Die Judasbok

daleen matthee

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

Kinders is vloeksels! woed dit uit haar uit. Sy skuur met drif die aluminiumteepot blink en spoel die skuursand af in die sinkband by die hoek van die huis.

Vloeksels!

Langs die huis staan die motor waarmee hy gekom het: Karel, haar enigste seun. Om die  hoeke van die ander Kleurlinghuisies, 'n ent daarvandaan, loer groot en klein soos dasse uit skeure na haar kant toe.

"Loop lê!" skree sy en sien hoe die kinders spaander. Op Wolwedans se werf loop almal lig vir ou Bet se tong en lang karwats. 'n Onheil ruik sy van ver af uit en niemand wat al onder haar karwats moes deurloop, sal haar ooit weer daarna geringskat nie.

"God, gee my krag lat my hart net hou," bid sy kliphard by die watertenk.

Langs die tafel in die koel voorhuisie sit die deftige man en wag. Hy besef dat hy 'n fout gemaak het, dat hy nie moes kom nie. Hy moes by sy oorspronklike plan gebly het en net geskryf het. Maar toe kom die finaliteit en saam daarmee die begeerte om self op Wolwedans te kom groet. Ná tien  jaar.

So ontsettend baie het met hom gebeur in dié tien jaar dat dit hom geskok het toe hy hier aankom en skielik besef dat die jare hier nie verbygegaan het nie. 'n Nuwe tapyt op die vloer, nuwe buffet en nuwe koppies op die rak, 'n gradedagfoto van hom teen die muur, maar nie verandering nie.

By die deur uit. Anderkant die klofie in die sondagmiddagstilte staan Wolwedans se opstal nog net so groot en wit en onbereikbaar ver in anderland.

Een ding troos: dat hy Lillian nie saamgebring het nie. sy het aangehou om saam te kom, maar hy het dit nie verstandig geag nie en haar afgeraai. Nou is hy bly. Hy het vergeet hóé eenvoudig sy mense werklik is. Miskien het hy deur die jare sy ma in 'n  mate begin idealiseer; die abstrakte onthou: haar krag, haar veililgheid as die donder blinkslaan oor Wolwedans se ysterklip. Maar ook  haar hande in die spierwit deeg wat netnou oondkoek word met stroop daaroor.

Hy het vergeet dat sy eintlik Ou Bet is, wat die duiwel nie vrees nie en om wie se huis selfs die hoenders versigtig skrop.

Hy skaam  hom vandag vir haar - vir haar groot, vet lyf, haar kopdoek en haar onbeskaafdheid, die skurfheid aan haar voete. En hy skaam hom vir sy suster, Nossie, wat voortandloos uit die kamer sit en loer.

Hy moes nie gekom  het nie. Of miskien het hy juis hierdie foltering nodig om die laaste twyfel uit sy hart te haal.

Ou Bet kom donker by die voordeur in.

"Jy moet oorkant by die opstal loop groet," sê sy kortaf.

"Hoekom?"

"Uit ordentlikheid uit"

"Ma het teen hierdie tyd seker reeds vir al my gebrek aan ordentlikheid ingewerk?"

Here, versoek ou Bet dringend in haar binneste, sit 'n wag voor my mond, dis my vlees en bloed.

Sy haal die bêrekoppies van die rak af en spoel dit uit in die kom.

Eintlik het sy twee seuns grootgemaak: haar eie en die een oorkant by die opstal, Niel. Toe hulle klein was, het hulle soos broers gespeel, saam slae gekry, saam kos gekry. Niel is die oudste en is eerste skool toe. 'n Jaar later is Karel ook skool toe. En Karel se rapport moes ook opstal en by mies Hettie verby. In die groot klasse het hulle albei gesukkel met die Engels en mies Hettie moes naweke inspring en help.

Niel is universiteit toe om dokter te word en Karel was in Matriek toe mies Hettie en die baas die Vrydagaand tot hier gekom het. Simon het toe nog geleef.

"Simon en Bet," het baas Piet gepraat," wat is Karel se planne vir volgende jaar?"

"Nee, hoe sal ons dan nou sê..." Arme Simon het ook maar nooit geweet hoe om te sê nie.

"Hoe meen baas Piet nou?" het sy toe gevra.

