# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Twee Mossies

Meneer en Mevrou Mossie was so pas getroud, en hulle het gesoek na 'n geskikte plekkie om hul nessie te bou.

Hulle het vir 'n lang tyd rondgevlieg en gesoek, maar sonder sukses. Mevrou Mossie was baie kieskeurig. Elke keer wanneer Meneer Mossie 'n mooi plekkie gekry het, het hy vinnig teruggevlieg om Mevrou Mossie daarvan te vertel; maar elke keer het Mevrou Mossie gesê, "Ek hou glad nie van daardie plek nie; jy moet 'n beter plek soek vir 'n huis."

Eindelik was Meneer Mossie so moedeloos dat hy gesê het dat hy nie meer sal soek nie, en dat Mevrou Mossie, as sy dan so kieskeurig wil wees, maar self moet soek.

Mevrou Mossie was ook nie links nie, en het gesê dat as sy nie baie gou 'n beter plek kon vind nie, dan sou sy darem wil weet waarom nie.  Sy het toe weggevlieg om te kyk wat sy kon doen.

Na 'n rukkie was sy terug.

"Ek het 'n wonderlike plekkie gevind," het sy gesê. "Dis warm en gerieflik; goed teen die weer beskut, en die ingang daartoe is so klein dat niemand dit ooit sal vind nie; ons sal daar heeltemal alleen kan wees, met geen bure om ons te pla nie. Jy sal ook lekker laat kan slaap smorens, want daar sal geen ander voëls wees om ons te steur nie."

"Maar vrou!", het Meneer Mossie gesê, "waar kan dit wees? Kom wys my dadelik. Ek is so bly dat jy daarin geslaag het om so gou 'n huis te kry."

"Ja," het Mevrou Mossie gesê, "dis nie sommer elkeen wat kan huis soek nie. Kom ek sal jou gaan wys."

Mevrou Mossie het hoog in die lug ingevlieg, en Meneer Mossie het gedwee agterna gevlieg.

"Waarheen neem jy my?" het Meneer Mossie verontrus gevra.

"Jy sal gou sien," het Mevrou Mossie gesê. Hulle het 'n hoë kerktoring genader, en Mevrou Mossie het reguit daarheen gevlieg.

"Wees versigtig," het Meneer Mossie gewaarsku, "dit lyk vir my gevaarlik."

Mevrou Mossie het aangehou vlieg asof sy hom nie gehoor het nie. Eindelik het sy gaan sit by 'n stukkende ruit in 'n klein venstertjie, amper heeltemal bo in die toring. En dadelik het sy by die opening ingegaan.

Meneer Mossie is agterna, en hy het gewonder of daar nie 'n vreeslike ding met hulle sou gebeur nie. "Kyk," het Mevrou Mossie gesê, "is dit nie 'n ideale plekkie nie. Dis net waarna ek gesoek het! Dit is droog, taamlik skoon, en baie privaat. Ek het jou mos gesê dat ek sommer gou die regte pek sou kry."

"Maar vrou, dink jy dat dit 'n goeie dit 'n goeie plek is? Is dit velig?"

"Veilig!" het Mevrou Mossie gesê: "natuurlik is dit veilig. Gaan soek jy nou strooi en bring dit; laat ons sommer dadelik die nessie bou."

Gehoorsaam is Meneer Mossie daar weg, en na 'n rukkie was hy weer terug met stukkies strooi in sy bekkie. Intussen het Mevrou Mossie 'n mooi plekkie tussen 'n paar pype uitgesoek. Meneer Mossie het die strooi neergesit, en het meer gaan haal.

Dit het hulle nie lank geneem om die nessie te bebou nie, en na 'n dag of twee was dit kant en klaar. Maar, toe skielik, het daar 'n vreeslike ding gebeur.

Dit was een woensdagaand so teen sewe-uur. Meneer en Mevrou Mossie was net mooi aan die slaap, toe hulle wakkergeskrik het van 'n verskriklike geraas. Daardie pype het gebrul en geskreeu dat dit 'n naarheid was. Dit het gevoel of die hele plek geskud het.

"Lieweland! Wat is nou aan die gang," het Meneer Mossie uitreroep. "Vrou, vrou, waar is jy? Is jy veilig?"

Maar Mevrou Mossie was nie daar om te hoor nie, sy was lank al buite en het vir Meneer Mossie gegil om te vlug vir sy lewe. Hulle is sonder versuim van daardie kerktoring af weg, die donker, koue nag in. Die arme mossies sal seker nooit weet wat daardie aand gebeur het nie. So lank as hulle lewe, sal hulle aan hulle vriende vertel hoe hulle hulle mooi tuiste kwyt is, en hoe dit in daardie toring spook.

Die waarheid van die saak is dat hulle hulle nessie tussen die orrelpype gebou het. Die gebrul wat hulle daardie Woensdagaand gehoor het, is verhoorsaak deur die orrelis wat die liedere vir die biduur gespeel het. Vir die mense in die kerk, was die musiek mooi. "Hoe heerlik!" het hulle almal gesê. "Hoe pragtig speel die orrelis vanaand!"

Maar vir die arme mossies was dit soos 'n aardbewing en 'n dwarrelwind saam.

Dit is alles bewys dat dinge nie altyd is soos hulle skyn nie. Soms word kinders, net soos daardie mossies, bang omdat hulle dinge nie verstaan nie. Omdat hulle nog nie oud genoeg is om dinge te verstaan nie, kla hulle soms.

Miskien het julle al 'n seuntjie hoor sê, "Ek hou tog nie van die kerk nie, ek kan nooit verstaan wat die predikant sê nie, en sommige van die liedere wat hulle sing, is glad nie vir my mooi nie."

Maar die dag sal kom wanneer hy die preke sal geniet; en die leidere wat nou vir hom lelik klink, sal dan vir hom mooi wees, en hy sal hulle waardeer.

Miskien het julle ook al 'n dogtertjie hoor sê: "Ek weet nie waarom ek so swaar het nie. Ander dogtertjies het sulke mooi goed."

Ek sal toegee dat 'n mens nie altyd dinge verstaan nie; en wanneer julle so voel, moet julle daaraan dink dat Iemand besig is om op die orrel van julle lewens te speel. Vir julle mag die musiek nie mooi wees nie, maar die orrelis weet Hy speel, en eendag sal julle besef watter heerlike wysie Hy gekomponeer het. Wanneer dinge soms verkeerd loop en julle in die versoeking kom om te gou te oordeel, wag dan maar liewer, en dink eers aan die mossies daar in die kerktoring.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell