# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Swygsames

'n Mens vind darem snaakse vriendskappe op dese aarde...Toe ek 'n seun van so negentien was, het ek dikwels my vakansie op Kleibank in 'n naburige distrik deurgebring. Die plaas was nog tipies Reuens, maar dit het aan 'n pragtige rivier gelê met vaal valsgate en 'n "sietgat" met pikswart water. Die vlei was 'n lushof met geel kalkoentjies, klossies en aandblomme Die rivier was so breed dat 'n mens met 'n soort trekskuit moes oorgaan om by naburige plase te kom.

Daardie siekgat was vol lekker vet springers en palings, en in die tuin was daar volop vrugte: granate, langelyspere, paweeperskes, en groot vet adamsvye met sulke fyn barsies. 

O, dit was 'n heerlike plek om vakansie te hou, daardie Kleibank.  En die gesin het net uit twee persone bestaan: oom Eerk en tant Fyta. Watter vermaak 'n jong seun nou vir die bejaarde egpaar was, kon ek nooit ontdek nie. Hulle kinders was lankal getroud en die huis uit, en wie weet was die twee outjies soms maar eensaam. Ek het hulle liefgehad soos my ouers, maar op 'n ander manier. Daar was niks styfs aan die oom en tante nie, en hulle het gebeurlikhede en aangeleenthede met die jong seun as met iemand van hulle 'betuurs' bespreek. Tant Fyta was maar gedurig in die huis bedrywig, veral met die kossies, en elke maaltyd het 'n feesmaal geword, sodat die ou geelhouttafel onder die las van die verskeie geregte gekreun het. 

Al daardie heerlikhede moes die drie huismense verorber. So tussenin het oom Eerk en sy gas 'n tamaai waatlemoen weggeslaan. Oom Eerk het gelyk soos 'n Wiking, 'n kolos van 'n Afrikaner met sy rooiblonde hare en baard en sy frisse gelaatskleur. Tant Fyta was tot op haar dood 'n beeldskone vrou. Sy het 'n lewendige, grasieuse brunet, met swart oë soos ryp nastergalbessies. 

Kleibank was die ware Soete Inval, waar daar 'n ewige kom en gaan van familie en onbekendes was, en almal was welkom, want die enorme male was altyd gul genoeg vir alle bysitters. Maar in 'n lang vakansie het dit tog diksels gebeur dat die oom en tante en hulle jong gas die hele spul kos moes opeet omdat hulle die enigste persone aan tafel was. As sorgsame gasvrou het tant Fyta gedurig die twee mansmense dopgehou om te sien of die bome van hulle borde nie miskien sigbaar word nie.

'Connie my kind' jy eet dan niks nie, en daardie elfie is net reg. Nee bog, wat pik jy dan net aan die soutribbetjie. Jy moes daarde vet hamel aan die hak gesien het, hoor! Eet, man, eet!"

"Maar ta'Fyta, ek is nie meer honger nie."

"Nou ja, eet dan vir die honger wat nog kom. Dis 'n lang skof tussen nou en koffiedrinktyd." 

Natuurlik het die sorgsame huisvrou se spiedende oog ook gesorg dat oom Eerk se bord rant en kant lê. Maar die vermaning aan hom om te eet was 'n hele drama. Of dit 'n komedie of 'n tragedie was: daaroor het die jong gas eers later probeer besluit, en hy is tot vandag se dag nog nie oortuig daarvan dat sy gevolgtrekking reg of verkeerd was nie. As ta'Fyta gemeen het dat oom Eerk nog van sekere geregte wou hê of behoort te neem, het sy nooit op onelegante manier gesê: "Eerk, nog 'n stukkie rugstring?" nie. O, nee; in so 'n geval was daar 'n hele ritueel, so onwrikbaar soos aan die hof van die Escurial. Die aanhef het gewoonlik so begin:
"Connie, dink jy nie dat die tersalle vandag besonders lekker is nie?"

"Ja, ta'Fyta, besonders lekker. Maar nou gooi ek tou op. Ek kan nie meer nie." 

"Ag, kind, jy is maar net nie meer aan plaaskos gewoond nie. Maar dink jy nou nie dat oom Eerk nog hierdie lekker vet stukkie moet eet nie? Hierdie skyfies met die koljanderpitte daaraan. Dink jy nie dis net die regte stuk vir oom Eerk nie?"

"Ja, ta'Fyta, ta'Fyta het volkome reg. En dit lyk my juis dat oom Eerk vandag nie sy gewonde aptyt het nie. "

O, die verlossing! My broeder in die verdrukking gaan sy regmatige deel van die alte gulle gereg nie vryspring nie. Netjie skep ta'Fyta die welriekende bruin tersal met sy persrooi hart op oom Eerk se bord, en die ou man val gedwee weg. Die tersalle was maar so 'n bykomstigheidjie, en die hef-aan van die reusemaal het nog voorgelê. Oom Eerk was goed in oefening en het ook end-uit  in uitmuntende oefening gebly. Die souskluitjies en koue varkribbetjies het nou aan die beurt gekom, en oom Eerk het nie geskroom om homself te meld nie. 

Maar nie aan ta'Fyta nie. 

Dieselfde ritueel, maar met effens anderse bewoording is gevolg.

"Connie, neem nog ribbetjie, man. Die kos is mos daar om geëet te word. Ek dink ek sal ook nog so 'n flintertjie kan baas raak. Jy kan gerus vir ta'Fyta vra om daardie bruin stukkie so langs my rys te sit."

So gesê, so gedaan, en die drie eters vind hulle tweede wind en die gemoedsewewig word nie versteur nie. Dit is sommer 'n lekker feesmaal, en die oom en tante is tog te gaaf, die kos is tog te smaaklik en die jong gas kuier tog te lekker op Kleibank. 

Maar daardie ritueel: hoe moes 'n mens dit verklaar? Was dit 'n relik uit die ou dae toe ons voorgeslag sy eie welvoeglikheisgewoontes gehad het wat mettertyd vir die Angel-Saksiese korrektheid moets wyk? Of was dit miskien iets eie aan Kleibank? Wie weet, net 'n 'n ritueeel wat gevolg is wanneer daar gaste aan tafel was, wat feitlik heeldag en aldag gebeur het? Nie dat so 'n onregstreekse aanspreekmetode tot die kos beperk was nie. Connie is ook gevra of hy nie dink dat hy en oom Eerk en tant Fyta 'n slag dorp toe moes ry nie om een of ander huis- en plaasvoorraad aan te vul. Connie moes dan die vraag as't ware verder gelei en die antwoord aan die man of (vrou) besorg. 

Op die wye ou kapkar met die lui, uitgevrete karperde daarvoor is die verdere bedrywe van die nimmereindigende drama  voortgesit. Connie moes dan sy mening uitspreek oor die toereikendheid van tant Fyta se beursie of hy moes vir oom Eerk vra wanneer hy dink om by die tuishuis terug te wees van sy besigheidjies op die dorp.

En Connie het die ingewikkelde tegniek geleer om buffer te speel en as 'n middelateur tussen die oom en die tante te fungeer.

Die huisgodsdiens het sy tradisionele vorm gehad: oom Eerk het saans en tant Fyta soggens die gebed gedoen, en Connie kon enige psalm of gesang "insit", want dit was nog in die dae toe 'n mens die dinge uit jou kop geken het. 

En kort na die aandgodsdiens het almal gaan slaap, die gas in die groot vrykamer met sy lappieskombers in sy "puntjies"-slope, en die oom en die tante in hul groot hemelbed met sy duitsesis-komberse. Twee mene in intieme verhouding tot mekaar en tongebonde? Sonder buffer!

Waaroor is in daardie slaapkamer gepraat? Die twee het darem seker minstens vir mekaar goeienag gesê...Of het ook daardie fase van die lewe van die egpaar woordeloos verloop?

Hoe het daardie 'kompleks' ontstaan? Wanneer het dit die egpaar in sy boeie gevang? 

Duisend vrae en geen antwoord nie. Nie gedurende die oumense se lewe nie, ook nie in die jare toe tant Fyta as weduwee op Kleibank gwoon het nie. 

Dat die vervreemding daar was, dit wis die menigte besoekers nie. Ek twyfel selfs of die kinders ooit daarvan bewus was. Maar ek het dit geweet. En met ryper jare het ek my honderde male dieselfde vraag gevra: waarom? Was dit nie dat ek die liewe oom en tante so innig liefgehad het nie, sou ek my nooit daaroor gekies het nie. Want die liefde wil help dra, die liefde wil ook die verskansings help bou waarsonder niemand die lewe kan leef nie. 

Maar vir die taak was ek te onryp, te arm aan ervaring, te onbewus van die onverbiddelikheid van karakter wat die mens se noodlot bepaal. Miskien was ek te onhandig met die skepping van illusies wat juis 'n mens se sterkste verskansing teen die noodlot is. 

Wie weet was die egpaar op hulle manier doodgelukkig in die gevangenis wat hulle vir hulleself geskep het, miskien was dit nou hulle aanpassing aan die ouword eerder as aan die ouderdom, want die geluk is iets betrekliks, en "'n mens besit vir ewig net dit wat jy verloor het."

Na 'n geruime afwesigheid aan 'n buitelandse universiteit het ek Kleibank weer besoek om tant Fyta te groet. Sy het intussen weduwee geword en het stokmoersalig op die ou plaas gewoon, alleen aan tafel gaan sit en saans alleen in die ou kamer van haar daaglikse taak gaan rus. 'n Mens kon sien dat tant Fyta opmerklik ouer geword het. Die skoenknoopogies het nog lewendig haar mikrokosmos beskou, en aan gesels was daar geen end nie, maar...dit was kompleet asof op Kleibank 'n onderhoudende kinderspeletjie onderbreek is, toe moeder werf toe geroep het: "Eerkie, my kind, dit word laat, jy moet kom slaap."

Vir my was Kleibank onuithoudelik, want oom Eerk se plaas het hom nie meer geken nie, en tant Fyta het te veel na die buitedeur geloop of an die leë stal waarin die plek van die twee karperde ook nou leeg was. Aan tafel was daar nooit meer die geraffineerde wisselgesprek tussen oom Eerk en tant Fyta en...die buffer nie: Kleibank was dood omdat die laaste bedryf van die gemeenskaplike drama afgesluit is. 

En tog...na jare kom nog steeds die vraag: wat was die werklike verhouding van die egpaar? Hoe het 'n maaltyd sonder 'n buffer verloop? Wat was hulle gesprek wanneer die ou geelhoutdeur van die slaapkamer die twee oues afgesluit het van kinders, familie, vriende of gaste? Altyd opdoemende vrae, ewig onbeantwoord, want die mens is gevange op die aarde en is 'n eenling in die diepste van sy siel. 

C.G.S. de Villiers

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7