"Ons het eintlik kom sê, Bet, as Karel verder wil studeer, is daar niks wat in sy pad staan nie. Wolwedans sal daarvoor sorg."

Karel het vir prokureur gaan leer. Niel het vakansies teruggekom opstal toe. Karel het net die eerste jaar nog gekom.

"Ek het die hele pad van Johannesburg af gekom om Ma te kom groet," sê Karel.

"Jy het nie bietjie lank gewag voordat jy kom groet het nie?"

"Ek vertrek volgende Woensdag oorsee. Vir goed."
"Oorsee?"

"Ja, Ma. Ek is aan 'n meisie met die naam Lillian Stewart verloof, ons gaan daar trou en daar woon."

"Hoekom het jy haar nie saamgebring nie, of reken jy ons is te eenvoudig vir die stadsmeisie?"

"Sy is Wit."

"God!" skrik ou Bet amper 'n koppie flenters. "Is jy mal?"

 "Nee, Ma. Sy is 'n vrou en ek is 'n man. Ons erken slegs ons mensskap, nie die kleur van ons velle nie."

"Kak! 'n Voël is 'n voël. Die groot law sê die spreeu en die mossie sal saam sit op die tak, maar nie in dieselle nes broei nie. en die skaap en die bok sal op dieselle land wei, maar nie saam gaan lê nie!"

"Ma, asseblief..."

"Ek mog net stennerd vier se gelerentheid hê, maar ek nie onnooslik nie; ek en mies Hettie praat baie oor dinge. Baie. Ek sê jou."

Hy kry sy humeur met moeite beteuel. "Ek het die hele pad van Johannesburg af gekom om Ma te kom groet en nou maak Ma met my rusie uit Ma se onkunde uit. Ek gaan na 'n land waar daar nie Wit- en Swartmense woon nie, waar daar nie Wit en Swart en Bruin wette is nie, maar waar die mens méns is en die wette vir almal tel."

Lat my hart net hou vandag, Here! skree ou Bet in haar binneste en skink die tee.

Wolwedans het ou Bet nog selde sien huil. Op hierdie dag sou hy haar weer sien huil: oor iets wat soos 'n adder lê en wag in die voetpad waar sy nie beplan het om te loop nie...

"Jy kan vlug tot op die maan, Karel Philander," sê sy en pluk haar voorskoot reg. "Die groot lawe sal vir jou inhaal, want wit en swart is 'n ander ding. Wit en swart word in die hart gedeel en ek is wit en jy is swart."

"Ekskuus? Wat sê Ma daar?"

"Ek is wit omlat my hart wit is en jy is swart omlat jou hart swart is. Wat se nasie is hierdie Wit meisie wat haar aan jou staan en verloof het?"

"'n Suid-Afrikaner wat oor Wit en Swart voel soos ek daaroor voel. Sy is Engelssprekend en 'n onderwyseres."

"Ja. Van haar soort het ek ok al gelees in die koerante. Haatsaaiers, opstokers, so swart soos die nag, sê ek jou."

"Ma!"

"Ek praat nou. Jy kan nie van die groot law wegkom nie en die groot law sê jy moet jou vyand liefhê, vir hulle bid! En voorlat ons dít nie geleer het nie, sal ons in onse moer in bly tot in lengte van dae, sê ek jou! En kan ons oorsee vlug, Wit meisies trou in die hoop lat van die skynsel op ons sal val..."

"Ma is lewenslank op Wolwedans voorgepraat."

"Wat weet jy van Wolwedans? Ek sal j ou sê van Wolwedans solat jy daan annerkant die water sal onthou lat ek jou gesê het, solat jy jou Wit meisie ok van Wolwedans kan vertel. Op Wolwedans is daar net drie witmense: ek, ou Bet, mies Hettie en baas Piet. Die nuwe voorman dink hy's wit, maar hy issie. En wie rule op Wolwedans? Ons. Die drie wat wit is. By wie kom klop die anner as die kleintjie moet kom? By ou Bet. By wie kom klop hulle as daar siekte is? By ou Bet. Wie ry hulle dokter? Baas Piet. By wie leen hulle geld? By mis Hettie. Wie maak die rok vir die aanneming en die trou? Mies Hetttie stik en ek vat die naald. En vir wie steek hulle in die rug? Vir baas Piet. En by wie steel hulle uit die kas? By mies Hettie. En vir wie skel hulle onner die rokke uit as hulle dronk is? Vir ou Bet. En wie bid vir hulle? Ons. Dis waar die verskil tussen wit en swart lê."

"En met wie se sweet is Wolwedans omgeploeg?"

"Wat anners kon hulle doen? Teach?"

"Hulle moes werk vir 'n broodloon en 'n bottel wyn."

"Wolwedans se mense kry goeie geld en vleis vir die pot. Die wyn koop hulle self, en hulle is gelukkiger as jy."

"Ma verraai Ma se eie mense."

"Wát? Ek verraai geniemand nie, dis jy wat jouself verraai, sê ek jou."

"Ek skaam my vir Ma."

"En ek skaam my voor God vir jou."

"Ma se god is 'n Witmansgod."

Dit moes hy nie gesê het nie. "God is 'n God vir almal en almal is sy kinders. hoor jy! Hy's vir die Swartes net so lief as vir die Wittes en ons moet word soos Hy. en nou kom staan jy hier met jou klas kak van Witmansgod? Het ek jou só grootgemaak? Die onkruid groei van dieselle son en jy kom sê vir my dis 'n Witmansgod?"

"Ek dink nie Ma het 'n idee van wat in die wêreld aangaan nie," sê hy moedeloos.

"Ek weet alles wat in die wêreld aangaan; ek sien die wêreld iedere aand op die televisie."

"Ag so? het baas Piet vir julle televisie gekoop?" vra hy sarkasties. "Ek neem aan hy staan in die skuur en julle sit op die bale en klap hande dat dit bars."

"Ja. Ek en Nossie loop iedere aand en Vrydagaande gaan die karwats ook saam. Dis gewoonlilk die aand wat die anner hulle eie show wil opsit."

"Dit skok my tot in my siel dat Ma nog vir die Witman kan opkom. dink Ma hy wys vir julle alles wat aangaan oor sy televisiediens? Van die werklike hartseer en ellende van die stedelike Swartman en Kleurlinge?"

"Ek bid iedere aand vir dié wat so swaar kry. Ek vra die liewe Here om vir hulle ysheid en leiding te gee, solat hulle kan ophou teel soos konyne en suip soos visse, solat hulle kan ophou om die Witman te haat, maar end van die maand Witman se welfare te gaan kollek. En ek bid vir die Witmense met die swart harte wat alles opfok en ek vra die Here om aan  hulle die meeste wysheid te gee. En ek bid vir onse Eerste Minister."

"Onse Eerste Minister? Wat waar is?"

"Die Eerste Minister van onse land."

"Ons het vir geen minister gestem nie, ons het nie 'n minister nie, ons hét nie 'n stem nie!" Die woede bewe in sy hande as hy 'n sigaret uithaal en opsteek.

"Ek het vir hom gestem," sê ou Bet.

"Wát? Gestem? Waar?"

"In my hart. Stem op pampier het die wêreld nog nêrens gebring nie, ieder verder in sy moer in."

"Ma is gebreinspoel."

"Wat beteken dit?"

"Los dit. Kan ek nog tee kry?"

Sy skink die tee en gooi nog melk in die bekertjie. Ná 'n rukkie sê sy: "Karen, daar is 'n anner ding wat Ma jou darem baie graag wil vra."

"Vra."

"Al die ellende in die stede onner onse mense, hoe't dit dan gekom dat jy met 'n tie om  jou nek sit en met 'n grênter kar as baas Piet ry?"

"Ek wens Ma wil ophou met die gebaassêery!"

"Ons ouvolk sê nog baas; die nuwe is die menere en mevroue, en ek moet sê dit klink vir my baie mooi en reg. Mies Hettie het ook al met my gepraat oor die ding, maar ek sê haar ek sal maar so doodgaan ... Ek sien jy't toe nie my vraag geantwoord nie."

"Ek het nie antwoorde vir Ma se skynbestaan nie. Ma is 'n boereboetie en Ma is blind."

"En die Wit meisie, wat is sy?"

"Ek het dit nie teen die Engelse nie; dis die sogenaamde Afrikaner wat my bloed laat kook en die ondergang van ons mense was en steeds is!"

"En nou trou jy met 'n Witte omlat dit teen die Afrikaner se wet is?"

"Ek sal die Afrikaner wys dat hy my nie in sy land kan hou nie en ook nie onder sy wette nie!" 

"Die Woord van God sê dytlik en uitdruklik lat ons moet vergewe en lat ons moet bid solat ons mekaar kan liefhê. Ons moet die Witman met die swart hart lilefhê, en vir hom bid totlat sy hart wit is. Haat en spite het nog nooit iets reggemaak nie en dit sal ok nie. Trou met 'n witvel sal ok nie jou hart wit maak nie en hare ok nie."

"Wolwedans het Ma voorwaar leer dans op hul wysie."

"Wie het jou laat leer?"

"Ma het daarvoor gewerk."

"Nie 'n pennie is van my loon gevat nie."

"Nie direk nie."

Nossie kom skaam-skaam uit die k amer uit en loop verby buitetoe.

"Kan Ma nie kyk dat Nossie tande kry nie?" vra hy.

"Los jy Nossie se tande uit. As die geld daar is, sal die tande ook daar wees."

"Ek neem aan sy werk in die opstal se kombuis."

"Sy wou nie leer nie. Mies Hette is goed vir haar en leer haar allerhanne fênsie kos maak, solat sy eendag in 'n goeie hotel sal kan gaan kook. Mies Hettie sê die kind se hanne staan vir niks verkeerd nie."

Hy staan op en loop om die tafel. Op die buffet staan die gekleurde hoenderhaan wat hy in sy matriekjaar vir haar gekoop het, in die middel van 'n gestyfde kleedjie. Hy voet meteens skuldig. Hy moes haar geldelike hulp gegee het, haar weggekry het van Wolwedans af voordat sy haar so totaal aan hulle verkoop had. Hy sal haar 'n tjek gee voordat hy gaan en sê sy moet kyk dat Nossie tande kry.

"Ma was innie koerant," sê Nossie toe sy terugkom en sku gaan skuil in die skemer vuurherd.

"Ag so?" probeer hy belangstel.

"Ja," sê ou Bet trots. "My petret was innie koerant. ek het mos self vir my die ekstra vertrek aangebou. Baas Piet het vir my die vorm geleen en die sement gekoop, die klôgoed het die sand aangesleep en ek het die stene gemaak en gebou. Reken, en toe ek klaar is, toe kom die vrou van die dorp af hier aan en vat my petret. Die klomp sonsitters hier anderkant het nou ok kastig begin stene maak; snags steel hulle van mekaar se stêks en dan baklei dit eers weer 'n paar dae totlat ek met my karwats onner hulle inklim... Ou Moos het darem al fluks aangebou."

"Ai, Ma..."

"Ek sêjou glad wildvreemdes groet my nou op die dorp vanlat my petret innie koerant was."

"Ja," sug hy. "Maar in die oë van die Wit Afrikaner bly Ma net meid. Die oomblik dat Ma Ma se voet oor die streep sit wat húlle getrek het,  is Ma vyand, opstoker, kommunis en is Ma gemerk soos ek. En ek kan aanloop, maar Ma nie."

Hy moes die ding nie só gesê het nie. In ou Bet se hart lê 'n trots waaraan sy nie laat raak nie. Deur niemand nie. Dis 'n trots so fiet soos Wolwedans se kranse. En hy sien dit in haar oë en in haar skouers kom, en besef dat hy onverwags aan 'n regte snaar gepluk het.

"Ma se redding was nog altyd Ma se trots en Ma se verstand," volg hy vinnig sy voorsprong oop. "Ma het vir Ma 'n grensposisie bekom en slim aan  hierdie kant van die grenslyn gebly. Ma het Ma se leierseienskappe verwerk tot 'n soort tirannie op Wolwedans se werf en só die Wit boer en sy vrou se guns gewerf en saam daarmee Ma se trots beveilig. Ek glo dat hulle Ma seker reken; die Afrikaner had nog altyd tyd vir 'n goeie Hotnot wat ja baas en nee baas en duskant die skeidslyn bly."

"Dis 'n lieg! Wat van al die plekke waar onse mense al kan kom? Dink jy ek sit hier en weet van niks? Dink jy koerante kom nie tot hier nie?"

"Ma glo al die halwe waarhede. Ons kan kom waar húlle sê ons kan kom; dis 'n kwessie van die lyn verlê. En ek daag Ma uit om te kyk hoe ver Ma oor daardie lyn kan kom!"

"Ek kom oralster waar ek wil kom."

"Ma bedoel: Ma kom oral aan hiérdie kant waar Ma wil kom."

"Sal ek jou sê hoeveel respekte die Witmense vir ou Bet het?" stry sy trots en tree onwetend nadat aan die slagyser wat skielik in sy gedagtes begin vorm kry. "Toe ek hier gelê het en so siek was lat ek my kop nie kon oplig nie, het Niel my uit die Kaap uit kom haal, my saamgevat en self gaan oopsny en reggemaak en weer toegemaak ok. En weet jy wat het hy in daardie grote hospitaal voor almal van my gesê? Die nursie het rof met my gewerk en hy het dit gesien. Toe sê hy vir haar sy moet mooi met my werk, want ek sy ou Bruin moeder. Hy't nie vergeet wie se hande hom help grootmaak het nie. My eie kind  het nie eens geweet ek is in die hospitaal nie."

"Ma weet goed Niel se brief het eers by my uitgekom nadat Ma al by die huis was."

"En dit het my nie 'n pennie gekos nie."

"Vir Niel ook nie."

"Jy praat van jou Wit broer!"

"Hy is nie my broer nie, hy is 'n Wit Afrikaner!"

"Maar jy praat soos hy en jy kom uit dieselle grond as hy!"

"Ek sal die Wit Afrikaner haat tot die dag dat hy uitgesterf het!"

"Mag God jou genadig wees soos ons genadig moet wees. Vervloek 'n man en jy maak sy wapens skerp, sê mies Hettie; bless hom en jy maak sy wapens stomp. Ons moet vir mekaar bid en mekaar liefhê, anners gaan die wapens nie stomp kom nie en anners gaan onse mense ok nie bo uitkom nie!"

Hy moet haar terugkry by haar trots, haar daar laat knak, besluit hy. Die afstand tussen liefde en haat is 'n vuurvonk se spat...

"Ma sê die mense van Wolwedans en die mense op die dorp respekteer vir Ma?" slee hy die slagyster versigtig nader.

"Ja!," sê sy trots.

"Ma dien oppie society ok," spog Nossie uit die vuurherd. Hy ignoreer haar.

"Glo Ma dat Ma vir hulle 'n mens is soos enige Witmens?"

"Ja."

"Sal hulle Ma leed wil aandoen?"

"Nee. Geniemand met 'n wit hart sal iemand leed wil aandoen nie."

"En hoeveel van hulle, reken Ma, het nou so danig wit harte?"

"Die meeste van dié wat ek ken," sê sy met die grootste oortuiging - en verskuif presies na die posisie waar hy weet hy haar in die yster gaan laat trap en waar hy haar wil hê.

"Nou goed, Ma," sê hy sag. "Bewys aan my dat Ma 'n gerespekteerde mens is en ek trek elke woord wat ek teen die Afrikaner gesê het, terug."

"Hoe meen jy nou lat ek jou moet bewys?" vra sy ergerlik.

"Bewys hoe wit hul harte is."

"Hoe moet ek dit bewys?"

Skaakmat.

Hy kyk op sy horlosie. "Dis Sondag ... Oor 'n uur of 'n uur en 'n  half gaan hulle vir die aanddiens kerk toe op die dorp. Die Wittes, die Afrikaners. Gaan trek Ma aan, dan neem ek Ma tot by die kerk en dan gaan Ma in en woon die diens saam met hulle by."

"Is jy van jou kop af?"

"Ma sê dan..."

"Se moer! Dink jy ek weet nie wat in die wêreld aangaan nie? Dink jy koerante kom nie tot oop Wolwedans nie?"

"Maar hierdie mense reken dan vir Ma. Hulle respekteer Ma en hulle ken Ma dan so goed. Die gevalle waaroor in die koerante geskryf, was vreemdes vir mekaar."

Buite word dit dynserig en die skemerte kom vroeër die voorhuis in. In ou Bet se hart gaan lê 'n onrus. Die dringendheid in haar kind maak haar bang; dis of 'n krag uit sy lyf uit kom en in sy pikswart oë 'n vuur word.

"Ma sê mos die meeste van hulle se harte is wit. As Ma dan vanaand saam met hulle in die kerk gaan sit.."

"Dis nie my plek nie en dis nie onse kerk nie!"

"God is almal se God en dis tog Sy huis."

"Hoe praat jy dan nou met my tong? Of praat jy soos die wind, nou hier en dan daar?"

"Nee, Ma. Al wat ek vra, is dat Ma aan my moet bewys dat Ma vir hulle mens is. Bewys dit aan my en aan Nossie en bo alles aan Ma self." Sy beste kaart bêre hy nog eers...

In ou Bet torring 'n verset los: 'n kind van haar só met haar maak? Haar openlik in die sloot wil staan en stamp? "Dis nie my kerk nie," stry sy. "Voor ons saam in een kerk kan sit, lt daar baie bid vir ons voor, baie vergiffenis en baie vee voor onse deure.

"En wat van die vuilis voor húl deure?"

"Ons mag nie mekaar daarmee gooi nie. Verstaan jy dan nie wat ek sê nie! Dié met die wit harte moet bid vir dié met die swart harte en hulle in hulle se moer in regkry met die liefde saam!"

"Sê liewer Ma is bang!" gooi hy die troefkaart vol in haar gesig. "Bang om oor die lyn te trap wat die Witharte vir Ma getrek het omdat Ma diep in Ma se hart net so goed soos ek weet dat hulle almal vuilgoed is!"

"Wat sê jy?"

"Ek sê Ma is bang om in hul kerk in te stap en te bewys wie reg is: ek of Ma."

Niemand sê vir ou Bet sy's bang nie. Niemand nie.

"Hulle sal my nie uitsmyt nie. Nie vir ou Bet nie," sê sy trots.

"Bewys dit!"

Daar is 'n stil vreesloosheid in haar as sy hom antwoord: "Ek is nie bang nie. Ek sal my rok gaan aantrek en ek sal gaan en jou wys."

Dis soos die dag toe hulle kom skree het daar dryf 'n kind op die dam. Jou voete hardloop, jou lyf haal asem, maar jou kop sê: moenie dink nie, hardloop net. Jou hart weet dis jóú smart wat daar dryf, maar jou kop vat nie die dink nie, jy hardloop het.

"God, my Vader, hou vas my hand solank ek hierdie beker drink vanaand," bid ou Bet in die kamer. "Gaan my vooruit en berei vir my 'n plek solat ek nie voor hom val nie. En lat mies Hettie en baas Piet nie vanaand kerk toe gaan nie. Spaar hulle dit. Amen"

Sy ry in stilte saam. Dis soos die dag toe hulle geskree het daar dryf 'n kind op die dam. Jissus. 

By De Kock se winkel en die eerste stopstraat skree sy: Draai om! Maar haar mond gaan nie oop nie en die woorde kom nie uit.

Dis al laat en stil om die kerk.

"Belowe my net een ding, Ma: nie agter teen die muur nie, maar reg in die middel."

Haar mond is droog; sy sukkel om die kardeur oop te kry.

Haar voete klim die treetjies ... haar kop is duiselig soos wanneer sy die hoëbloed kry ... haar lyf stoot die swaaideure wat na binne lei oop ... haar ore suis. Here!

Sy kyk nie links nie. Sy kyk nie regs nie.  Haar voete vat haar in die paadjie af tot waar haar liggaam móét gaan sit.

Here, help my dan!

Sy hoor nie die druising wat deur die kerk gaan nie. Deur die newels van haar vrees, reg voor haar, sien sy die goue letters: GOD IS LIEFDE.

Voete skuif, mense kug, die gemeente is in beroering.

Sy ruik haar eie angssweet om haar in die lug en hou haar oë brandend op die goue letters. Uit die toring galm 'n enkel slag en daarna is dit stil.

Sy sien hom kom uit die hoek van haar oog. Die koster.

"Ou Bet," fluister hy, "die kerk is vir Witmense, jy sal moet loop."

Die kerk is nou amper onstigtelik van beroering. Iemand sê: Los haar! Nog een en nog een en nog een...

Jy weet dis jou smart wat op die water dryf, maar jou voete vat jou lyf... Hande raak haar aan, maar sy kyk nie links nie en sy kyk nie regs nie.

My God, waarom het jy my verláát?

Onder die trap wag Karel vir haar.

Dalene Matthee

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play