# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Die Geloofskuikens

Terwyl ons nog dink aan wonderlike gebedsverhorings, moet ek julle hierdie interessante verhaal vertel wat iemand my 'n tyd gelede gestuur het. Dis 'n waar verhaal - net soos al die ander natuurlik - en al wat ek  verander het, is die naam van die seun. Ek het dit gedoen sodat julle nie sal ontdek wie die seun is nie.

Laat ons hom maar Richard noem; dis 'n mooi naam, en ons dink nie dat hy teleurgesteld sal wees wanneer hy dit sien nie.

Richard was elf jaar oud toe die voorval gebeur het. Hy was in daardie ouderdom wanneer seuns graag die een of ander troeteldier aanhou.

Richard wou graag hoenders hê; en dit was heeltemal natuurlik want sy Vader het hoenders gehad, en hy het hulle altyd help kos gee.

Richard wou sy eie hoenders hê, en daarom het hy met sy spaargeld 'n broeisel eiers gekoop - dertien - en hy het hulle onder 'n ou hen gesit.

Julle weet seker almal dat dit slegs drie weke neem vir eiers om uit te broei, en Richard kon skaars wag om sy eerste kuikens te sien, maar hy moes sy drie weke wag.

Een week het verbygegaan, en toe nog 'n week. Toe het daar 'n ergerlike ding gebeur; daardie ou hen het eenvoudig geweier om langer te broei, en sy wou volstrek nie teruggaan nes toe nie!

Richard het alles geprobeer om die hen op die nes te hou, maar hy het haar nog skaars op die eiers gehad of sy het weer afgeklim.

Dit het beteken dat die eiers koud geword het, en as eiers te lank koud bly, sal hulle nooit uitbroei nie. Richard het na die bure gegaan en om 'n broeis hen te leen net vir een week, maar hulle het nie een gehad nie. Hy het huil-huil by die huis gekom, en om dinge nog erger te maak, was die eiers nou so koud dat die saak heeltemal hopeloos gelyk het.

Moeder het hom na 'n broeis hen  onder hulle eie hoenders help soek, en tot sy groot vreugde het hulle een gevind. Hy het haar dadelik op die eiers gesit, maar Moeder het gewaarsku dat die eiers moontlik reeds bederf was, want sy wou hom verdere teleurstelling bespaar. "Daardie ou hen was 'n hele dag en 'n nag van die eiers af," het sy gesê; "miskien sal dit beter wees om ander eiers te kry."

"Moeder," het Richard gesê, "die eiers sal miskien nie almal uitbroei nie, maar ek is seker dat sommige sal."

"Hoekom is jy so seker," het Moeder gevra; "Ek dink dis reeds te laat."

Eindelik was die drie weke verby. Daar was geen teken van lewe in die nes nie. Dit was 'n sondagoggend, en Moeder wat ook maar 'n bietjie teleurgesteld was, het aan Richard gevra: "Hoe lyk dit Richard, is jy nog so seker?"

Richard se antwoord was: "Wag tot more; more sal die kuikens seker begin pik."

More het gekom en daar was nog geen kuikens nie - dit was Maandag.

Dinsdag het gekom, en niks het gebeur nie. Eindelik was dit woensdag; Moeder het gaan kyk, maar daar was niks.

Toe het sy gedink dat dit dwaas sou wees om te dink dat die kuikens nog sou uitkom, en daardie middag toe Richard van die skool af kom, het sy aan hom gesê om die eiers maar te begrawe en die hen nie langer op hulle te laat broei nie.

Richard het na die nes gegaan, en 'n rukkie later het hy by die huis wild binnegestorm.

"Moeder!" het hy geskreeu, "Moeder, kom kyk gou, ek hoor iets piep daar in die nes!"

Moeder het na die nes toe gehardloop, en daar onder die hen het hulle die skattigste, donsigtste, goudgeel kuikentjie gesien.

"O, ja!" het Richard gesê, "die Here het tog my gebede verhoor!"

Soos die Here gewoonlik doen, het Hy Richard se gebede in 'n dubbele maat verhoor, want die volgende dag, Donderdag, was daar nog 'n kuikentjie, hierdie keer 'n swartertjie wat vier dae laat gekom het.

Wel, van die dertien eiers het Richard twee kuikens gekry, en hoe dierbaar was daardie kuikens nie vir hom nie!

Richard was oortuig dat die Here hom so lank laat wag het om sy geloof op die proef te stel.

En so het daardie twee kuikens bekend geraak as die "geloofskuikens."

Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell