# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die prys van Sukses

Vir jare het die mense gedink aan 'n brug oor die Golden Gate te San Fransisco, maar die meeste het gedink dat so iets nie moontlik was nie. Daar was die sterk stroming om mee rekening te hou, en dan sou die brug ook hoog genoeg moes wees sodat die grootste skepe daaronder kon deur.

Daar was net een manier, en dit was om 'n reuse hangbrug, sonder middelstutte, te bou. Dit sou ten minste vier duisend voet lank moet wees, en meer as tweehonderd voet bokant die water. Maar die groot vraag was of dit gedoen kon word. Sommige het gemeen dat dit wel moontlik was, maar ander het gesê dit dit onmoontlik is. Daar was egter 'n paar moedige manne wat besluit het om te probeer.

Daar is 'n plan opgetrek, en die ingenieurs het met hulle groot taak begin.

Dit was min of meer soos wanneer 'n mens 'n wasgoedlyn span, maar net op 'n reuseskaal. Eerste van alles het hulle twee reusepilare, of torings, gebou op 'n soliede beton fondament wat diep in die rotsformasie uitgegrawe was.

Een van hierdie torings het diep in die water gestaan, en dit was baie moeilik om te bou. Die bouwerk moes uit bote gedoen word, met 'n stroming van agt myl per uur, en soms was die deining in die baai so erg dat die bote tot vyftien voet hoog opgelig is om dan weer dieselfde afstand te daal. Alhoewel die werkstoestande vreeslik was, het die manne nie moed opgegee nie.

Om die fondament uit te grawe, het hulle groot buise tot op die rotsbodem laat afsak, en in daardie buise het hulle twintig-voet bomme laat afsak en ontplof. Groot staal kakebene met staal tande het die gebreekte klip vasgebyt en uitgelig. Toe het hulle vorms vir die beton laat afsak, totdat die beton bokant die water uitgesteek het.

Nadat die fondamentwerk klaar was, het hulle begin met die bou van die torings, wat 746 voet in die lug opgeskiet het - dit is baie hoog.

Die volgende groot taak was om ankers aan te bring vir die dik staalkabels waaraan die brug sou hang. Vir hierdie doel is reuse betonblokke gemaak wat elk meer as vyftigduisend ton geweeg het, en daarvoor is uitgrawings aan beide ente van die brug gemaak.

Oor die twee reuse torings het hulle twee kabels gespan. Dit was 'n uitstekende stukkie werk, want hulle het nie geprobeer om groot dik kabels meteens aan te bring nie. Dit was dun staalkabels  omtrent so dik soos 'n potlood. Elkee van die groot kabels het 27,572 van die dunner kabels bevat.

Toe het hulle met 'n spesiale en wonderlike masjien die dun kabels saamgepers tot reuse staalkabels, elkeen drie voet en 'n halfduim in deursnee. Juis waarom hulle die ekstra halfduim bygevoeg het, weet ek nie.

Nadat die twee groot kabels aan albei kante vasgeanker was, het hulle die raamwerk wat as pad vir die voertuie sou dien, gebou en aan die reusekabels gehang. Daar was groot blydskap toe die eerste dwarsbalk gelê is.

Daarna is nog baie werk gedoen, en dit was baie maande voordat die eerste voertuie oor die brug begin beweeg het.

As dit ooit vir julle moontlik is, moet julle na daardie wonderlike hangbrug gaan kyk, want dit is die grootste in die hele wêreld. Daar is nie 'n groter brug van sy soort nie, tensy hulle miskien  eendag so 'n brug bou oor die Engelse Kanaal, of die Bering-straat!

Alles omtrent daardie onderneming is groot; of julle dink aan die 20,000 ton torings, of die 80,000 myl staalkabel wat gebruik is vir die reusekabels, of die 300,000 kubieke jaarts beton van die fondament, of die 110,000 gelling verf om dit teen roes te beskerm.

Die pad is negentig voet wyd, sodat daar ses strome verkeer langsmekaar kan beweeg. Daardie brug is seker een van die grootste wonders van ons moderne wêreld. Dit het natuurlik 'n baie groot som geld gekos - sowat twee-en-dertig miljoen dollars; maar niks wat werklik groot is, kan bereik word sonder groot inspanning of uitgawe nie.

Of dit die aanbou is van brugge, of spoorweë, of skepe, of hospitale, of sendingstasies, enigiets wat bygedra het tot die welsyn van die mensdom, was daar altyd 'n prys om te betaal, en soms 'n baie duur prys.

Dit laat my dink aan 'n verhaal wat ek gehoor het van 'n beroemde Chinese keiser wat aan sy smid opdrag gegee het om vir hom 'n baie groot klok te giet. Dit moes die grootste klok wees en terselfdertyed een met die soetste klank.

Hoe die smid ook al geprobeer het, kon hy nie 'n perfekte klok giet nie; as daar nie 'n barsie in was nie was daar iets verkeerd met die klank.

Die smid het baie onrustig geword, want hy wou nie die misnoeë van sy heer op sy hals haal nie. Die smid het 'n baie mooi dogter gehad, en sy het geprobeer om haar vader te troos; sy het voorgestel dat hy die wyse manne moes raadpleeg.

Hy het dit gedoen, en hulle het hom meegedeel dat die gesmelte metaal nie reg hard sou word tensy dit met menslike vlees vermeng word nie.

Maar hoe sou hy dit kon doen?

Weereens het die smid die metaal gesmelt. Terwyl hy besig was om dit in die groot vorm te giet, het hy gewonder of dit hierdie keer 'n sukses sou wees, en of dit miskien weer 'n barsie sou toon?

Skielik het hy gesien hoedat sy dogtertjie oor die kant spring in die gesmelte metaal. Sy het verdwyn, maar die klok was volmaak, en met 'n klank wat nog nooit in die hele wêreld gehoor is nie.

Dapperheid, volharding, opoffering - dit is die elemente van die dinge wat die moeite werd is in die wêreld. As julle eendag iets groots wil bou  met julle klein lewentjies, moet julle gewillig wees om julleself met julle hele hart daarin te werp.

Die wyse man het gesê: "Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag."

Halfhartige diens sal 'n mens nêrens bring nie. As julle sukses wil behaal, moet julle alles in die stryd werp.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell