# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Naamlose Oorwinnaar van 1510

Byna 150 jaar voor Van Riebeeck sneuwel Francisco D'Almeida saam met 65 van sy landgenote op Tafelbaai se strand in 'n slag teen 'n Hottentot-kaptein wie se naam ons nooit sal ken nie. 

Wie sal weet, hoeveel kranige krygsmanne Suid-Afrika gehad het voordat die eerste blankes, wat geskrewe bronne daaroor kon nalaat, hul opwagting hier gemaak het? Onder die verskillende swart, Hottentot- en Boesmangroepe, wat almal reeds eeue in die land was voor die blankes gekom het, moes daar sekerlik verskeie leiers gewees het wat hulself op militêre gebied onderskei het. Maar daar was niemand om hul name op te teken nie en vandag is al hul dade verlore in die newels van die geskiedenis.

Van een so 'n man dra ons wel kennis, al weet ons nie eens wat sy naam was en of sy tydgenote hom as 'n groot leier beskou het nie. Die geskiedenis lig naamlik die tippie van die sluier in die jaar 1510, nog lank voordat Jan van Riebeeck voet aan wal in Tafelbaai gesit het. Dit was 'n tyd toe Portugal hard aan die rondskarrel was om die eksklusiewe mark vir speserye in die Ooste in die hande te kry. Twee Portugese edelmanne, Dom Francisco D'Almeida en Alfonso D'Alburquerque, het in Indië rusie gekry; D'Almeida het die onderspit gedelf en besluit om terug te keer na Portugal. Op 28 Februarie 1510 het sy drie skepe - Garcia, Belem en Santa Cruz - in Tafelbaai anker gegooi om vars water in te skeep. Dit was waarskynlik naby die plek waar Soutrivier vandag is. Op die strand het die matrose 'n paar Hottentotte teengekom en in 'n vriendelike gees is 'n paar beeste geruil vir stukke yster en katoenstof. So vriendelik was die gees trouens, dat twaalf of dertien matrose toestemming gekry het om na die Hottentot-dorpie - waarskynlik geleë waar Mowbray vandag is - te gaan. Volgens alle getuienisse het die Hottentot-kaptein wat die hooffiguur van ons verhaal is, die Portugese vriendelik en korrek behandel. 

Op pad terug het daar blykbaar om 'n onbekende rede 'n misverstand ontstaan, en kort voor lank het die vuiste en knopkieries geswaai. Met hul gesigte vol bloed het die matrose by die skepe aangekom. 'n Heftige woordewisseling op die skepe het gevolg. Sommige offisiere het gemeen dit was die matrose se eie skuld, maar ander wou dit nie daarby laat nie. Dit is nodig dat die "barbare" respek kry vir die blankes, het hulle uitgeroep. 

Dom Francisco was nie juis gretig om 'n wraakekspedisie te onderneem nie - hy was al sestig jaar oud en nie meer so wel ter been nie - maar het tog ingewillig om die volgende dag 'n taakmag te lei om die "astrante barbare" 'n les te leer. 'n Mens kan aanneem dat die Hottentot-kaptein by die aanskoue van die 150 Portugese gemeen het sy lewe en leierskap, of moontlik die oorlewing van sy stam, is op die spel. Hy het egter nie die landing van die ekspedisie teengestaan nie en selfs toegelaat dat hulle die dorpie ongehinderd bereik. Maar opeens spring sowat 170 Hottentotte uit die bosse en val die matrose aan met klippe en spiese. Dit het die Portugese nie verwag nie en bowendien was hul vuurwapens nie geskik vir sulke gevegte van naby nie. Paniekbevange en wanrordelik het hulle omgespring en teen die helling van Duiwelspiek afgehardloop strand toe. Moontlik het die kaptein so iets verwag, want hy het 'n klomp osse as lewende skanse gebruik en spiese na die matrose laat gooi. Heelwat van hulle het so gesneuwel. 

Om alles te kroon, moes die Portugese by die stand sien dat die roeibote waarmee hulle aan land gekom het, intussen weens 'n sterk bries weer terug skepe toe is. Daar op die sand is D'Almeida en verskeie van sy offisiere en soldate deur die woedende Hottentotte omsingel en van die gras af gemaak.

Toe die manne op die skepe sien wat gebeur, is roeibote dadelik teruggestuur. Baie matrose het die see ingehardloop en was al diep in die water toe die roeibote hulle bereik. 'n Paar is nog van die strand gered, maar uiteindelik het 65 Portugese lyke agtergebly. 

Die volgende dag het die oorlewendes weer land toe gegaan om hul makkers te begrawe. Vroegoggend die dag daarna het die skepe hul ankers gelig en padgegee. Wat verder van die kaptein geword het, weet ons nie. Miskien het sy aansien baie gestyg, moontlik het sy vyande net jaloers geword en hom uit die weg geruim. Maar vir een dag lank het hy uit die donker newels van die verlede getree en sy bestaan aan die wêreld verkondig. 

Leopold Scoltz

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0