# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die dag toe ons agtergekom het dis oorlog

Saterdag, 29 November 1975. In 'n koel toegeboude stoepvertrek van 'n Noord-Vrystaatse dorpshuis sit 'n man van 'n paar in die twintig en skrywe. 'n Entjie weg op die tafel lê die vorige middag se volksblad wat vroeg die oggend met die pos gekom het. Groot hoofletters: "SA VEG IN ANGOLA". Die aanhef van een van die ander voorbladberigte lui: "Die stryd in Angola is nie meer 'n terroristiese oorlog nie, maar 'n verheweigde vorm van konvensioinele oorlogvoering en dit sou nie gebeur het as daar nie inmenging van buite was nie, het die Minister van Verdediging, mnr. P.W. Botha, aan buitelandse nuusmanne in Pretoria gesê. "Op die die hoofartikelblad veroordeel die politieke rubrieksrywer die optrede van die digter Breyten Breytenbach wat die vroge dag gevonnis is op aaklag van terrorisme. 

Die Briefskrywer, reedse op sy derde of vierde vel, skryf: "...en dit, saam met Breytenbach se nege jaar tronkstraf, maak daarvan 'n skokkend ongelukkige week. Ons kan vandag met reg noem: 'die dag toe ons agtergekom het dis oorlog'.

"Jy sal seker ook persoonlike nuus wil hê. Op die oomblik is ek besig met 'n nogal sinlose M.A.-verhandeling oor die werkwoordstuk in die enkelvoudige sin. Voorbeeldsinne uitgedink met sou moese, sou konne en sou woue: 'As dit maar maar gekeer sou kon word'; Ons sou 'n ineenstorting moes verhoed het' (sou kon is moontlik en ook sou moes, maar nie moes sou of kon sou nie: 'Ons kon die oorlog sou gewen het' en 'Ons moes meer aandag aan ander sou gegee het,' is bv. uitgeslote); 'Ons sou so 'n dilemma moes kon vermy het', ensovoorts.

"Eergister het Dirk (ek meen jy ken hom: my oudste broer, suksesvolle sakeman) my saamgebring hiernatoe. 'Hier' is by my ander ouer broer Piet en sy vrou Christine. Dirk se vrou het glo ander verpligtinge; sy is dus elders. Dirk gaan moreoogend suide toe vir sake. Ondaks proteste van die familie ry ek vanaand terug, want die verhandeling lê op my gewete. Buitendien sou ek ook betrokke kon raak in ons 'betrokkenheid' in Angola. Eintlik moes ek dié vakansie my jaarlikse drie weke kamp toe gaan, maar ter wille van die tesis het ek uitstel afgesmeek. As sake aanhou versleg, sal die verlof waarskynlik gekanselleer en mense soos ek opgeroep word. Vir vandag se familie-reunie is Marié Viljoen - ook haar skoonsuster wat al soveel gelukkie verhoudinge, verlowings en huwelike vir my probeer reël het).

"Vertel my, skryf die Hollandse koerante iets oor Angola? Dit sou interessant wees....Dit lyk  my ek sal maar later verder moet skryf, want ek hoor opstaangeluide na die tradisionele middagslapie."

"Johan, sit jy tog nie en brief skrywe nie? Pleks dat jy 'n bietjie gaan rus het. Vir watter nooie is dit?"

'n Warm, vriendelike 35-jarige vrouestem wat nie op die begin van 'n verleë apologetiese stameling wag nie, maar vrolik van die stoepdeur af die huis ingalm: "Opstaan almal! Koffie!"

In werklikheid moes die koffie nog gemaak, die water nog gekook en die ketel selfs nog volgemaak word. Terwyl daar vir die water gewag word, vra Piet: "Wat sê julle van Breytenbach se vonnis?"

Christine: "Hoeveel het hy toe gekry?"

Marié: "Nege jaar."

Piet: "Nege jaar."

Marié: "Is jy seker?Dis nege en 'n half jaar. Johan?"

Johan: "Ek is nie seker nie, maar ek dink ook nege."

Marié: "Ek is weer eker dis nege en 'n half."

Christine: "Ek het gister in Die Volksblad gelees toe hy in die hof vertel het van alles, hoe lief hy die land het en ek kry hom om die waarheid te sê tog so 'n bietjie jammer. 'n Mens kan amper verstaan hoekom hy dit gedoen het..."

Piet: "Twak! Jy moet jou jammerte in jou sak steek. Hy was 'n bleddie vabond. Terwyl ons seuns aan die grens sterf..."

Christine: "Die mense wat ek eintlik jammer kry, is sy ouers."

Piet: "Dis die moeilikheid met ons Afrikaners - ons ly altyd aan 'n bleddie minderwaardigheidskompleks, ons wil altyd om verskoning vra vir alles. Dis nonsens. Hy verdien sy straf. Ek wonder net wat daardie Rapport weer more oor hom gaan skryf...Die ketel kook, Christine."

Terwyl Christine in die kombuis doenig is, gaan Piet en Dirk tuin toe om te kyk hoe 'n nuwe tuinjong vorder met die uitskoffel van kakiebos, maar natuurlik - "nes 'n kaffer is!" - onvermydelik ook al die ou afrikanertjies. "Christine kry wragtig 'n kleintjie as sy dit moet sien!"

Op die stoep vra Johan Marié uit oor hoe die eerste jaar van skoolhou gevoel het en hulle gesels oor die Kindersendingskrans, die verveling van netbal-afrigting, die moontlikheid van 'n motortjie koop, die Taalbeweging-vasvra oor die radio waarin die Vrystaatse skole so mooi gepresteer het ("En ek is bly Voortrekker-hoërskool het gewen!"), die plattelandse skole...

"Ons moet 'n bietjie praat," val Marié Johan in die middel van 'n sin in die rede. 

"Praat?"

"Oor ons."

"Die oorlog?"

"oor my en..."

Die telefoon begin rinkel.

"Dirk!" roep Marié wat moes gaan antwoord het.

Piet kom met die ksinkbord koffie in, Christne met yskastert. Dirk kom staan in die deur. 

"Ek is 'n bietjie in die moeilikheid, ten minste, ek wil julle 'n guns vra. Vriende van my bel nou net, skakkennisse, en sê hulle kar het hier op die Petrus Steyn-pad gebreek. Hulle ken g'n mense hier rond nie, maar toevallig het ek vir hom gesê ek kom hierheen en hy het toe 'n paar nommers gebel wat hy in die foonboek gesien het. Hulle is bereid om te betaal tot Maandag toe wanneer die garage'e..." 

"Ag nee, nonsens, wat se gebetaal. Christine, on het mos genoeg plek?"

"Ja, wat, hulle kan maar kom. Daar's nog Johan se kamer ook as hy regtig vanaand al wil gaan."

"Maar," vervolg Dirk, "daar is...ek weet nie hoe om dit presies te sê nie: eintlik maak dit nie saak nie, maar daar is mense wat beswaar sal hê: dis Indiërs..."

Piet: "Wat!"

Dirk: "Soos ek sê, die man is 'n sakevriend van my; dis vreeslike ordentelike mense; hulle lyk ook soos wittes, praat Afrikaans in die huis..."

Piet: "Maar man, dis mos buite die kwessie! Hoekom gaan soek hulle nie in die lokasie plek nie? Wat moet hulle in die blanke dorp kom maak?"

Dirk: "Niemand sal agterkom nie. Hulle lyk nes wittes. Ek sal in elk geval oorbly tot Maandag..."

Piet: "Dit kan my g'n bliksem skeel hoe hulle lyk nie. Dis die prinsiep van die saak."

Dirk: "Hoe bedoel jy, watter prinsiep?"

Piet: "En dan nog tot Maandag toe! More kom Chrsitine-hulle se ouers kuier en wat moet ons dan vir hulle sê?"

Dirk: "Goed, ek sal hulle sê julle het nie plek nie. 

In stilte drink hulle verder koffie.

"Jy moet tog verstaan," sê Piet, "wat gaan mense sê as hulle hoor ons gee slaappplek vir koel...vir dié mense?"

Niemand antwoord nie.

Na 'n rukkie vervolg hy: "En hoekom het hulle nie liewer lokasie toe gegaan nie?"

Dirk: "Hulle gaan nie met swartes om nie."

Piet: "Jy sien? En nou wil hulle hê ons...En nou wil jy hê..."

Christine: "Wat het hy gesê toe jy sê daar is nie plek nie?"

Dirk: "Baie vriendelik soos altyd. Gesê hy verstaan. Gelukkig is dit darem 'n groterige kar."

Piet: "Ja, baie van die bokkers is baie ryker as die wittes."

Dirk: "Hulle sal maar tot Maandagmore langs die pad in die kar bly tot die garage oopmaak. Hy het darem gesê hulle het kos en water en so, want hulle vat altyd genoeg saam wanneer hulle deur die Vrystaat moet ry, want hulle is bang dat...."

Hy bly stil.

Piet: "Bang waarvoor?"

Almal bly stil.

Christine: "Waar sou hy vandaan gebel het?"

Dirk: "Van 'n plaas af. Hy is so wit 'n gewone Vrystater sal nie kan sien hy is nie wit nie. Sy vrou is donkerder."

Christine: "Ek wonder in elk geval of ons iets kon doen."

Dirk: "Hoe so?"

Christine: "Mag 'n mens nie-blankes in jou huis laat slaap?"

Dirk: "Natuurlik mag jy. Geen wet verhinder ordent...verhinder so iets nie."

Piet: "Dis alles behalwe 'natuurlik' dat hulle by 'n mens kan oorbly. Daar is tog 'n wet dat Asiate nie langer as 'n sekere tyd in die Vrystaat mag wees nie, vier en twintig uur of so iets."

Dirk: "Die wet is tog anderdag verander."

Piet: "O ja? Hoe is hy nou?"

Dirk: "Nee, ek weet nie presies nie."

Piet: "Nou ja, ons moet liewer aan die veilige kant bly."

Marié: " Het dit iets te doen met die nuwe wet dat dié van die plase, van die swartes bedoel ek, dat hulle nie meer op die dorp mag kom werk nie? Mense was al daaroor in die hof."

Piet: "Dit maak nie saak nie. Die wet is die wet."

Dirk: "Sê nou dis 'n nonsens-wet? Ons weet ook nie eens of dit die wet is nie."

Piet: "En al was dit nie die wet nie, ons doen wat reg is, dis al wat belangrik is."

Marié: "Dis darem goed dat die ou Vrystaat so 'n wet gemaak het, anders het ons ook nou 'n Indiërprobleem gehad, né Johan?"

Johan: "Die Transkei is glo darem ook so."

Na weer 'n rukkie stilte vra Piet: "Hoe lyk dinge vir julle in Angola?"

Die ander bly almal stil totdat Johan antwoord: "Ek sienin vanmore is die koerant ons is in in die ding, 'betrokke' soos hulle sê. As jy so tussen die reëls lees, lyk dit vir my ons is dieper in die gemors as wat ons kan dink...Dit eintlik vandag 'n geskiedkundige dag: Die dag toe ons agtergekom het dis oorlog."

"Nee wat, ek dink jy is te swartgallig," sê Piet. "Miskien waai alles gouer oor as wat ons dink. En Amerika sal to sorg dat die Russe nie 'n vastrapplek in Angola kry nie. Die koerante oordryf ook altyd alles."

Niemand antwoord nie. Marié stel voor dat sy en Johan maar die koppies gaan was om darem ook 'n ou ietsie te doen.

"Onthou jy nog vir Willie Hamman?" vra sy hom in die kombuis.

"Ja, onthou jy, ek en hy het mos eenkeer saam elkeen vir jou 'n briefie geskryf met dieselfde woorde: 'Liewe Marié, jy sal seker baie verbaas wees om hierdie brief van my te ontvang. Ek skryf net om te sê dat ek baie van jou hou...' ensovoorts. Het jy regtig daardie tyd 'n sent opgegooi om te besluit wie? Dti het my vreugde oor jou keuse 'n bietjie gedemp."

"Natuurlik nie! Maar Willie het weer anderedag iets in dié trant...Maar jy stel seker nie meer belang nie?"

"Nee, ek stel belang...Het hy jou gevra om te trou? Moet ek gelukwens?"

"Dit hang af van wat jy..."

Maar die ander drie kom die kombuis in. Christine maak bekend dat daar besluit is om die aand vleis te braai. 

Dirk en Piet hervat 'n gesprek oor waar dit die beste vir eersgenoemde sal wees om grond vir 'n vakansiehuis aan die Kaapse kus te koop; Gordonsbaai? Rooi-Els? Bettysbaai? Kleinmond? Selfs Hermanus?

"Die wind waai glo verskriklik op Rooi-Els."

"Eintlik stel ek meer bealng in die blote belegging as in die vakansiehouery. As dit eendag te warm raak hier in die noorde, het 'n mens darem 'n soort toevlugsoord."

"Twakpraatjies!"

'n Rukkie lank help Johan vir Christine die uie rasper vir braaibrood. Marié is elders besig. Christine praat - aaneen en sonder logiese oorgange - oor die voortreflikheid van uie op toast, die swak kwaliteit slaghuisvleis deesdae, Johan se sosiale lewe: "Jy moet jou oë oophou,nong. Daar is iemand hier. Ek bedoel, ek weet van iemand wat graag jou girl-friend...Jy weet 'n mens word nie jonger nie..."

Buite word bier gedrink, argumente geopper, landsvraagstukke opgelos, oordele gevel ("Ek stem saam met die pa van daardie outjie wat by die grens doodgeskiet is dat hulle 'n koeël deur daardie bleddie Breytenbach se kop moes gejaag het"), 'n pleidooi vir die verdediging gelewer ("Hy was 'n ou wat sterk gevoel het, hy wou al die baie dinge wat verkeerd was beveg, hy het die land hartstogelik liefgehad. Is ons land honderd persent reg? is geweld altyd verkeerd? Wat van die Rebellie? Wat van Jopie Fourie?"), vir die staat betoog ("Wat hy gedoen het, was om die volk te verraai. Dis Afrikanerbloed wat vergiet sou gewees het as hy s sin gekry het.") en die Christelike gesindheid gepredik ("As iemand so opreg berou het soos hy, kan 'n ware Christen iets anders doen as om hom te vergewe?").

"Kom julle nog soms op die plaas?" vra Dirk na ete.

Piet: "Nee wat, vandag is daar nie meer mense nie...Alles is aan die verwaarloos. Die swartes wat nou daar is, verniel alles so - die bome is afgekap, die ruite stukkend gegooi en binne is kwaad gedoen. Ekw eet nie hoekom het die mense eintlik die plaas gekoop as hulle hom so verwaarloos nie."

Dirk: "Dink julle ook nog soms aan die ou dae? Ons het nog op die ou manier grootgeword. Ek kan nie dinkk dat dit dertig, veertig jaar voor ons anders moes gewees het nie - geen radio, geen trekker, motor nie, niks. Ek wonder...Kan ons nie vanaand boekevat soos destyds nie?

Piet: "Ons kan maar as jy wil."

Christine gaal haal die bybel en gesangeboeke uit 'n kassie met vroegtydige Kerskaarte, onbeantwoorde briewe, onbetaalde rekeninge en kwitansies wat gebêre  word vir die Ontvanger van Inkomste. Sy sit dit tussen Piet en Dirk, en Piet skuiwe dit na Dirk se kant toe oor: "Lees jy maar."

Dirk blaai 'n rukkie rond totdat hy 'n plek gevind het.

"...Want Ek het honger gehad en julle het My nie te ete gegee nie. Ek het dors gehad en julle het My nie te drinke gegee nie; Ek was 'n vreemdeling en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak en julle het My nie geklee nie..."

PIet val hom in die rede: "As jy so wil lees, kan jy dit net so goed laat staan."

Dirk: "Waarom?"

Piet: "Dis 'n skande! Pa-hulle sou in hul grafte omdraai as hulle moet weet hoe jy vanaan die bybel vir politiek misbruik. Skaam jy jou nie? Hier moet ons mense aan die grens veg, dalk moet Johan ook nog gaan, hulle moet gaan veg teen die terroriste en jy wil hê ons moet Indiërs in die huis ontvang. Dit is 'n skande! As jy so wil boekevat, moet jy dit maar op jou eie gaan verder doen. Ek speel nie saam nie."

Terwyl hulle met Piet se motor stasie toe ry om Johan te gaan wegbring, merk Christine op: "Soe, die luggie bly darem maar nog skralerig saans," en 'n rukkie daarna: "Ek wonder, Dirk, het hulle jou gesê waar die kar presies staan?"

"Ek weet nie presies nie, so tien, twaalf myl hiervandaan, skat ek. Ja, dis seker koud in die kar, veral teen die more se kant."

Piet (vererg): "Probeer julle op my gevoel speel, of wat? As 'n mens se bleddie kar op die pad breek, is dit net jou eie bleddie vrotgeit. As hulle hul goed behoorlik versorg, sal dit nie gebeur nie. En as hulle kastig vir gebeurlikhede sorg wanneer hulle deur die Vrystaat ry, moes hulle maar gesorg het dat hulle komberse saamvat."

Op die stasie blyk dit dat die trein, soos altyd wanneer Johan moet ry, laat is. Hulle praat dus voort - een of twee sinne per onderwerp, die eindelose onsamehangende gesprekke van wagtendes op 'n stasie: "Ja, dis mos skrikkeljaar volgende jaar, Johan, verwag jy enige aansoeke?" en Christine gee hom 'n stampie in die ribbes waar hy agter in die motor tussen die twee vroue sit; "Julle kan maar regtig ry, ek sal nie omgee om alleen te wag nie.:; "Vyf twee agt nege voet bo seespieël, ek wonder wanneer sit hulle dit in meters om?"; "Ek wonder of dit by dié bultjie was waar hulle president Steyn amper gevang het in die oorlog?"

Marié: "O? Wanneer was dit? Ek weet niks daarvan nie? Hoe het dit gebeur?"

Dirk: "Een van die Boere het vir die Engelse gesê die president is hier. Mar sy ou agterryer, ou Ruiter, het hom laat wegkom. Dis eienaardig as jy daaraan dink - dat  die Boer verraad gepleeg en die bruinman dit reggekry het om..."

PIet: "Is jy al weer besig met insinuasie? Ek is siek en sat vir julle liberaliste wat alles verknoei sood dit julle pas."

Dirk: "Maar ek het niks bedoel..."

Piet: "En ja kan maar aangaan soos jy wil, ek sal daardie Indiërs nie vat nie."


Daar is 'n langerige stilte totdat die gesprek oor die kwessie Angola hervat word: "Miskien moet ons 'n dagboek hou soos van die Boere in die Engelse oorlog?"; "Wat sal gebeur as ons nie teen 'n oormag kan stand hou nie?"

Dirk: "Die groot ding is wat die swartes gaan doen as dit regtig oorlog raak. As ons die nie-blankes aan ons kant kon hê..."

Piet: "Maar magtig, man, kry nou end kerm oor die 'nie-blankes' of 'swartes' of wat ook al! Jy hou aan maak of dit my skuld is dat die mense teen die pad sit. Ons is hulle niks verskuldig nie!"

Dirk: "Maar ek het mos niks oor hulle gesê nie!"

Piet: "Maar jy plooi alles so om jou te pas te kom."

DIrk: "Miskien pla jou gewete jou."

Piet: "En waar de hel oor nogal?"

Die vroue begin praat oor koekresepte en breipatrone - dit word aanknopingspunt vir die genot van herinneringe aan lekker etes van die verlede ("Witwortels is die lekkerste soetkos." "Nee, gebraaide patattatjies.") Wat eskaleer tot jeugherinneringe in die algemeen. 

"Onthou jy, Piet," sê Dirk, "daardie keer toe ons die agtermiddag so lank by die plasskool gedraai het en die haelbui ons kry? Gelukkig het die ou meid ons in die stroois laat wegkruip tot dit oor was en sy't nog vir ons vet en brood en koffie gegee."

'n Ent verder - "seker by die lokasie" - hoor hulle die sirene van die diesel-lokomotief ("O, ek dag dis nog stoom?" - "Nee, dis maar anderdag eers verander.") Johan se bagasie word uitgehaal en terwyl hulle na die stadig aankomende trein staan en kyk, draai Piet hom skielik na Dirk en sê vinnig: "Orraait, jou bliksem, jy wen. Ons kan die mense gaan haal. Moet moet die naweek maar...Christine se pa-'le moet maar 'n ander keer kom."

"Baie dankie."

"Te hel. Waarvoor?"

Dirk glimlag en vervolg: "En nou kan jy seker maar sommer vir Breytenbach ook vergewe, of hoe?"

"Dit sal vir jou...", maar die diesel raas so dat niemand kan hoor wat iemand sê nie. 

Terwyl die trein noordwaarts ry, skryf Johan verder aan sy brief:

"Dit het amper middernag geword. Dit was ook so 'n gewag. Suid-Afrikaanse treine is altyd laat. 'n Nag sonder einde, het dit gevoel. Maar, 'die more kom, en ook die dag'. 

"My broer gaan 'n mede-Suid-Afrikaner van 'n ander kleur in sy huis laat slaap. Wat 'n stryd was dit nie om so ver te kom nie! En nou dat alles verby is, nou dat hy besluit het om te aanvaar, amper of hy gretig was. 

"uit-einde-lik. Dis dan die uit-einde."

"Dis donkermaan, ongelukkig. As dit ligtemaan was, sou ek darem kon sien hoe die wêreld lyk. Ons ou gewese plaas lê so regoor waar ons nou ry - êrens tussen Blydskap- en Heuweltop-stasies. Maar die maan is eintlik nie nodig nie. In my verbeelding kan ek alles sien: die plaas en die ou opstal soos hulle tot 'n vyf, ses jaar gelede nog gelyk het. Ek sien my pa, besig om 'n hek te repareer, my ma wat aan 'n bedelaar-Bantoe 'n blikbeker koffie en 'n vrag brood met konfyt gee, ek sien myself saam met die plaaswerkers agter die skoffels loop op 'n broeiende somerdag terwyl die donkerwolke opsteek. Wat 'n verskiklike heimwee voel ek nie, wat sou ek nie wou gee om 'n dag, nee 'n uur, nee 'n minuut, weer dit alles te kon belewe nie. 

"Dit is alles verby (die ou soort skoffel is in alle geval uit die mode). Ek het 'n eindelose verlange na 'n wêreld wat ek al hoe verder agter my laat, die ou Afrikaanse wêreld wat besig is om verlore te gaan. Maar die nuwe Afrikaanse wêreld dié sou ek vir geen geld ter wêreld, geen kleur ter wêreld, geen ander taal ter wêreld sou ek dit wou mis nie." 

J.C. Steyn

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Boeresport Promo - Paul Joubert.mp3

Onbeskaamd Afrikaans! ♦  Kom vier saam fees op Erfenis Naweek ♦ 23 - 24 September 2017 ♦ Silverton Pretoria ♦ www.boeresportdag.co.za  ♦ Bespreek NOU! ♦ 079 219 6735 ♦ 97 Stalletjies beskikbaar ♦ Troutrek, Potjiekos en Kaskar Kompetisie ♦ Skryf gou in !!  paul@radiokuberkontrei.co.za