind wat vir hom op verwantskap met hominiede eerder as met ape gedui het. Vir Dart het dit gelyk asof hy te make het met 'n swaar gefossileerde skedel waarvan die breingrootte met dié van 'n aap ooreengestem het, terwyl ander anatomiese kenmwerke na aan dié van die menseras was. So 'n kombinasie  van eienskappe was tot nog toe onbekend. Dart was daarvan oortuig dat die Taung-skedel nie tot die apefamilie (die Pongidae) behoort het nie, en hy het die eksemplaar ingedeel by 'n nuwe genus en spesie wat hy Australopithecus africanus (suidelike aap van Afrika) genoem het. Aanvanklik het hy dié nuwe spesie nie onder die hominiede ingedeel nie, want hy was van mening dat dit 'n nuwe familie iewers tussen die ape- en die mensefamilie verteenwoordig. Eers heelwat later, toe noukeruige studies van soortgelyke eksemplare in Transvaal gemaak is, is aanvaar dat Australipithecus tot die hominiede behoort en dat Dart inderdaad 'n baie vroeë lid van die menseras ontdek het. Die ontdekking van so 'n skedel in Suider-Afrika was onverwags, want die wêreld se aandag was tot in dié stadium op Asië toegespits, vanweë ontdekkings wat in die vorige eeu daar gdoen is. Dart het sy kollegas egter herinner aan 'n voorspelling van Charles Darwin waarvan almal reeds vergeet het, nl. dat die mens se vroeë voorlopers waarskynlik in Afrika gewoon het, en nie elders nie. Dart het selfs verder gegaan en beweer dat die ontdekking van Australopithecus Darwin se voorspelling staaf. As die plek waar die skedel gevind is, onverwags was, was sy morfologie eers opspraakwekkend, want die Taung-skedel was die eerste van 'n hominied met klein harsings wat ontdek is. Die buitengewoon groot brein van die mens is lank as een van sy mees opvallende kenmerke aanvaar. wat massa en volume betref, is die moderne mens se harsings sowat drie keer so groot as die van die die gorilla, hoewel sy liggaamsmassa baie minder is, en gevolglik het anatome en antropoloë gewoond geraak aan die gedagte dat die mens 'n hoër primaat met 'n  besonder vergrote brein is. Dit was dus 'n skok om vas te stel dat hoewel die Taung-skedel in so baie opsigte hominied was, sy geraamde skedelkapasiteit gedui het op 'n brein wat nie veel groter as dié van die ape was nie. Die aanwesigheid van melktande, met daaronder die eerste permanente kiestande, beteken dat die Taung-kind volgens moderne menslike maatstawwe tussen drie en vyf jaar oud was toe dit dood is. Dit was dus redelik om te aanvaar dat dié kind se brein en breinkas groter sou geword het indien dit langer gelewe het, maar selfs die geraamde volwasse breingrootte sou dit nog nie groter as dié van die hedendaagse ape gemaak het nie.

Reaksies op Dart se ontdekking

Dart se bewering dat die Taung-kind nie maar net 'n afwykende sjimpansee was nie, soos baie van sy kritici beweer het, het tot heftige meningsverskille onder wetenskaplikes gelei wat langer as 'n kwarteeu geduur het. Die kern van die geskil was: Moes die klein harsings as so belangrik beskou word dat die status van hominied ten spyte van ander hominiedagtige kenmerke van Australopithecus weerhou word, of moes sy status gebaseer word op die meeste van sy anatomiese kenmerke, wat hominied was, selfs al was die hominiede neiging tot buitengewone breinvergroting nie aanwesig nie? Dié geskil is eers besleg nadat heelwat meer fossiele  in Suider-Afrika gevind is, en uitgebreide ondersoeke van dié fossiele en van die skelette en harsings van moderne ape en mense onderneem is. Vandag word algemeen aanvaar dat Dart reg was, en die Taung-kind se aanspraak op die status van hominied is bevestig. Dart het apleo-antropoloë dus gedwing tot 'n besef dat daar in 'n stadium lede van die menseras met klein harsings geleef het, en dat hulle deur fossiele van Australopithecus verteenwoordig word. Die ontdekking van Taung-skedel en Dart se erkenning van sy plek in die ontwikkeling  van die menseras was een van die belangrikste en mees revolusionêre spronge in die mens se soektoeg na en insig in sy oorspronge. 

Die aapmense van Sterkfontein

Een van die faktore wat die aanvaarding van Dart se aansprake vertraag het, was dat die Taung-skedel dié van 'n kind was, want die volle ontwikkeling van sy eienskappe kon eers tydens en na adolessensie verwag word. Eers twaalf jaar later, in 1936, het dr. Robert Broom by Sterkfontein naby Krugersdorp die eerste skedel van 'n volwassene gevind. Broom was 'n Skotse medikus en paleontoloog wat in Australië gewerk het voordat hy na Suid-Afrika gekom het. In die Karoo het hy talle fossiele van soogdieragtige reptiele ontdek en heelwat lig op die ontwikkeling van soogdiere uit reptiele gewerp. Hy was een van Dart se weinige ondersteuners wat werklik goed ingelig was, en hy was vasberade om Dart se stelling waar te bewys deur 'n volwasse Australopithecus the vind. Voorts was hy een van die eerstes om die spesie waarvan die Taung-kind die eerste eksemplaar was, by die Hominidae in te deel, en hy het ook 'n vooruitskouende voorstelling gemaak van hoe hy gedink het die volwasse Australopithecus sou lyk. Agt dae na sy aankoms by Sterkfontein op 9 Augustus 1936 het hy 'n volwassene gevind, en die eksemplaar wat hy ontdek het, het baie nou ooreengekom met die voorstelling van 'n volwasse aapmens wat hy reeds in 1933 gemaak het. Die aapmense van Sterkfontein het die morfologiese kenmerke wat Dart in die kind bespeur het, ten opsigte van die volwassene bevestig. Die laag van die Sterkfontein-grotafsetting waaruit dié skedel gekom het, was ryk aan fossiele, en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het Broom reeds 19 eksemplare van Australopithecus, met inbegrip van skedels, kakebene, tande en skeletbeendere, uit hierdie laag gehaal. Ná ondersoek deur T.C. Partridge, wat die afsetting in ses lae of "lede" verdeel het, is die naam Lid 4 aan hierdie laag gegee. 

Die ondersoek van die fossiele het Broom daarvan oortuig dat die Sterkfontein-aapmens in sekere opsigte van dié van Taung verskil, en hy het die Sterkfontein-hominiede ingedeel in 'n afsonderlike genus en spesie wat hy Plesiantropus transvaalensis genoem het. Later het die meeste geleerdes tot die slotsom gekom dat die Sterkfontein-hominied tot dieselfde spesie as die Taung-kind behoort, maar 'n lid was van 'n ander subspesie, wat hulle Australopithecus africanus transvaalensis genoem het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Broom op aandrang van genl. J.C. Smuts die werk by Sterkfontein hervat. In hierdie tweede fase, tussen 1947 en 1949, het hy met die hulp van J.T Robinson baie nuwe eksemplare by Sterkfontein ontdek, met inbegrip van die merkwaardige skedel van "mevrou Ples" (Sterkfontein-hominied no.5) in 1947. 'n Derde fase in die uitgrawings by Sterkfontein het tussen 1956 en 1958 plaasgevind onder Robinson en C.K Brain. die vierde - en langste - fase het in 1966 begin toe P.V. Tobias en A.R. Hughes van die Witwaterrandse Universiteit 'n grootskaalse uitgrawing  van die terrein aangepak het. Hierdie ambisieuse projek het teen die middel van die tagtigerjare reeds sowat 350 nuwe hominied-eksemplare opgelewer. die meeste hiervan was van Australopithesene van Lid 4, maar sommige het behoort aan 'n vroeë spesie van Homo, nl. Homo habilis, wat in die omgewing van klipwerktuie in Lid 5 gevind is. Dieregebeente in Lid 4 het groot ooreenkoms getoon met dié van Oos-Afrika, wat op 2, 5-2, 75 miljoen jaar voor die hede gedateer is. Dit het dus na die mees waarskynlike datum vir die Sterkfontein-Australopithecus gelyk, hoewel daar nog heelwat geargumenteer is oor die skynbaar jonger afsetting by Taung. 

Kromdraai en Swartkrans

In Junie 1938 het 'n skoolseun, Gert Terblanche, by Kromdraai, sowat 2km van Sterkfontein, die eerste eksemplaar van 'n soort aapmens met groter tande ontdek. Broom het besef dat die hominied-oorblyfsels  by Kromdraai dié van 'n klaarblyklik ander aapmens is as dié  by Sterkfontein. Dit het 'n klein breinkas gehad, maar die gebeente en spiere wat swaarder en die wangtande (vals en ware kiestande) groter. Broom het hierdie nuwe aapmens Paranthropus robustus genoem, maar vandag staan dit bekend as Australopithecus robustus. Aan die hand van verwante dierebeendere van Kromdraai is bepaal dat dit geologies jonger as die Sterkfontein-spesie was. Verdere eksemplare van dié aapmens wat tussen 1941 en 1980 by Kromdraai ontdek is, het die siening gestaaf dat A.robustus gespesialiseerde eienskappe toon wat dit buite die regstreekse afstamming van die mens plaas.  In 1948 het Broom en Robinson 'n magdom oorblyfsels van 'n australopitheseen by Swartkrans, sowat 2km noordwes van Sterkfontein, gevind. Meer eksemplare van vroeë hominiede is uit dié enkele grotafsetting verkry as op enige ander terrein ter wêreld behalwe Sterkfontein self. Die meeste het nog groter wangtande as dié by Kromdraai gehad, saam met klein voortande. Terselfdertyd het hulle klein harsings gehad, en is hul skelette aangepas by 'n regop posisie en 'n tweebeen-gang, kenmerke wat hulle met alle ander lede van die geuns Australopithecus in gemeen het. Terwyl dit nie moeilik was om A.africanus van Sterkfontein as 'n moontlike voorsaat van die mens te beskou nie, het A. robustus van Kromdraai en Swartkrans te veel blyke gegee van wat paleontoloë gespesialiseerde of afgeleide (apomorfe) kenmerke noem om deel van die stamboom van die mens uit te maak. Hierdie gespesialiseerde eienskappe dui weg van die belangrikste ontwikkelings in die proses van hominisering. Bowendien het alle getuienis  wat uit dierforssiele verkry is, daarop gedui dat die twee Tralnsvaalse grotte waar daar robuuste aapmense gevind is, geologies jonger was as Sterkfontein en Makapansgat, Waar die skraler  geboude A.africanus aanwesig was. Volgens anatomiese kriteria is A.robustus egter met reg as 'n hominied-spesie beskou, Ewe goed as A.africanus, want albei spesies was tweebeen-wesens met klein harsings en beskeie tot klein kiestande. 

Die ontdekking by Kromdraai in 1938 het dus die vroegste getuiens gelewer dat nie al die oeroue hominiede van Afrika beskou moet word as voorsate van die lateres wat tot Homo Sapiens ontwikkel het nie. Die gevolgtrekking was dat hominiede in 'n stadium vertak en in uitlopende soorte ontwikkel het. Hierdie opvatting was algemeen in die dierlike paleontologie, maar in antropologiese navorsing is tot in daardie stadium selde aanvaar dat dit ook met hominiede gebeur het, of dat sommige van die uiteenlopende takke, hoewel hulle hominied was, nie die voorsate van latere mense van die genus Homo was nie. Deur Broom se ontdekking het Afrika dus nôg 'n revolusionêre maar omstrede bydrae tot die paleo-antropologiese denke gelewer. Baie jare daarna sou sommige geleerdes nog steeds probeer om alle oer-hominiede in Afrika in 'n enkele geslaslyn wat na die huidige mense lei, te plaas. Vir die meeste navorsers het die fossiele van Kromdraai en Swartkrans (en later ook dié uit Oos-Afrika wat as A.boisei bekend staan) egter onteenseglik bewys dat die vroeë hominiede in 'n stadium van hul ontwikkeling in ten minste twee geslagslyne verdeel het.

Die slank aapmense van Makapansgat 

'n Vyfde Suid-Afrikaanse terrein met australopitheseen-oorblyfsels is Makapansgat, sowat 23km van Potgietersrus. In September 1947 is die eerste van 'n reeks australopitheseen-oorblyfsels  daar ontdek deur James Kitching, sy broers Ben en Schepers, en A.R. Hughes. Die hominiede van Makapansgat was soortgelyk aan dié van Sterkfontein, hoewel sekere anotomiese verskille daarop dui dat hulle primitiewer van vorm was. Dart het hulle oorspronklik in 'n afsonderlike spesie van Australopithecus, nl. A.prometheus, ingedeel, maar Robinson het hierdie "slank" australopithesene later in die spesie A.africanus "saamgebondel", tesame met dié van Taung en Sterkfontein, en voorgestel dat hulle in twee onderskeie subspesies verdeel met word, nl. A.africanus africanus (Taung), en A.africanus transvaalensis (Sterkfontein en Makapansgat.)

Partridge het vyf lede van die Makapansgatformasie geïdentifiseer. Al die hominiedeksemplare, op 'n enkele uitsondering na, was afkomstig uit Lid 3, waar die dierfossiele ouer is as dié van Sterkfontein. Sowel dié getuienis as paleomagnetiese metings dui op 'n ouderdom van 3 miljoen jaar vir Lid 3 van Makapansgat. Tot dusver is dit die oudste hominiede wat in Suid-Afrika opgespoor is. 

Die gedragskenmerke van die australopithesene

Die soeke na eksemplare van die vroeë hominiede het hand aan hand gegaan met die soektog na tekens van "gefossileerde gedrag" in die vorm van klip- en beenwerktuie en ander argeologiese getuienis van dié wesens  se bedrywighede. Dart het geglo dat A.africanus 'n been-, tand-, en horingkultuur gehad het. Brian het egter later aangetoon dat die onderskeidende kenmerke van die beenvoorrade by Makapansgat, wat die vernaamste grondslag vir Dart se opvatting uitgemaak het, waarskynlik deur die bedrywighede van vleisetende diere verklaar kan word. Moontlik was daar ook geringe bydraes deur ystervarke en hiënas, en miskien 'n minimale bydrae deur hominiede wat bene versamel en gebreek het. Hoewel Australopithecus regop geloop en sy hande vry gehad het, bestaan daar dus min getuienis van 'n materiële kultuur, of in elk geval van 'n kultuur wat onverganklike materiale gebruik het. Ondersoeke van die gedrag van moderne groot ape toon dat hulle in staat is tot 'n verskeidenheid bedrywighede met werktuie van verganklike materiaal soos stokke, blare en bas, en dit is dus waarskynlik dat soortgelyke bedrywighede van Australopithecus grotendeels uitgevoer is met verganklike materiaal wat geen spoor in die argeologiese rekord nagelaat het nie. Teen die middel van die 20ste eeu was daar in Suid-Afrika op vyf terreine reeds honderde fossiele ontdek van wesens wat regop geloop en klein harsings, asook verkleinde hoektande en ander mensagtige eienskappe gehad het. Al hierdie wesens het tot die familie Homonidae en die uitgestorwe genus Australopithecus behoort. Die morfologie van Australopithecus het in 'n hele aantal opsigte die anatomiese gaping tussen die mens van die genus Homo en die lewende groot ape van Afrika oorbrug. Dit het dus aan die vereistes van die 19de-eeuse opvatting van 'n "oorbrekende skakel" voldoen. 

Die verskyning van die vroeë mens

'n Ander groot verassing uit Afrika was die ontdekking dat hominiede wat uit 'n anatomiese oogpunt met die volste reg by die genus Homo ingedeel kon word, so vroeg as die Laat Plioseen (omstreeks 2,3 miljoen jaar gelede) gelewe het. Hierdie vroeë eksemplare van Homo in Afrika het nader aan die mens gestaan as A.africanus, maar was nie so ver ontwikkel as Homo erectus, wat voorheen uit Java, China, Noord-Afrika en moontlik ook Europa bekend was nie. In 1964 het Louis Leakey, Tobias en J.R. Napier die naam Homo habilis ("behendige mens'), wat Dart aan hulle voorgestel het, aan hierdie eksemplare gegee. In 1949 het Broom en Robinson by Swartkrans eksemplare ontdek van vroeë Homo in Afrika. In 1957 en 1958 word in Lid 5 by Sterkfontein ook tande en kaakfragmente saam met klipwerktuie gevind. Tobias stel in 1965 voor dat dié fragmente en werktuie aan lede van die spesie Homo behoort het, soos H.habilis van die Olduvai-ravyn in Noord-Tanzanië, wat in 1959 en 1960 gevind is. Die hominied-oorblyfsels in die Olduvai-ravyn toon dat daar, gelyktydig met A.boisei, sowat 1,9 - 1,6 miljoen jaar gelede 'n ander hominied geleef het, met smaller tande as A.africanus. Meer eksemplare van H.habilis is in 1963 en 1968 by Olduvai gevind, en Mary Leakey het begin om 'n noue verband tussen die aanwesigheid  van hierdie hominied en dié van die klipwerktuie van die Olduvai-kultuur te lê. In 1976 is die vroeër bewering  dat Lid 5 van Sterkfontein H.habilis bevat, bevestig toe Hughes 'n groot deel van 'n skedel met 'n sterk ooreenkoms met H.Habilis van Olduvai bekend stel. Die rekonstruksie van hierdie skedel  deur R.J. Clarke in 1984 bevestig op treffende wyse die H.habilis kenmerke van hierdie wesens. Wat liggaamsbou betref, het H.habilis nader aan die moderne mens gestaan as A.africanus. Dit was die oorsprong van die stamboom van die genus Homo, wat omstreeks 2,3 miljoen jaar gelede te voorskyn getree het toe die hominiedelyn verdeel het. Baie navorsers is dit eens dat terwyl een of meer van die afgeleide vertakkings  van daardie verdeling die robuuste australopithesene omvat, 'n ander belangrike afgeleide vertakkinig H.habilis was. A.africanus was die mees waarskynklike gemeenskaplike voorsaat van hierdie afgeleide vertakkings. H.habilis het tot in die vroeë Pleistoseen bly voortbestaan, en die mees onlangse eksemplare word op 1,6 miljoen jaar voor die hede gedateer. Toe het H.habilis plek gemaak vir 'n spesie wat blykbaar van hom afgestam het, nl. die duidelik onderskeibare H.erectus met groot harsings wat in Hoofstuk 2 beskryf word. Dwarsdeur sy bestaan op aarde was H.habilis in Afrika die tydgenoot van een of ander van die robuuste australopitheseenspesies. In sowel suid- as Oos-Afrika het ten minste twee verskillende soorte hominiede hulle dus langs mekaar gehandhaaf, miskien vir so lank as 1,3 miljoen jaar.

Wat gedrag en kultuur betref, het H.habilis 'n beslissende fase in die proses van menswording verteenwoordig, want sy harsings het opvallend ontwikkel van absolute grootte en miskien ook gehalte betref. Sy kulturele prestasies omvat onder meer die bewerking van harde, onverganklike materiaal, die vervaardiging van 'n reeks uiteenlopende klipwerktuie, en die bou van 'n klipmuur, vermoedelik as skuiling. Op grond van sekere opvallende ontwikkelinge van dele van sy brein is die moontlikheid selfs al geopper  dat H.habilis dalk reeds 'n rudimentêre spraakvermoë kon gehad het. Met die ontwikkeling van Australoithecus tot H.habilis het die mens 'n mylpaal in sy wording bereik. In werklikheid het dit die kloof tussen "menslike" en "dierlike" hominiede oorbrug.

P.V Tobias

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika 

In Woord en Beeld

Hoofredakteur: Trewhella Cameron

Adviserende Redakteur: S.B Spies

ISBN 0 7981 1977 2