# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Huis met die gloed

Dit was Kersaand, en arme Johan, uit die huis verdryf deur 'n wrede stiefvader, het afgemat in die sneeu gestap. 

Sy verflenterde baadjie was papnat van die smeltende sneeu. Sy skoene was oud en stukkend, en sy voete was dood van die koue. Sy pet wat hy diep oor sy voorhoof en ore getrek het, het 'n groot skeur gehad waardeur hy die bytende koue wind gevoel het. Dit was baie donker, en troosteloos het die arme seun deur die sneeu geplof.

"As ek maar net 'n skuilplekkie kan kry, waar ek weer sal warm word en waar die wind nie so snydend sal wees nie," het hy in sy enigheid gedink. "As iemand my maar tog iets wil gee om te eet, en iets warms om te drink!"

Hy het aan die soom van 'n bos gekom, en daar onder in die vallei het hy 'n klein dorpie gesien, met 'n hele paar groot huise teen die berghelling. Daar was ligte in die vensters, en uit baie skoorstene het daar rook geborrel, die swart lug in. 

Skielik het daar groot hoop in Johan se hart ontbrand. Daar, in daardie mooi huise, sal seker tog iemand wees wat vir hom sal sorg. So seker was hy dat sy moeilikhede spoedig tot 'n einde sou kom, dat hy sommer baie vinniger begin stap het. 

Eerlank het hy voor 'n pragtige groot huis gekom. In baie van die vensters was daar ligte, en bokant die voordeur het daar 'n helder lig gebrand. "Mense wat in so 'n mooi huis woon," het hy gedink, "moet seker baie ryk wees, en hulle sal maar te bly wees om 'n arm, honger seuntjie soos ek te help."

Sonder vrees het hy na die voordeur gestap; hy het op sy tone gestaan en kon net die klokkie bykom. Hy het die knoppie gedruk, en daar was so 'n geraas binnekant dat hy bang geword het. Maar hy was nog banger toe die groot deur oopgaan, en 'n groot man in baie mooi klere hom aanstaar. 

"Het jy die klokkie gelui?" het die trotse kelner fronsend gevra.

"J-a-a-a," het Johan gestamel, "e-e-ek is verkluim en is honger, en ek het gedink -"

"Dit is Kersaand," het die kelner kortaf gesê, "en die huis is vol gaste. Ek is jammer, maar ons kan nie nou deur jou lastig geval word nie. Goeienag." En hy het die deur toegeklap. 

"O!" het Johan vir homself gesê, "ek kon nooit dink dat iemand dit sou doen nie. Maar miskien is hulle baie besig hier. Ek sal maar op 'n ander plek probeer."

Hy het toe verder gestap en al die groot huise vermy uit vrees dat die mense binne ook te besig mag wees om om te gee vir honger seuntjies op Kersaand.

Hy het weer by 'n huis gekom, en daar het hy musiek en die gelag van mense gehoor. Hier woon seker vriendelike mense het hy gedink, en hy het saggies aan die deur geklop. Maar die joligheid daarbinne was so groot, dat hy verskeie maal moes klop, en elke keer ook harder. 

Eindelik het die deur oopgegaan, en 'n jongman met 'n snaakse papierpet op sy kop, het uitgeloer. "verskoon my," het die vrolike jongman gesê, "maar hier is 'n kerspartytjie aan die gang, en ons kan nou nou gesteur word nie."

"Maar asseblief," het Johan gesoebat.

"Ek is baie jammer, goeienag!" het die jongman gesê, en ook hy het die deur toegeklap. Vreeslik moedeloos het Johan na die volgende huis gegaan, maar die mense daar het so 'n lawaai gemaak dat hulle glad nie eens sy harde geklop gehoor het nie. 

By die volgende huis het 'n ongeduldige ou man by die boonste venster uitgekyk en hom beveel om huis toe te gaan en mense nie lastig te val nie. By 'n ander huis het die mense gesê dat hy 'n ander dag moes kom; dan kan hulle hom miskien help. Maar hy het nou hulp nodig gehad. So het hy van huis tot huis gegaan in daardie dorpie, maar nêrens kon hy herberg en voedsel kry nie. 

Byna sonder hoop, en hartseer, het hy voortgestap in die nag,  en in die verte het die liggies van die dorp verdwyn. Dit het gevoel of hy sommer daar in die pad kon gaan lê en doodgaan, so moeg en honger was hy. 

Eindelik het hy weer by 'n bouvallige ou huisie gekom; so donker het dit gelyk dat hy dit seker nooit sou gesien het, as die wit sneeu dit nie so helder afgeteken het nie. Daar was 'n gordyn voor die een venstertjie, maar die lig het darem deur die skrefies geskyn. Johan het gaan staan om te besluit wat om te doen. 

Sal hy hier aanklop? 

Maar dit sal tog nie help nie. As die mense wat in daardie mooi groot huise woon, en wat die baie geld en die mooi ghoed het, nie 'n arme seuntjie kon help nie, hoe sou die mense in hierdie ou huisie dit kan doen? Nee wat, hy sal nie klop nie; hy sal die mense nie lastig val nie. Hy sal maar daar in die bos instap en doodgaan. 

Maar skielik het hy homself besin. Hy het al by so baie huise aangeklop dat dit seker nie sal saak maak as hy hier ook aanklop nie. Toe het hy uitgedraai en saggies aan die deur geklop. 

'n Oomblik later is die deur oopgemaak en 'n ou dame het versigtig rondgekyk. "My lieweland!" het sy uitgeroep. "Wat maak jy daar in die koue donker nag?"

"Asseblief-" het Johan begin. 

Maar voor hy nog verder kon praat, het sy die deur wyd oopgemaak en hom na binne getrek. "Jou arme kind," het sy gesê. "Foeitog!" Jy lyk dan so honger en koud. Jy is dood van die honger en as ek dit nie mis het nie, en papnat. Jy moet dadelik daardie nat klere uittrek. Ek sal gou weer hout op die vuur sit en die ketel opsit."

Johan het rondgekyk en gesien dat daar nie veel goed in die kamertjie was nie - nie eens 'n tapyt op die vloer nie. Die lig wat hy deur die skrefies gesien het, was dié van 'n enkel kers op die kaggel. Maar hy het nie tyd gehad om baie rond te kyk nie, want die vriendelike ou dame het gou sy nat klere uitegetrek, 'n kombers om hom gehang, en hom 'n groot bord warm sop gegee.

Toe het sy in 'n pot op die stoof begin roer. Terwyl sy daar besig was, het daar skielik iets vreemds gebeur. Sy het opgekyk. Wat, droom sy, of bedrieg haar oë haar? Die kerslig het verander in 'n heerlike, warm, helder lig, wat elke oomblik helderder geskyn en die hele ou huisie met 'n hemelse gloed verwarm het. Die onaantreklike meubels het begin skitter soos blink goud - net soos toe God sy tempel met Sy heerlikheid vervul het. 

En daardie ryk man wat daar bo teen die berg gewoon het, het gekyk en uitgeroep, "Daar skyn 'n vreemde lig in die vallei. Kyk! Mevrou Groothart se huis is aan die brand!"

Die nuus het van huis tot huis versprei, en baie gou was al die joligheid op n end, en die mense het hulle warm jasse aangetrek om te gaan kyk wat aan die gang was. Hulle het die helder lig gesien, en na die ou weduwee se huisie gehardloop om uit te vind waarom dit so gloei. Vreeslik opgewonde het hulle gestaan en kyk.

Hulle het binnekant geloer, en al wat hulle kon sien was die die ou dame daardie selfde arme seuntjie versorg wat vroeër daardie aand by hulle huise aangeklop het. Nadat die gloed verdwyn het, het hulle aan die deur geklop en verontrus gevra wat gebeur het. 

"Ek weet regtig nie," het Tante Groothart gesê, met 'n uitdrukking van groot tevredenheid op haar gesig. "Vir my was dit of 'n stem gesê het, "vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broers van my My, het julle dit aan My gedoen!"
 
Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell