# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Nasionale Kruger Wildtuin

Die Nasionale Krugerwildtuin is die grootste wildreservaat in Suid-Afrika, en 'n trekpleister vir internasionale en plaaslike toeriste. Die park strek ongeveer 350 kilometer van noord na suid en 60 kilometer van oos na wes. Die park grens in die ooste aan Mosambiek en in die noorde aan Zimbabwe. Die park strek oor twee Suid-Afrikaanse provinsies, Mphumalanga en Limpopo.

Die Krugerwildtuin maak nou deel uit van die Groter Limpopo Oorgrenspark, 'n vredespark wat die Krugerwildtuin kombineer met twee nasionale parke in sy buurlande: die Gonarezhou Nasionale Park in Zimbabwe, en die Limpopo Nasionale Park in Mosambiek. Meer as 'n miljoen toeriste besoek die Krugerwiltuin elke jaar. Die park bevat ongeveer 2 000 plantspesies, 507 voëlspesies, 147 soogdierspesies, 114 reptielspesies en 49 visspesies. Die sogenaamde "Groot Vyf" diere kan ook in die die park gesien word, naamlik die leeu, olifant, renoster, buffel en luiperd. 

Vroeë geskiedenis

Daar is bewyse gevind van oermense wat in die area gewoon het so vroeg as 1,500 000 jaar gelede. Die Boesmans het ook in die area gewoon ongeveer 100 000 jaar gelede. In ongeveer 200 n. C het die eerste Nguni-sprekende mense vanaf die noorde migreer na die area en die Boesmans verdryf. Teen 800 n.C het Arabiere die area begin teiken vir slawe deur van die hawe by Mosambiek gebruik te maak. Sommige het hulle in die park gevestig waar hulle in die noordelike dele van die park yster ontgin het. In die Thulamela area kan ongeveer 200 myne gevind word wat datteer van die jare tussen 1250 en 1700 n.C. Die eerste Europeër wat die area verken het was die Nederlander Francois de Cuiper, wat 'n ekspedisie van die Kaapkolonie gelie het in 1725 namens die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie. Die ekspedisie is egter aangeval deur plaaslike etniese groepe by Gomondwane, en weggedryf. 

Teen ongeveer 1838 het Voortrekkerekspedisies gelei deur Louis Trighart en Hans van Rensburg die Laeveld verken. In 1845 het Joao Albasini, 'n 18-jarige Italianer, die eerste Europeër geword om in die area te vestig. Hy was gestrand in Mosambiek en het besluit om wes binneland in te trek. Hy het 'n opstal gebou en 'n winkel geopen naby die hedendaagse Pretoriuskop. Teen ongeveer dieselfde tyd is wa-roetes gestig regoor die Laeveld wat die Transvaalse Republiek met Delagoabaai in Maputo verbind het. Goud is ontdek in September 1873 in Pelgrimsrus, en daarna in 1881 in Baberton. Fortuinsoekers het na die Laeveld gestroom ondanks die vrees vir leeus, krokkodille en malaria. Hierdie instroming het aanleiding gegee tot 'n dramatiese vermindering van wilde diere in die omgewing as gevolg van die jag en ruiling van dierehorings en -velle.

Wildreservaat

In 1869 het die Runderpesvirus 'n groot gedeelte van die streek se wild en vee uitgewis. Om wild vir die toekomstige jagters te behou, het die Transvaal Volksraad gestem vir 'n klein regeringswildreservaat. Fondse vir die Sabie Wildreservaat is in 1898 verkry, maar oorlog het uitgebreek. Na die Anglo-Boereoorlog het Majoor (later Luitenant-Kolonel) James Stevenson-Hamilton die eerste hoof-veldwagter van die park geword in 1902. 'n Paar maande daarna is die area tussen die Sabierivier en Olifantsrivier by die park gevoeg. Die verre noorde van die park het in 1903 beskerming gekry as die Shingwedzi Wildreservaat. Hierdie ddel het 'n klein driehoekige area ingesluit wat bekend was as Crook's Corner. Die area was geleë waar die grense van Mosambiek, suid-Afrika en zimbabwe ontmoet. In die 1900's was hierdie area 'n veilige hawe vir jagters, wapensmokkelaars, vlugtelinge, en enige wetsoortreders. Dit was maklik om oor die rivier van een land na 'n ander te hop sou die polisie van 'n spesifieke land op jou spoor wees. Daar is 'n gedenkplaat hier opgerig vir die legendariese ivoorjagter Cecil Barnard (Dvekenya), wat in hdie 1920's op die eiland in die middel van die Limpopo geskuil het sodat veldwagters en polisie hom nie in die hande kon kry nie. Ironies het Barnard self later 'n veldwagter geword. Later is 'n polisiestastie hier gebou. As gevolg van eeuelange jag, was daar bitter min wild in die reservaat. Met die reputasie van die laeveld as malaria-gebied en die "witman se graf", het Stevenson-Hamilton ook alle mense uit die reservaat verwyder. Hy en ander veldwagters het ook begin om alle roofdiere te skiet om die bokspesies getalle te vermeerder. 

Nasionale Park

In 1912 is 'n spoorlyn gebou wat deur die reservaat geloop het. Stevenson-Hamilton het hierdie spoorlyn suksesvol aangwend om besoekers na die park te lok vir middagete. In 1916 het die regering ondersoek ingestel na die toekoms van die reservaat. In 1926 het die Britse administrasie as 'n goeie gebaar besluit om die reservaat te vernoem na Paul Kruger en dit te verklaar as Suid-Afrika se eerste nasionale park. In 1927 is die eerste besoekers tot die park toegelaat teen 'n fooi van 1 pond. Slegs 'n handvol motors het die park daardie jaar besoek, maar teen 1935 het 26 000 mense duer die hekke beweeg. Tans besoek ver meer as 'n miljoen toeriste jaarliks die wildtuin. Stevenson-Hamilton was verras dat die meerderheid besoekers roofdiere wou sien, en het toe opgehou om hierdie diere uit te skiet. Hy het afgetree in 1946, en is oorlede in 1957. In die 1960's is die Water vir Wildelewe-projek begin om wildgetalle te vermeerder. Ongeveer 300 windpompe het drinkkrippe is in die park opgerig. Die watergate het wild na verskeie besigtigingsplekke in die park gelok. Alhoewel dit aanvanklik as 'n goeie idee beskou is, is daar dekades later ontdek dat meer roofdiere na die watergate gelok is deur die groter hoeveelheid rooibokke en sebras wat daar kom drink het. voor die watergate gebou is, het die droër areas spesies soos die bastergemsbok gehuisves, maar hulle kon egter nie met die leeus meeding nie. Die park het intussen besluit om die watergate te sluit en die natuur sy gang te laat gaan. 

Modernisering

In 1991 is Robbie Robinson as Uitvoerende Hoof van die Nasionale Parkeraad aangestel. Robinson het die oorskakeling van die Krugerwildtuin na die Nuwe Suid-Afrika begin. Robinson het 'n plan in werking gestel waar die grensdrade op die park se westelike grens verwyder is. Dit laat diere van die aangrensende privaat wildreservate toe om vry te beweeg tussen die reservate en die Krugerwildtuin. In 1998 is die Krugerwildtuin se eerste swart Uitvoerende Hoof aangewys. David Mabunda is nou hoof van Sanparke, die nasionale parkeraad van Suid-Afrika. Die volgende deel van die Krugerwildtuin se geskiedenis is die totstandkoming van die Groter Limpopo Oorgrenspark. Hierdie park sal die Krugerwildtuin in staat stel om groter troppe diere wat nie lewensvatbaar in die park onderhou kan word nie, oor te plaas na die orgerepte bos van aangrensende nasionale parke in Mosambiek en Zimbabwe. 

Voëls

Ongeveer 507 voëlspesies word aangetref in die park. Gelukkige besoekers kan die "Groot Ses" voëls in die park besigtig, naamlik die bromvoël, gompou, swartaasvoël, breëkoparend, visuil en die saalbekooievaar.  Die Krugerwildtuin word verdeel in 6 ekosisteme, kremetartsandveld, mopaniestruikveld, Lebombo knoppiesdoring-maroelaveld, akasiaruigbos. Combretumsilwer bosveld op graniet, en rivierbos. Altesaam is daar 1 982 plantspesies in die park. Van die 336 boomspesies wat in die park aangetref word, is die mees unieke (deur sommige genoem die "Groot Vyf") die kremetart, koorsboom, knoppiesdoring, maroela, en mopanie. 

Soogdiere

Die Krugerwildtuin huisves al die Groot-Vyf diere onder die 147 soogdiere wat in die park aangetref word. In die 2004 sensus, was die wildgetalle soos volg: 2000 leeus, 1000 luiperds, 200 jagluiperds, 200 wildehonde, 2000 hiënas, 11670 olifante, 5000 wit renosters, 350 swart renosters, 320000 sebras, 3000 seekoeie, 3800 vlakvarke, 9000 kameelperde, 25150 buffels, 300 elande, 60 baster gemsbokke, 550 swartwitpense, 5000 koedoes, 300 njalas, 500 bosbokke, 5000 waterbokke, 300 rietbokke, 17000 blouwildebeeste, 200 tsessebes en meer as 170000 rooibokke. 

Reptiele, Vis en Amfibieë

Daar is 114 spesies reptiele, insluitend ongeveer 5000 nylkrokodille in die park. Ook 49 visspesies en 34 spesies amfibieë word aangetref. 

Verblyf

Daar is 12 tradisionele ruskampe (met 4 satellietkampe) in die Krugerwildtuin, grotendeels onder bestuur van Sanparke, die nasionale parkeraad. Gedeeltes van die park word ook deur private maatskappye bedryf. Daar is tans 5 bosveldkampe wat deur Sanparke bestuur word, en verskeie private bosveldkampe wat as konsessies bedryf word. Meeste winkels en restaurante in die ruskmape word ook deur private maatskappye as konsessie bedryf. 

Ruskampe

Balule, Berg-en-Dal, Krokodilbrug, Letaba, Malelane, Mopani, Olifants, Onder-Sabie Orpen, Pretoriuskop, Punda Maria, Satara, Shingwedzi en Skukuza.  

Bosveldkampe

Bateleur, Biyamiti, Shimuwini, Sirheni en Talamati

Privaat Bosveldkampe

Boulders en Roodewal  

Luukse Bosveldkampe

Tinga Private Game Lodge, Jock Safai Lodge, Singita Private Game Lodge, Lukimbi Safari Lodge, Imbali Safari Lodge en Rhino Walking Safaris