# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Skrywer

"Jy moet vir my skryf," sê die vrou.

Die man hoor die stem van die vrou voor hom, maar hy kyk nie op van sy werk nie. Hy is besig om 'n kort stukkie potlood met 'n mes skerp te maak. die potlood is skuins teen die plank voor hom vasgedruk. Die stomp punt was al amper weg in die hout, hy moet diep insny op 'n skerp puntjie uit te kry. Soos wat hy sny, draai hy die rooi potloodjie al in die rondte om die kante eweredig met die mespunt by te kom. Toe dit netjies en skerp geskraap is, kyk die man op. 

Voor hom staan 'n vrou in 'n lang jurk,. Sy staan teen die son in, haar skaduwee val oor hom, keer die son uit sy gesig. Hy kan dadelik sien dat sy nie een van die dorp se vroue is nie. Sy staan 'n tree weg van die tafeltjie tussen hulle, haar oë kyk respekvol by hom verby. Die los punte van haar rokspante is bokant haar borte vasgeknoop, sy het die krale van haar stam om haar nek. 

Die man kyk na die vrou. 

Haar hare is met klei in haar hooftooisel vasgekam, 'n mens kan nie sien waar die hare ophou en haar hooftooisel begin nie. Die man sien haar armoede. Haar kaal voete is vol mkenkes. Hy sien hoe maer sy is, hoe swart van die honger sy is. Hy weet sy kom uit die binneland. 

"Hoe weet jy van my?"

"Die mense het my gesê." Die vrou wys met 'n vae beweging van haar hand oor die mense op die markplein. Dit is Sterdag, die hele oopte is vol mense. "Wys my eers jou geld." Die vrou steek haar hand voor by haar borste in, haal 'n toegeknoopte stuk lap uit. Die dubbele knoop word tydsaam losgewoel. Sy haal 'n vyftigsentstuk uit die lap, wys dit vir die man. Die res van die geld gooi sy in haar handpalm hou haar oop hand vir hom uit om te sien. Daar is 'n paar tiensentstukke, 'n twintigsentstuk en 'n klompie rooigeld. Die man tel dit vinnig in sy kop bymekaar. "Ek soek een rand vir 'n bladsy."

"Ek skryf vir my man." Die man kyk na die potloodjie in sy hande. Hy blaas-blaas die houtskraapsels en grafiet weg. Die stuk plank voor hom is op twee oliedrommetjies gestut om 'n tafeltjie te maak. Hy skuif dit haaks, sit die potloodjie en die mes netjies langs mekaar op 'n groen skryfblok voor hom neer.

"Daar is nog die stêmp ook." Die vrou antwoord nie Sy maak die geldstukke bymekaar in die lap, knoop die punte oor en weer vas, maar sy bêre nie die lap nie. "Waar moet die woorde gaan?" 

"Ek skryf vir my man", sê die vrou. "Dit gaan by Zungwini Colliery." "Dit is nie genoeg geld nie, nie vir die stêmp ook nie," sê die man. Hy haal 'n bril uit sy hemp se bosak, vou die oorstukke oop en loer deur die ronde lense na die lig. Met selfbewuste bewegings haak hy die oorstukke om sy ore, skuif die lense reg voor sy oë. "Maar as jy vir jou man skryf, moet jy skryf." Sy oë speur oor die raam na die vrou. Sy staan nog steeds met die geld in haar hand. Dan sak sy op haar hurke af en gaan sit op die grond, haar bene skuins onder haar ingevou. Die man skuif die mes eenkant toe, en tel sy potloodjie op. Met sy ander hand trek hy die skryfblok nader en slaan die buiteblad om. Die bladsy voor hom is hobbelrig soos sy vorige geskryf deur die bladsye gedruk het. Hy kyk op, sy oë blind en verwronge deur die dik lense. 

"Waar kom jy vandaan? ek moet dit hier skryf, praat hy af na die vrou op die grond. 

"Nkwalini."

Die man buig laag oor die papier voor hom. Hy skryf stadig, met groot ronde letters wat regs na die lyne afbuig. "Waar sal jou man die woorde stuur as hy vir jou terugskryf?"

"Hy weet waar om te stuur."

"Ek moet dit hier skryf. Anders is dit nie 'n brief nie."

"Die Post Office."

"Watter Post Office?"

"Nkwalini"

Die man skryf. 

"Wat moet die papier nou praat?"

Die vrou het haar oë toegemaak. Vir 'n oomblik lyk dit asof sy aan die slaap geraak het, asof sy nie gehoor het wat die skrywer gesê het nie. Dan maak sy haar oë oop. "Jy moet daar neersit: Ek sien jou, uBaba ka thokozani." Die man buk weer oor na die bladsy. Dit lyk asof sy oë in 'n donkerte rondtas om die lyne en die potloodwoorde te sien. Hy druk die bladsy met een hand vas, sy ander hand skuifel stadig oor die blad.

"Jy moet daar neersit: Die bees is vet en gee melk. Die mielies is goed. Die grootmoeder is lewendig." Die man kyk op van sy skrywery. "Jy moet nie so vinnig praat nie, die woorde op papier is stadig," sê hy ergerlik. "Ek sal vir jou sê as jy moet praat!"

Die vrou kyk weg. Die oopte is vol mense en kraampies waar kos en muti verkoop word. Van al die doenigheid van mens en dier lê daar 'n stofwolk oor die hele plein. Jy kan die stof in die lug ruik, op jou vel voel. 'n Entjie van die skrywer sit 'n ou vrou met 'n klomp bont hoenders om haar. Die hoenders lewe nog, hulle lê twee-twee met hul bene aan mekaar gebind. Hulle bekke hang oop in die hitte. Elke nou en dan ruk een van die hoenders orent en skop teen die ander een vas. 

"Jy kan nou weer praat."

Die vrou draai haar kop terug. "Jy moet daar neersit: Die kinders is gesond. Hulle groei." Die vrou lig haar hand op. Haar vingers is in 'n punt na bo saamgevat om te wys hoe die kinders groei. Die man skryf 'n sin klaar en kyk op. Die vrou praat nie verder nie.

"Is jy nou klaar, Mame?"

"Jy moet ook neersit.."

Die skrywer weet dit het al twee jaar lank nie gereën nie. 

Die eerste ding wat gebeur het, is dat die mielieland opgedroog het, nog voordat die koppe saadgeskiet het. Hulle het uiteindelik maar die doringtakke weggetrek en die koei in die land ingejaag om die laaste groen in die plante op te vreet. Die heuwels het bruin geword, die lang rooigras het weggedor totdat daar nie meer weiveld was nie, net klippe tussen die aalwynstamme. Dit was naderhand net die bokke wat nog iets in die veld te vrete gekry het. Die koei het maer geword en heeltemal opgedroog. Daar was nie meer mielies en droëbone in die graanhut oor nie, net 'n klomp droë blare en 'n paar stronke. Die plat klip wat hulle oor die fonteinoog gesit het, is elke aand sorgvuldig met nog klippe toegepak om te keer dat die wilde goed van die veld die water uitsuip en modder maak. Dit het nie gekeer dat die water dieper wegsak in die aarde nie. Maar daar was elke maand geld in die pos. 

Elke maand het sy die koevert by die poskantoor gaan vra, en dan het die wit man dit vir haar onder deur die tralies aangegee. Eenkeer was daar ook 'n foto saam met die geld in die koevert. Haar man het voor 'n groot gebou op sy tas gesit. Hy het een arm voor hom uitgestrek gehou sodat almal sy nuwe horlosie kon sien. Die een broekspyp was oor sy been opgetrek. Sy kon sy skoen en sokkie sien. Hy het haar direk in die oë gekyk. Sy het die skrik in haar gevoel en die foto gaan wegsteek. Van die geld in die koevert het hulle suiker gekoop. En tee. En uiteindelik moes hulle ook melkpoeier en mieliemeel koop. Die kinders het nog geëet, al was dit nie meer patats en madumbes nie. 

En tou hou die pos op. 

Die vrou het elke dag by die poskantoor gaan vra. Maar daar was nie 'n brief van Zungwini nie. Vir drie maande het die pos nie meer gekom nie. Hulle het gehoor van die mense wat by die kliniek kos kry, en hulle het ook in die ry voor die deur gaan staan. Sy en haar man se ma en die kleinste kind in die karos op die rug. Saam met die ander vroue en die oumense en die kinders wat kom wag het. Partykeer het hulle die hele dag lank gewag. As dit hulle beurt was om by die deur te kom, moes sy met die suster se boek praat en haar naam sê. Sê hoeveel mense hulle saam is. Hulle het 'n bietjie meel gekry, genoeg vir 'n week se kos. Soms net 'n bietjie koffie, een keer 'n paar blikke boontjies. Hulle het gesukkel om die blikke oop te kry. Partykeer was daar niks. Maar hulle het bly wag saam met die ander mense totdat die suster gesê het hulle moet maar loop,  daar sal vandag niks wees nie. Die volgende dag sou hulle weer gaan.

Haar man se ma het na 'n ruk nie meer die ent pad saamgeloop nie. Die styfheid in haar lyf het begin om haar vingers en bene krom te trek. 

"Jy moet die bees laat slag vir die Isangoma om te kom."

"Ja, Mame," het sy gesê en die maer koei vir die Isangoma laat slag. Die Isangoma het gekom. Sy het die bees se tong netjies uit die bees se kop gesny en saam met die milt vir die siek vrou gelos om te eet. Die ou vrou moes die vleis met kruie wat die Isangoma gegee het, gaarmaak. Twee oggende na mekaar moes sy daarvan eet. Die res moes dan ver van die hut in die veld verbrand word om die siekte weg te jaag. Die Isangoma het die res van die bees se vleis wat haar betaling is in die nat vel toegepak en na haar hut laat dra. Die styf het uit die ou vrou se lyf gegaan. Vir 'n rukkie. En toe het dit teruggekom. So erg dat sy nie haar hande kon oopkry om die kalbas op te tel nie. 

Die melk in die vrou se borste het ook weggesak. Die kind het in die nag gehuil, met sy melktande aan haar tepels gebyt. Die ouer kinders was ook honger, hulle het maer geword. "Die Isangoma moet weer kom," het haar man se ma gesê en die vingers van haar een hand probeer oopwring. 

"Hoe sal ons betaal Mame?" het die vrou gevra en afgekyk na die grond. "Daar is nog slaggoed," het die ou vrou gesê. "Mame," het sy gesê, "daar is nog twee bokke."

"Ek kan nie doodgaan met die toordery in my hande nie," het die ou vrou gesê. "Die Isangoma moet weer kom sê. Jy moet laat slag." Die mense by die kliniek het elke dag meer geword. Partykeer was daar wit mense om te help met die uitdeel vn die kos by die deur. Die vrou wou na een van hulle gaan en sê sy ry saam met hulle as hulle weer ry, sy wil Zungwini toe gaan. Maar sy kon nie die taal verstaan wat hulle met die suster gepraat het nie. Sy het wéér by die poskantoor gaan vra.

Die man agter die toonbnk het gesê nee, daar was nog niks.

"Hoekom skryf jy nie vir jou man nie?" het die man gevra. "Kan jy skryf? Was jy op skool?" Ja het sy geknik, ek sal skryf. Sy het die laaste geld onder haar matte gaan uithaal en in 'n lap toegeknoop. Dit was veilig tussen haar borste. Sy het die pad gevat sodat sy op Saterdag by die groot dorp sou kom. Om die brief te skryf.

"...dat ons oë hom weer wil sien."

Die vrou het van haar knieë orent gekom en langs die tafelblad ingeskuifel, haar oë op die papier voor die man. "Ek sien jou papier is vol woorde. Dis genoeg." Die man het opgehou met skryf. "Wat is jou naam?" 

"My man sal weet weet wat my naam is." 

"Ek moet jou naam skryf!" sê die man. Hy beduie met die potloodjie na die klein oop spasie onderaan die bladsy. "Dié plek is vir jou naam!"

"Umame ka Thokozani."

Die skrywer skryf die naam onderaan. Hy druk die laaste punt in die bladsy in, skeur dit uit, en begin om dit op te vou. 

"Jy moet eers weer lees," sê die vrou, "anders betaal ek nie." Die man vererg hom. Hy pluk die bril af. Sy voorkop trek plooie teen die nuwe fokus van sy oë. "Ek hét skool toe gegaan! Ek het gehoor wat jy sê vir die brief!"

"Lees!" sê die vrou en vat haar geld stywer vas. Die man tel die brief op, begin blinderig teen die lig te lees. Hy lees die dorp, hy lees die post office, hy lees die datum op Saterdag, hy lees pa van Thokozani hy lees bo-oor die geskrewe woorde voor hom dit wat die vrou vir hom gesê het wat hy nog kan onthou. Ma van Thokozani, sluit hy af.

Die vrou sit 'n oomblik en dink.

"Ja, dit is goed so," sê sy en begin om die lap oop te knoop. Sy haal die geld uit en sit dit op die blad voor die man neer. Hy tel 'n rand se geld af, sit dit in sy sak. Die paar sente wat oorbly, gee hy vir haar terug. 

Die skrywer sien die vrou wegstap. Hy sien hoe haar skouerblaaie skerp teen die vel uitstaan. "Ek het gehoor wat jy gesê het, Mame," sê hy toe sy reeds te ver is om hom te hoor. Hy lek die koevert nat en plak dit toe.

"Ek het geskryf wat ek moet."


RIANA SCHEEPERS

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7