# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die man met die swaar been

'n Man het neergeval teen die relings van die Luksemburgtuine. Die skaduwees van die kastaiingbome sny oor die sypaadjie verlig deur 'n glaslamp elke vyftig tree, en dit duur 'n tydjie voor die verbygangers hom gewaar. Dan voeg hulle hulself een vir een by die versamelende skare. Hulle bly ingetoë, hulle kyk toe met die waardighoudendheid van ou mense wat deelneem aan 'n dikwels herhaalde toneel. Iemand vertrek onhaastig oor die plein Port Royal om vir 'n ambulans te gaan telefoneer.

Die man kreun en probeer om hom aan die relings op te hys. Maar elke keer val hy terug heftig bewend. Sy hande gly tot op sy bors, en pluk aan sy klere, en sidder dan tot op die grond. Die handpalms val oop en tril soos motte sterwend onder die spelde van 'n insek-versamelaar.

"Medelye", kreun hy, "medelye." Sweet rol van sy nog jonge gesig, vertrokke van pyn en koors. "Dis klaar met my..." Sy eentonige gebewe en gepoog om homself op te lig, is jammerlik van nutteloosheid. Die toeskouers laat hom le. Hulle toon geen sentiment nie, alleen praktiese bedagsaamheid. 'n Heer tree vorentoe met die gedienstigheid van 'n afgevaardigde. Hy buk oor die siek man en vra: "Wat neem jy gewoonlik?"

"Kwientien" Die siek man se oë rol gevaarlik op. "Maar dit help niks nie....dis die einde..." Sy tande klem toe op 'n nuwe aanval van bewing terwyl sy kop heen en weer rol soos hy poog om nog meer te se. Sy hande pluk aan die klere op sy bors. 

"In my sak," snak hy oplaas, "my naam..."

Die heer buk laer en neem die man se sakboek om die dokumente daarbinne deur te kyk. Hy sien dat Jean Thomas, 37 jaar, soldaat in Indo-China was, en dat hy daar malaria en gevolglike chroniese siektes opgedoen het. Nou is hy werkloos en gedurig in die hospitaal. 

"Het jy gedrink?"

De siek man kink ongeduldig; dan herhaal hy: "My naam...My naam..."

"Toemaar, bly kalm. Ons weet jou naam." 

Die siek man sidder soos hy sy kop opdwing. 

"My naam!" stamel hy. Sy oë dring angstig aan. 

Die afgevaardigde heer buk weer voorwaarts, en artikuleer duidelik om die siek man te kalmeer: "Moet jou nie ontstel nie. Jy is Jean Thomas. Ons weet dit. Ons het jou naame en adres. Jy is Jean Thomas." Dan eers val die siek man terug. Die krampagtige geruk van sy liggaam duur voort, en die sweet wat glinster op sy gesig, boeteer dit in vreemde, skitterende relief. 

Sy hand raak en klou aan die been van een van die omstanders. Dit is 'n skraal man met 'n groot ingesakte mond waarop 'n onsekere glimlaggie nou verskyn. Dalk is hy verleë vanweë die hand wat vasklou aan sy been, of miskien met die gedagte dat daar weinig warmte en vriendelikheid in 'n dun, benige enkel is. Toe die hand se greep losgeskeur word deur 'n nuwe aanval van siddering, gee die lang man 'n tree vorentoe, nader aan die sieke. 'n Beleefde glimlaggie is op sy gesig en 'n mens weet dat sy been baie styf en selfbewus gehou is, gereed om die hand weer te ontvang. En meteens neem die skare se ingetoënheid nuwe betekenis aan. 

"Asseblief mense," se die heer, "staan terug."

Die ambulans kom aan met swaaiende koplampe: vir 'n oomblik sirkel kosmiese vuur. Vier konstabels plaas die siek man op 'n draagbaar. Hul saaklikheid is soos 'n verskoning vir wat hulle beoog: die hospitaal, en miskien, binnekort, die lykshuis. Die ambulans vertrek. Gelyktydig vorm die ontbindende skare die speke van 'n wiel. Slegs die man wie se been aangeraak is, bly naby die reëlings draal. Hy buk om te sien of daar 'n kol bloed is, en sy neusgate snuif.

As hy eindelik met Boulevard Saint-Michel afdaal, kan die man nie vinnig stap nie. Sy lang skraal lyf is nog steeds na vore gebuig, en sy linkervoet sleep en voel ongewoon swaar. Onder in die kafee-gebied is die man bang om teen verbygangers te struikel, en hy gaan staan om 'n neon-krabbel bo die glas en rumoer te lees. Maar toe hy weer verder wil gaan, is hy nie dadelik in staat om sy been te lig nie. Dit het so swaar geword soos die steen-plaveisel waarop hy staan. Nou vertoon sy gesig so 'n trek van verbasing en pyn dat mense wat verbygaan in die rossige lig, 'n oomblik huiwer voor hulle verder stap. 


JAN RABIE

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7