Die koei van die weduwee Priem

C. Louis Leipoldt


(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Vertellers


deur merwe scholtz - samesteller

DEEL 1

In die klein dorpie wat daar so treurig verlate gelê het in 'n ewe treurige omgewing van Karooveld, wat in die brandhete somerdae deur die tergende droogte nog treuriger gemaak is, was daar darem een of twee geboue waarop die ingesetenes met reg trots kon wees. Nie die hotel nie, want dié was maar 'n ná mekaar aangeboude aaneenskakeling van kamers, waarvan die kern, gestel dat 'n oudheidkundige daarnatoe gekom het en soveel snuffelgees oorgehad het om te probeer uitvind wat eintlik as kern aangesien kon word, waarskynlik die voorkamer was wat in die ou dae die enigste kamer van die smouswinkel gewees het. Ook nie die magistraat se huis nie, ofskoon dit regeringseiendom was waarvoor die belastingbetaler moes betaal en waarop dus billikerwyse 'n sekere som verspil kon word om dit so naasteby 'n argitektoniese waarde te gee. Nog minder die pastorie, wat - soos gewoonlik - 'n eenvoudige, stewig geboude, vierkantige woning onder 'n ysterdak was.

Nee, die twee geboue wat deur die ingesetenes aangesien is as dié waarna hulle met 'n sekere mate van spoggerigheid kon wys, was die twee kerkies. Die oudste en grootste was dié van die Nederduits Gereformeerde gemeente, met 'n sierlike toring wat ver oor die omgewing uitgesteek het en wat as amper te rojaal vir die dorp kon beskou word, aangesien hy groter was as wat nodig was, selfs by Nagmaalsgeleenthede as die hele distrik opgedaag het vir die driedaagse plegtighede wat met 'n voorbereidingsdiens op Vrydagaand aangevang het en met 'n tweede dankseggingsdiens op Sondagaand geëindig het. Die gemeente het groot planne gehad, maar ongelukkig is dié nie verwesenlik nie, want trapsgewyse het van die distrik brokkies afgeval wat hul eie buitekerke gestig het, met die gevolg dat wat 'n  honderd jaar gelede toe die kerk gebou is, 'n taamlike groot kerklike bevolking was, verdwerg het tot 'n vierde van sy vroeër getalsterkte. Nogtans was die gemeente trots op sy kerk, wat dan ook redelik was, omdat die kerk waarlik 'n mooi gebou was, met 'n mooi ringmuur daaromheen en met die ruimte tussen ringmuur en kerkmuur bestem as kerkhof, op die ouderwetse manier. Daar was maar een ingang en dit was die voorhek, wat met pragtige, mooi ystertralies versterk was - die geskenk van ouderling Essem, wat 'n fortuin gemaak het uit bokvelle en osse wat hy aan die regering verkoop het tydens die grensoorlog. Binne die ringmuur was daar net gruispaadjies tussen die grafte, wat behoorlik en proppertjies in orde gehou is, sodat daar nooit te veel gras gegroei het nie. "Dit betaam ons nie," het kassier-diaken Koos Slagtand herhaaldelik aan sy kollegas in die kerkraad verklaar, "dit betaam ons nie dat ons kerkhof daar uitsien soos 'n stukkie verlate veld nie."

En die kerkhof het ook nooit soos 'n stukkie verlate veld gelyk nie - nee, dit het eerder gelyk soos 'n behoorlike kerkhof waar elke graf binne sy bestemde perke gestaan of gelê het en waar die enigste versiersels wat geduld is, die verlepte blomme was of die nagemaakte goed wat daarvoor moes dien en wat - omdat hulle nooit verlep nie - vir altyd wind en weer kon weestaan.

Met die tweede gebou wat 'n sieraad van die dorpie is, was dit ander gesteld. Dit was die klein, eenvoudige, fraai kerkie van die Engelse gemeente wat dagteken uit die tyd toe daar 'n kans bestaan het dat die dorp 'n belangriker plek sou inneem in die stedelike hiërargie van ons land. Helaas, dié vooruitsig is nie verwesenlik nie, net so min as die planne van die groter NG-gemeente. Die groepie Engelse wat  hier staanplek gevind het, het stadigaan verklaar en ofskoon hulle van die begin af versigtig te werk gegaan het en 'n kerk wat net skaars 'n vyftigtal gemeentelede kon sitplek gee, gebou het, het die tyd dit nie nodig gemaak om die kerk te vergroot nie. Die gemeente was arm en ofskoon die kerkgebou in 'n goeie toestand gehou is, kon 'n mens nie dieselfde sê van sy onmiddellike omgewing nie. In plaas van ' n stewig geboude klipsteenringmuur, was daar 'n onsierlike draadheining wat plek-plek so stukkend was dat iedereen wat daartoe lus gehad het, maklik daardeur kon kruip sonder letsel vir homself of sy klere. En daarbinne was net maar 'n paar grafte wat amper net so verlate as die draadheining was, terwyl die hek glad nie meer as hek kon dien nie, omdat dit nooiot behoorlik gesluit kom word nie. Die grendel was af en die grendelpos al lank afgevreet deur die witmiere. Binnekant was daar 'n weelderige groei van gras in die voorjaar en selfs in die laatsomer wanneer die buitenste veld deur die hitte verskroei en bruin was, het daar nog kraalbossies en vygies gestaan wat daar minder armsalig uitgesien het as hul soortgenote daarbuite.

Oor die Engelse kerke het Eerwaarde die Engelse predikant gewaak met 'n bedaardheid wat amper as traak-my-nie-agtigheid aangesien kon word. Hy was 'n man van middelbare leeftyd, ongetroud, reguit in sy handel en wandel en deur iedereen in die dorp en distrik hooggeag, omdat hy hom as iedereen se vriend getoon het en nooit teen iemand se hakskene aangeloop het nie. Die mense het sy pligsgevoel, sy openhartigheid en sy menslikheid bewonder en hom die eerbied betoon wat deur karakter en innerlike menslike deug afgedwing word. In sy omgang met persone wat nie tot sy gemeente behoort het nie, was hy deurgaans vriendelik en hoflik; en ofskoon hy sy uiterste bes gedoen het om met hulle in hul eie taal te praat, was sy tongval en sy behartiging van die landsidioom nog so skreiend gebroke dat sy gesprekke met hulle byna altyd die laglus van die hoflikstes onder hulle gewek het. Daaraan het Eerwaarde hom nie gesteur nie. Hy het sy gang gegaan en in vriendskap en eensgesindheid met sy bure gelewe en selfs toe deur plaaslike omstandighede die gemoedere opgesweep is, het hy hom so gedra dat iedereen 'n goeie woordjie oorgehad het vir die Engelse predikant. Nie dat hy nou juis nooit kwaad geword het nie, inteendeel, die mense het deur ondevinding goed geweet dat Eerwaarde kortgebaker was en dat daar tye was waarop hy hom taamlik kras kon uitdruk namate hy van mening was dat so 'n manier van optrede genoodsaak was.

Kassier-diaken Koos Slagtand wat op weeksdae as slagter geageer het en baas van die winkel naas die grootpad was, het  hom dus nie verwonder toe Eerwaarde, wat altyd self op 'n Maandag die slagterswinkel besoek het om sy bestelling vir die hele week vooruit te gee, hom kom spreek het oor die weduwee Priem se koei nie. Die weduwee Priem was een van die oudste, en armste, ingesetenes van die dorp. Haar woonhuisie, wat haar deur die genade van die kerkraad - omdat haar oorlede man 'n tyd lank as koster geageer het - huurvry afgestaan is, het vlak naas die Engelse kerkie gestaan, in 'n oop omgewing van afgevrete veld waarop 'n paar verwilderde wattelbome gestaan het. Sy was 'n allenige vroumens, sonder kind of kraai, want haar enigste seun, wat in die polisie gedien het, was al jare lank dood en haar enigste dogter was getroud met 'n Vrystaatse boer wat - volgens wat die dorp daaromtrent kon uitvind - maar gedurig moes spartel teen droogte en mislukking in die boerdery, met die gevolg dat die ou tante net maar 'n powere pensioentjie gehad het om van te lewe. Daarmee het sy tog kans gesien om reg te kom en, deur die tussenkoms van die kassier-diaken, het sy 'n klein maandelikse byverdienstetjie geniet met die afstof en skoonhou van die kerkbanke. Dit was eintlik die koster se werk, maar met toestemming van die kerkraad wat nie daarvan sou gehou dat die weduwee Priem self tot koster sou gemaak word nie, het sy onderneem hom daarmee behulpsaam te wees, op voorwaarde dat 'n klein gedeelte - 'n baie klein gedeelte - van sy maandelikse kosterloon aan haar betaal sou word.

Die weduwee Priem het 'n paar bokke aangehou wat sy op die afgevrete veld laat wei het, waar hulle alles wat hulle teëgekom het, vanaf die blikkies waarin die kondensmelk oorspronklik bewaar was, tot die afgedrupte motorolie wat nou en dan langs die pad van die verbysnorrende motorkarre geval het, opgevreet het met die gelatenheid en die bewonderenswaardige gretigheid wat aan die Afrikaanse bok eie is. Wat die doel van die bokke eintlik was, was 'n raaisel wat niemand ooit geraai het en die weduwee Priem, wat nors en stuurs van geaardheid, het nooit daaromtrent enige inligting verskaf nie. Ses maande voordat die Engelse predikant by die kassier-diaken se slagterswinkel ingestap het, het die weduwee egter 'n vermeerdering van haar roerende besittings gekry in die gedaante van 'n ou koei wat die kassier-diaken haar present gegee het, omdat die dier volkome ongeskik was vir sy gebruik. Die weduwee het die geskenk met dank aangeneem en het daarin geslaag om die vermaerde dier so op te knap dat - tot groot verbasing van die kassier-diaken en van iedereen wat met die omstandighede bekend was - dit weer in melk geraak het. Daarna is die weduwee se daaglikse bedrywighede aangevul met 'n koeimelkery in die môre en in die laat namiddag - 'n seremonie wat in die openbaar verrig is en gewoonlik opgeluister is met die toeenwoordigheid van 'n aantal toeskouers uit die lokasie wat by geleentheid die ou tante behulpsaam gewees het die spantou en die aandra van die emmer.

Die kassier-diaken het geweet, sodra die Engelse predikant by hom ingestap het, dat die komende gesprek onvermydelik in die rigting van die weduwee Priem se koei sou ontwikkel. Hy was geen waarsêer nie, maar hy was 'n kêrel met 'n gesonde verstand wat in staat was om twee en twee op te tel en daaruit vier te maak en hy het goed geweet dat die weduwee Priem, wat ewe vernuftig en agtermekaar was, uitgevind het dat die omheinde, al was dit ook maar 'n uiters sleg omhende, Engelse kerkhoffie 'n uitstekende weiveld vir die weduwee Priem se koei was. Elke môre het sy die koei losgemaak van die spantou en die dier 'n vriendelike raps oor die agterboud gegee, wat as stille aanduiding gedien het om voedsel te gaan soek, net soos die bokke, waar ook maar voedsel te verkry was. Die koei het lynreg na die kerkhoffie gestap en daar tussen die verlate grafte rondgedwaal om te pik en te vreet wat daar te pik en te vreet was en om in die skaduwee van die kerkmuur te lê en herkou in stille oorpeinsing van wat daar ook vir 'n koei is om oor te peins. Vir die weduwee Priem was dit iets natuurliks en heeltemal reg. Sy het daar nie twee maal oor gedrink nie en toe die Engelse predikant haar kom vra om tog toe te sien dat die koei nie op Sondae daar wei nie, was sy eers verbaas en naderhand gegrief oor die gedagte dat iemand so onmenslik kon wees om 'n arme uitgehongerde dier te belet om gebruik te maak van 'n weiveld wat so gepas was dat dit werklik as 'n bestiering van die Voorsienigheid moes aangesien word dat dit juis in die onmiddellike omgewing van haar woning gelê het.

"Ek weet al, Eerwaarde," het die kassier-diaken vergoelikend opgemerk nadat hy die Engelse predikant se bestelling sorgvuldig opgeskryf het in die met vet besmeerde boekie getitel Eerwaarde J- se Rekening, "ek weet al waaroor Eerwaarde my wil spreek. Dis mos oor die weduwee Priem se koei..."

"Ja, juistemint, meneer Hulst," sê die Engelse predikant met 'n bietjie meer driftigheid in sy stem as waarmee hy sy bestelling aangekondig het. "Ekke het my bes gedoen om die ou missies te beduie - daar moet nou 'n end aan kom. Dit is - hoe sê u? - unbearable..."

"Ondraaglik, Eerwaarde. nie te drae nie..."

"Juistemint. Nie meer te drae nie - dankie. Ek sal dit opteken: unbearable - om te meer drae nie..."

"Nee, nee, Eerwaarde, ondraaglik."

"Ja, seker. Dit is ook so, nou sien ek. Ondraaglik. Dit is meneer Hulst, dit is ondraaglik. Die dier - die koei - hy kom in die churchyard en hy staan vlak voor die venster en net by Magnificat dan low hy..."

"Lou? Eerwaarde wil tog nie sê nie..."

"Meneer Hulst, dit is soos ek sê. Net by die Magnificat ... as dit anders was sou dit nie so...so unspeakably odious - hoe sê u weer? - so impertinent - u besef seker wat ek bedoel - om net maar by die geleentheid te low nie..."

