# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Storie van Treine

Hoe baie reisgeriewe het ons nie vandag nie! Dit is waar dat die treine soms oorvol en soms nie op tyd is nie, maar, alles in ag geneem, is ons baie beter daaraan toe as diemense van 'n honderd jaar gelede. Diegene wat op die platteland gewoon het, moes maar daar bly. Alleen die rykes kon gaan vakansie hou. En diegene wat by die see gewoon het, moes daar bly, want daar was geen treine wat hulle na die platteland kon neem nie.

Sê nou daar was vandag geen treine nie! Wel, dit sou ons die moeite gespaar om hulle te gaan haal, maar dit sou darem ook baie ongerieflik wees. Ons kan ons voorstel hoe dit sou wees as daar geen treine was nie, want in sommige dele van die wêreld is daar soms stakings deur die spoorwegmanne. Wanneer daar 'n staking is, is daar geen masjiniste en ander personeellede om die treine te werk nie, en dan staan alles stil. Maar sowat honderd-en-veertig jaar gelede was die hele land soos in 'n spoorwegstaking, en treine was onbekend.

In daardie dae was daar niemand wat 'n lokomotief kon maak nie. Daar was destyds 'n man, George Stephenson, wat geprobeer het om 'n idee uit te werk, maar dit was 'n baie lomp affêre.

Dit was in die jaar 1814 - die jaar voor die slag van Waterloo, dat die drie-en-dertigjare Stephenson sy eerste lokomotief gemaak het. Hy het dit die Blucher genoem, en dit kon ses gelaaide trokke - sowat dertig ton - trek teen vier myl per uur.

Daar is gedurig verbetering, en lokomotiewe het kragtiger en vinniger geword. In die jaar 1825 is daar 'n spoor gebou van Stockton na Darlington in Engeland. Die idee van die eienaars was om die trein deur perde te laat trek, maar Stephenson het hulle oorreed om sy lokomotief te gebruik. Die eerste trein op daardie spoor het uit vier-en-dertig waens bestaan, met 'n gewig van negentig ton. Die trein het 'n spoed van vyftien myl per uur bereik, wat 'n verskriklike snelheid vir daardie dae was. Die mense was so bang  vir die trein, dat 'n man te perd voortuitgery het om te verseker dat die trein niemand beseer nie.

Drie weke na hierdie spoor geopen is, is daar 'n gereelde passasiersdiens ingestel. Elke passasier is toegelaat om veertien pond bagasie saam te neem.

Vier jaar later, in 1829, het die eienaars van die Liverpool en Manchester Spoorweg, wat hulle spoor byna klaar gelê het, 'n prys van sowat £500 uitgeloof vir die beste lokomotief. Daar was drie mededingers: Stephenson se Rocket, en nog twee ander. Die ander twee het defek geraak tydens hulle proefritte, maar die Rocket het 'n trein van dertien ton binne agt-en-veertig minute 'n afstand van vyf-en-dertig myl getrek - die gemiddelde snelheid was byna vier-en-veertig myl per uur. Tot op daardie tyd was dit nog die vinnigste wat die mens ooit gereis het. Die mense was destyds meer opgewonde hieroor as ons vandag is oor 'n vliegtuig wat vinniger as klank vlieg.

Hierdie spoorlyn tussen Liverpool en Manchester was so suksesvol dat hulle oor die hele land spoorlyne gebou het. In die jaar 1840 was daar nagenoeg 1,331 myl spoor gelê. Vir die volgende tien jaar was die mense spoorweg-dol, en teen 1850 was daar spoorlyne wat altesaam 6,600 myl lank was. In die daaropvolgende vyftien jaar het hierdie syfer vermeerder tot 21,855 myl. Vandag is daar natuurlik baie meer.

In die Verenigde State is daar in 1826 met spoorbou begin; hulle het die lokomotiewe uit Engeland bestel. Eers in 1853 het Kanada sy eerste spoor gebou.

Die meeste van die Europese lande het toe al ook spoorweë gehad, maar Turkey het gewag tot 1860, en Griekeland tot 1869. Afrika se eerste spoor was van Aleksandrië na Kaïro; en die van Asië van Bombaai na Tannah. Australië se eerste spoorlyn is in 1854 in Victoria gelê.

Vandag is daar sommige baie lang spoorlyne in die wêreld. Die Canadian Pacific spoorlyn van  die ooste na die weste is 2,906 myl lank. Die langste spoorlyn in die wêreld is die Trans-Siberiese spoorlyn van byna 6,000 myl.

Ondergrondse spoorlyne of "Tubes"

Maar daar is ook treine wat ondergronds loop. Hoe het dit ontstaan? Wie het hulle uitgedink? en wanneer is die eerste een gebou?

Niemand het aan spoorlyne gedink voordat die mense in die groot stede begin saamdrom het nie. Toe dit begin duidelik word dat die busse en trems van Londen nie al die mense kon vervoer wat in die stad moes reis nie, het iemand die blink gedagte gekry om ondergrondse spoorlyne te bou. In die jaar 1853 is die eerste ondergrondse spoor gebou van Edgware-weg na Kings Cross in Londen.

In daardie dae het hulle nie die kuns om tonnels te bou so goed verstaan as vandag nie, en met die eerste tonnel het hulle soos volg te werk gegaan: Hulle het eers 'n baie diep sloot gegrawe, so diep as die tonnel moes wees; toe het hulle die kante en dak van baksteen gebou, en daarna het hulle die sloot opgevul en met die oppervlakte gelyk gemaak.

Drie-en-dertig jaar later het hulle nog 'n ondergrondse spoor gebou, bekend as die "City and South Londen Railway". Die bouer, 'n man met die naam van Greathead, het 'n nuwe konstruksiemetode gevolg. Hy het 'n ronde tonnel, tien voet in deursnee, gegrawe van veertig tot tagtig voet onder die oppervlakte. Om te verhoed dat die kante insak, het hulle 'n skerm gebruik wat vorentoe geskuif is namate die tonnel gevorder geword het. Deur hierdie metode kon hulle sommer onder die strate en huise deurtonnel, en al openings na die oppervlakte was die skagte waar die stasies gebou is.

Die waens van hierdie tonneltreine is so gemaak dat hulle net mooi in die tonnel gepas het. Die idee was dat die trein terselfdertyd 'n soort suier sou wees wat die slegte lug vooruit stoot terwyl hy vars lug agter insuig. Maar wat die lug betref, het die idee nie gewerk nie; die slegste lug het maar nog in die tonnel gebly en geen vars lug kon inkom nie. Diegene wat in daardie treine gery het voor daar 'n nuwe plan gevolg is, sal nog onthou hoe muf dit daar onder geruik het.

Sedert daardie tyd is daar baie ondergrondse spore gebou, en onder die fondamente van die groot stede loop daar baie tonneltreine. New York, Chicago, en Philadelphia het sulke ondergrondse treine. Die passasiers kan nie die stoom en rook van gewone lokomotiewe uithou nie, en daarom ord elektriese krag gebruik.

Om so 'n ondergrondse spoor te bou is 'n baie duur onderneming. Die dieper tonnels is gebou teen 'n koste van sowat £200,000 per myl, en soos hulle eers gebou het deur 'n diep sloot te grawe, as die koste £1,000,000 per myl, want waar hulle onder geboue deur gegrawe het, moes geboue gestut word, en die hele riolering verander word.

Die enigste rede waarom ons so goedkoop met die tonneltreine kan reis, is die feit dat so baie mense van daardie treine gebruik maak. Op 'n besige dag reis daar honderde duisende mense met die ondergrondse spoor van New York, en die inkomste is baie groot.

Vandag is ons so gewoond aan bogrondse en ondergrondse spore, dat ons nie eens dink aan die wonder daarvan nie. Ons dink miskien nooit aan die baie geld wat hulle gekos het, en aan die seën wat hulle vir die reisigers is nie. maar as ons 'n bietjie oor hierdie dinge sou nadink, is dit regtig wonderlik dat ons vandag so goedkoop kan reis.

Ons kan ons kwalik voorstel hoe verbaas Daniël en ou Koning Nebukadnesar sou wees as hulle in die Super Chief tussen Los Angeles en Chicago kon reis.  Hulle sal seker nie kan besef wat met hulle gebeur nie! Stel julleself voor hoe hulle met die trappies afgaan na die Lower manahttan-stasie en 'n rukkie later in Jersey City opduik, oorkant die Hudson-rivier! Daniël sou seker dink dat sy profesie dat "die kennis sal vermeerder" vervul is. (Dan.12:4)

En dit laat my ook aan die profeet Jesaja dink. Hy het geprofeteer en gesê: "Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word." Laat ons hom in die verbeelding sien ry oor die groot ysterpaaie van die wêreld, honderde duisende myle lank, oor valleie en opgevulde plekke, en deur berge! Reken julle nie dat hy daarin 'n vervulling sou sien van sy eie profesie nie - veral as hy kon weet dat daar elke jaar miljoene eksemplare van die Bybel, en duisende sendelinge na alle dele van die wêreld vervoer word oor die spoorweë om die "heerlikheid van die Here" te openbaar? (Sien Jes. 40:3-5)

Ons lewe gewis in 'n wonderlike tydperk van die wêreld se geskiedenis. Die kinders van vandag geniet veel meer seëninge as die van enige vorige tydperk. Behoort ons nie die gelukkigste mense te wees wat ooit gelewe het nie?

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell