# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Groot Tug

Vandat ek kan onthou, was ek en oom Aron saam. Hy het my vertel van my ouers se dood. Skool toe het hy my gestuur. Alles wat ek besit het, het van hom af gekom. Klere, speelgoed, skoolboeke die lot. 

Beter nog, ons was maats nes pa en seun, net ons twee saam. Ons het in 'n gerieflike sinkhuisie gewoon en ek het my eie kamertjie gehad. Ek was 'n prins, gemeet aan Ou Lokasie se standaarde. 

Dis toe dat tannie Sabiena langs ons intrek. Met intrek bedoel ek sy het een Saterdagmiddag haar sinkpondokkie 'n paar tree van ons s'n op 'n  gelykte gaan staanmaak. Daardie dae was trek maklik. Sy het glo stry gekry met haar buurvrou. Toe het sy 'n paar manne gehuur, haar pondokkie uit die klei en misvloer laat lig, en na 'n ander, beter staanplek gaan soek.

Vir ons klonkies was dit nogal pret. Ons moes met stokke aan die pondok slaan om vir die manne wat van binne dra, rigting aan te gee. Op hul beurt moes hulle swaai in die rigting van die geluid. Dan gaan dit "doef, doef" diekant toe, "doef, doef" daaikant toe. Ag, dit was jouwaar pret.

Miskien onbewus en uit gewoonte het ek te veel in ons huise se kant laat draai, want toe ek my om kry, was ons op die oop stukkie grond naby ons huis. "Hop, hop," skree ons daar en die trekkery was oor. Geen Stoeteford en daardie goed wat 'n mens deur jou nek laat betaal vir 'n trek nie. 

Anyhow, die trek was over en tannie Sabiena was gesettle. Soos dit goeie buurmanskap vereis, het oom Aron sy kant gebring en nie lank nie of ons was huisvriende. Dis nou ek, Oom Aron en tannie Sabiena. 

Die een ding lei mos na die ander; vriende moet mekaar help. Tannie Sabiena doen die wasgoed vir ons almal Ek gaan skep water vir ons almal by die community pomp. Oom Aron kap hout vir albei huise en tannie Sabiena maak altwee se huise skoon. Toe begin ons saam-saam eet. Soms by ons en soms by haar. Hierdie samewerking was vir my so lekker, mooi en skoon. Wat die kroon nog hoër gespan het, was die dat ons elkeen sy deel met lojaliteit en toewyding gedoen het. Die een ding lei mos na die ander. Waar my beker oorgeloop het, het oom Aron nog gekort. Was ek nie in st. III nie, sou ek die sakie miskien beter begryp het. In my diep droomslaapaande het oom Aron uitgesluip. Elke oggend het tannie Sabiena my brekfis aangedra. Ek het soos 'n prins gelewe, gemeet aan Ou Lokasie se standaarde. 

Een Saterdagoggend toe ek opstaan, hoor ek stemme in oom Aron se kamer. Toe ek fyner deur die sinkplate luister, herken ek hy en tannie Sabiena se stemme. Was ek nie in st. III nie, sou ek die sakie miskien beter begryp het. Anyhow, ek was gelukkig en stemme in ander mense se kamers pla my min.

Die een ding lei mos na die ander. Toe ek weer een Saterdag sien, het iemand anders in tannie Sabiena se huis ingetrek, want tannie Sabiena was reeds maande lank ons permanente gas in oom Aron se kamer. 

Anyhow, ek was gelukkig vir my part en 'n gas in 'n ander ou se kamer pla my min. Na 'n agt tot nege maande, het my geluk begin draai. Waar ek eers die prins en die alleenheerser was, het tannie Sabiena koningin van die huis geword. "Doen dit, doen dat. Nie so nie, ook nie so nie", my prinslike lewe was aan die verbrokkel.

Die een ding lei mos na die ander. Ook oom Aron se lewe het begin verander. Tant Sabiena was baas oor ons altwee. "Waar is die geld, Aron? Ek wil die hele pay hê. Waar was jy, Aron? Jy kom nie weer so laat." Waar oom Aron elke Saterdag net 'n biertjie met sy vriende gedrink het, het hy nou tydsaam, elke dag, bottels wyn leeggemaak.

Een Saterdag toe ek en oom Aron alleen was, kon ek my smart nie meer bedwing "Oom Aron, wat gaan aan? Wat is aan die gebeur met ons?" het ek getreur. Tot my verbasing het oom Aron ook op my skouer gehuil. Na die geleun aan en getreur, het oom Aron sy besluit geneem. "Ek is lief vir die vroumens, Japie man. Dis net haar inhalerigheit. Ek sal vanaand as sy terug is, hierdie sakie op my manier regsien. Om nie in die pad te wees nie, moet jy by uncle Anton se huis gaan slaap. Ek sal sommer nou die sakie met my ou groot vriend gaan reël. 

Daardie Saterdagnag het ek vir die eerste keer in my lewe sonder oom Aron deurgeslaap. Die Sondagoggend vroeg wou ek reeds na hom gaan. Uncle Anton het my egter laat verstaan, oom Aron moes self na ons om. So was die saak afgespreek. Die son het hoër en hoër geklim en ek kon dit nie meer hou nie. Toe uncle Anton die kleinhuisie besoek, het ek vinnig weggesluip. Naby ons pondokkie het ek eers gaan staan om asem te skep. Toe het ek ingegaan en aan oom Aron se deur geklop. Nadat hy "kom binne" gesê het, het ek ingestap. 

Wat ek daardie dag in die kamertjie gesien het, maak so seer om weer te herhaal. Oom Aron se lyf was vol knoppe. Met trane in sy geswelde oë, het hy deur sy stukkende lippe gefluister": "Ons het verloor Japie man, die vroumens is te sterk."

Vinniger as wat ek gekom het, het ek treurend teruggevlug. My held, my vriend, my enigste in die lewe is vernederend verslaan.

Toe ek by uncle Anton kom, het ek hom die hele storie vertel. Al vloekend en briesend is hy daar weg. Dit het my grootliks getroos. Agterna het ek met my kombersie teruggetrek huis toe. Daar gaan tref ek die twee vriende aan, sommer in 'n beter luim.

"Moenie worry nie, ou Japie man, dinge sal regkom. Hou ons dop die einde van die maand en jy sal sien ons is van die vroumens ontslae." Soveel troos het ek nie verwag nie. Die twee weke voor die einde van die maand was my grootste folteraars.

Daardie Saterdag was alles omgekeerd. Oom Aron lê toe onder die bed. Uncle Anton lê onder die komberse op die bed en die twee wag tannie Sabiena in. Deur die sinkplate kon ek hoor hoe die twee ramme beplan. "onthou as sy inkom, Anton, maak asof jy jou dronkslaap slaap. As sy begin met haar skoorsoek, blaas die bliklamp dood en peper haar. Ek sal op die regte tyd uitkom en jy kan dan verkas. Moet nou net nie so slaan dat my arme Sabiena te veel ly nie. Gee haar net 'n lekker slae. Ons moet haar net onderdanig kry."

Sesuur val tannie Sabiena by die laundry uit en oor sewe was sy tuis. Geen busse en taxiwaggery wat ons alewig vertraag nie. Met die intrap sien sy die toegedekte mens op die bed al snorkend dat die sinkplate bewe. "Aron, jou lae luis, vandag neuk ek die drank uit jou. Gee my net eers die pay. Ek wil sien of alles daar is."

Al tierend trek sy die kombers af en toe ontplof die huis. Dis stikdonker in daardie kamer, maar die houe kon ek hoor. In my diepste kry ek haar jammer, maar getug moet sy beslis.

Toe kom die doogil diep en luid: "Ek is nie Aron nie. Die ewige hond lê onder die bed." Die volgende Saterdag het ek en oom Aron 'n komp manne gehuur en getrek. Nou staan ons ou pondokkie op 'n ander plek. 

F. Muherab Marethab

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7