# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Hulp Lokomotief

'n Tyd gelede was ek op een van daardie sneltreine wat van San Francisco in Kalifornië loop na die binneland. Vir die eerste gedeelte van die reis was die aarde plat en oninteressant, en ek het baie vaak begin voel. Maar net voor ek aan die slaap geraak het, het ek iemand oor die luidspreker hoor praat - dis iets wat al hierdie sneltreine het. 

"Ons nader nou die berge", het die stem gesê. "Binnekort sal hierdie trein sowat 110 voet op elke myl styg. Omdat een lokomotief te swak sal wees om die trein uit te trek, sal ons netnou stilhou om 'n hulp-lokomotief aan te haak."

Ek was nou helder wakker, want ek wou sien hoe'n hulp-lokomotief lyk.

Na 'n rukkie het die trein stilgehou. Daar was 'n stamp toe die hulp-lokomotief aangehaak is, en toe het die trein verder begin klim. 'n Mens kon voel dat die trein nou sommer baie makliker klim. As ek nie die berge deur die venster kon sien nie, sou ek glad nie geweet het dat die trein klim nie. 

Die spoor het baie kronkels gemaak - soms amper 'n hele sirkel, so steil was die berg. By die kort draai kon ek af en toe die hulp-lokomotief sien. Dit was voor by die ander lokomotief en het saam met hom getrek, en so het hulle saam die trein getrek.

Toe ons bo kom, is die hulp-lokomotief weer afgehaak, en dit is terug om die volgende trein te gaan hlep die steilte uit.

Toe het ek begin dink aan al die klein lokomotiewe in mense se huise, wat so baie kan help as hulle maar net wil.

Lokomotiewe? sê julle. "Ons het nie lokomotiewe in ons huis nie."

O, ja, julle het! Grotes en kleintjies. En van die groot lokomotiewe is natuurlik Pappie, en wat 'n swaar vrag moet hy trek om die geld te verdien vir die huishouding. Hoe swaar is dit soms om die swaar trein van die behoeftes van die gesin te trek die steil berge uit! 

Dan is daar nog 'n lokomotief, Moeder; hoe swaar moet sy werk om die huis aan die kant te hou, die kos te kook en vir die gerief van almal te sorg. Soms met sy baie steil berge uitklim. 

Dan is daar die kleiner lokomotiewe wat so baie kan help as hulle maar net wil. Hulle het verskillende name soos: Billy, Jerry, Mollie, Clarice, of Helen. As hulle maar net wil, kan hulle met hulle stoom op gereed staan om te help by die steil plekke. Wanneer hulle sien dat Pappie of Mammie baie swaar trek, en moeg is, kan hulle hulleself aanhaak en help trek, en dit sal die werk baie ligter maak, sal dit nie? 

Ek kan aan baie maniere dink waarop sulke hulp-lokomotiewe die groot lokomotief kan help met die vrag; julle kan ook seker aan baie maniere dink.

Hulle kan hout of steenkool in die kombuis bring om mee vuur te maak. 

Hulle kan help met die skottelgoed, en met die huisskoonmaak. 

Hulle kan beddens opmaak - ten minste hulle eie bed. Hulle kan die bad en die wasbak skoonmaak. Hulle kan die tuin skoonmaak. Hulle kan skoene skoonmaak. En hulle kan help met die wasgoed en strykgoed. Ja, daar is seker monderd maniere om die groot lokomotief te help teen die swaar berge van die lewe uit as hulle maar net wil. 

Ek wonder of julle hulp-lokomtiewe is? Ons sal Moeder moet vra; sy sal weet.  

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell