Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Die geveg in die hondehokke

Dit het alles een goeie môre in die Langstraatse hondehokke gebeur.

Keiser en sy Seun, Rex, het in een van die hondehokke gewoon, terwyl Dingaan en sy seun, Kaptein, net in die hok oorkant hulle was. Oor die algemeen het hulle goed klaargekom, maar soos dit die geval is met die meeste families, het hulle so af en toe 'n uitvalletjie gehad.

Rex en Kaptein het net baie lekker saam gespeel soos dit maar altyd die geval was wanner hulle buite toegelaat is, en hulle was heeltemal tevrede met dit alles totdat Rex skielik op 'n been afgekom het wat die man wat hulle altyd kos gee, seker per ongeluk laat val het.

Beide Rex en Kaptein het op die been afgestorm.

"Dis myne!" het Rex geskreeu, "Ek het dit eerste gesien."

Maar Kaptein was nie van plan om so 'n lekker been te verloor nie. Toe Rex dus eenkant gryp, het hy die ander ent beetgepak. En toe begin hulle trek.

"Njarrrr," het Rex gesê, "laat los dit. Dis myne."

"Njarrrr," het Kaptein geantwoord, "Dis nie joune nie. Ons het dit altwee gelyk gesien."

"Njaaarrrr," het Rex weer gesê, "ek sê vir jou, laat los."

"Njarrrrr", het Kaptein weer geantwoord, "los jy!"

Toevallig was Kaptein net 'n bietjie sterker as Rex en skielik het hy die been uit Rex se bek geruk en laat spat.

Rex het hom agternagesit en ingehardloop. En toe was die twee weer aanmekaar. Hulle het oormekaar geval en die hare het leterlik gewaai; dit het geblaf, gebyt en getjank dat dit 'n naarheid was. Teen hierdie tyd het al die honde in hulle hokke opgestaan om te loer wat gaande was en hulle het die petalje van Rex en Kaptein gesien.

"Vat hom, Rex!" het sommige geblaf, terwyl andere weer Kaptein se kant gekies het.

"Dit moenie toegelaat word nie," het 'n paar van die ouer honde geblaf.

"Baas! Baas!" het een, skynbaar in groot angs, geblaf.

Die lawaai was so groot dat die baas weldra kom kyk het wat aangaan, en toe hy sien wat gebeur het, het hy die twee hondjies uitmekaa gemaak en hulle beveel om na hulle hokke te gaan.

Kaptein en Rex se ore het gehang, want nie alleen het nie een van hulle die geveg gewen nie, maar die been het ook in die slag gebly Hulle het toe aan hulle ouers alles vertel wat gebeur het en natuurlik het die een die ander blameer.

Keiser was baie kwaad oor die hele gedoente en omdat sy hok bo oop was, het hy op sy agterpote gaan staan en Dingaan kwaadaardig aangekyk.

"Ek wens jy wil jou kinders beter opvoed," het hy gebrom. "Arme Rex het 'n diep sny aan sy oor waar jou ongeksikte seun, Kaptein, hom gebyt het."

"Ha! ha! ha!" lag Dingaan wat altyd die sonkant raakgesien het. "As jy jou Rexie beter opgevoed het, sou hy-"

"Moenie laf wees nie en moenie vir my lag nie, jou njarrr!" het Keiser van hom laat hoor.

"O, daar's niks behalwe natuurlik jou gesig om oor te lag nie," het Dingaan gesê. "Ha! ha! ha!"

"Noem jy jouself mooi?" het Keiser geantwoord.

"As ek 'n gesig soos joune het-"

"Sou jy  mooi gelyk het," val Dingaan hom in die rede.

"Ai tog," het Keiser gebabbel, "as ek net nie vas was nie sou jy 'n ding gesien het! Njarr! narrr!"

"Maar jy is vas," het Dingaan gelag, "En ek ook. Is dit nie gaaf nie?"

"Njarrr!" was al wat Keiser kon sê en daarmee het hy maar omgedraai en gaan lê.

"Waar is Rex? Ek hoop hy speel nooit weer saam met daardie klein duiwel nie. Rex! Rex! Waar is jy, Rex?"

Hy het weer op sy agterpote gaan staan om die wêreld  goed te kan bespied.

"Soek jy jou seun?" het Dingaan met 'n onderduimse glinstering in sy oog gevra.

"Ja, ek soek hom,"  het Keiser nors geantwoord.

"Kyk net daar onder!" het Dingaan beduie.

"My wêreld!" het Keiser uitgeroep. "Die jeug van vandag!"

Daar buite was Rex en Kaptein dood tevrede besig om saam dieslefde been te kou. Net soos alle soet kinders het hulle dadelik mekaar vergewe en die stryery vergeet. Hulle was weer goeie vriende. Hoekom het hulle nie die eerste keer aan hierdie plan gedink nie?

Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell