# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Die Vol Rivier

Die anderdag toe ek sommige van die wonderlike stories vertel het oor die verhoring van gebed - stories wat ek deur die jare versamel het - het 'n bejaarde dame my gevra of sy my ook 'n storie kan vertel.

"Ja, natuurlik," het ek gesê; en dit is wat sy vertel het.

Dit het gebeur in die ou dae toe die mense begin intrek het in die westelike deel van Noord-Amerika, en toe hulle nog met tentwaens gery het.

Daar sou evangeliedienste gehou word in die Staat Washington, aan die ooskus van Amerika, en gelowiges van die plase en dorpies het reëlings  getref om daarheen te gaan. Sommige sou 'n hele paar honderd myl oor die slegste paaie moet ry om by die vergadering te kom.

By geleentheid van sulke dienste het baie mense etlike weke nodig gehad vir die reis, en as hulle byvoorbeeld teenspoed onderweg kry, deurdat die wa breek, of 'n perd kreupel word, kon hulle nie betyds vir die dienste kom nie.

Toe daar weer sulke dienste aangekondig is, het een gesi vroegtydig vertrek, maar onderweg het hulle baie teenspoed ondervind. En om die kroon te span, het hulle, toe hulle eindelik by die Slag-rivier kom, gevind het die rivier vol was en dat hulle nie kon deur nie.

Hulle was vreeslik teleurgestel; daar was nog een dag oor voor die dienste, en nou moes hulle voor 'n vol rivier kom!

Hulle het die pontbaas gesoebat om hulle oor te neem, en hom selfs ekstra betaling aangebied. "Ek sal dit nie vir 'n miljoen dollars doen nie," het hy gesê.

"Maar ons sal nie betyds wees vir die vergadering nie," het hulle gesê, "en ons het ver gekom."

"Dit sou beter wees om die dienste te mis as om te verdrink," was die enigste antwoord wat hulle gekry het. Maar hulle wou by die dienste wees, want hulle het gevoel dat die Here wou hê dat hulle daar moet wees.

Hulle het toe na hulle tentwa gegaan, en daar het hulle, op hulle knieë, die hele saak aan God voorgelê. Natuurlik het dit vir hulle dwaas gelyk om die Here te vra om die water te laat sak, maar toe het hulle aan die ervaring van die kinders van Israel by die Rooi See en by die Jordaan gedink; en hulle het geglo dat God hulle kon help om oor die rivier te kom.

Na die bidstond het hulle na die rivier gaan kyk, maar dit was nog net so vol, en hulle het gedink aan die pontman se woorde dat dit vir weke so sou bly. As hulle gebed verhoor sou word, en hulle ooit by die dienste sou kom, moes die rivier nie oor twee weke eers nie, maar binne twee dae sak. Daar moet gou uitkoms wees, of die dienste sal verby wees wanneer hulle daar aankom, en hulle sal teleurgesteld moet teruggaan.

Hulle het weer oor die saak gebid, en toe maar gaan slaap, want hulle het geglo dat die Here vir hulle 'n wonder sou verrig.

En die Here het. Wat eintlik gebeur het, het hulle nooit uitgevind nie; maar wat hulle wel geweet het, was dat hulle gebed verhoor is. Toe hulle die volgende oggend opstaan, het hulle gesien dat die water 'n hele paar voet gesak het, daar was geen gevaar meer nie, en die verbaasde pontman het hulle veilig oorgeneem sonder verdere besware.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell