# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Drie Kaalkoppe eet tesame

'n Drie-eenheid kaalkoppe sit rondom die tafel. Die ligte van die restaurant gloei metaalagtig op die kaal gepoleerde krone. Dit laat dink aan eierdoppe, oopgekraak tot monsteragtige misgeboortes van drillende wange en monde. Die lywe van die kaalkoppe is enorm en geswolle bo die drie pare verdwergde beentjies wat hongerig  onder die tafel trappel. 

'n Lang skraal kelner in 'n swart aandpak bedien hulle met al die geregte wat hulle verlang. Hul veelvoudige kenne flap op en af terwyl hulle die vleis met vratige haas afwerk; en as hulle glase wyn lig na hul monde wat rooi en gretig onder hul bolagtige neuse oopgaap, verdwyn hul oë in die voue van hul wange. 

Die skraal kelner bedien hul swyend. Gereg na gereg bring en plaas hy voor hulle. Hy toon geen emosie voor sy kliënte nie; maar ander mense in die restaurant is verbaas oor die etery van die drie kaalkoppe, en verlaat hul eie tafels om in 'n kring om die drie eters te kom staan. 

Die drie kaalkoppe swaai op en af in die woeste vaart van hul eet. En terwyl hulle al vinniger eet, kwylend van ongeduld voor hulle vliegende hande hul monde vol kan prop, gebeur 'n vreemde ding: Sodra 'n nuwe bord voor hulle neergesit word, neem die inhoud daarvan menslike vorms aan: arms, bene, borste van maagde, en selfs 'n kinderhofie, rosig gekook. Die omstaanders hyg  van walging, maar die drie kaalkoppe gewaar daar niks van nie. Hulle eet met onstellende wellus, en vergeet selfs om die strome vet wat oor hulle wange loop, af te vee. Hulle gun hulleself geen verposing tussen elke nuwe stuk mensvlees nie; hulle monde maal sooos groot vleismeulens. Die dun, swygende kelner is altyd betyds met die volgende gereg. Maar die drie kaalkoppe skyn verblind te wees van hul duiselende inspanning en al die sweet wat in hul oë tap; hulle kan nie langer die kring toeskouers onderskei van die geregte wat die kelner bring nie. Een kaalkop begaan die fout om 'n jong meisie vir 'n saggekookte hoender aan te sien, en, terhyl hy sy vurk in haar steek om haar op die bord te lig, skeur hy haar lid van lid. Die tweede kaalkop kap die boonste helfte van 'n man naby hom netjies af; die derde maak sy mond wyd genoeg oop om 'n skreeuende vrouehoof met een hap af te byt. Die toeskouers vlug in afgryse en die restaurant loop leeg.

Die drie kaalkoppe gaan waansinning voort met hul maal. Hulle hande vlieg links en regs om hul kwylende monde te voer. Hul oë verdrink onder die bulte van hul wange; hulle kan die borde vleis wat die kelner aandra, nie langer raaksien nie; hulle byt hulle eie vingers af en skeur groot stukke uit mekaar se lywe. 

Die tafel en die stoele tuimel neer en die eetmaal word in stuiptrekkende wanorde op die vloer voltrek. Die liggame verdwyn in die newelende warreling van die monde. Niks bly oor op die vloer nie, behalwe die drie kaalkoppe glimwit soos doppe van oopgekraakte eiers. 

Dan vee die kelner die vloer. Hy gooi die drie kaalkoppe in 'n vullisblik waar hulle soos drie verrotte pampoene lyk. Hy dek die tafel swyend vir die volgende dag se maal. 

Jan Rabie

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7