# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die park na die val van die blare

Hulle het altyd bymekaar gekom in die park, wat die gerieflikste was, want hulle het in verskillende dele van die stad gebly, en wanneer hulle wou uitkom of wegkom van die medeloseerders, die beperkte uitsig, die kamers waar die son nooit skyn nie, het hulle hul na die park begewe, an die vriendelike bankies en die sonskyn, met die wye tuin rustig om hulle en die geraas van die stad saam met sy kantore en woonstelgeboue teruggeskuif anderkant die reëlings. Vroeg reeds kom hulle van hul bankies besit neem, en niemand betwis ooit hul reg daarop nie. Wie stel trouens in hulle belang? 'n Klomp nogal armoedige ou mense wat in 'n vreemde taal gesels en met uitlandse driftigheid beduie: daar is niks meer nie. 

Ou mense vir wie die lewe verbygegaan het sodat geen hoop of verwagting meer oorbly nie, saamgewaai uit hoeveel lande, opdrifsels van hoeveel oorloë, pogroms en agtervolgelinge, totdat hulle uiteindelik beland het onder hierdie vreemde son, toevallig saam op bankies in die park. 

Hulle is oud, die lewe is verby, en dit is geed tyd op wortel te skied in vreemde aarde nie. Buitestaanders sal hulle bly, en hulle het ook geen begeerte om in hierdie laaste jare  iets meer te word nie, want mens bereik 'n punt wanneer dit moontlik is om jou terug te trek van die barheid van die hede en geen verdere stut of steun te vra nie as dit verby is: dit wat volmaak staan en afgerond, onaantasbaar vir altyd. 

Toevallig byna het hulle bymekaargekom en begin vergader in die park. Hoeveel ander mense was daar wat nog hulle taal kon praat; hoeveel kon die ou, verlore wêreld onthou wat eens aan hulle behoort het, en het selfs belang gestel daarin? Niemand nie, net hulle, en dus het hulle steeds meer krampagtig vasgehou aan mekaar - die mense  wat nog kan verstaan en begryp, en wat daagliks die versekering bied dat hulle nie alleen is nie. 

Van almal wat daar op die bankies byeenkom, is meneer Treisman die mees teruggetrokke. Gewoonlk bly hy 'n toeskouer aan die rand van die groep, tevrede om net te luister met 'n halwe glimlag terwyl sy oë van die een spreker na die ander beweeg: ou meneer Marcus met sy serp en breërandhoed, meneer Seidel met sy verslete Hebreeuse koerante, meneer Ledeiken dubbelgeboë oor sy wandelstokkie, mevrou Abel met die jubelende lag en juffrou Guret met die wolmussie - hulle, en al die ander lede van die groepie. Mens sou sê dat hulle hom oorstem en oorweldig met hul vertoë en argumente, dog sy stilswye is heeltemal vrywillig. Vir hom beteken hierdie byeenkomste en gesprekke miskien ook die meeste: die vertroude taal, en mense wat 'n ou en verlore wêreld aan die lewe kan hou oor jare en myle heen. 

Die herfs kom altyd as dreigement: die ligte karteling aan die rand van 'n blaar, die koelheid in die lug en die vergang van die blomme. Die dae word korter en killer en die ure van hulle samesyn verminder. Hulle wag tot later voordat hulle hul uit begewe, en vroeër reeds vryf die een of die ander die hande inmekaar: ja, die weer word koud. 

Soos die blare oor die wye paadjies en sonnige gras kom daardie woorde langsaam en rustig oor die geselligheid van hul gesprek. Die winter kom, die winter kom, en die kring word opgebreek; die blare val en die bome staan troosteloos. Slegs af en toe, toevallig byna, loop jy in hierdie maande die een of ander lid van die kring nog raak.

Vir Treisman is dit 'n eensame tyd, die wintermaande met hulle naakte bome en die kil blou skaduklowe van die stadstrate waar die son nooit kom nie. Net aan die einde van daardie strate sien jy nog verre sonnigheid soos 'n belofte waaraan jy kan vashou. Die lente sal kom, groen was oor die bome en die jubeling van narsings in die formele blombeddings; en op 'n dag sal meneer Marcus weer meteens op die rand van 'n bankie sy hande sit en vryf in die sonskyn met sy serp om sy nek. Mooi weer, ja werklik. 

Die een na die ander tree hulle te voorskyn uit verspreide woonstelletjies en kamers om die dae om te gesels in die son. Treisman kom weer sit en luister. Dit is tog al wat saak maak: vertroude stemme in 'n bekende taal oor 'n geliefde wêreld: wit dorpies en ganse in die pad, feesmaaltye en begrafnisse, ou verhale en gesegdes wat hulle as kinders gehoor het. Hand in hand staan hulle in 'n kring, gestut en gesteun deur hulle gemeenskaplike verlede, die enigste werklikheid wat daar vir hulle behoue gebly het. 

Op 'n dag het meneer Marcus egter skielik en sonder waarskuwing uit die groep ontbreek. Toe hy die tweede dag nog nie opdaag nie, het meneer Seidel onderneem om op pad huis toe by sy kamer  aan te gaan, en hy het hulle ook die volgende oggend kom meedeel dat Marcus dood is, weggevoer na die dodehuis en kerkhof voordat hulle selfs bewus was van die feit. 

Treisman het 'n kilheid gevoel teen sy hart, soos die kilheid wat in die somer reeds dui op die herfs en die winter wat gaan kom. Een minder, het hy gedink, en gewonder waarom dit vir hom so 'n skok is. Hulle is immers almal bejaarde mense. Van die mans het een aand saamgekom om die kaddisjgebed op te sê ter gedagtenis van die oorledene, en toe het hulle almal 'n bietjie breër opgeskuif langs die bankies in die park. Dog daar het 'n blaar verkleur, lig gekartel met goud langs die rand, en die kanteling van die aarde vanaf die son kan nie gekeer word nie. 

Die volgende lente toe hulle weer byeenkom om die fontein, is dit mevrou Abel wat ontbreek en juffrou Guret kom met driftige gebare vertel hoe sy drie weke lank in die bed gelê het en soos 'n kind geroep het om haar moeder voor haar dood. Die winter is maar 'n moeilike tyd as jy begin oud word, besluit hulle. Soos 'n vyand wag dit, dink Treisman, soos 'n vaal wolf op die sneeuvelde van sy jeug, wat skuil in die skadu van die dennebome om te spring. 

Die lente hou vir hom nie meer dieselfde blymoedige vooruitsig van hereniging in nie. Blare en bloeisels, warmer sonskyn en singende voëls is van verbygaande aard, en die aarde kantel in sy draaiing in 'n dieper skadu, in 'n kouer en donkerder gety waaruit daar geen terugkeer is nie. Elke lente moet jy versigtiger die groepe na-tel wat in die park vergader, en telkens weer ontbreek hierdie gesig of daardie een. Meneer Ledeiken is in 'n outehuis opgeneem, vertel iemand; hy is ook al by die negentig. Meneek Winik lê lank in die hospitaal (Seidel gaan hom gereeld besoek met lemoene in 'n kardoesie) voordat hy sterwe. Van blaar na blaar, langsaam en in groot stilte en suiwerheid, verkleur die bome, en die wind waai skerper langs die paadjies. Juffrou Guret is kromgeboë van ouderdom en rumatiek. Ja, 'n mens word oud, knik hulle saam in die sonskyn. Hoeveel jaar gelede reeds dat Marcus dood is? 

Nie slegs die terugkeer van die lente hou vrees in nie, maar elke nuwe oggend. Wie sal daar ontbreek in die park? Een dag bly Treisman lank sit op die bankie voordat Seidel aangeskuifel kom deur die drywende sproeiwater van die fontein. Nou is daar net hulle twee. 

Hulle praat weinig met mekaar, want dit is genoeg om net die versekering van mekaar se aanwesigheid te hê, en hulle is trouens ook so oud dat woorde al minder nodig geword het. Seidel vou die verfomfaaide blaaie van sy Hebreeuse koerant oor en weer, en Treisman kyk na die son, die gras, moeders met kinderwaentjies. 

Een oggend bly hy lank daar wag, maar daar kom niemand nie, en dié aand stap hy alleen huis toe. Miskien is Seidel ongesteld, dink hy, en bly wag met groot geduld, die volgende dag en dae, die volgende weke; maar geledelik vergeet hy om te wag en bly maar net daar sit, alleen in die sonskyn. Eers baie lank daarna gaan hy na die sinagoge om die gebed vir die oorledenes op te sê. Vir Seidel wat seker dood is, vir Marcus - vir almal, besef hy skielik, wat hy ooit geken het, vir ouers, familielede en skoolmakkers, virende en kennisse, want van hulle almal het net hy oorgebly.

Hy is alleen agtergelaat in die suiwer en helder lig van die winter, hoë hemel en naakte takke uitgestrek teen die lug: alleen op die bankie in die park, 'n ou man wat dommel in die sonskyn; alleen raak hy saans aan die slaap, en alleen word hy wakker. 

Eers is dit moeilik om te wen aan die algehele stilte waarin hy nou leef: niemand meer met wie hy die moedertaal kan praat of van wie se lippe hy kan hoor nie, niemand wat meer onthou nie, behalwe hy. Geleidelik is dit egter of die vereensaming kristaliseer in glansende prag om hierdie besef heen, met skitterende yskeëls en ryppatrone. Net hy onthou, en net in hom leef die geliefde ou wêreld nog. Wanneer hy doodgaan, sal dit alles finaal verby wees en verlore, sonder bestaanplek meer op aarde. 

Die wete geen aan die dae nuwe sin. Hy is baie oud en nogal armoedig; hy tel stukkies tou op op straat en versamel ou koerante uit snippermandjies; hy mompel by homself in 'n vreemde taal en praat met niemand nie. In die park of die kille gange van die losieshuis waar hy woon, kyk mense hom in die verbygaan, maar hy merk dit nie. Bewus van sy eie waardigheid en verantwoordelikheid, gaan hy deur die dae; hy dra iets waardevols, hy alleen, in sy gang deur die donker, alles wat kosbaar en bemind in sy arms geskut is. Dit is hy wat dit moet bewaar teen vernietiging. 

Hy praat met niemand nie en slaan ag op geeneen; hy is kinds, sê die mense, 'n arme, armoedige ou man. Hy het geen familie nie, of vriende, hy kom van oorsee, heeltemal alleen hier oorgelaat. wanneer hy doodgaan, word hy ook duer die munisipaliteit begrawe, en daar is niemand om hom in die kaddisjgebed te herdenk nie. 

Karel Schoeman

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7