# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die verlossing van die beeld

Once is perversion, twice philosophy

Dit reën asof 'n reuse-horlosie - 'n vet ui - lank verstop was, oplaas oopgebars het, en al sy tikke nou in oorvloed losgelaat het.  Sal ons verder gaan? Indien ons waterstewels en reënmantels het. My grootvader dra 'n uivormige horlosie aan 'n kettinkie in sy onderbaadjiesak. Die horlosie, nes 'n ui, het baie doppe, skille. Met sy verknotte oumenshande vol bruin lewervlekke slaan hy die dekseltjies oop, die een na die ander tot op die laaste een van glas. 

Die glas moet hy nie oopmaak nie want dan hardloop tyd deurmekaar. Kwiksilwer. Onder die glas spil die veerwieletjies, kring die kamratjies, kam die wysters, ruk die meganisme met die bewegings van water. My grootvader se horlosie lek. Hy kom dit nie agter nie. Sy sak word al hoe swaarder sodat sy rug al krommer trek. "Ek wonder tog hoe laat dit is," sê hy, en vroetel met sy ou vingers al met die kettinkie langs. Maar sy hande het te glibberig geword. Wanneer die las te swaar word, knak hy en hy is dood. Die familie tjk-tjk-tjk met die tonge. Party sê hy is dood van water op die hart. Ander weer dat hy 'n giftige ui geeët het. Of ook dat sy tyd aangebreek het. Dis die breek van die water. Sy tyd was om. Dit het te veel geword. Hy is oorlede soos 'n reënbui sou los bars en nou is daar nie meer wolke nie. Ek kyk deur die glasdoppies van sy oë.

Die ratwerk is gefikseer, die aanduiding van tydsverloop geïsoleer en asemloos vasgenael in die oorbrug van die een sekonde na die volgende. Reeds weg van die een maar nooit aangekom by die nie-een nie. Ons sit hom in 'n kis, die een deksel op die ander. Hamer die spykers ritmies in. Maak die kis vol tikke. Ons skud die kis maar die binnegoed wil nie weer aan die loop gaan nie. Ons dra hom aarde toe. Sal ons verder gaan?

Indien ons reënmantels en waterstewels het. Dit is die plantseisoen. Daar is trane in die familielede se oë asof hulle uie staan en afskil het. Bo is daar groot donker wolke, elk met 'n interne beweging, 'n opstapeling - soos horlosies sonder omvang. Ek soek 'n erfstuk. Wat het van die ou horlosie geword? Ek gaan terug na die gat in die grond, spit dit oop: die trog is vol water. 

Die tyd het die meganisme self opgevreet. Ratte en stange lê soos losgekraakte beendere onder die water.  Daar was sellulêre dekadensie, die bloudruk is vernietig en nou is daar bandelose voorpanting, vervlieting. Uitspattigheid. Uie sal goed hier aard, die grond is lekker sanderig. Net té nat. Ek soek vir my 'n ui. Maak dit aan 'n toutjie in my onderbaadjiesak vas want ek vertrou geen skakels nie. Wanneer ek dit teen my oor hou, hoor ek die tikke. Jan tateraat sit en roep, loer om die struik met een kraalogie. Die weer steek op. Sal ons verder gaan? Op die dak val die reën tak-tak-tok. Vet uikleurige horlosietjies word verpletter. Die tyd vervloei in water. Dit reën soos hawelose presiese afmetings wat die sekure gebondenheid van 'n tydmeter, 'n graf, soek.  

Breyten Breytenbach

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7