# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Aan die einde van die Reënboog

Dit was skemer in die Commercial Hotel se Ladies Bar. Ek het my Klipdrift double by die Spanjaard geneem, betaal en by die verste tafel in die kroeg gaan sit. Langs my was daar 'n lae dubbele muurtjie, opgevul met sand en waarin daar plastic blomme gedruk was. Die 'plante' was bestand teen enige duisternis, pis, suur bier, sigaretstompies en kots.

Ek het 'n pakkie Texan uit my binnesak gehaal, een aangesteek en die vuurhoutjie in die Goodyear-asbak geflick.

Die drie mans by die kroegtoonbank was klaar aangeklam. Hulle was groot, dik en pap. En ken hulle soort. Vuilgatte. Smerige klote. Bad news for women. 'n Vrou was iets wat jy eers half besimpeld donner en daarna op 'n kombuisvloer anker.

Ek ken hulle soort. Hulle sal hier bly sit tot hulle omkap, of tot iemand hulle uitsmyt. Mòre vroegdag is hulle weer terug met hul vuil stories en om kak te soek by die arme drommel wat gou ingeklok het vir 'n quick one.

Die vent op die end van die ry, die een vir wie hulle "Barney" sê, se gevreet staan my die minste aan. En van die drie het hy die grootste bek.

Ek neem 'n sluk Klifdrift, voel hoe die tamheid wyk en die energie terugbruis. Die vuilspuite by die toonbank begin kru lag. Die vette in die middel stamp Barney met sy skouerhomp: "Ou pel," sê hy. Wat is DIT wat nou net hier ingestap het. Issit 'n man of issit 'n vrou?"

Hy proes grof, draai om op die hoë kroegstoele en bekyk my.

My kruis word nat.

"Daar is net een manier om uit te vind," sê Barney. "Bevoel DIT."

Hulle lag weer, soos net skobbejakke kan lag.

"Kom ons wed," sê die middelste een. Hy vroetel in sy broeksak en plak 'n noot op die toonbank neer. "Vyf rand! Ek sê dis 'n man daai!" Hy beduie met sy hand agter sy rug na my.

Die een langs hom dra 'n kep. Die snor onder sy neus lyk soos 'n dun snotstreep. Hy sit ook sy geld neer. "Ek sê dit is 'n vrou!" roep hy selfversekerd uit.

"En ek sê dis 'n trassie!" skree Barney. Hy swaai om op sy stoel. Hy kyk onbeskof na my en kom dan op sy voete. "En daar's net een manier om uit te vind..."

Ek staan op, trek my baadjie uit en hang dit oor die stoel. Ek smyt my Texan tussen die plastic plante.

Ek is lank, lenig en dertig. Ek is so fit soos Rodger Bannister voor hy die vierminuut-myl gekraak het. Ek is 'n vrou, en ek vat g'n kak van niemand nie.

Die laaste tree neem ek. Ons taan op die oop vloer in die middel van die Commercial Hotel se ladies Bar.

"Het jy miskien van my gepraat, Buster?" vra ek koel. Die spiere onder my syhemp tintel. ek is so kalm soos die Blou Donou op 'n windstil dag. Ek kyk in sy pap gevreet, na die klein ogies wat in die drillende vet gloei, na die baardstoppels en die olierige bottergeel kuif. Ek kyk na die wollerige hare wat tot laag agter in sy dik nek dons.

Ek kyk in 'n gesig wat ek haat: Hy is Parow Laerskool se prinsipaal se double. Ky kort net die lat.

Sy gulp is oop. Sy onderste hempsknope makeer. Sy harige pens peul uit, hang oor sy safaribroek.

Hy breek 'n wind op in my gesig.

Ek ruik sy sweet. Ek ruik sy stink suur asem.

Ek sien die Spanjaard agter die toonbank half skrams. Hy droog glase af en pak dit sorgvuldig in netjiese rye op die rakke agter hom.

Barney se pof regterklou mik na my bors. Vark, hont, vuil kont!

Ek vang sy hand blitsvinnig en gryp dit vas. Ek voel hoe my biceps knop maak. Ek begin sy arm stadig na onder druk - af, af ondertoe en ek draai dit met mening. Met sy linkerlelmboog kap ek hom teen die kant van sy kop. Dis harde been teen harde been. Iets kraak.

Barney verloor sy balans maar  hy's vrek vinnig weer op sy nommer vyftien Grasshoppers. Ek is reg vir hom. My spiere is geolie. Hy het nie 'n kat se kans nie, goor gat!

My berekening is fyn. ek plant 'n regtervuishou sekuur tussen sy twee oë, en met hierdie een hou verniel ek sy pap gesig. Dt was een moerse hou. Die gevreet wat ek haat, is oombliklik voos. 'n Paar strale bloed loop teen die kante van sy gesig af. Die krag van die vuishou het hom effens laat steier, maar hy is wragtig weer op sy pote. Hy is verwoed, reg om dood te maak.

Hy storm op my af.

Dit was 'n taktiese fout.

Hy doen wat ek wil hê hy moet doen.

Ek volg op met 'n linkervuishou, dié keer vol in sy smoel. Die dik lippe gee pad, en ek voel tande breek. Die vark bly op sy voete. Dis vernedering wat hom laat aanhou. Dit maak hom blind. Dit maak hom taai.

Hy maak dit weer vir my. Hy't kop verloor.

Ek spring vorentoe, bring my regterknie op. Ek stamp hom netjies en baie, baie onsag in sy knaters. Barney vou dubbeld. Hy skreeu soos 'n vark wat geslag word. Hy kruip op sy knieë op die vloer, bedek sy dinges met sy hande. Sy plesierspier sal vir weke aanmekaar kramp, sy lus vir keeps blus.

Hy kyk met onverbloemde haat na my. "Fòkken teef!" skree hy en spuug tande en bloed.

Ek staan opsy.

Die vark het nog nie genoeg gehad nie. Ek gryp 'n handvol sand tussen die pastic blomme, buk oor hom, druk dit in sy bek en smeer sy gesig met die res daarvan. Hy hoes, sluk, stik, proes en paas dan uit - sy bors die ene bloed, slym, sop, sand en tande.

So ja.

Dit is doodstil in die kroeg. Jy kan 'n speld hoor val. Die twee mans by die toonbank sit soos soutpilare op hulle stoele. Hulle is bleek in die dowwe lig. Die een se hande bewe. Albei se bekke hang oop.

Die Spanjaard is nog altyd ge-occupy met die glase. Hy haal hulle nou uit die rakke, vryf hulle weer 'n keer met die vadoek blink en pak hulle dié keer in lang rye op die toonbank.

Ek stap na die middelste een. "Wie is volgende?" vra ek koel.

Hy draai terug op sy stoel. "Ek vat nie aan vroumense nie," mompel hy skor.

"Jy vat net aan hulle met jou vuil bek!" sis ek, "Né!"

Hy sit kop onderstebo oor 'n bak savouries. Ek neem sy kop en sy nek in albei my hande. Ek stamp sy gesig binne-in die bord. Die bord breek flenters en die chips en mystery balls spat oor die toonbank. Ek stamp sy gesig nog 'n paar keer in die glasspinters. Bliksem. En dan los ek hom. Hy bly lê op sy bebloede gesig. Dik getik.

So ja.

Ek tel sy glas op, ruik daaraan" dis cane, lime en lemonade. Ek smyt dit in Nommer Drie se poedinggevreet. Ek gaan staan agter hom en skop die kroegstoel onder hom uit. Hy plof soos 'n sak varkmis grond toe. Die reling vang hom teen sy oogbank. Hy snak, ruk twee keer en lê dan stil. Dis verby met Doris Day.

So ja.

Ek stap terug na my tafel in die hoek. Ek maak my Klipdrift leeg en trek my baadjie aan. Ek stap tot voor die toonbank, haal 'n kam uit my sak en trek dit deur my dik bos blink hare. Ek check myself in die spieël agter die Spanjaard. My strikdas sit nog waar dit vanoggend gesit het.

Oorwinning proe soet.

Die Spanjaard pak nou weer die glase terug in hul rye in die rakke agter hom. Hy kyk skielik vurig na my, vra dan dringend: "Wie is jy?"

"Hulle noem my Jean," antwoord ek. "Net Jean."

Ek stap by die kroegdeur uit, af met die trappe tot onder. Die dolla agter die ontvangstoonbank voor die deur smile. Haar lippe is rooi en blink en sag en soepel. Haar borste is rond en vol. Hot stuff.

"Ek is Carmensita," sê sy sangerig en die punt van haar rosige tong verskyn tussen haar lippe. Sy lek, lek, lek aan haar onderlip, vee dan die nattigheid in haar een mondhoek met haar lang rooi pinkienael af. Sonder om haar oë van my weg te neem, steek sy haar hand agter teen die muur en druk die knoppie. Anneli van Rooyen se stem vul skielik die ganse Commercial Hotel: Aan die ein-de vòn die reë-enbòò-òòg...! sing sy.

Carmensita leun vooroor op haar elmboë. Haar borste dein op en neer. Sy kyk na my met 'n sigaret in haar mond. Ek vonk my Ronson. Sy hou my hand met albei hare vas.

Ek ruk los. Ek het iets vergeet. Ek hardloop die trappe na die Ladies Bar drie-drie op.

In die bar druk ek Nommer Drie met die hak van my skoen opsy. Ek buk oor die toonbank, haal drie vyfrandnote onder die asbak uit. Ek hou een na die Spanjaard uit. Hy sit sy vadoek neer en neem dit met 'n teer gebaar. Sy buiging is kwalik sigbaar. "Gracie Amigo".

Buite knipper ek my oë teen die skerp sonlig.

Ek kyk na die kerkhorlosie. Tien voor vyf.

Ek oop 'n Argus en in die woelige Voortrekkerweg kies ek koers na die ou gedeelte van Parow.

Jeanne Goosen

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7