Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Die dag toe hulle 'n Paasgodin op Langebaan gekies het

Eintlik was dit nie die seisoen vir sulke dinge nie, want die duine was soggens nat van die dou en die seemis het tot laat nog tussen die eilande gehang. Langs die kus was die koelte van die herfs reeds voelbaar. Die gees van groei was nie meer in die lug nie. En van oudsher wag die gode op warmer klimaatstoestande voordat hul die ys breek vir 'n herverskyning.

Maar dit was Pase en die Christene van die Swartland het saamgetrek langs die Saldanha-meer. Dit was langnaweek en hul Heiland (wie se geboorte hul ook hier gevier het met tradisionele deurdrenktheid en enkele verdrinkings) is gekruisig en begrawe, maar sou weer (volgens die Boek) opstaan op die derde dag. En dit, immers, is tog vooruitsig en rede vir groot vreugde.  Met jong wyn en gedans moes daar dus gevier word. En met die verkiesing van 'n Paasgodin: tradisioneel die vrugbaarste onder die skones wat die seën sou dra en die saad vir die nuwe lewe.

Onder ingeligtes is gefluister dat die aspirante reeds die vorige middag aangeland het - behoorlik gekamoefleer in klere wat hul goddelikheid verberg. Elkeen wou die aand alleen deurbring in haar kamer: die liggaam voorberei op die beproewinge wat voorlê. Sommige van hul het die ritueel geken uit vorige feeste, ander kuste. Maar daar is ook altyd dié wat vir die eerste keer probeer - die ene opgewondenheid en sugte: net soos elke hardertjie van die strandmeer uitbeur see toe, net toe, haai toe. By almal sluimer die hunkering in die bloed: die drang om gekruisig te word, neergelé en bedek te word tot die sterre verskiet en 'n duisternis hul oorval. almal droom van 'n engel wat die graf sal oopmaak met 'n heerlike opstanding van die vlees.

Die woonwapark was vol. Die Christene het ingekruip ini elke beskutte holte, onder elke skaduboom, in elke leë kamer of ongekooide skuur. eie proviand is saamgebring, in oorvloed, sonder vertroue in 'n vermeerdering van brode of wanindrukke in verband met vis. Veral die wyn was genoeg: dit kon straks gebeur dat die water water bly.

Die aand vantevore het die jong mans begin drink en toe hulle nog half nugter was, in die strate begin loop en die motors voorgegkeer - net om naand te sê, gemaak snaaks op Engels - soos hulle gemaak het toe hulle nog Maties was. En hul vrouens het gelag vir die gekkery en die hand-om-die-lyf-weer-jonk-wees-tyd wat amper verby was.

Laat die nag het van die jong manne op die sand gelê en huil omdat hulle hul god verloor het agter die wit duine waarheen hulle die bewende maagde gelei het vir die wyding. So versteurd was hulle van wyn en van weemoed dat hulle nie kon loop nie. Hulle kon maar net op hul elmboë leun en bulk van narigheid in hulle onmag: hul broeke benat en bevuil. en die maagde het bewoë gaan slaap met lampe wat hoopvol brand vir die god wat gesterf het en seker eers weer na drie dae tekens van ontwaking sou toon.

Die ou mans het maar net eenstryk deur gedrink. Hul geloof in 'n opstanding wat wonderbaarlik is, het lank reeds gekwyn tot niks. 'n Nuwe bruilof, of selfs 'n avondmaal, was hul nie meer gegun nie. Ouder gewoonte steek hul dan maar 'n dop totdat die donker en die vaak hul oorval.

Op die dag dan waarvan ek skryf, het dié wat daartoe in staat was, vroeg opgestaan en voorberei: gewas, geskeer, gegrimeer en ingesmeer, maar skamel aangetrek om te pas by die plek en die geleentheid. En afgesit na die hotel op die rotse langs die see. Vroegtydig.

Teen elfuur het dit begin stoom tussen die opgewonde en saamgeperste lywe op die terras. Dorstige mans het bier na bier gedrink en meer en meer begeer. Vrouens het boonste kledingstukke begin uitrek vir vryer perspirasie en beter vatplek vir die son en vir die oë. En organiseerders het hul hande gevryf in afwagting op die winste as die werklike losbandigheid eers begin.

Om twalfwuur het daar 'n helikopter oor die see verskyn. Waarvandaan? Ou Langebaners het beterweterig gesê: "Hier kom die Bassontjies. Almal het hul nekke opwaarts gerek: die stolp, die stolp, wie was in die stolp - seker kleintyd voorberei op die gedate dat engele neerdaal uit die hemel. Maar die landing van die naaldekoker, perdeby, gevlerkte steker, was maar net 'n teken dat die ander ongevlerktes moes verskyn - dramaties op die afgesproke oomblik. Om die swembad, voor die beoordelaars, het hulle verby geswaai in hulle dun en min kledingstukkies. Sommige het los jakkies oor kaal skouers - skild waaronder formidabele wapens eers strategies vertoon en daarna weer verberg is in 'n professionele spel van wegkruipertjie en loer en soek en stilstaan en gevang word. Op en af en heen en weer. Almal het lang bene op steltskoene. Heen en weer en op en af. En rooi lippe en wit tande wat lag en wellustigheid belowe.

Om eenuur het die beoordelaars hoofde bymekaar gesit en begin fluister. Sommige het radeloos maatbande uitgehaal en gemeet: heupe, dye, die swelling van die borste - kopskuddend. Hoe kan die vrugbaarheid tog bepaal word? die vrou van een van die regters het hand kom bysit met 'n storie van 'n droom waarin die wenner aan haar geopenbaar is. Maar dit wou die regbank nie aanvaar nie. Die skare het gejuig en raad gegee. Swetende mans het gejubel en geen twyfel oor hul gunsteling gelaat nie. En totaal weggevoer het andersins kalmes palmtakke afgeskeur en geswaai. almal het gevoel die ding moet nou na 'n kant toe.

Om kart voor twee het die regters gunstelinge aangekeer verhoog toe. En die skare het gegil: Kroon haar! Kroon haar! En die mans het nader gedrom en gedruk, nader om van anderby te kyk en stuitige dinge te sê. En hul vrouens het heimlik gevoel dat hulle hier verstoot word.

Eindelik om twee-uur het die hoofregter na vore getree vir die finale daad met die verkosene wat bruin en glansend in die son gesit het met haar bewende boesem en oë vol verwagting. En terwyl die hekse van Skandinawië op hulle besemstokke na eilande vlieg om met die duiwel te kopuleer, die heilige sonvoël sy rooi eier lê in die dal tussen ronde heuwels, ou Parysenaars hoopvol sipreskerkhowe besoek, Griekse ortodoksers die Paaskers aansteek in donker tempels, sy dun vlam die siesoene splyt, bakkers in Londen wit deegkruise rol, insteek in die geurende oonde, opgeleefde Amerikaanse miljoenêrs in tennisskoene en donkerbrille die herlewenis voller maak uit die oorlopende kasregisters en die Pous oor alles sy seën uistspreek met bleek hande, het hy haar gekroon met die groen en goue kroon van Paasgodinne.

'n Ou tante, rustende op die agterste gestoelte van haar swaar verrekte lyf, het weemoedig gelimlag oor die verrukte vertoon van vreugde - wetende van blomtyd as die koeke dik geswel is, soet, vol heuning en vol jongby, maar ook van die bitter, arm maande as die koningin sterf, die bye wegtrek en die neste stil en droog is.   

M.M. Walters                                                                                                                   

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Afrikaanse kortverhale,