# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Klein Sendelinge

Die Dogtertjie met die Engel-Glimlag

Daar is twee dinge wat julle behoort te weet omtrent Bettie. Eerstens, toe hierdie wonderlike ding gebeur het, was sy net agt jaar oud. Tweedens, haar glimlag was "soos die van 'n engeltjie." En dit moes seker 'n baie lieflike glimlaggie gewees het.

Maar daar was nog iets omtrent haar wat julle behoort te weet. Sy het baie graag "sendingwerk" gedoen, soos sy dit genoem het. By elke geleentheid wat sy gekry het, het sy in die strate van die stad waar sy gewoon het, gegaan om traktate en blaaie en Bybeltjies uit te gee wat vertel het van die liefdie van Jesus. Sy het so lieflik geglimlag vir die mense dat hulle nooit geweier het om 'n traktaat van haar te neem nie. Sy was so opgeruimd en vriendelik dat hulle nie kon help om een te neem nie.

Toe sy weer een Sondagnamidag glimlaggend besig was om haar "sendingblaae" uit te gee, het sy skielik iets gesien wat haar vir 'n oomblik baie bang gemaak het. 'n Man het waggelend na haar toe aangekom met die sypaadjie. Hy was dronk!

Die meeste dogtertjies - en sommige seuntjies ook - sou sekerlik weggehardloop het van 'n dronk man af. Maar nie Bettie nie. Sy was 'n dapper dogtertjie. Sy was besig om sendingwerk te doen vir Jesus, en sy sou nie weghardloop nie.

Ewe dapper het sy na die dronk man gegaan en hom een van die evangelies in sakformaat aangebied. Hy het gaan staan en na haar gekyk.

"Mag ek hierdie boekie aan u gee?" het sy gevra.

"w-w-w-waater boekie?" het hy nors gevra.

"Hierdie boekie," het Bettie gesê, en dit so gehou dat hy dit kon sien.

"En dit sal u baie goed doen, meneer."

Die dronk man wat nou gestaan en kyk het na die lieflike ou gesiggie en glimlag, het die boekie geneem.

"H-h-hoeveel kos dit?" het hy hikkend gevra."

"O, niks nie, meneer," het Bettie gesê. "Ons vra niks daarvoor nie. Ons gee dit aan u om te lees. En regtig, dit sal u baie goed doen."

Die arme man het die boekie in sy sak gesteek. Bettie het verder geloop, en vir 'n oomblik het die man daar spraakloos gestaan. Toe het hy ook weggestap. Maar hy kon daardie dogtertjie nie uit sy gedagte kry nie. Daardi engelglimlaggie het hom bekoor.

Na 'n rukkie het hy die boekie uit sy sak gehaal en begin lees. Dit was die Evangelie van Johannes. Hy het dit gelees en gelees, en waar hy gelees het van die liefde van God vir die armes en die sondaars, is sy hart aangeraak.

"So lief het God die wêreld gehad," het hy gelees, "dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."

Ook het hy hierdie heerlike belofte gevind: "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." Joh. 14: 13,14.

Toe het hy verder gelees: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in Ewigheid." Verse 15, 16.

Eindelik het hy sy oë hemelwaarts gerig en God gevra om sy sondes te vergewe  en hom te help om beter te lewe.

Hy het tot bekering gekom en is later gedoop. Presies een jaar later nadat hy Bettie ontmoet het, het ek hom ontmoet. Hy was toe 'n diaken van 'n groot kerk in Kalifornië. Hy het my vertel dat hy daardie dag toe Bettie vir hom geglimlag het, sonder werk, sonder tuiste, en sonder geld was - hy het niks gehad nie.

Vandag is hy gelukkig en voorspoedig, en daar is in al sy behoeftes voorsien. Was dit nie 'n mooi ding wat Bettie gedoen het nie! Daar sal eendag 'n pragtige ster in haar kroon wees omdat sy 'n siel na Jesus gebring het!

Mag God alle dogtertjies, en ook alle seuntjies seën wat "sendingwerk" soos hierdie doen.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell