# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Leeu van Wes-Transvaal

Genl. Koos de la Rey, een van die Tweede Vryheidsoorlog se grootste leiers, bly tot aan die einde onoorwonne, maar word twaalf jaar later doodgeskiet toe die polisie sy motor vir die van 'n berugte rampokker aansien. 

Koos de la Rey het hom tot pres. Paul Kruger gewend: "Ek sal my plig doen soos die Volksraad verlang, en u sal my nog in die veld aantref lank nadat u en die spul wat met hulle monde oorlog voer, die land uitgevlug het." Hierdie snydende en tragiese ware woorde aan Kruger het De la Rey volgens getuienis gerig op 'n geheime sitting van die Volksraad in die spanningsvolle weke kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Wie was hierdie man wat die alom geleerde en patriargale Staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek op so 'n vreeslose wyse durf aanspreek het? 

Oktober, 'n maand waarin beroemde Boerefigure soos Paul Kruger, M.T. Steyn en Christiaan de Wet gebore is, het ook op die 22ste van die maand in die jaar 1847 die geboorte opgelewer van Jacobus Herculas de la Rey, op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg. Koos was die sesde kind van Adrianus Johannes Gysbertus de la Rey en sy vrou Adriana Wilhelmina gebore van Rooyen. 

Toe hy maar 'n jaar oud was, verhuis sy ouers na die plaas Welverdiend in die huidige distrik Wolmaransstad. As kind van die veld groei De la Rey op met weinig formele onderwys, maar die veldskool, sy ouers se hand en sy hoë intelligensie sorg vir n goeie vorming. 

In 1876 trou De la Rey met Jacoba Elizabeth (Nonnie) Greef, wie se vader, Hendrik Abraham Greeff, die stigter van die dorp Lichtenburg  in Wes-Transvaal was. Reeds vroeg in sy lewe reageer Koos de la Rey met sukses op die militêre eise van sy tyd. Hy neem in 1865 op agtienjarige leeftyd deel aan die Tweede Basoetoe-Boereoorlog, volgens oorlewering reeds as veldkornet. Sy optrede word deur moed en vernuftige krygsbeleid gekenmerk, eienskappe wat uiteindelik in die Anglo-Boereoorlog hul wasdom sou bereik. Dit was in sy aard om Louwe Wepener se bestorming van Thaba Bosigo oor en oor in sy gedagtes na te gaan, vas te stel waar gefouteer is en te besluit wat hy persoonlik sou doen. Vir hom was dit 'n genotvolle denkoefening, want oorlog voering het hom nie juis aangestaan nie, en moes slegs as 'n laaste uitweg geneem word. Wanneer daar egter tot militêre aksie ooregaan word, het hy gevoel, moes alle krygslis en vernuf ingespan word. In 1876 gaan  hy die burgers van Makwassie voor as verldkornet in die oorlog teen Sekenie.

Met die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-1881 neem De la Rey onder genl. P.A. Cronje deel aan die beleg van die Britse fort op Potchefstrom. Nieteenstaande siekte en uithongering hou die Britte op merkwaardige wyse uit tot na die beslissende slag van Majuba De nutteloosheid van so 'n beleg het De la Rey nie ontsnap nie. 

Weens sy bekwaamheid as krygsman is De la Rey in 1885 as komandant vir Lichtenburg verkies Hierdie betrekking het hy tot 1893 beklee, toe hy lid van die Eerste Volksraad geword het. Hoewel hy nie veel gepraat het nie, het hy nie geaarsel om sy mening kort en kragtig, helder en onomwonde te stel nie. Met die reeds genoemde geheime sitting het hy eers aandagtig na al die argumente geluister. Toe hy uiteindelik op die been kom, het hy hom uitgespreek teen 'n oorlogsverklaring teen Brittanje. Hy was nie ten gunste van 'n stryd teen Brittanje nie en het 'n aggresisiewe oorlog veroordeel as onwys en onnodig. Dt was in elk geval sy ooortuiging dat die Republieke nog aan die opgroei was en dat hulle nog tien of vyftien jaar moes wag alvorens hulle daaraan kon dink op die wapen op te neem. 

Nog pres. Kruger nog die progressiewe oposisie-groep van kmdt.-genl. Piet Joubert kon egter die Britse imperialisme stuit. Op 27 September 1899  het Joubert as hoof van die Boeremagte vir De la Rey meegedeel dat hy vanweë die sametrekking van Britse troepe aan die ZAR se grense genoodsaak was om die burgers vir kommandodiens op te roep. Hy het voorts verklaar dat hy Piet Cronje as generaal vir die westelike dele aangestel het met De la Rey as Cronjé se adviseur.

Met swaarmoedigheid stel De la Rey, die man van vrede, hom op 1 Oktober in Pretoria tot Cronjé se beskikking. Byna onmiddellik verskil hulle oor strategie. De la Rey stel voor dat die westergrensburgers liewer in die rigting van Veertienstrome, en nie soos Cronjé beoog na Mafeking nie, moet opruk. Waarskynlik het De la Rey daarmee beoog om die Vrystaters wat rondom Kimberley sou lê, die hand te reik Dit is duidelik dat hy uit die staanspoor oor die strategie vir die oorlogspoging besin het. 

Dit is spanningsvolle dae op Polfontein, suidoos van Mafeking, waar Cronjé met sy hooflaer op regerigsintruksies wag. Sy eerste oogmerk is om die Britse troepe aan die westergrens te isoleer en uit te wis. Die aand van 11 Oktober 1899 ontvang hy van die Regering die berig dat die Republieke in 'n staat van oorlog met Brittanje verkeer. Onmiddelik gelas hy De la Rey om met 800 burgers suidwaarts na Kraaipan op te ruk om 'n Britse troepemag van 1,000 te beveg en die spoorlyn op te breek. De la Rey vertel in sy herinneringe dat dit die pynlikste taak was wat hy ooit moes uitvoer. Hy, wat tot op die laaste oomblik teen die oorlog gekant was, is aangesê om die vyandelikhede te begin.

Die aand van 12 Oktober 1899 gebeur dit. Die gepantserde trein wat kol. R.S.S. Baden-Powell onder lt. Nesbitt van Mafeking na Kimberley gestuur het, keer die betrokke aand terug, voorgegaan deur 'n gidslokomotief. Kort voor 22h00 ontspoor die gidslokomotief net suid van Kraaipan op die plek waar De la Rey die spoor laat opbreek het. Terwyl Nesbitt die spoor laat herstel, neem die Boere onder bevel van vk. J.C. Coetzee weerskante van die spoor stelling in. De la Rey is self 'n entjie daarvandaan. Omstreeks 22h45 vuur Coetzee die eerste skoot van die Anglo-Boereoorlog en gee so die teiken aan die burgers om die geveg te begin. Dwarsdeur die nag pen die Boere die Britte met akkurate Mauservuur vas, maar De la Rey se aankoms teen dagbreek met kapt. van der Merwe en vier kanonne vorm die keerpunt. Reeds met sy derde bom tref van der Merwe die stoomketel, waarop die wit vlag gehys word. Benewens 26 krygsgevangenes val drie kanonne, sowat dertig gewere en heelwat ammunisie in De la Rey se hande. Mafeking was nou aan die suidekant afgesny. 

Die aand van 15 Oktober het Cronjé en De la Rey 'n ernstige meningsverskil gehad oor die verdere strategie aan die westergrens. Dit was die ou militêre opvatting teen die nuwe, dinamiese denke. Cronjé het kennelik niks positiefs geleer uit sy beleg van Potchefstroom gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog nie. Hy was nou vasberade om deur middel van 'n uitgerekte beleg vir Baden-Powell in Mafeking met sy 700 man tot oorgawe te dwing. De la Rey het egter aan hom voorgestel dat alle kommando's weggehou word van Mafeking en dat 'n ligte perdekommando die dorp met 'n stormaanval moet verower. Cronjé was nie daartoe bereid nie. Hy het gevoel dat hy te veel man op die wyse sou verloor, aangesien Mafeking goed van forte voorsien was. De la Rey weer wou nie tyd verspil  nie. Die oorlog was nou aan die gang en hy het gevoel dat hulle moet voortgaan in die rigting van Kimberley om die vyand se toevoer af te sny. Hy het Cronjé prontuit afgeraai om soos met die beleg van Potchefstroom twintig jaar tevore op te tree. Toe het Cronjé die hele oorlog deurgebring en wel groot roem verwerf deurdat hy die Britte met sy burgers vasgekeer het, maar hy wat De la Rey is wil net vir Cronjé sê dat die saak omgekeerd was: die Britte het met slegs 200 tot 300 troepe vir Cronjé met sy 600 of 700 burgers uit die gevegsterrein gehou. Dieselfde sou nou by Mafeking gebeur, het De la Rey gevoel.

De la Rey was onteenseglik korrek in sy oordeel. Hoewel die getalle van die burgers romdom Mafeking spoedig afgeneem het tot 2,000 man, het Baden-Powell nogtans op suksesvolle wyse vir meer as sewe maande uitgehou en op so 'n wyse burgers vasgepen wat nuttig op die ander ylbewaakte fronte aangewend kon word. 

Eers toe dit te laat was, het Cronjé vir De la Rey toestemming gegee om na Kimberley toe te gaan. Op 19 Oktober 1899 benoem hy hom tot veggeneraal vir hierdie doel. Onderweg na Kimberley word sy tyd in beslag geneem deur administratiewe reëlings in Vryburg, Taung en Veertienstrome, sodat hy eers in November saam met hoofkmdt. C.J. Wessels, hoof van die Vrystaatse magte aan die wesfront, met die beleg van Kimberley begin het. 

Die lafhartige en onvolledige beleëringswyse van die Boere het spoedig De la Rey se argwaan gewek. Hy het besef dat lord Methuen vanuit die suide op pad was om Kimberley te probeer ontset, en het die dringendheid ingesien om hom te gaan stuit. Met die Regering se toestemming arriveer hy op 23 November met 600 burgers by Graspan, enkele ure nadat veggenl. Jaobus Prinsloo in die slag van Bemont teen Methuen verplig was om sy stellings prys te gee. Met die slag van Graspan (ook bekend as Enslin of Rooilaagte) op 25 November het Methuen en De la Rey vir die eerste keer met mekaar te doen gekry. Weliswaar was die uitslag nie 'n beslissende Britse oorwinning nie, maar met sy oormag aan artillerie en infanterie het Methuen daarin geslaag om die Boere uit hule goeie stellings te verdryf. Soos Cronjé later by Paardeberg, het De la Rey hom verkeerdelik laat lei deur die oortuiging dat die Britte by die spoorweg sou wou bly, sodat hy die oostelike flank verste van  die spoorlyn afgeskeep het. Dit was juis op die flank dat die Britse infanteriestormloop sukses vir Methuen ingebring het.

Drie dae later raak De la Rrey en Methuen weer slaags in die slag van Modderrivier, oftewel Tweeriviere (so genoem omdat die Modder- en die Rietrivier daar inmekaar vloei). Uit sy kort ondervinding het De la Rey nou geleer dat heuwels glad nie sulke goeie stellings was as wat altyd gereken was nie. Die goeie uitsig het nie vergoed vir die akkurate kanonvuur wat die burgers op die heuwels moes verduur nie. De la Rey het die Vrystaatse offisiere dus nou oortuig dat die steil walle by die samevloeiing van die Modder- en Rietrivier as stelling moet dien teen Methuen se oprukkende troepemag van 15,000 man.

Treffend verhaal De la Rey se biograaf, Meintjes, sy optrede van die dag: "De la Rey rushed along his lines of men like a force none of them had ever seen before, his eyes ablaze, his beard bristling, his whip lashing down on some timid man...Up and down De la Rey flew, impervious to bullets and shrapnel, urging, exhorting, advising and striking, up and down, up and down with an astounding indefatigably. 'Come on, my sons!' he would shout, as if hurling himself on the enemy. 'Fight!' This was the first decent chance de la Rey had had to prove some of his theories and his ability as a military leader and he was not going to throw it away."

Weer eens was die Boeremag egter verplig om terug te val nadat die Vrystaters op die westelike flank onder Prinsloo hul sleutelposisies verlaat en sodoende die ander burgers in gevaar gestel het. Hul verliese was iets meer as 80 man, waarvan 'n sestiental gesneuwel het. 

Vir De la Rey was Modderrivier 'n persoonlike terugslag. Hy self is deur 'n bomskerf in sy regterskouer gewond, maar dit was veral die dodelike verwonding van sy oudste seun, Adriaan, teen die aand se kant, wat hom diep geruk het. Adriaan het pas twee dae tevore sy negentiende verjaardag gevier, en ofskoon De la Rey hom persoonlik na die hospitaal op Jacobsdal vervoer het, is die seun die oggend van 29 November in sy arms oorlede.

In die afwesigheid van De la Rey het Cronjé met die ander offisiere besluit om verby die Magersfonteinrante noordwaarts terug te val en hulle agter Scholtznek en Spytfontein nader aan Kimberley in te grawe om te voorkom dat die dorp ontset word.

Met sy terugkeer was De la Rey nie hiermee gediend nie. Sy ervarings van Graspan en Modderrivier het hom oortuig dat die rantjies nie die beste verdedigingslinies was nie, maar die vlaktes daarvoor. Daarom was die vlaktes voor die Magersfonteinrante die aangewese plek vir die Boeremag om hom in te grawe. As hulle tog sou moes retireer sou hulle dan agter die rantjies van Magersfontein kon stelling inneem. As hulle egter by Scholtznek moes retireer, sou hulle hulle vasloop in die Britse mag in Kimberley. De la Rey het ook 'n blaadjjie uit die Britse militêre handboek geneem. Hy het tot die slotsom gekom dat perderuiters - die Boere se vegsmetode - ondoeltreffend was vir die verdediging van 'n front. Voetgangers, wat nie vinnig te perd voor die naderande vyandelike infanterie kon padgee nie, behoort soos by die Britte die front te beman. Die perderuiters moes - ook volgens die Britse metode - die flanke beman ten einde die vyand in die rug aan te val en sodoende sy frontaanvalle te verlam.

De la Rey was as veggeneraal aan generaal Cronjé ondergeskik en die enigste wyse waarop hy die krygsraadbesluit kon aantas was om pres. M.T. Steyn, konstitusioneel die hoof van die Vrystaatse magte, dringend te versoek om hom na die wesfront te haas.

Dit was vir De la Rey nie moeilik om Steyn tot sy standpunt oor te haal nie. Met sy takt het Steyn spoedig eensgesindheid onder die offisiere gebring en op die krygsraad van 4 Desember 1899 is De la Rey se sienswyse aanvaar. Trouens, selfs Cronjé was al gou oortuig van die waarde van die stellings voor Magersfontein. 

Hierdie nuwe stellings het oor 'n afstand van sowat dertien km weerskante van die spoorlyn gestrek. In die sentrum was Magersfonteinkop, ongeveer vier km oos van die spoorlyn en tien km noordoos van Methuen se kamp. Vanaf die Modderrivier was dit 'n oop vlakte wat uiteindelik opgestoot het in die Magersfonteinrantjies. 

Met die oog daarop dat Methuen hom sou toespits op die verowering van die rantjies, het De la Rey die burgers in 'n versteekte linie van loopgrawe, tussen 150 en 200 voor en parallel aan die rantjies, laat ingrawe. Hy het die loopgrawe so gerangskik dat hulle nie alleen 'n frontaanval die hoof sou kon bied nie, maar mekaar ook in die flanke gedek het. Anders as die bekende breë, vlak loopgrawe van die Britte, was elke loopgraaf sowat een meter diep en een mter breed, met regaf walle. Die Boere kon regop daarin staan en skiet, bo-oor grondwalle wat so met takke en gras bedek is dat die vyand hulle nie sommer sou kon raaksien nie. Die middag van 10 Desember 1899 het Methuen in alle erns met sy bombardement van die Magersfonteinrantjies begin. Die Boere was egter nie in die rantjies waar die bomme gereën het nie. Vanuit die loopgrawe daar voor het hulle die geweldige verwoesting agter hulle aanskou. Dit was duidelik dat 'n geveg op hande was, maar dit ewe duidelik dat De la Rey met die keuse van sy stellings Methuen op die verkeerde voet betrap het.

Ironies genoeg was De la Rey nie met die slag van Magersfontein op die terrein aanwesig nie. Hy het 'n paar dae tevore na die Boerelaer by Riverton, noord van Kimberley, gegaan om van sy skouerwond te herstel. Sy kommando's van Wolmaransstad, Bloemhof en Lichtenburg het egter midde in die stryd gestaan in die loopgawe waarvoor De la Rey met soveel sorg toesig gehou het. Die 8,000 Transvalers en Vrystaters met hul tien kanonne was onder die aanvoering van genl. Cronjé.

Om halfeen die oggend van 11 Desember 1900 het lord Methuen se mag van 15,000 man en 33 kanonne met die Highland Brigade vooraan oor die oop vlakte in beweging gekom. Sy doel was om Magersfonteinkop teen dagbreek te bestorm en te verower. Net toe genl-maj. Andy Wauchope as aanvoerder van die Highland Brigade om 04h00 die bevel gee om ontplooi en vir 'n geveg gereed te maak, bars die Boere skaars 400 meter daarvandaan los met 'n hewige geweervuur uit die loopgrawe. 'n Babelse verwarring het gevolg.

Hoewel die Black Watch, die voorste batoljon van die Highland Brigade, met doodsveragting teen die koeëls ingestorm het, is hulle 250 meter van die Boerelinie gestuit.  

De la Rey het hom gereed gemaak om sy oorwinning op te volg en die spoorlyn by Noupoort en De Aar te gaan beset sodat van sowel Clements as Methuen afgesny word. Tot sy teleurstelling het Steyn hom egter gelas om met die grootste gedeelte van sy mag na Modderriver op te ruk ten einde met die ontset van Bloemfontein te gaan help. 

Op Bloemfontein aangekom, verneem De la Rey van Cronjé se oorgawe van 28 Februarie 1900 met 4,000 te Paardeberg. 'n Wilde vlug ontstaan onder die verskrikte burgers. In 'n hardnekkige geveg teen 'n groot oormag probeer De la Rey tevergeefs op 10 Maart by Abrahamskraal die opmars van lord Roberts na Bloemfontein stuit. 

Na die val van Bloemfontein op 13 Maart trek De la Rey sy kommando's op Brandfort saam. Die regering van die ZAR versoek hom nou ook om die vreedelingekorpse te organiseer en hy plaas sy broer Adriaan de le Rey as veggeneraal oor hulle.

Op 26 Maart 1900 stel genl. Joubert vir Koos de la Rey en Louis Botha as assistent-kommandant-generaal vir onderskedelik Wes- en Oos-Transvaal aan. Die volgende dag sterf Joubert, en Louis Botha word as waarnemende kommandant-generaal aangestel. 

Die algemene terugval van die Boeremagte op alle fronte verhoed dat De la Rey onmiddelik na die Wes-Transvaal kan vertrek. Wanneer Roberts in Mei sy opmars met 38,000 troepe na die Transvaal opneem en sy linkerflank Wes-Transvaal by Veertienstrome binneval, word De la Rey verplig om hom daarheen te begewe.

Tevergeefs probeer hy kol. B.T. Mahon se groot mag van Vryburg stuit en moet hy magteloos toesien hoe die Britse offisier Mafeking op 17 Mei 1900 ontset.

Pres. Kruger gelas nou vir De la Rey om na Johannesburg te kom ten einde die Boeremagte se terugtog voor Roberts se opmars te dek. Ten spyte van sy hewige teenstand by Doornkop wes van Johannesburg en ook gevegte wes van Pretoria, kon De la Rey, soos ook die ander Boere-aanvoerders, nie verhoed dat Roberts die goudstad op 31 Mei 1900 en Pretoria op 5 Junie verower nie. Oral het die yl Mauser-vuur uit 'n paar duisend gewere padgegee voor die grofgeskut van die omvleulende, voortrollende oormag. Eers die aand teen skemer het daar stilte gedaal oor die slagveld. Aan Boerekant was die ongevalle 255 man - 87 gesneuwel en 168 gewond. Die Britse ongevalle is onseker, maar daar word aanvaar dat dit aansienlik hoër is as die 971, 23 offisiere en 182 manskappe dood en 45 offisiere en 645 manskappe gewond) wat die Times History aangee. Toe hy die van die slag hoor, het De la Rey nog dieselfde middag teruggekeer. Hy was ongelukkig oor Cronjé se besluit om nie die verslane vyand onmiddelik te agtervolg en die hele leër te vernietig nie.

'n Paar dae later het die Vrystater, Christiaan de Wet, as veggeneraal aan die wesfront sy verskynng gemaak. Onmiddelik het 'n hartlike vriendskap tussen hom en De la Rey ontstaan. Met Cronjé kon hulle nie oor die weg kom nie, dat hulle dit nie met die ou generaal eens was om maar stil te lê en Methuen toe te laat om homself te versterk nie. Hulle wou onmiddellik voorttrek na die Oranjerivier om Methuen se verbindingslyn af te sny. Uiteindelik gelas Cronjé hulle om met 300 man die spoorlyn tussen Heuningsneskloof en Modderrivier te gaan opbreek. Hy beveel hulle egter om die werk in een nag af te handel, waardeur gevolglik nie veel sukses behaal is nie.

Intussen was genl.-maj. Hohn Frenh besig om 'n groot troepemag voor Colesberg op die suidelike front van die Boere te versamel. Pres. Steyn, wat 'n bekwame offisier op die toneel wou hê, het De la Rey daarop daarheen gestuur om genl. H.J. Schoeman as bevelvoerder te vervang. Op 6 Januarie 1900 vertrek De la Rey na Colesberg, maar nie voordat hy Cronjé gewaarsku het dat sy laer aan die Modderrivier gevaar staan om omsingel te word nie.

By Colesberg het die Britte in 'n halfsirkel gelê met hul geskut op Coleskop, wat vanuit die weste die ander koppies in die omtrek beheer. Dit was French se oogmerk om sy flanke uit te sprei teen einde die Boere te omvleuel en hul verbindingslinies af te sny. Met dieselfde bewegings het De la Rey nou sy burgers uitgesprei om die omvleueling te verhoed. 

Tot einde Februarie 1900 het De la Rey aan die hoof van die Boeremagte rondom Colesberg gestaan. Tot French se vertrek einde Januarie en gedurende die operasies van sy opvolger, genl-maj. R.A.P. Clements, het De la Rey verskeie suksesvolle gevegte gehad. Die Boere het die Britse troepemag uiteindelik van Colesberg na Arundel teruggedryf. Dit was egter 'n holle oorwinning. French en Clements het met hul voortudrende aanvalle daarin geslaag om nie alleen die moreel van die burgers af te kraak nie, maar ook om die Boereregerings onder die waan te bring dat die gevegslinie by Colesberg naas die Tugelalinie die belangrikste aan die hele oorlogsfront was. Die gevolg was enersyds dat De la Rey en die ander aanvoerders die Boere se moreel wou herstel deur die Britte terug te dryf en andersyds dat die Boereleërleiding kommando's van ander belangriker fronte ontrek en onnodig na Colesberg gestuur het. De la Rey het wel kort na sy aankoms op Colesberg ingesien dat hierdie linie vir die Boere nutteloos was en dat dit strydkragte vaspen wat elders nuttiger aangwend kon word. Van sy voorstel op 21 Januarie 1900 aan pres. Kruger dat Colesberg prysgegee word, het egter niks gekom nie.

Aan Britse kant is allerweë verwag dat die oorlog oor was. Nadat die Transvaalse hoofmag onder Louis Botha ooswaarts langs die Delagoabaaispoorlyn teruggeval het, het die Boereleiers egter besluit om die stryd voort te sit. De la rey was woedend vir die regering wat met wavragte vol goud na Machadodorp teruggeval het terwyl die kommando's gebrek ly. Indien hulle nou die stryd wou staak, het hy verklaar, sou hy met die getroue burgers van Lichtenburg, Rustenburg en Marico 'n Republiek van Wes-Transvaal uitroep en dan tot die laaste man teen Brittanje veg. Hierdie soort taal van De la Rey en andere het die krygsraad laat besluit om 'n 40 km lange verdedigingslinie oos van Pretoria dwars oor die Delagoabaaispoorlyn te beset. Op 11 en 12 Junie 1900 het die slag van Donkerhoek hier plaasgevind. De la Rey was op die regterflank, in die noorde, in bevel van sowat 1,800 man. Teenoor hom het French met byna dieselfde getal ruiters sy kragte gemonster.

Van 'n Britse getalle oorwig was daar op die noordelike flank hierdie keer nie sprake nie, en French het dit deeglik ontgeld. Hy wou De la Rey omvleuel en die spoorlyn in die Boere se rug afsny, dog die Boeregeneraal het hom die oggend van 11 Junie klaarblyklik opsetlik in die bek van die vallei teenoor sy mag laat inbeweeg, en hom doeltreffend vasgepen. Die hele dag is daar hard geveg. Teen die aand was dit French wat met omsingeling bedreig is. Vir die eerste keer sedert Roberts Bloemfontein verlaat het, het die Boere oor die hele front daarin geslaag om sy aanvalle af te slaan en hul eie stellings te behou. 

Die volgende dag het De la Rey sy goeie werk voortgesit. Hy het French van drie kante omsingel gehad en was net op die punt om hom met die 1,200 man waaruit sy mag nou bestaan het, in die pan te hak, toe 'n boodskap van Louis Botha hom bereik dat die Britte suid van Donderhoek deurgebreek het en hom nou in die rug kon toetas. De la Rey was hierop genoodsaak om sy mag terug te trek. 'n Wonderlike geleentheid was verlore. French was een van die weinige Britse generaals we se reputasie nie deur die Anglo-Boereoorlog geskaad is nie, maar met die slag van Donkerhoek het hy te staan gekom teen 'n Boeregeneraal wat sy meerdere was. By Balmoral neem De la Rey deel aan die beplanning van die voortsetting van die stryd. Die oorlog het nou duidelik 'n bewegings- of guerrillafase binnegegaan.

Aan De la Rey word opgedra om Wes-Transvaal van die Britte te herwin. Skaars 30km wes van die besette Pretoria begin De la Rey met die herlewing in Wes-Transvaal toe hy op 11 Julie 1900 met 300 man 'n skitterende oorwinning oor kol. H.R.Roberts met 240 van sy Lincolnshire Regiment en Scots Greys by Silaatsnek behaal. De la Rey vertel self in 'n brief die volgende dag aan Kruger en Botha: "Ek was die aanvallende party. Gisteroggend met dagbreek was ek gereed met my kommando wat vanuit die noorde gedurende die nag die berg aan weerskante van Silkaatsnek beklim het. Pas voor sonop het die geveg begin..."

Vanweë die moeilike terrein kon kol. Roberts nie sy kanonne met sukses rig op die oostelike hang van die nek vanwaar die hoofaanval gekom het nie. Die hewige Mauservuur het hom ook verhoed om voor 09h00 vir kol. Alexander by Rietfontein, 6km verder suid, om hulp te kan vra. Alexander het twee kanonne op die Boere gerig, maar om een of ander rede na minder as 'n uur sy geskut ontrek. 

Ondersteun deur hul eie kanonne van die noordekant, het die Boere van die hange af al nader aan die Britse posisies in die middel van die nek gekruip. Op sommige plekke was hulle skaars 40 meter van mekaar, toe Roberts, wat self gewond was, om 20h00 die aand oorgee. Die Britse verliese was 17 dood, 55 gewond en 189 (insluitende die gewondes) krygsgevangene. Die Boere het twee kanonne gebuit. Hulle verliese was 6 dood en 8 gewond. 

As deel van sy poging om Wes-Transvaal van die vyand te herwin, was dit De la Rey se oogmerk om die burgers wat na die val van Pretoria die wapen neergelê of sonder moed huis toe gegaan het, weer tot die stryd te roep. Die sukses van Silkaatsnek het waarskynlik veel daartoe bygedra dat hy op 21 Julie aan Kruger kon berig dat hy reeds 1,200 Rustenburgers in sy laer het. Aangesien meeste ongewapen was, het hy die Regering om wapens en ammunisie genader. Oral het groepies wapenneerlêers op sy koms gewag. 

Staatsprokureur Jan Smuts, wat intussen by De la Rey aangesluit het, teken in sy herinneringe op: "The weak knees and weak hearts received a new access of strength and ardour and were flocking to the commandos without any efforts on the part of the officers."

Van na af sou De la Rey hom om geïsoleerde Britse eenhede toespits. Op 4 Augusts 1900 val hy met genls. H.R. Lemmer en P.S. Steenkamp en 900 burgers, twee kanonne, twee pom-poms en twee maxims uit drie verskilldende rigtings 'n vyandige kamp aan wat onder bevel van kol. C.O. Hore te Brakfontein aan die Elandsrivier staan. Hore het hier, waar die dorp Swartruggens vandag geleë is, die verbinding tussen Rustenburg en Mafeking en Zeerust probeer oopou met 'n mag van 500 Australiërs en Rhodesiërs en een kanon en twee maxims. 

Die Britse kolonel het in afwagting van die aanval sy kamp verskans, sodat De la Rey se eerste aanslag nie die gewenste uitwerking gehad het nie. Hy het wel daarin geslaag om alle posisies rondom die kamp behalwe een in besit te kry, waardeur hy in staat gestel is om met kleingewere op 'n afstand van minder as 1,000 meter in die kamp te skiet. Die een posisie wat nog nie in sy besit was nie, was 'n sterk verskanste fort. Dit was die sleutel tot die hele posisie en sou eers geneem moes word alvorens hy die kamp kon bestorm.

Intussen het lord Roberts besluit om sy geïsoleerde poste in Wes-Transvaal te ontruim en reeds op 1 Augustus vir genl. Carrington te Mafeking elas om Hore se terugval te dek. Toe Carrington met sy mag van 1,000 man en 'n tien stuks kanonne op 5 Augustus die Britse kamp vanuit die noordweste nader, loop hy hom vas in dertig snelvurende burgers onder De la Rey self. Die beskeie Boeregeneraal vertel: "Wat sou ek sien? Daar gaan genl. Carrington op loop! Geagte lesers, ek moet u sê dat die Marico- en Rustenburgdistrikte baie bergagtig is, en aangesien ek my nooit my groter of kleiner mag aan die vyand vertoon het nie, wis genl. Carrington natuurlik nie dat hy voor dertig man op die vlug slaan nie!" Eers op Zeerust het Carrington tot stilstand gekom.

De la Rey het vervolgens begin met 'n beleëring van die Britse kamp by Brakfontein, 'n optrede waarvan hy niks gehou het nie, omdat, soos hy dit self gestel het, sy "hele voorraad ammunisie daarmee heen gegaan het". Uitstekende administrateur wat hy was, was dit vir hom belangriker om die Boeregesag in die hele Wes-Transvaal weer te laat geld, op siviele sowel as militêre gebied. Hy laat gevolglik die Rustenburg- en Wakkerstroomkommando's in beheer van die beleg van die kamp, en gelas die kommando's van Lichtenburg, Bloemhof en Marico en die Griekwalanders om verder weswaarts op te ruk. Vergesel van staatsprokureur Smuts vertrek De la Rey self na Zeerust en Lichtenburg waar hy belangrike siviele reëlings tref en onder meer landdroste vir die gebiede aanstel. Ook begin hy met die doeltreffende militêre reorganisasie van hierdie westergrens-gebiede. Hierna keer hy na Brakfontein terug, om uit te vind dat lord Kitchener op 16 Augustus 1900 vir Hore en sy troepe, wat onder moeilike omstandighede uitgehou het, ontset het.

Dit sou ondenkbaar wees om Koos de la Rey se krygsoperasies in die Anglo-Boereoorlog te ondersoek, en nie sy vrou, Nonnie, op haar omswerwinge te velde te volg nie. In die eerste fase van die oorlog het sy gereeld haar man op kommando besoek. Hulle het vir mekaar gelewe, en sy het hom met durf en oorgawe ondersteun.

Op Elandsfontein het sy aan die begin van Junie 1900 angstig die naderkoms van die Britse kolonnes ingewag. In die maande wat gevolg het, het hulle haar vee weggevoer, maar haar met rus gelaat. Sy het die aanbod om in Kaapstad of in Europa te gaan bly, van die hand gewys. Teen die einde van November 1900 het lord Methuen haar verbied om nader as 16km van Lichtenburg te kom, sonder om te besef dat sy heeltemal bereid was om in 'n wa in die oop veld rond te swerf. Op 1 Desember 1900 het sy haar wa gepak, met haar kinders die spaaider bestyg en met drie swart bediendes, 'n paar koeie, skape en hoenders, die wye veld ingevaar. Negentien maande sou sy so rondswerf, en, soos sy self verklaar, het sy haar wa liefgekry soos 'n mens sy slaapkamer liefhet. In die laaste fase van die oorlog was ook haar bewegings deur die Britse blokhuisstelsel beïnvloed. Soms het dit bars gegaan om nie deur die vyand gevang te word en in 'n konsentrasiekamp te eindig nie.

Op 'n besonderse wyse het De la Rey altyd geweet waar sy vrou haar bevind, en elke oomblik wat hy kon, het hy by haar aangesluit. Wanneer hy voedselvoorrade van die vyand gebuit het, het hy haar nie vergeet nie, en sy was altyd gereed om hom en sy staf te onthaal op 'n dikwels karige maar keurig versorgde maaltyd. Hul toewyding en trou aan mekaar was werklik iets besonders.

In die laaste maande van 1900 het De la Rey self of sy veggeneraals onder hom gedurig skermutselinge met die vyand gehad. Hoewel die hele Wes-Transvaal onder Britse besetting was, en daar garnisoene in al die vernaamste dorpe  sowel as strategiese plekke langs die spoorweë en paaie was, was Roberts deeglik onder die besef van die Boere se teenwoordigheid. Hierdie skermutselinge ten spyt, het dit na De la Rey se gevoel weer tyd geword om die vyand vir die eerste keer sedert Silkaatsnek in Julie 1900 deeglik te skud. Sy burgers se klere was verslete en sy Mauserammunisie byna gedaan sodat die Britse troepe se Lee Metfordgewere aantreklike buit begin word het. 

Vergesel van Jan Smuts, wat intussen op 30-jarige leeftyd generaaal geword het, slaan De la Rey op 3 Desember 1900 by Buffelfspoort noord van die Magaliesberg toe op 'n Britse konvooi wat Kersvoorrade van Pretoria na Rustenburg vervoer. De la Rey stel sowat 120 Britse troepe buite aksie en buit 126 waens vol klerasie, stewels en Kerslekkernye.

Die buit van die Krismiskonvooi, soos De la Rey dit genoem het, is op 13 Desember 1900 opgevolg deur die oorwinning oor genl.-maj. R.A.P. Clements by Nooitgedacht, suidoos van Rustenburg, in die Magaliesberg. Hierdie sukses het in samewerking met genl. C.F. Beyers plaasgevind.

Clements se kamp, bestaande uit 1,500 man, 9 kanonne en 'n pom-pom en 'n groot hoeveelheid voorrade, het aan die voet van die suidelike hang van die Magaliesberg gestaan, by die ingang van 'n kloof wat deur mjddel van 'n voetpad verbind is met die kruin van die berg. Vanaf die kruin het hy heliografiese kontak met brig.-genl. R.G. Boradwood gehad, wat noord van die Magaliesberg met hom sou saamwerk om die Boerekommando's uit die omgewing te verdryf.

De la Rey het die posisie van Clements se kamp met groot voldoening gadegeslaan. Prof. C.J. Barnard verduidelik: "Vir 'n taktikus van sy kaliber was die nadele van die kampplek wat Clements gekies het, maar alte klaarblyklik. Die posisie word volkome beheer deur die rotsige kruine aan weerskante van die kloof. Boonop was die vier kompanies Northumberland Fusiliers wat Clements op die berg laat stelling inneem het - twee kompanies (d.w.s 150 man) op elke kruin - prakties afgesny van die kamp. Ingeval van 'n aanval op die berg kon hulle lands die steil voetpad in die kloof nie gou versterk of teruggetrek word nie."

Op 12 Desember het Beyers met sy mag van 1,500 man by De la Rey aangesluit. Die Boeremag het nou uit ongeveer 2,500 man bestaan. Die aanvalsplan was om Clements se kamp vanuit die weste te nader - Beyers bo-op die berg en De la Rey suid van die berg in die moot wat gevorm word deur die Magaliesberg en die Witwatersberg verder suid. 'n Afdeling van Beyers se mag sou in Breedtsnek agtergelaat word om Broadwood dop te hou. Die res van sy mag sou in twee verdeel word. Die Waterbergers onder kmdt. M.P. van Staden en verkenners onder Lodi Krause sou al langs die kruin van die Magaliesberg beweeg en die vier Britse kompanies bo-op die berg bestorm. Die ander gedeelte van die mag, Krugerdorpers onder kmdt. J.C.G. Kemp en Soutpansbergers onder kmdt. E. Marais, sou die kloof by Nooitgedacht vanuit die noorde nader. 

Suid van die berg sou De la Rey die aanval in die moot lei. Hy sou self met die Rustenburgkommando  die Britse wagposte in die randtjies wes en suid van Clements se kamp aanval. Links van hom, teenaan die suidelike voet van die berg, sou kmdt. C.P.S. Badenhorst met 'n kommando van die Pretoriase distrik en twee kanonne opereer, terwyl Jan Smuts met 'n kommando Krugerdorpers en De la Rey se verkenners onder kmdt. Koos Boshoff, regs van hom sou opruk. Dit was Smuts se oogmerk om die belangrike stelling, Vaalkop, oos-suidoos van die kamp aan te val en te verower. Hierdeur sou hy Clements se ontsnappingsroete agsny en hom met kamp en al in die Boere se hande laat val. Vroeg die oggend van 13 Desember 1900 is dit kmdt. Badenhorst wat te snel beweeg aan die voet van die berg, en eerste met die vyand slaags raak. Die akkurate geweervuur van die berede infanterie by die Britse wagposte slaag egter spoedig sy aanval af. Kort hierna spring Beyers se burgers bo-op die berg met die Northumberland Fusiliers aanmekaar. Doodsveragtend storm die burgers en verower een Britse stelling na die ander. Omstreeks 06h00 is die hele westelike kruin in Beyers se hande en kyk hulle van die hoë kranse af neer op die kamp aan die voet van die kloof. 'n Afdeling Britte wat met die voetpad opgeklim het om hul makkers bo-op die berg te hulp te snel, moet dit nou geweldig ontgeld. 'n Uur later is ook die oostelike kruin in Beyers se besit en vuur die burgers nou op die kamp daaronsder so vinnig as wat hulle kan laai. 

Suidoos van die kamp was Smuts nie in staat om Vaalkop te verower nie. In die donker kon hy nie uitmaak waar die kop is nie en besluit toe om te wag tot dit lig word. Die oomblik wat Beyers egter van die kruin van die berg op die kamp begin afskiet, het baie Britse troepe na Vaalkop padgegee en sodoende die wagpos daar versterk. Ondanks herhaalde pogings met sy beste manne, kon Smuts nie die kop verower nie. Clements was egter in 'n penarie. Ongeveer 'n derde van sy manskappe was dood, gewond of gevange, en vanaf die sleutelstelling bo-op die berg het die Boere sy kamp vol lood gepomp. Hy het gevolglik gelas dat al sy oorblywende troepe en sy kanonne na Vaalkop terugtrek. Met veel moeite en onder hewige geweervuur is hierdie opdrag teen 10h30 voltooi. Clements was egter verplig om sy kamp met die meeste van sy waens, ammunisie, perde en voedsel agter te lat. Die feit dat die burgers die geleentheid om die kamp te plunder onweerstaanbaar gevind het, het Clements gered. Terwyl 'n lustige buitery aan die gang was, het die Britse aanvoerder sy mag feitlik ongestoor ooswaarts in die rigting van Rietfontein en Pretoria uitgelei. Tevergeefs het De la Rey en Beyers die burgers probeer aanspoor om die vyand se aftog te verhoed. 

Die amptelike Britse verlieslys was 638 man gedood, gewond en krygsgevange geneem. Daarvan was 306 krygsgevangenes. Daarbenewens het die kamp 'n groot hoeveelheid buit opgelewer aan voedsel, perde, muile, beeste, Lee Metford-gewere en allerlei ammunisie. De la Rey stel die Boereverliese op 17 gesneuwel en 61 gewond. Die rede waarom Broadwood noord van die Magaliesberg nie vir Clements te hulp gesnel het nie, was volgens Lodi Krause omdat 'n wakker Boereheliografis in antwoord op sy heliografiese navraag hom gerusgestel het dat alles onder beheer was en daar geen hulp benodig word nie!

Soos met bykans al sy operasies, het die inpalming van die Krismiskonvooi en die slag van Nooitgedacht De la Rey se vegsmetode duidelik na vore gebring. Sy beplanning was skitterend, sy inligting akkuraat en hy het die terrein geken. Daarbenewens het hy twee belangrike beginsels van oorlogvoering aangewend, nl. snelheid en verassing. Dit was ook sy gewoonte om nie die mag tot sy beskikking op een punt in die geveg te werp nie, maar in drie afdelings. Dit het 'n insluiting van die vyand as oogmerk gehad.

Sodra De la Rey 'n goeie geleentheid gesien het om die vyand toe te takel, het hy die verspreide kommando's vinnig byeengeroep vir die aanslag en hulle na afloop daarvan weer uiteen laat gaan. Dit was De la Rey se oogmerk om sy kommando's deur gereelde skermutselinge met die vyand op te skerp en hulle te omvorm tot wat Smuts noem "that splendid body of men to whom in the later stages of the war it was almost impossible to set too hard a task either of physical endurance or heroic attack". 

Ook vanweë sy ontembare geaardheid was dit De la Rey se beleid om die vyand so min moontlik met rus te laat. 'n Staflid van hom vertel hoe 'n veldkornetskap of 'n wagpos gedurig met 'n patrollie of 'n vleuel van die vyand slaags was, sodat daar noit oral rus was nie. Wanneer hulle 'n kans gehad het om die vaynd skade te berokken, is dit gedoen, en as die vaynd te sterk was, het hulle eenvoudig opsy gegaan vir die vyand om verby te kom.

De la Rey het vlug doelbewus aangewend as 'n oorlogskuns om die Britse kolonnes in 'n wilde jaagtog agter hom aan te kry. Uiteindelik, wanneer sy moeë agtervolgers gesus was in die valse gevoel dat hulle nie waaksaam hoef te wees nie, het hy omgeswaai, sy magte blitssnel bymekaar gekry en 'n vyandelike flank aangeval of toegeslaan op 'n voorrade-depot of kamp wat geïsoleer gelaat was. Smuts vertel dat die metode van terugval en oënskynlik nuttelose skermutselinge tussen die groot oorwinnings nie De la Rey se offisiere en burgers moedeloos gemaak het nie. Hulle het sy doel daarmee geken en het grenslose vertroue gehad in sy onfeilbare oordeel om die genadeslag op die regte oomblik toe te dien. Hulle het hierdie terugval-metode dan ook bestempel as "vlug vol moed".

Aanvanklik het De la Rey sy magte in Wes-Transvaal verdeel in groter of kleiner kommando's wat in aparte gebiede geopereer het onder sy uiteindelike opperbevel. Hy self het die Rustenburg- en Krugersdorpkommando's onder sy onmiddelike toesig gehou en in hierdie twee distrikte opgetree. Genl. H.R. Lemmer is in bevel van die Marico- en Lichtenburgkommando's  in die weste geplaas, genl. P.J. de Villiers in bevel van die Griekwalandwesters, kmdt. J.F. (Tollie) de Beer in die Bloemhof-distrik in die suidweste, oos van hom kmdt. F.J. Potgieter in die Wolmaransstad-distrik en verder oos genl. P.J. Liebenberg met die Potchefstroomkommando.

Teen Kersfees 1900 het dit egter geblyk dat, terwyl hewig gevegte in die distrikte Rustenburg en Krugersdorp woed, die res van die Wes-Transvalers nie so effektief was nie. Die offisiere het goeie werk gedoen, maar aangesien hul kommando's oor 'n groot gebied verspreid gelê het, het hulle nêrens werklik doeltreffend opgetree nie. Hulle was ook nie 'n goeie lokaas om groot Britse magte daarheen te trek nie. Die gevolg was dat hierdie burgers meer gerus het as wat goed vir hulle was en dat daar uiteindelik onenigheid ontstaan het wat hul doeltreffendheid nog verder in die wiele gery het.

De la Rey het besef dat sy beheer meer effektief gemaak moes word. Die verspreide kommando's moes in 'n kragtiger gevegsmag omskep word wat die vyand so hardnekkig teister soos die Rustenburg- en Krugersdorpkomando's dit doen. Hy het gevolglik besluit om die westergrens-distrikte meer dikwels persoonlik te besoek ten einde self die een na die ander met die verskillende kommando's rond te gaan en die ritte te bestry solank hulle in die distrik was. 

Toe die nuwe Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, aan die begin van 1901 Roberts se beleid van verskroeide aarde begin verskerp ten einde die Boere tot oorgawe te dwing, was De la Rey en sy kommando's bedrywiger as ooit in Wes-Transvaal. Een Britse bevelvoerder na die ander is uitgestuur om hom vas te trek, maar elkeen, Methuen, Babington, Dixon, Clements, Cunningham, Kekwich en andere, moes met groot verliese die aftog blaas.

Dit was in hierdie tyd dat De la Rey ook met sy beroemde stromjaagtaktiek vorendag gekom en die vyand groot verliese toegedien het. In plaas dat die burgers van hulle perde afklim en posisies inneem om te skiet,  het hy die kuns verfyn dat hulle te perd storm en vanuit die saal skiet. "Dit was in die nabyheid van genl. De la Rey dat ek uitgevind het wat dit was om te veg, om oorlog te voer. Nooit het ek tevore geweet nie, veral nie in die dae van Paardeberg nie...Waar vind jy nog iets wat jou so opgewonde laat voel as tydends die bestorming, op die ope veld, op die vyand, en jy hom kort daarna sien vlug of oorgee!"

In Junie 1901 reis De la Rey deur onveilige gebiede na Oos-Transvaal om met die ander Boere-leiers, Louis Botha, waarnemende pres. Schalk Burger, pres. Steyn, en genls. De Wet en Barry Hertzog samesprekings te voer oor die algemene belange van die land. Te Waterval 20-21 Junie 1901) in die Standerton-distrik  word daar eenparig besluit om tot die bitter einde met die stryd te volhard. De la Rey se bydrae hiertoe was nie gering nie. Hy was ook trouens in 'n groot mate verantwoordelik vir die besluit om die Kaapkolonie en Natal opnuut binne te val. Die dele in die Kaapkolonie wes van die spoorlyn Bloemfontein-Kaapstad word onder sy bevel geplaas, waarop hy vir genl. Jan Smuts daarheen stuur. 

Wanneer De la Rey in sy herinneringe melding maak van God se wil, onderbreek hy sy verhaal om iets vir Klaas oftewel Siener van Rensburg te vertel. Die verhouding tussen die twee was besonder interessant. De la Rey was persoonlik baie godsdienstig. Hy het geglo in die lewe na die dood, en het besef dat daar veel geheimenisse is wat die mens as gewone sterfling nie kan raaksien nie. 

Reeds in Oktober 1899 het die 37-jarige Siener van Rensburg die kommando's van De la Rey na Kimberley vergesel. Nadat Van Rensburg een nag vermis was, het hy met 'n visie oor die verloop van die oorlog vorendag gekom wat hom onder die aandag van De la Rey gebring het. Van toe af was De la Rey geïnteresseerd in sy visies oor die oorlog en die verklarings wat mense daaraan gegee het. Hy het trouens met eerbied daarvan kennis geneem. Daar word self beweer dat De la Rey hom voor elke geveg geraadpleeg het, wat moeilik aanvaarbaar is. Meintjes doen aan die hand dat De la Rey moontlik geglo het dat Van Rensburg nie sonder rede in sy lewe in gekom het nie. Vir De la Rey was die Siener die instrument van 'n krag wat hy herken en gerespekteer het. Deneys Reitz merk op: "Of General de la Rey's sincerity there could be no doubt, for he was not a man to stoop to subterfuge, and I knew that he firmly believed in the seer's predictions." In die beoordeling van De la Rey as veldheer moet sy vreemde verbintenis met Siener van Rensburg ernstig opgeneem word. Dit verraai 'n element van naïwiteit in die Boeregeneraal wat hom waarskynlik meer mens maak maar afbreuk doen aan sy goeie militêre kwaliteite. Dit is in elk geval nie te rym met die praktiese sin en militêre insig wat hy aan die dag gelê het nie.

Met die aanbreek van 1902 is dit steeds Methuen wat vir De la Rey tot oorgawe probeer dwing. Hy word hierin bygestaan deur Kitchener se blokhuisstelsel, wat die Boere se bewegingsvryheid geleidelik inperk. Die Britte maak nou ook van groot nagtelike trekke gebruik om die Boere vas te keer. De la Rey pas egter sy onverskrokke stromjaagtaktiek op die rondtrekkende Britse kolonnes met groot sukses toe, soos die slag by Ysterspruit op 25 Februarie 1902 bewys. Die Britte het 183 man gedood en gewond verloor en sowat 500 krygsgevangenes (hoewel De la Rey hulle die volgende dag vrygelaat het).

Die slag van Tweebosch op 7 Maart 1902 span die kroon op De la Rey se bekwaamheid as ruitergeneraal. Heel opmerklik is dat dit De la Rey, wat die eerste slag van die oorlog by Kraapan gelewer het, nou ook beskore was om die laaste belangrike slag voor die vredesluiting in die Boere se guns te beklink.

Toe hy van die terugslag by Ysterspruit verneem, was Methuen vasbeslote om die neerlaag te wreek. Hy vra gevolglik vir Kekewich om 'n mag van 1,500 berede troepe van Klerksdorp af te stuur om hom op 7 Maart 1902 op Rooijantjesfontein, sowat 30km suid van Lichtenburg, te ontmoet. Hy self het met 'n saamgeraapte mag van 1,300 hoofsaaklik onervare man, 6 kanonne en 'n konvooi van 80 waens, waarvan die helfde deur osse en die res deur muile getrek is, vanaf Vryburg daarheen vertrek. So gebeur dit dat dat Methuen op die aand van 6 Maart op Tweebosch aan die Klein-Hartsrivier, 40km suidwes van die Rooijantjesfontein, kamp opslaan, onbewus van waar kol. Grenfell met die ander kolonne vanuit Klerksdorp hom bevind. Dié was terloops 58km direk oos van hom op Leeufontein. Tussen hulle, op Doornbult, het De la Rey hom in die situasie verlustig. Sy uitstekende verkenningstelsel het hom op die hoogte gehou van die presiese bewegings van die Britte. Nog Methuen nog Grenfell het daarenteen geweet waar De la Rey hom bevind. Sy mag het bestaan uit 750 man van die Lichtenburg-, Krugersdorp- en Rustenburgkommando's onder genls. J. Celliers en J.C.G. Kemp, en 'n afdeling Bloemhoffers onder genl. J. van Zyl, en die twee kanonne en pom-poms wat hy by Ysterspruit gebuit het. Hy het sy aandag op Methuen by Tweebosch gevestig en besluit om Grenfell se berede mag met rus te laat.

Interessant genoeg het Siener van Rensburg op dieselfde dag, 6 Maart, 'n visie aan De la Rey geopenbaar. Hy het 'n woedende rooi bul gesien wat vanuit Vryburg al langs die Hartsrivier aan die kom was. Op 'n sekere tydstip het die horings van die bul skielik gehang. Net agter die bult by Tweebosch het hy die bul weer gewaar, moet toe was dit 'n poenskop wat in sy spore omspring en in die rigting van Lichtenburg die hasepad kies. Daar bestaan ook getuienis dat De la Rey vir kmdt. Vermaas vertel het dat hy vasberade was om Methuen te vang, en dat Siener van Rensburg hom van dié gesig vertel het. 

Vroeg die oggend van 7 Maart het albei Britse kolonnes in die rigting van Roojantjesfontein vertrek. Slegs Grenfell het dit bereik. Soos gewoonlik het Methuen sy kolonne in twee afdelings laat opruk. Om 03h00 uur het hy self met die ossewa-konvooi en 'n gedeelte van die mag, veral voetgangers, vertrek. 'n Uur later het die berede hoofmag en die muilwaens in beweging gekom.

Omstreeks 05h00 uur, toe die voorste konvooi Klipdrif aan die Groot-Hartsrivier bereik, het Van Zyl met die Griekwalanders die aanval geopen op die agterhoede van die agterste konvooi. Terwyl daar sporadies gevuur word, het Methuen gepoog om die twee konvooie te verenig. Hy het die voorste konvooi gevolglik gelas om te halt. Dit was nie nodig nie, want die swart drywers het met die eerste skote verskrik onder die waens ingevlug!

Teen 06h00 uur, nog voordat die twee konvooie kon verenig, het De la Rey met meer beslistheid aangeval. Met die Britse kanonne wat die aanval op die agterhoede weerstaan het, het Celliers en Kemp se aanslag nou van die regterflank en regteragterhoede gekom. Met fyn uitgewerkte reëlmatigheid het groepe Boereruiters in gelid maar in verspreide orde op die bult regs van die konvooi verskyn. Sonder om die bommereën in ag te neem, het die groepe ruiters een na die ander op die konvooi afgestorm. Waar die eerstes nog van die perde afgespring het om te vuur, het De la Rey spoedig met sy beproefde taktiek vorendag gekom. Hy beveel die burgers om in gelid te perd te storm, uit die saal te skiet, vir geen voetganger te stuit nie en dwarsdeur die vyandelike laer te jaarg sodat dit ook van die linker-afterhoede aangeval kan word. 

Ten midde van vlugtende Britte het De la Rey se burgers op verwoestende wyse deur die oorblywende berede troepe geboor, reg op die muilwa-konvooi afgepyl en dit in besit geneem. Van daar het hulle die stromloop voortgesit na die ossewa-konvooi, waar hulle spoedig gemaai het onder die infanterie wat nou van drie kante omsingel was. De la Rey self het 'n benoude oomblik beleef toe hy onder die indruk dat dit Boere was, tromp-op teen die vyand vasgery het en net betyds ontkom het. Methuen is swaar deur die been onderkant die heup gewond. Sy perd is langs hom doodgeskiet en het omgerol en sy gewonde been teen die grond vasgedruk.

Hoewel albei konvooie nou in Boerehande was, het maj. Paris met 40 man in 'n klipkraal 'n laaste poging tot weerstand gebied. Ondersteun deur die kanonne het Celliers met die Lichtenburgkommando daarin geslaag om hom tot oorgawe te dwing. 

Die Boere-verlies was volgens J.F. Naudé 8 man gedood en 26 gewond, terwyl die Times History die Britse ongevalle aangee as 4 offisiere en 64 man gedood en 10 offisiere en 111 man gewond. Naudé gee die getal krygsgevangenis as 859 aan. Die Boere se verlies aan 140 perde is verhaal deur die buit van 500 perde, terwyl 6 kanonne met grofgeskut- en Lee Metford-ammunisie en 120 waens en karre, meestal met muile bespan, in Boerehande geval het. 

Met sy aankoms by die gewonde Methuen het De la Rey met diepe meegevoel oor hom gebuk, sy hand na hom uitgesteek en gesê dat hy jammer is om hom in hierdie toestand aan te tref. Methuen het geantwoord dat dit maar die verloop van oorlog is, en na mev. De la Rey verneem. Die Boeregeneraal het hom verseker dat dit met haar goed gaan en dat sy nog veilig rondvlug. Hy het Methuen voorts meegedeel dat hy nog 'n paar dae lank sy gas gaan wees en gevra wat hy vir hom kon doen en watter dokter hy wou hê. Mehtuen se versoek dat sy eie arts hom verpleeg, is toegestaan.

Met hierdie optrede het De la Rey sy teerhartigheid en Christenskap, soos trouens en dwarsdeur die oorlog, bewys. Hy het vervolgens vir Celliers opdrag gegee om die gesneuwelde Britte te begrawe en die gewondes te versorg. Vir hierdie doel is die britse ambulanse, tente, komberse en voldoende voedsel agtergelaat. Tot groot ontevredenheid van die burgers het De la Rey vir Methuen vrygelaat om beter mediese behandeling te kry as wat by hulle moontlik is. Hierdie daad het 'n groot indruk op die buitewêreld gemaak en 'n lewenslange vriendskap tussen Methuen en De la Rey beteken.

Op 23 Maart 1902 stuur Kitchener sy laaste dryfjag van stapel om De la Rey te vang. De la Rey is gereed vir hom, maar voordat dit tot konfrontasie kon lei, word hy ontbied na die vredessamesprekings wat vanaf 9 April 1902 by Klerksdorp plaasvind. Dit word opgevolg deur 'n beraad saam met ander Boereleiers met Kitchener in Pretoria. De la Rey sê nie veel hier nie, en Steyn voer hoofsaaklik die woord. Vervolgens vergesel wnd. prs. Schalk Burger vir De la Rey na die Wes-Transvaalse burgers om hulle in te lig dat daar van die Britse kant onvoorwaardelike oorgawe geëis word. Vir De la Rey en sy burgers, wat tot onlangs sukses geproe het, is die voorwaardes onaanvaarbaar.

Op 15 Mei 1902 kom die 60 gekose Boere-afgevaardiggdes by Vereeniging byeen. De la Rey praat bondig wanneer hy eindelik aan die woord kom. Hy het 'n vaste opdrag van sy burgers om hul onafhanklikheid nie prys te gee nie, dog nou moet hy verneem hoe sleg salek elders staan. Elkeen moet vir homself besluit oor die vraag van Louis Botha of die bittere einde nie nou aangebreek het nie. Maar hulle moet probeer om beter voorwaardes te kry.

Die Boere-afgevaardigdes benoem vervolgens vir De la Rey saam met Botha, De Wet, Smuts en Hertzog om met Kitchener en Milner in Pretoria te gaan onderhandel. Getrou an sy aard, sê De la Rey hier weinig. Waanneer daar by Vereeniging skerp meningsverskil onder die Boereverteenwoordigers bestaan oor die aanvaardiging of verwerping van die onverbiddelike Britse voorwaardes, dra De la Rey met sy kort rede op 29 Mei veel by om die deurslag te gee. Hy voel dat as iemand kan sê "Ons kan voortgaan", dan is dit hy en sy offisiere. Dit is egter sy oortuiging dat hy nie vir 'n gedeelte van die land moet besluit nie, maar dat hy die toestand in sy geheel moet neem. En daar gaan dit uiters sleg. Dus, al beteken die Britse voorwaardes nie veel nie, beding dit tog die een en ander. Daarom voel hy dat hulle dit moet aanvaar. 

Saam met Botha is dit De la Rey wat op die laaste oomblik vir De Wet oorhaal om ter wille van volkseenheid tot vrede met die verlies van hul onafhanglikheid toe te stem. Die aand van 31 Mei 1902 is hy met beswaarde gemoed mede-ondertekenaar van die vredesverdrag in Pretoria. Daarna vertrek hy na sy kommando's om die tyding persoonlik aan hulle oor te dra en om die neerlê van wapens te reël. 

Na die vrede vestig die De la Reys hulle op die plaas net buite Lichtenburg en begin die heropbou van die verwoeste boedery en opstal. Dat De la Rey en sy vrou smart geken het, ly geen twyfel nie. Teen 1907 het hulle ses van hulle twaalf kinders aan die dood afgestaan. 

De la Rey neem nie aktief deel aan die politiek nie, maar hy is lid van die Het Volk-party en 'n Botha-man. Hy word verkies tot lid van die Transvaalse afvaardiging by die Nasionale Konvensie van 1908-1909. Daar is hy kenmerkend stil. Die Konvensie lei direk tot die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910. 

De la Rey word benoem tot senator en in November 1911 is hy medestigter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party. Sy rol in Transvaal as man van die volk bly belangrik en in 1913 probeer hy sy bes om die breuk tussen Botha en Hertzog te heel. 

Op 15 September 1914 kom sy lewe tragies tot 'n einde te midde van die aanloop tot die Rebellie. Hy en genl. Christiaan Beyers reis per motor uit Pretoria na Potchefstroom. By Langlaagte ry hulle dwarsdeur 'n polisie-padblokkade wat opgerig is om die berugte moordbende van William Foster vas te trek. 'n Polisieman vuur op die voortsnellende motor en De la Rey word in die rug getref. "Dis raak," fluister hy nog vir laas en sterf. 

By 'n beoordeling van De la rey as veldheer is 'n mens geneig om sy groot militêre insig en prestasies te wil beklemtoon sodat die onbekendheid daarmee eens en vir altyd uitgewis word. Hierdie onbekendheid met sy prestasies hang saam met die geïsoleerde stryd wat hy in Wes-Transvaal gevoer het. In Januarie 1902 het selfs Beyers in die Waterberg-distrik aan Louis Botha berig dat dit baie moeilik gaan om rapporte na De la Rey deur te kry. Maar De la Rey was veral die beskeie introvert wat nie met sy prestasies op die markplein rondgeloop het nie. Fitzpatrick beskryf hom as "so habitually silent, so utterly free from all vanity and self consciousness, so contemptuous of anything like advertisement of self."

Vir baie is De la Rey, soos Meintjes dit stel, "an incomparable strategist, a leader excelling in the secrets of mititary tactics, and the bravest of men under attack". Neil Orpen beskou hom as die grootste natuurlike soldaat wat Suid-Afrika opgelwer het. Sir Arthur Conan Doyle het hom beoordeel as "a bold fighter and master tactician, who...usually fell like a thunderbolt on the moving British columns and scored signal successes, but who, after a victory, was the soul of chivalry towards his defeated opponents".

Deur gevegte soos Magersfontein en Tweebosch, het De la Rey bewys dat hy sowel die meesterlike stellingsoorlogvoerder as die uitsonderlike ruitergeneraal was wat die vyand verras en uitoorlê het. Diegene wat wel met De la Rey se prestasies by Magersfontein bekend is, fouteer soms ook. Want anders as wat graag deur hulle aanvaar word, was sy loopgrawe nie die eerste in moderne oorlogvoering nie. Reeds in die Krimoorlog van 1854-1856 en die Amerikaanse Burgeroorlog in die 1860's is dit gebruik. Dit is egter waarskynlik dat De la Rey die loopgraafmetode vir homself uitgewerk het sonder militêre skoling van buite. Hy het beslis nie gelees wat I.S. Bloch in 1897 voorspel het nie: "Everybody will be entrenched in the next war. It will be a great war of entrenchments."

Bowendien is dit in die eerste plek sy ongewone keuse om die loopgrawe voor die rantjies op te rig, wat die hoogste lof verdien en bewys lewer van sy goeie militêre insig. 

Koos de la Rey was 'n man met 'n indrukwekkende voorkoms. Met sy hoë voorkop, arendsneus, vorsende blik en ruie volbaard het 'n patriargale waardigheid uit hom gestraal. Treffend oordeel die S.A. Biografiese Woordeboek dat sy sieleadel hom afgesonder het van die gewone mense: "Sy Godsvertroue was die krag wat sy doelgerigte optrede onderskraag het het; in die krygsgeskiedenis het hy sy naam groot geskryf as onvergelyklike taktikus wie se dade hom ewe merkwaardig as krygsman gemaak het." In daardie tyd, toe dit nog gebruik was om 'n standvastige held as 'n leeu te bestempel, het De la Rey tereg die benaming "die Leeu van Wes-Transvaal" verwerf. 

Fransjohan Pretorius

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0



 LIZZIE VAN ZYL

Gesterf 1901 in die Konsentrasiekamp te Bloemfontein

Hul bevel het gelui om ons lande leeg te vee:

Die bejaardes, die swakkes, die kinders.

Hul wou ons dwing om ons bodem oor te gee:

As trofee vir die boosgesindes.

Hul dryf ons voort - vir ons klagtes het ons géén

En hok ons in ‘n kamp. [tolk -

Wanneer sinds Bybel dae was ‘n hele volk

Onderworpe aan so ‘n ramp?

By ons aankoms het die seleksie reeds begin:

Wat met die vyand geheul -

Was vuur en water en kos en beddens gegun,

Maar óns staan voor ons beul!

Lizzie’s pa veg nog: Haar ma moet nou betaal

En hongerporsies kry.

Die tere Liz se krag het nou gefaal:

Só kon sy nooit gedy!

Die siekehuis begrawe elke dag

Vyftig Boerekind’s -

‘n Streng en brute mediese gesag

Van wreedaards allesins.

„Swaksinnig is wat Engels nie kan praat”!

Nou lê Liz tussen húl

Wat swaai en tjank – só groot is tirannehaat:

„Só onderwerp óns júl!”

„Moeder! Moeder!” roep Liz se swak klein stem,

„Jy sál jou mamie sien!” -

So roep ‘n Boere vrou. Sis die nurse met klem:

„Sy’s lastig buitendien!”

Is dit u adelike eer en trots, u lordskap?

U majestueuse roem?

God sal u ryk nog straf in sý gramskap -

En tot sy ondergang doem!

Die doringbos het gebrand maar nooit verteer.

Net so, die Boerevolk!

Met die hulp van ons magtige God sal ons triomfeer

Oor ons ewige vyand se dolk!

                © Pieter Cohen Hamburg