# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die laaste miljoen jaar in Suid-Afrika

Fossielfondste in Afrika dui daarop dat die laaste robuuste australopithesene sowat 'n miljoen jaar gelede uitgesterf het. Voor dié tydvak, van omstreeds 2,3 miljoen tot 1 miljoen jaar voor die hede, het ten minste twee afsonderlike bominied-spesies, nl Australopithecus en Homo, gelyktydig in Afrika gelewe. Teen die einde van die Plioseen en in die vroeë Pleistoseen het Australopithecus robustus en Homo habilis bv. saam in Transvaal voorgekom, terwyl Australopithecus boisei en Homo habilis in Oos-Afrika ook tydgenote was. Later in die Vroeë Pleistoseen het Australopithecus robustus in Suider-Afrika en Australopithecus boisei in Oos-Afrika naas Homo erectus bestaan. 

Die groot opportunis van Afrika

Daar is verskeie moontlike verklarings waarom die robuuste australopithesene, die laaste hominiede met klein harsings, sowat 'n miljoen jaar gelede uitgesterf het. Die fisieke omgewing in Afrika het miskien agteruitgegaan, sodat daar minder kos beskikbaar was. Albei hominiedespesies het dalk om dieselfde of gedeeltelik dieselfde voedselsoorte meegeding, en dit kan wees dat die hominied met die meer gevordere oorlewingstrategie en beter werktuie, Homo erectus, hom ten koste van die robuuste australopithesene gehandhaaf het. 

'n Ander moontlike verklaring  kan wees dat die ontwikkeling van Homo erectus se kultuur die voortbestaan van Australapithecus robustus en Australopthecus boisei bedreig het. As Homo erectus bv. geleer het om vuur wat in die natuur ontstaan het, te beheer en onderhou, soos onlangse navorsing by Chesowanja in Kenia aandui, kon hy 'n kritiese voorsprong op Australopithecus verkry het, wat die ondergang van die australopithesene kon verhaas het. 'n Dramatiese verbetering in die oorlewingstrategie van Homo erectus - bv. deur beter metodes van beskerming teen roofdiere of om kos te verkry - kon moontlik 'n bevolkingstoename by dié groep veroorsaak het, wat dan op sy beurt 'n ernstige bedreiging vir die australopithesene kon ingehou het. Wat die werklike oorsaak of oorsake ook al was, omstreeks 'n miljoen jaar gelede was daar slegs 'n enkele hominied-spesie in Afrika oor, nl. Homo erectus, die groot opportunis van die Vroeë tot Middel-Pleistoseen wat Afrika sonder mededinging van ander hominiede oorheers het. 

Die oermens-fossiele van die Swartkransgrot

In Suider-Afrika is daar tot dusver net 'n klein getal fossiele ontdek wat as voorbeelde van Homo erectus identifiseerbaar is. Al dié fossiele kom uit die Swartkransgrot in die Sterkfontein-vallei naby Krugersdorp. Op 29 April 1949 het J.T. Robinson, 'n assistent van dr. Robert Broom, hier 'n onderkaak gevind, was as SK 15 gekatalogiseer is. Broom en Robinson het geglo dat dit die kaak was van "wat klaarblyklik 'n nuwe tipe mens is." Hulle wou dié wese Telanthropus capensis noem en in 'n posisie tussen die aapmense en die ware mens plaas. In 1961 het Robinson egter tot die slotsom gekom dat die kaak en verskeie ander fragmente wat later in dieselfde kol breksie aangetref is, na verwant is aan Homo erectus. Die meeste navorsers is dit nou eens dat dié eksemplaar dui op die aanwesigheid van vroeë Homo erectus in Suid-Afrika en dalk ouer as 'n miljoen jaar voor die hede kan wees. Dié getuienis bevestig skynbaar dié van Oos-Afrika, nl. dat Homo erectus in die vroeë Pleistoseen suid van die Sahara geleef het. Die fossielrekord van die subkontinent is nog baie onvolledig, en dit is nog nie moontlik om die vroegste en jongste datums vir Homo erectus in Suider-Afrika te gee nie. Volgens verskeie navorsingsresultate lyk dit egter of hy omstreeks 1,2 tot 0,8 miljoen jaar voor die hede in Transvaal gelewe het. 