"Eerwaarde bedoel hy bulk, nê?"

"Bulk? Is dit wat u sê? Ek sal weer aanteken: low - bulk. Goed, ek vorder, meneer Hulst. Hy bulk. Hy gaan te kere - hy skree. Dit is ... ondraaglik. En in die môre ook - by die môregebed. By die Beneductus nogal. Dis asof hy weet waar dit die onbetaamlikste is om te...bulk. Dan begin hy. ek moet sê in die môre - by die môregebed, het ons taamlik peace - wat sê u? - vrede ja. HY is dan glo te honger. At least he does not look in at the window. Maar by die aangebed - dit is ondraaglik..."

"Moontlik," sê die kassier-diaken, wat werklik verleë was, "moontlik is dit die lig wat hom aanlok. En die harmonium, Eerwaarde."

"Ja, maar, meneer Hulst, ek vra u, moet ons dan die ligte doodmaak en die harmonium, moet hy dan nie speel nie, ter wille van missies Priem se koei? Dit is tog 'n skreidende skandaal, meneer Hulst. Ek het daar niks teen nie - not the slightest objection, I repeat - dat haar koei daar wie op weeksdae nie. Maar Sondags - dis wat anders. En saans veral. 'n Koei behoort tog op stal te wees. Ek sou nie omgee as die dier - ek kan my nie goed uitdruk nie, meneer Hulst..."

"Sê tog maar in Engels, Eerwaarde. Ons verstaan mekaar..."

"Goed. Maar ek neem altyd die kans om my Afrikaans aan te leer. I should not object in the slightest if she will only keep her old cow out of my churchyard while we are having evening prayer. It is unbearable to have the animal interrupting the Magnificat."

"Ja, daarin het Eerwaarde volkome reg. Maar die ounooi het geen stal nie, en Eerwaarde weet..."

"Ek weet genoeg, meneer Hulst. Maar moet ek en my gemeente nou daaronder ly omdat missies Priem geen stal vir haar koei het nie? Dit is ondraaglik. Ek kon tot besluit, meneer Hulst. Ek dreig met die pound. Ek sal die koei self daarnatoe bring, as dit moet."

"Ag nee a, Eerwaarde, dit sou tog alte onstigtelik wees as Eerwaarde so iets doen. En waarvandaan kry die arm vroumens die geld om die koei te gaan los? Dit sal haar sewe-en-ses kos om die koei uit die skut te kry en Eerwaarde weet tog sy is brandarm..."

"Dit is nie my saak nie, meneer Hulst." Die engelse predikant se uitdrukking was beslis, selfs 'n bietjie nukkerig. "Ek het haar gewaarsku. Ek sal weer waarsku. Maar omrede ek nie goed kan praat met haar nie - en haar ook nie alte goed kan verstaan nie, want sy praat so prontweg en gebruik woorde wat ek nog nie opgeskryf het nie. En dit herinner my daaraan, meneer Hulst. Die laaste keer toe ons met mekaar oor die koei gepraat het, het sy gesê - wag ek het dit opgeteken, want dit was vir my curious... Hier is dit. Sy het gesê: ''n Slamse priester sal nie so 'n herrie maak oor 'n onnosel dier nie'. Wat is nou herrie, meneer Hulst?"

"Dit is ... dit is maar so 'n soort uitdrukking, Eerwaarde. Eerwaarde moenie te veel notisie neem van wat weduwee Priem sê nie. Haar woordeskat is ook nou nie juis van so 'n aard dat Eerwaarde dit hoef op te teken nie..."

"Ja, maar ek wil graag die idioom baasraak. En missies Priem praat, soos dit vir my lyk, with colloquial energy and a wealth of expression. Sy is 'n vrou wat karakter het..."

"Ek sal probeer praat met haar, Eerwaarde. En as dit nie anders kan nie, sal ek kyk of ons nie die koei Sondags êrens kan vasbind nie. Wees maar gerus, Eerwaarde."

"Dankie, meneer Hulst. Dus, môre weer chops, en Woensdag loin, en Vrydag steak, soos gewoonlik.

--- --- ---

DEEL 2

Dit het die Sondag gereën en die pasopgeskote gras tussen die grafte was nog nat toe Eerwaarde, met sy swart soutane oor sy arm, die kerkhof instap om die ligte te gaan aansteek vir die aangebed. Hy het alles self gedoen in sy kerkie, met behulp van die twee koorjongens - die magistraat se seun, wat al in die matriekklas was en te groot vir sy koorhempie, en die engelse prokureur se seun, wie se stemmetjie begin dreig het om te breek. Die twee het die skrale koor van die kerkie uitgemaak en die gemeente het bestaan uit hul familielede en 'n sestal ander ingesetenes van die dorp wat taamlik getrou die aanddiens bygewoon het.

Die twee koorseuns was alreeds in die konsistorie en toe die predikant binnekom, was dit klein Lourens, die prokureur se seun, wat hom dadelik herinner het aan die aanwesigheid van die steen des aanstoots.

"Meneer," het die seun gesê, "die ditse-en-datse koei is weer in die kerkhof."

"Jy kan dit sê sonder om 'n adjektief te gebruik," berispe die predikant hom. "Kan julle haar nie wegja nie?"

"Ons het dit vanmiddag al gedoen, maar sy kom telkens weer. Meneer, sou dit nie goed wees as een van ons buite wag hou nie?"

"Volstrek nie. Ons steur ons nie aan die koei nie. Neem die kers en steek die altaarkerse aan. Dit is hoog tyd."

"Meneer sal sien die koei sal weer begin bulk sodra die harmonium speel."

"Dan sal ek weet wat om te maak. Trek nou maar julle koorhempies aan - joune, Johnnie, is al bra kort vir jou. Ek sal jou ma vra om jou 'n langer een te maak..."

Die aanddiens het stigtelik begin. Deur die gekleurde vensterglas het die laaste strale van die dalende son geflikker en daarna gefaal en voor die psalm beëindig was, het die skemer oor die nog halfnat voorjaarsomgewing geval. Die magistraat se vrou, wat die harmonium bespeel het en wat goed bekend was met die gewoonte van die weduwee Priem se koei om die diens te stoor met 'n nare gebulk sodra die eerste note van die instrument deur die bedompige lug van die klein kerkie dreun, het gedink dat hierdie aand, ten minste, die gemeente nie daardeur ontstig sou word nie. Die predikant, wat ewe hoopvol tot hiertoe die diens gelei het, was nog meer gerus, want, ofskoon hy deur sy koorseuns gewaarsku is dat die koei in die omtrek was, het hy nog niks van die dier bespeur nie. Op sy gewone indrukwekkende manier het hy aangehef:

"My siel besing die grootheid van die Here, my gees juig oor God, my Verlosser."

Waarom die gemeente geantwoord het: "Omdat Hy na sy dienares in haar geringheid omgesien het."

"Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem," het die predikant voorgegaan, "omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!"

By die oop venster het die koei gestaan. Haar kakebene het nog die herkouende beweging gemaak asof sy heeltemal op haar gemak was en haar weinig aan die omgewing gesteur het. Maar die verdere: "Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer," was byna onhoorbaar deur die gebulk wat uit die oop mond gekom het en ofskoon die gemeente sy uiterste bes gedoen het - en veral die magistraat wat 'n besonder growwe basstem gehad het - om die storende geluid te oorweldig met die eenstemmige koorgeskal van: "Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaar gejaag," - was dit weldra duidelik dat die weduwee Priem se koei weer die aand die Magnificat deur en deur verongeluk het. Selfs die Nunc Dimittis het die dier gewaag om te verstoor deur  haar onbetaamlike gebulk en toe die diens oor was, het die gemeente 'n sug van verligting geslaag en - soos dit Christenmense onder verdrukking betaam het - met bedaardheid die kerk verlaat. Die predikant het vinnig na die konsistorie gestap en sy amptelike gewaar van  hom afgestroop. Sy soutane het hy vasgedraai tot 'n stewige swart tou en met die ewe vinnige vermaning aan die twee koorseuns: "Keer die koei vir my", het hy die deur uitgesnel. Die steen des aanstoots was nog by die venster besig met herkou. In die flou, swartgroen skemer het haar groot bruin oë, wat glad nie gemelik of onvriendelik geglans het nie, soos twee waterpoele waarin al die diep geheimenisse van 'n verhongerde lewe skuil, gelê. Met bedaardheid het sy die koms van die predikant afgewag en met gelatenheid het sy die swart soutane-tou om haar horings laat vasdraai. Die predikant was te onthuts om iets te sê. Die koei was te bedaard en te gelate om iets van haar eie mening oor die saak te laat deurskemer.

"Ja julle nou die bees aan vir my," sê die predikant aan die twee koorseuns wat hom gevolg het en met 'n bietjie verbasing waarin egter meer ondeundheid as ontsteltenis kenbaar was, die vang van die koei aanskou het: "Ek gaan haar skut toe bring."

Met die ent van die soutane-tou in sy hand het die predikant in die skemer die straat afgestap. Die gemeente wat nog nie tuis was nie, het hom gadegeslaan en die magistraat het uitgebars in 'n skaterlag, terwyl een van die straatseuns dadelik omgespring het om vir die weduwee Priem te gaan vertel dat die Engelse predikant haar koei na die skut toe neem.

'n Honderd tree onderkant die kerk het die weduwee Priem te voorskyn getree. Sy het haar al klaargemaak om haar katel op te soek toe die berig haar in aller yl straat af laat ja het. Haar rooi flennie-onderrok sou in die helder daglig 'n ontstigtelike verskyning gemaak het op die openbare ryweg, maar in die swartgroen skemer was die kleur daarvan nie so opvallend nie en diegene wat haar sien hardloop het om die predikant te agtervolg, het net opgemerk dat haar rok baie kort was en dat sy blootsvoet en sonder haar kappie was - altwee tekens van die spoed waarmee sy op kommando gegaan het. En tot vandag toe praat die dorp nog oor die woordeskat wat sy gebruik het om haar mening oor die geboorte, afkoms, karakter, gedrag en moontlike toekoms, in die teenswoordige en in die hiernamaals, van die Engelse predikant kenbaar te maak aan iedereen wat die moeite gedoen het om stil te staan en haar aan te luister.


Die predikant het geen notisie van haar geneem nie - ook die koei nie. Die een het bedaard sy gang die straat af skutwaarts gegaan en die ander het net so stadig en met die sedigheid wat 'n herkouende koei kenmerk, agterna gestap. Haar geleier het nie eens nodig gehad om aan die soutane-tou te trek nie, want die koorseuns het haar aangehelp met aanmoedigende gebare en nou en dan 'n raps oor die agterlyf.

Vir die weduwee Priem was dit 'n skouspel wat ewe ondraaglik was as die gebrul van die koei by die Magnificat vir die predikant voorheen gewees het. Sy het, hoe uitasem sy ook was, vooruitgesnel en die koei aan die stert beetgekry, wat vir die oomblik 'n vermindering van die dier se vooruitgaande tempo veroorsaak het. Maar die oponthoud was net maar vir 'n oomblik. Die koorseuns se aanmoediging het verdubbel en die predikant se houvas aan die soutane-tou het steiger geword. En deurgaans het die weduwee Priem aan die wêreld duidelik gemaak - in 'n skelle altstem wat ver oor die straat geklink het - wat sy van so 'n herrie gedink het en wat sy voornemens was om te doen met wie ook al haar koei wou skut toe neem. Die wêreld, verteenwoordig deur die lokasiebevolking wat by dosyne na die spektakel kom kyk het, en 'n paar lede van die gemeente wat daarin 'n bedaarde maar vermaaklike belangstelling getoon het, het  haar met 'n sekere soort welgevalle aangehoor. So 'n woordeskat, nogal op 'n Sondagaand, was iets waaraan die ingesetenes nie gewoond was nie en ofskoon die magistraat herhaaldelik sy neus gesnuit het in 'n poging om sy amptelike waardigheid te bly behou, en die kassier-diaken, wat die gedoente van sy stoep aangesien en afgehol het om die weduwee te vermaan om tog nie so luidrugtig te wees nie, sy arms geswaai het en agtervolgster en geleier onpartydig gesmeek het om tot bedaring te kom, het die toeskouers die saak as iets regtig aardigs beskou. Die deftige houding wat die predikant aangeneem het - alhoewel dit vir die meeste koddig genoeg gelyk het - die luidrugtige ontsteltenis van die halfgeklede weduwee en die sedige gelatenheid van die steen des aanstoots self, wat geduldig vooruitgestap en geherkou het sonder om die minste notisie te neem van haar eienares wat krampagtige pogings om haar van die pad af te keer, het alles bygedra om hulle tot vrolikheid, selfs op 'n Sondagaand, te stem.

Dit het 'n tyd lank geneem om die skut, wat onder aan die straat was, te bereik en daar het die predikant tot sy teleurstelling verneem dat die skut verplaas was na die bo-ent van die straat, nie alte ver van die kerkhof nie. Die proesessie moes toe omdraai en die halfmyl weer aflê, want die predikant was nou meer as tevore vasbeslote om sy prooi in die stedelike bewaring te bring. Nou en dan het hy stilgestaan om die sweet van sy voorkop af te vee en die weduwee wat van haltes gebruik gemaak het om weer asem te skep, het hom dan aangestaar met 'n blik wat 'n mens sou laat dink het aan die manier waarop 'n ouderwetse heks haar ergste vyand sou bejeën het. Die koei het voortdurend geherkou en met die stert geswaai en gemaak asof die hele gedoente nie die minste belang vir haar ingeboesem het nie.

Die lokasiemense het reeds die skutmeester, wat hom al klaargemaak het om te gaan slaap, op hoogte gebring met wat voorgeval het; en toe die prosessie voor die hek kom, wat hy besig om die twee donkies wat al dae lank daarin gehuisves was omdat niemand dit die moeite werd geag het om hulle te los nie, agteruit te dryf om vir die nuwe aankomeling plek te maak. Die weduwee Priem het vooruitgesnel en haar leed by hom gaan kla, met 'n weelde van uitdrukkings wat hier onmoontlik weergegee kan word. Helaas, elke skrywer wat in Afrikaans skryf, onthou die skoolmeesterlike kritiek oor Ampie en vind dit uiters moeilik om dialoog soms getrou op te skryf. Die leser sal dus die stippeltjies self moet invul, namate hy of sy meer of minder kennis het van die spreekgewoontes van die ouer mense onder ons volk as hulle in groot opgewondenheid hul klagte lug.

"Die...se predikant het my...koei kom steel, meneer. Die...onskuldige dier het 'n paar...grassies opgevreet in sy...se kerkhof waar daar net...bobbejane en...soldate begrawe lê, wil nou so...waar my...koei in die...se skut sit. Net omdat die arme dier gebulk het as hy sy Slamaierliedjies begin sing - dis mos ook genoeg om 'n mens te laat bulk...die...te orrel hou my uit die slaap, maar ek grens nie daaroor nie, ofskoon dit vlak teenoor my kamer is en die...kerse wat hy aansteek, is mos genoeg om enige dier die...de bewerasie te gee..."

"As die koei op sy grond was," sê die skutmeester, terwyl die predikant - nog ewe waardig en deftig, maar tog al 'n bietjie moeg van die ent loop en glad nie meer op sy gemak nie - die koei deur die skuthek veilig in die nabyheid van die donkies gebring het, "dan kan hy dit skut. en jy kan dit los, maar dit sal jou vyf sjielings kos."

"Waar moet ek die...de vyf sjielings vandaan haal? Dink jy ek kry dit uit die lug? Die...de kerkraad gee my vier skellings vir kerkskoonmaak en - soos jy weet - die kontant is...skaars by 'n ou mens soos ek. Praat jy tog met die...de predikant. As jy hom beduie dat die...de koei net maar 'n biettjie grassies kom vreet het..."

"Maar hy het jou mos al lank gewaarsku dat jy die koei tuis moet hou op 'n Sondagaand..."

"Dis mos nie reg dat 'n predikant op Sondag so teen 'n onskuldige koei  moet handel nie. En waar kry ek môre melk vir my koffie? Toe tog, meneer, praat met hom..."

By die aanblik van die koei in die skut het die weduwee Priem omgeslaan van dreigende uitskeo tot 'n weemoedige gehuil - 'n smeekklag wat die predikant, met al sy wrok teen die koei, op die duur nie kon verdra het nie.

"Kyk, skutmeester," het hy gefluister nadat hy sy soutane sorgvuldig van die koei se horings losgemaak, dit ewe versigtig afgevee en uitgeskuld en toe netjies opgevou het, "ek bedoel dit as 'n les vir die ou vrou. Sy is alte - hoe sê u dit? - careless. I have warned her time and again. Maar dit is te ondraaglik, hierdie koei. Hy bulk - en ek het gesê hy kan bulk net soveel hy wil, as hy maar probeer om stigtelik hom te gedra as ons die Magnificat aanhef. Maar ek wil haar - hoe sê u dit? - I don't want to be hard on her. Ek sal die vyf sjiellings self betaal, skutmeester en môre kan jy die koei los. Dit is vir haar miskien 'n waarskuwing."

Met 'n hoflike buiging teenoor die weduwee Priem wat nou haar rooi flennie-onderrok, of soveel daarvan as wat sy met betaamlikheid omhoog kon kry, gebruik het om haar trane af te veeg, het die predikant weggestap.

Die volgende Sondagmiddag het die Engelse predikant in sy voortuintjie gesit, onder die groot koejawelboom waar hy 'n rottantafeltjie geplaas het waarop hy besig was om te skryf. Dit was 'n heerlike namiddag en die laat lemoene wat so verfrissend soet was, hom verlok om meer te eet as wat na sy noenmaal heeltemal wenslik was vir iemand wat hom moes besig hou met skryfwerk. Die gegons van die brombye en die blombeddings, waar die narsings en gousblomme 'n kleurtapyt gemaak het, het hom nog slaperiger gemaak en na 'n bietjie teësparteling het hy toegegee en aan die slaap geraak.

Uit 'n aangename namiddagslaap het sy enigste bediende, Ou Trui, hom kom stoor met die aankondiging: "Ou mevrou Priem wil met Meneer praat."

"Hé, wat? Die ou vrou van die koei?" sê die predikant onthuts. "Nee, ek kan haar nie ontvang nie. Sê ek is besig. Of... wat wil sy?"

"Die ou mevrou sê sy moet vir Meneer self sien. Sy sê dit is noodsaaklik, Meneer..."

Die predikant was nie 'n bangkat nie. Hy het sy waardigheid besef en hy het gedink dat wat ook al die weduwee Priem kon uitrig, sy hom tog nie so kon benadeel dat hy daaroor angstig moes voel nie. Met 'n sug oor die vooruitsig van 'n moontlike onplesierige onderhoud het hy opgestaan en ou Trui gevolg tot in die voorkomer.

Die weduwee Priem, gekleed in haar Sondagsdrag met 'n skoon, gestyfde, ouderwetse kappie op die kop, het hom ingewag naas die voorkamertafeltjie, waarop iets wat in 'n koerant vasgedraai was, gestaan het. Daar was niks skrikwekkends in haar voorkoms nie. Dit was wel waar dat haar ou gerimpelde gelaat 'n uitdrukking van erns gehad het, maar die predikant, wat in sy jong dae les geneem het in die skilderkuns, kon opmerk dat daar iets in die ou gelaatstrekke was wat aan die gerimpelde gesig 'n sekere waardigheid wat amper skoon kon genoem word, gegee het. Daar was karakter in die gesig, 'n mengeling van hartstog en gelatenheid wat met ouderdom kom op die gelaat van mense wat baie deurleef het, wat gesukkel het en wat smart gedra en gevoel het. Soos 'n steek het dit deur die predikant se gemoed gegaan dat hy miskien 'n bietjie te haastig teen die ou vrou opgetree het en hy het dadelik besluit om so vriendelik as moontlik teenoor haar te wees. Maar die ou vrou het die eerste stap geneem. Toe hy binnekom, het sy vorentoe getree, met 'n knikkie van haar kop wat haar kappie geroer het.

"Ek sal nie vir Eerwaarde lank stoor nie," sê sy met 'n glimlag wat haar tandelose bo-kakebeen duidelik laat sien het, maar wat die predikant opgemerk het net so goed van die oë as van die mondspiere gekom het, "maar ek kom net vir Eerwaarde meld dat die...koei vanaand nie vir Eerwaarde se moeniefatnie sal hinder nie."

"Ek is bly - gaan sit, missies Priem, gaan sit. Trui sal 'n koppie koffie bring..."

"Nee dankie, Eerwaarde, maar Eerwaarde is besig en ek kom nie om Eerwaarde te stoor nie. Ek het net maar gekom om vir Eerwaarde tesê dat ons die koei Dinsdag geslag het. Sy was ook uitgemelk - so droog soos 'n gerf, Eerwaarde. Vandat sy haar laaste kalf gegooi het - dit was 'n bulletjie, Eerwaarde, en voor my tyd - was sy maar 'n droërige dier, dit moet ek sê, Eerwaarde, en Eerwaarde, om ekskuus te vra, Eerwaarde, is nou nie eintlik my gewoonte nie, Eerwaarde. Ek is maar, Eerwaarde, soos Eerwaarde weet, 'n vrou wat reguit praat en as ek iets gesê, Eerwaarde, leste Sondag, Eerwaarde, toe ons altwee kwaad vir mekaar was, Eerwaarde..."

"Ag nee, missies Priem, sê u maar liewers niks oor die saak nie..."

"Ek sê ook nie ek sal iets daaroor sê nie, Eerwaarde. Wat gedaan is, Eerwaarde, is gedaan, en het geen keer nie, Eerwaarde. Maar die vyf sjielings, Eerwaarde, is daarom bo my, Eerwaarde. Ek kan net maar dankie sê, Eerwaarde, en dat ek dit nou so grof bedoel het nie, Eerwaarde. En ek het vir Eerwaarde, as Eerwaarde dit wil neem. 'n kommetjie sult gebring. Dis van die koei, Eerwaarde."

En met 'n beweging van haar hand wat vergiffenis en vriendskaplike toenadering betuig, het die weduwee Priem na die koerantbedekte pakkie op die voorkamertafeltjie gewys.

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play