# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Verhouding

Op 'n manier het dit gewerk. Dit het net nie altyd so goed gevlot nie. Daar was genoeg gevoel, commitment ook, selfs die opregte begeerte om betrokke te wees. Ek sal die begin altyd as Desember onthou. Vir haar het dit vroeër al per brief begin.

Maar vir my was dit die einde van die jaar as almal op vakansie gaan. Die Transvalers, die biskoppe en die community workers. Selfs die struggle vat af en jy loop party van die activists op Sandy Bay of in die Brass Bell raak. Dis nou as y parkeerplek tussen al die Mercs en die Audi's uit Transvaal kan vind. 

Sy het daardie jaar opgedaag met 'n handvol etniese leerarmbande as Kersgeskenke vir die Kapenaars. Die eerste nag het sy reeds gesê I want you to be my lover. Ek, met Zwelethemba en Bonguletho se stront nog aan my hande, het battle fatique gepleit en om uitstel gevra.

Maar die nag daarna was dit sulke tyd en 'n week of wat later was ek selfs verlief. Ons het min politiek gepraat en sy het 'n gepaste, selfs pertinente affiniteit vir my swart en kollegas en vriende getoon. Tuis in Johannesburg was sy saans 'n Lifeline councillor en bedags het sy Engels aan 'n hoërskool in Soweto gegee. Dit was goed genoeg, and I just let go. Dit was nie meer die gebruiklike fucking to erase violence nie, maar please, let me touch your soul. En sy het. 

Dit was die begin van die einde van nog 'n jaar van komberse, samp en boontjies op die surface en magasyne en sewe-punt-ses-twee's en thirty eight specials onder die spaarwiel. Nog 'n jaar van swart en bruin agterdog oor wie is wie in die struggle en freaked out whiteys wat iets probeer doen. 

Kort voor Kersfees het sy I love you gehyg. Ek het my kop laat sak en ingestem. Mens kan van violence alleen nie leef nie. Ons het hand-aan-hand oor Noordhoek-strand geswerf, maar ek het geweier om saam met haar deur die Golden Acre te loop. Ek het snags niks minder gedroom nie en nog gereeld protesterend, natgesweet en met my vuiste gebal, wakker geruk. Maar sy was  'n stewige slaper. 

Ek moes haar herinner aan die Christmas of Concern wat weer eens landswyd deur die movement uitgeroep is, maar deur die meeste mense ignore is. Shy het haar geskenke spytig in haar tas gerrugepak. Ek het Oukersaand in die kroeg deurgebring met 'n pak wit kerse vir 'n candle-light vigil op die Parade wat toe nooit afgekom het nie. 

Kersdag het ek polities korrek aan die ander in detensie gedink en gedrink op my eie luck. Ons het ons eerste fight gehad: oor waar ek die vorige aand was...argumente is doodnormaal, haar counselling jargon het my dwars in die keel gesit. 

Sy is terug Johannesburg toe met volle vertoue in 'n afstandbeheerde verhouding. Dit was net 'n kwessie van tyd en dan sou ons wel bymekaar wees. Die volgende keer in 'n shack in KTC - geweerolie aan my hande en nog 'n fokken geroeste magasyn - het ek gewonder hoe ek ooit haar twee poedels hier sal verduidelik. Met telefoonoproepe, tapes per pos, naweek- en vakansiebesoeke het ons die verhouding aanmekaar gehou. Ons het ontwykend gestruwel oor wie op boontoe of af ondertoe met verhuis. Sy had 'n huis en 'n staatsubsidie geknoop aan haar werk en my kontakte en kamerade. Sy was heimlik moeg vir Johannesburg en het in die romantiek van die Kaap geglo.  My usefulness as 'n whitey in die local townships het uitgedien geraak. Wit is 'n opvallende kleur. 

Nadat seksie twee sonder orders van bo 'n polisie-van opgeblaas het, moes ek 'n week lank in 'n shack lê omdat die padblokkades almal voorgekeer het. Tussen stukke brood en lou mellow yellow het ook oor haar gedroom en chauv-agtig jaloers geraak by die gedagte dat sy dalk daarde milde wit heupe vir iemand anders sou gee. 

Dae en nagte het eindeloos boring verby gesleur. Droom en werklikheid het tot mekaar geval. Tussen die vlieë en die reuk van my eie pis in 'n konfytblik en die gekibbel in Xhosa en Engels langsaan oor wat wie se skuld is, het ek gesweer iets moet verander. Dat ek net eenkeer weer in 'n intelligente gesprek wou voer, sonder slogans of jargon, oor my plek in die nuwe Suid-Afrika. Ek het die dag onthou toe ek 'n lid van die Rooi Brigade in 'n gragtehuis aan die Singel in Amsterdam ontmoet het en my eerste reaksie op Goya se Derde Mei 1808 in die Prado. God, ek was jonk.

Ook die padblokkades is opgehef en terug op kantoor het die stryd tussen socalled coloured en swart in volle gang voortgeduur. Ten koste van die ekumeniese ideaal, welsyn en education. Rolle swart plastiek het die binnehof vol gelê omdat die veldwerkers uit was op eie private trips en die man in beheer te BC-bewus om hulle in die bek te ruk. Ek het versigtig deur die mynveld van ondergrondse beskuldigings getrap na my tikmasjien en nog 'n pampflet: Waar staan u as Christen teenoor die gewapende stryd?

Tussen twee tussenkoppe het ek haar gebel. Sy was nie daar nie. Tuis, later die selfde nag na whisky en steak weer 'n keer gebel, maar nog geen antwoord nie. Toe sy uiteindelik antwoord, raak ek onredelik oor die telefoon en eis 'n verduideliking. Sy, die ene verdraagsaamheid, kalmeer my met Lifeline skills. Sy was bloot Sandton toe, pragtige huis met 'n jacuzzi, om na die jongman te soek wat die armbande sny. Sou wou twee etniese halsbande vir haar poedels hê. And shame, the guy looked so bad, he is so overworked, shame man, such a warm woman, is ook bekommerd oor hom. She just had to stay and talk.

Natuurlik.

Die jaar het aangekarring met nog meer curbs, restrictions, bomaanvalle en roundups. Vierduisend kinders onder agtien in detensie en 'n verdere negeduisend van ons. My drome word simptome en ek wonder wat van my sensor geword het. Tussen Johannesburg en die Kaap het ons met ywer en opregte bedoelings voortgewoeker en my gereelde trips op boontoe het my koerierstatus begin gee. 

Op 'n sestig-minute tape vertel sy my onder andere van Jusef, 'n gedeelde kennis van ons, wat 'n beurs gekry het en binnekort na Amerika vertrek. Hy is besig om al sy besittings te verkoop. Ek skakel die bandmasjien af. Jusef is geskool om 'n mylpaal in alternative education te word. Sy plek is hier, nie in die States nie. 

Met die volgende foonoproep keer ek 'n argument oor Jusef se vertrek, want ek het al weer 'n vliegkaartjie in my binnesak. Ek soek vrede vir hierdie komende week, want ek is bekommerd oor die papierwerk, en die Browning, en die ekstra magasyne met 9mm parabellums in my bagasie.

Maar dit vlot alles soos gebruiklik en haar mollige borste met die littekens van 'n lift jare gelede vergoed vir die angs. Ek verdrink in haar warmte en raak uitgeput in haar arms aan die slaap. 

Ons moet Jusef op Jan Smuts afsien. Ek is onvwillig, maar kry vreemd genoeg opdrag van bo. Ek moet die Browning saamneem. Op die lughawe sal hulle my vertel wat ek daarmee moet doen. Ek aanvaar dit gelate, baie gewillig om van die ding ontslae te raak. Ek trek my swart T-shirt aan en gespe die holster vas. Daar bo-oor kom 'n wye los kakiehemp. Die browing lê swaar en bewus onder my arm. 

Sy het die twee poedels by die kapsalon gaan haal. Hulle is geborsel en geskeer met pienk strikkies in die krulle op hulle koppe. Leisels aan hulle etniese halsbande: hulle gaan saam. Ek weier om een vas te hou. 

Sy is tevrede oor my toewyding laasnag en slaan kort-kort haar arms om my in Jan Smuts se vertreksaal. Ek druk haar weg, want die Browning sal wys en sy is eindeloos pissed off met my.

Sy vind Jusef. Hy staan alleen en bruin. Hulle omhels en soen en klou aan mekaar, ingenome met hulle natuurlike spontaneïteit oor die kleurgrens. 'n Groepie jong swart kamerade - ek herken sommige van hulle - daag op. Hulle loop een vir een na Jusef en groet hom met die hand. Drie drukke, duim oor duim. Hulle hou hulle eenkant en praat gedemp oor die jongste beperkings op skool. Een van hulle trek my weg agter 'n pilaar en voel na die pistool. Hy wys na Jusef. You've got to shoot him. The traitor. Wait for our sign. Long live, comrade. 

Long live se voet. Hoe ek ooit weer hier uitkom? Maar die organisasie het seker daarvoor gesorg. Die een of ander diverting action. Jare lank het ek al geweet dit gaan kom. Maar so? Op dié manier, vir so 'n weak cause? 'n Bruin knaap, jare gelede deur die komitees uitgesonder vir die education of the people. Nou gaan hy landuit, om waarskynlik nooit weer terug te kom nie. 

My lewe vir so 'n man?

Ek hou die groepie studente dop. Hulle oë gesluier teen die haat, gerig op Jusef, op haar en die honde. Dis 'n swart-bruin ding dié en 'n whitey om die can te carry. Maar commitment is commitment. 'n Opdrag 'n opdrag. En waar sal ek, ex-Afrikaner, môre wees as ek dit nie uitvoer nie? 

Die teken kom. Ek ruk die Browning uit, my vinger op die sneller. Jusef is reeds besig oppad na die deur. Hy sien my nie. Ek ruk om en skiet skoot na skoot die hele magasyn in die poedels leeg. 

My vuis bal.

Vandag vertrek Jusef na Amerika. 

Emma Huismans

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7