Hoe het Homo erectus gelyk?

Homo erectus se opvallendste onderskeidende kenmerke was in sy skedel en tande. Die gemiddelde volume van die breinkas was sowat 940cm, meer as twee keer die gemiddelde van 442cm vir Australopithecus africanus, en sowat 46% groter as die gemiddelde van 645cm vir Homo habilis. Klaarblyklik het daar op dié gebied 'n enorme sprong plaasgevind, al was Homo erectus se gemiddelde breingrootte nog steeds net sowat 70% van dié van die moderne mens Homo sapiens.

Homo erectus was ook groter as Homo habilis, en trouens ongeveer net so groot as die moderne mens. Sy ledemaatgebeente en bekken verskil nog heelwat van dié van die moderne mens, maar dit lyk tog asof hy op nagenoeg dieselfde wyse as die moderne mense gestaan en geloop het. Die breinkas was laag, met kante wat bo na 'n punt loop, en die gebeente van die skedelgewelf was buitengewoon dik. Bo die oogholtes was daar 'n sterkvooruitstekende beenrif, terwyl daar ook 'n opmerklik verdikte rif aan die agterkant van die skedel was. Waarom Homo erectus juis hierdie vreemde gespesialiseerde kenmerke ontwikkel het, bly 'n raaisel, want origsens het sy liggamsbou tot groot hoogte ooreengestem met wat 'n mens sou kon verwag van 'n tussenstadium tussen Australopithecus africanus en Homo habilis aan die een kant en die moderne mens Homo sapiens aan die ander.

Die meeste navorsers is van mening dat Homo erectus die onmiddelike voorsaat van Homo sapiens was. Die oorgang van Homo habilis na Homo erectus word taamlik algemeen op omtrent 1,6 to 1,5 miljoen jaar voor die hede gestel, maar skattings van die oorgang van Homo erectus na Homo sapiens wissel so vroeg as 500 000 tot so laat as 100 000 jaar voor die hede. Die rede vir dié gebrek aan eenstemmigheid is dat sekere fossiele oorgangskenmerke toon en die gesaghebbendes met mekaar verskil oor die identiteit van dié tussenstadiums. 

Die verskyning van die moderne mens

Fossielvondse uit Afrika, Europa en Asië dui daarop dat 'n aantal afwykings van die tipiese erectus-liggaamsbou in die Middel-Pleistoseen tussen 700 000 en 125 000 jaar vor die hede by sommige bevolkingsroepe begin verskyn het. Hierdie anatomiese afwykings was in die algemeen in die rigting van die mens Homo sapiens. Die verskeidenheid erectus- en sapienseienskappe wat by dié bevolkings gekombineer is, kan beskou word as eerste teken van die ontwikkeling van sapiens uit 'n substratum van 'n bevolking wat basies nog erectus was. Afgesien van hierdie oorgangsvorme word vier groot subspesies as vroeë volwaardige draers van die naam Homo sapiens rhodesiensis van Afrika suid van die Sahara, Homo sapiens soloensis van Java, Homo sapiens neanderthalensis van Europa, Wes-Asië en die Mediterreense kusstrook, en Homo sapiens afer, ook van Afrika suid van die Sahara. Eersgenoemde drie spesies toon kenmerke wat moontlik uit Homo erectus ontstaan het. Die gemiddelde skedelkapasiteit van rhodesionsis en soloensis was groter as dié  van enige erectus-eksemplaar, maar nie so groot as dié van die moderne mens nie. Homo sapiens rhodesiensis is in 1921 as 'n onderskeibare vorm van voormoderne hominied uitgeken. Dit was een van die vroegste hominiedfossiele wat in Afrika ontdek is, en die eerste eksemplaar is in die Broken Hill-myn by Kabwe in Zambië ontdek. Later, in 1925, is verdere menslike skedel- en skeletfossiele ontdek wat deel was van ten miinste drie en moontlik vier individue. die vernaamste skedel - voorheen bekend as die Broken Hill-skedel of "Rhodesiese mens" - word gekenmerk deur 'n swaar verdikking bo die oogholtes, maar dun beendere, 'n skedelkapasiteit van 1280cm, 'n lang gesig met 'n prominente bokaak en 'n groot verhemelte. 

Saam met dié menslike fossiele is klipwerktuie gevind wat na bewering tot die vroeë Middelsteentyd behoort, asook die gefossileerde oorblyfsels van 'n aantal soogdiere, waarvan sowat 'n kwart as lede van uitgestorwe spesie geidentifiseer is. Volgens hierdie onlangse daterings word die ouderdom van dié fondse op sowat 125 000 jaar gestel. In 1935 en 1938 is die fragmente van twee of drie fossielskedels aan die noordoostelike oewer van die Eyasi-meer in Noord-Tanzanië ontdek. Die struktuur van die skedelbene dui daarop dat een van dié eksemplare moontlik 'n vrou in die groep rhodesiensis was. Die jongste datering  stel die ouderdom daarvan op omstreeks 34 000 voor die hede, wat dit die jongste eksemplaar van dié subspesie sou maak. Die eerste fragment van 'n menslike skedel in Suid-Afirka wat saam met klipwerktuie in 'n gestratifiseerde grotafsetting gevind is, was 'n stuk onderkaak wat in September 1947 in die Grot van die Vuurmaakplekke ontdek is. Die vindplek is 'n uitgebreide grotafsetting in die Makapansgatvallei, net meer as 'n kilometer noord van die Makapansgat-kalksteengroef waar fossiele van Australopithecus africanus gevind is. Dié klein kaak het, net soos dié van vroeëre hominiede, geen ken nie en is dik in verhouding tot sy hoogte. Dit toon ook verskeie kenmerke wat herinner aan sommige kake van die laat oorgangsvorms van erectus of erectus-sapiens uit Noordwes-Afrika. R. J. Mason, wat die vernaamste uitgrawings hier gedoen het, het die betrokke laag op miskien 55 000 voor die hede gedateer. Nog 'n vonds wat as Homo sapiens rhodesiensis gesien is, is in 1953 op 'n oop terrein op die plaas Elandsfontein naby Hopefield in Wes-Kaapland gemaak. Hierdie hominied-fossiele bestaan uit 27 stukke wat inmekaargepas is om 'n skedelgewelf te vorm, en 'n stuk onderkaak. Die kenmerk van die Hopefield-skedel kom baie ooreen met dié van Kabwe. 'n Ryk verskeidenheid aanverwante dierefossiele is ook op die terrein gevind. Sowat 55%  daarvan behoort aan soogdiere wat reeds uitgesterf het en waat daarop duit dat die Hopefield-hominied uit die Middel-Pleistoseen dateer en dus die oudste eksemplaar van rhodesiensis is. 

Twee van die vier terreine, nl. Kabwe en die Grot van die Vuurmaakplekke, is grotafsettings, terwyl Eyasi en Hopeflied oop gebiede is. Volgens die eksemplare wat tot dusver gevind is, lyk dit asof die subspesie sowat 250 000 tot ongeveer 50 000 jaar voor die hede gelewe het. In Afrika noord van die Sahara word hierdie tydsduur gedeeltelik deur dié van Homo sapiens neanderthalensis oorvleuel, waarvan eksemplare aan die Suid-Mediterrense kusstrook, in Cirenaika en in Marokko ontdek is. Hierdie fossiele van Afrika-Neanderdalers dateer van omstreeks 100 000 tot 40 000 jaar voor die hede. 

Homo sapiens afer en die ontstaan van die moderne mens

Die 18de-eeuse Sweedse bioloog Linnaeus het die mensdom in vier soorte verdeel, nl. die rooi Amerikaan, die wit Europeaan, die donker Asiaat en die swart Afrikaan. Hierdie klassifikasie word vandag nie meer aanvaar nie, maar sy benaming Homo sapiens afer word tans weer gebruik vir 'n subspesie waarby alle menslike fossiele van die later Pleistoseen in Suider-Afrika ingedeel kan word. L.H. Wells het voorgestel dat alle bevolkings wat as gemeenskaplike soorsate van die Khoisan- en Negerbevolkings van die hedendaagse Afrika beskou word, hierby ingesluit word. 'n Groot deel van die Suid-Afrikaanse fossiele uit die Laat Pleistoseen is by hierdie eertydse Afrikaanse subspesie ingedeel, met inbegrip van dié van die Border Cave in Ingwavuma in Noord-Kwazulu, Tuinplaas op die Springbokvlakte in Midde-Transvaal, Vishoek, Matjiesrivier en Klasiesriviermondgrot aan die kus van Suid-Kaapland, en Bushman's Rock shelter in Transvaal. die skedel van Florisbad, naby Bloemfontein, het moontlik tot dieselfde subspesie behoort, hoewel dit morfologies in sekere opsigte aan Homo sapiens rhodesiensis herinner. 

Anatomies is hierdie eksemplare van Homo sapiens afer wesenlik modern van vorm. Die stratigrafiese plasing en datering van sommige van hulle is nog onseker, maar onlangs is daarop aanspraak gemaak dat die eksemplare van die Border Cave en Klasiesriviermondgrot meer as 100 000 jaar oud is. Indien die juistheid van hierdie opvatting deur verdere ondersoek bewys kan word, kan 'n mens daarvan aflei dat Afrika die wêreld se oudste oorblyfsels van Homo sapiens met 'n moderne voorkoms opgelewer het, uit 'n tydperk tientalle duisende jare voordat  anatomies moderne eksemplare van Homo sapiens in die fossielrekords van Europa en Asië voorkom. Daar bestaan geen twyfel oor die modernheid van die eksemplare se liggaamsbou nie, net oor die datering. 

'n Ander blykbaar vroeë vorm van Homo sapiens is afkomstig uit die Kibish-formasie in die Omo-bekken in Suidwes-Ethiopië. Dié fossiele kan miskien by Homo sapiens afer ingedeel word, of 'n ander, tot dusver naamlose, subspesie van Homo sapiens verteenwoordig. Ook van dié fossiele word daar, sonder bevestiging, beweer dat hulle meer as 100 000 jaar oud is. Die dateringsmetode wat hiervoor gebruik is, word egter nog nie algemeen aanvaar nie. 

Paleo-antropoloë het nog geen eenstemmigheid bereik oor die datering van die oudste anatomies moderne mens uit Afrika suid van die Sahara nie, hoewel sekere getuienis daarop dui dat hy moontlik hier 'n langer geskiedenis as elders gehad het. Hierdie opvatting is egter nog nie ten volle in die teorieë oor die ontstaan van moderne Homo sapiens opgeneem nie. Eweneens moet die genetiese en filogenetiese verhouding tussen Homo sapiens afer en Homo sapiens sapiens nog verhelder word. Daar kan egter ten minste gesê word dat die jongste getuienis 'n uitdaging begin stel aan die tradisionele teorieë dat die moderne Homo sapiens in Europa of om die Middellandse See ontstaan het. 

Al hoe meer getuienis kom aan die lig

Namate die rekord van fossiele en argeologiese oorlbyfsels die hede nader, word die voorraad beskikbare getuienis ryker. Dit kan ten dele toegeskryf word aan die algemene oorgang na grotbewoning en die toename in die gebruik om dooies te begrawe. Dateringsmetodes soos die koolstof-14 tegniek, kan ook op meer betroubare wyse toegepas word by jonger oorblyfsels, terwyl die terugwerkende ondersoek van lewende groepe van groter hulp word. Suider-Afrikaanse skelet-fossiele uit hierdie tydperk kom uit 'n hele aantal vindplekke in Malawi, Zambië en Zimbabwe, asook van Boskop in Suid-Afrika en Otjiseva in Suidwes-Afrika. Dear die mate van dié fossiel-skedels te vergelyk met dié van skedels van die hedendaagse Suid-Afrikaanse Swart en San- Boesmanbevolking het H.de Villiers en L.P Fatti die gevolgtrekking gemaak dat 'mense met ongetwyflede Neger-affiniteite' getuime tyd voor die aanvang van die Ystertyd in Noord-, Oos- en Suid-Afrika woonagtig was, maar - verbasend genoeg - nie in Wes-Afrika nie. Hulle het tot die slotsom gekom dat negroiede bevolkings tussen omstreeks 12 000 en 2000 jaar voor die hede in Noord-Afrika en tussen omstreeks 7 500 en 4 800 jaar voor die hede in Oos-Afrika gevestig was. In Suider-Afrika noord van die Zambezi is getuienis gevind van mense met 'ongetwyfelde neger-affiniteite' sedert omstreeks 8 000 jaar voor die hede by Kalemba in Zambië, en van 110 000 to 90 000 jaar voor die hede suid van die Zambezi. Laasgenoemde datering is gebaseer op die aanvaarding vaqn 'n voorgestelde vroeër datering van die Border Cave-skedel. 

Somminge van die vergelykings wat De Villiers en Fatti gedoen het, toon ooreenkomste tussen sekere fossiele en moderne San bevolkings, maar ander val blykbaar weer buite die variasies wat voorkom by albei moderne bevolkings wat by die vergelyking betrek is. Indien hierdie twee belangrike bevolkingsgroepe in Afrika wel 'n gemeenskaplike oorsprong gehad het, werp dié gegewens oënskynlik geen lig op die punt waar hulle van mekaar geskei geraak het nie. 

Behoort die Khoisan en Swartmense tot een groep

Juis hier het navorsing oor die genetiese samestelling van bestaande bevolkings waardevolle nuwe lig verskaf (sien paneel hiernaas). Totdat hierdie metode op die mensdom toegepas is, het baie geleerdes geglo dat die Swart volkere van Suider-Afrika as ras 'n afsonderlike onderafdeling van die mensdom uitmaak, en die rasse naam 'Bantoe' het dus oor die jare verskyn. Die resultate wat uit die studie van genetiese merkers verkry is, het die Bantoesprekende Swart volkere van Suider-Afrika egter weer met die res van die vasteland suid van die Sahara verenig. Uit die vergelyking van geen-frekwensies blyk dit dat die variasies onder die Negroide volke in dié gebied betreklik gering is in vergelyking met dié wat hulle van die vernaamste ander onderafdelings van die mensdom, soos die Kaukasoiede en Mongloliede, onderskei. Namate meer geneitese merkers ontdek en getoets is, net navorsers oorvloedige bevestiging verkry van die wesentlike genetiese  eenheid van Afrika suid van die Sahara, met inbegrip van die volkere van Wes-Afrika. Toetse wat op die Khoisan toegepas is, het getoon dat hulle geneties grootliks ooreenkom met die ander grope in die streek en dus deel uitmaak van die groot Negroiede afdeling waarvan ander volke in die streek behoort. 

Verdere ondersoek het Tobias in 1966 tot die slotsom gebring dat hoewel die Khoisan klaarblyklik tot dieselfde groot genetiese konstellasie as die ander Afrikane suid van die Sahara behoort, die morfologiese en genetiese merkers op 'n langduring tyd dui waarin die twee groepe in betreklike afsondering van mekaar ontwikkel het. Die tydelike afskeiding van die Khoisan van die ander groep moes lank gelede begin het. Volgens die paleo-antropologiese getuienis was dit blykbaar minstens meer as 6 000 jaar voor die hede, en die moontlikheid is genoem dat dit selfs al teen die aanvang van die Later Steentyd, sowat 40 000 jaar voor die hede, kon begin het. Na dié skeiding  het daar miskien soveel as 35 000 verloop waarin die Khoisan volkome geisoleerd van die res van die Neger-Afrika gelewe het. Blykbaar het die Khoisan in dié tyd na Oos- en Suider Afrika beweeg, terwyl die Negers hoofsaaklik in die tropiese en ekwatoriale Afrika woonagtig was. Gedurende die tydperk van isolasie het sekere genetiese verskille ontstaan, en die 'nuwe' allele het in albei bevolkings wortel geskied. 

In die Suidelike dele van Afrika het die San korter van postuur en ligter van velpigmentasie geword. 'n Aantal ander liggaamskenmerke het ontwikkel, waaronder die behoud van kinderlike anatomiese eienskappe in die kop en gesig van die volwasse San. Hulle het grotendeels 'n jagtersvolk gebly en het dus die leefwyse voortgesit wat tot feitlik aan die einde van die Laat Pleistoseen deur die hele mensdom gevolg is. Verder noord in Afrika het die donkerder, effens langer Negervolke met verloop van tyd 'n nuwe leefwyse aangeneem, naamlik landbou, waarvoor hulle stukke tropiese reënwoud moes skoonmaak. 'n Bevolkingsontploffing het gevolg, en die landbouers het oos-, noord- en suidwaarts uitgebrei. Ysterbewerking het oor Afrika uitbeweeg, sekere soorte pottebakkerswerk het sy verskyning gemaak, en die groep Afrika-tale wat as Bantoetale  geklassifiseer word, het oor die vasteland versprei. Sekere van die groepe uit die noorde wat met die nuwe leefwyse suidwaarts beweeg het, het hier nie net 'n nuwe omgewing teëgekom nie, maar ook weer in aanraking gekom met verre verwante van wie hulle so lank geskei was, naamlik die geneties gedifferensieerde Khoisan-bevolkings. So het die bevolkings- en gebiedsuitbreiding van die Negers die geografiese isolasie deurbreek wat hulle so lank van die Khoisan geskei het, en dit het op sy beurt tot die opheffing van die genetiese isolasie gelei. 'n Vermenging van merkergene het plaasgevind, en sommige van die 'nuwe San-alelle' is in die genetiese samestelling van die Negers van Suider-Afrika opgeneem. Miskien is 'n paar Neger-merkers ook in die teenoorgestelde rigting versprei. Die nuwe leeefwyse het die Khoisan beinvloed, en oor die eeue of selfs millennia het sommige van hulle voedselproduserende gewoontes aangeleer en akkerbouers en veetelers geword. Onlangse navorsing toon dat daar geen duidelike breuk tussen jagters- of 'paleolitiese' leefwyse  en die nuwe benaderiing tot oorlewing deur die benutting van mak diere en grondbewerking was nie. Die vroeëre siening dat die hudige San-jagters die enigste lewende groep was wat nooit tot die voedselproduksie oorgegaan het nie, het plek gemaak vir die opvatting dat sowel omgewingsfaktore as militêre en politieke uitdagings eeue of selfs millennia lank meegebring het dat die San wel in sekere mate die nuwe lewenswyse van tyd tot tyd beproef het. 

Wanneer toestande gunstig was, is veeteelt beoefen, maar in tye van droogte het die mense weer begin jag. Volgens hierdie siening is die San - wat as die 'oorlewende jagter-versamelaars' beskou word - eenvoudig dié  bevolkings wat in die huidige omstandighede nie in besit van beeste, skape of bokke is nie, maar 'n leefwyse volg wat deur jag en versamel oorheers word. 

Die moderne San verskaf aan die navorser na die mens 'n unieke geleentheid om die meganika en dinamika van die jagters- en versamelaarslewe te bestudeer. Hoewel daar nie sonder meer aangeneem kan word dat die Steentyd-mens van die Laat Pleistoseen van 50 0000 - 25 000 jaar voor die hede presies soos die jagters van vandag gelewe het nie, dien ten minste sommige van hierdie jagter-versamelaars onder die San as lewende modelle. Versigtige vergelykings van die lewenstyl van verskillende groepe lewende jagters van Afrika en elders mag die gemeenskaplike elemente wat daardeur loop, dalk aandui. Afledings aangaande die prehistoriese mens sal waarskynlik groter geldigheid besit as dit nie net gebaseer is op wat deur die opgrawing van die verlede vasgestel word nie, maar ook deur wat van die lewenspatroon van die hedendaagse jagter-versamerlaars bekend is.

P.V Tobias

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika 

In Woord en Beeld

Hoofredakteur: Trewhella Cameron

Adviserende Redakteur: S.B Spies

ISBN 0 7981 1977 2