# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Brief aan Moeder

Moeder was baie siek, en daar het mense gekom met 'n vreemde motor met 'n rooi kruis op, en haar na die hospitaal geneem.

Arme Ted en Tod was baie hartseer en eensaam. Hulle het nog nooit so allenig gevoel nie. Hulle het vreeslik verlang  na Mammie om weer terug te kom! Elke keer wanneer hulle 'n motor sien verbygaan, het hulle gekyk of dit nie die motor met die rooi kruis is wat weer terugkom nie. Die arme Tod het homself elke aand aan die slaap gehuil.

"Mammie het gesê dat ons dikwels aan haar moet skryf," het Ted eendag gesê. "Kom laat ons vandag skryf!"

Tod het gesê, "Ja, kom," en hulle het aan die werk gespring. Tod het papier en 'n bottel ink gekry. Toe hy die inkbottel oopmaak, het die prop oor die papier gerol en 'n groot swart merk gemaak. Toe het hulle besluit om die brief maar met 'n potlood te skryf.

"Mammie sal nie omgee as daar klatte is nie," het Ted gesê. "Wat sal ons nou skryf?"

"Sê dat sy gou moet terugkom," het Tod gesê. "Ek sal," het Ted gesê.

Hulle het toe begin skryf, en hier is die brief:

"Liewe Moeder

Kom asseblief gou terug. Ons hoop Moeder word gesond. Ons het Moeder so lief kom gou huis toe. Tod se knoop is af. Moeder moet nie weer siek word nie die kat het kleintjies. Ons  bid elke aand en ons vra Jesus om moeder beter te maak. Tod sê kom gou en ek ook.

Met baie liefde.

Van u liewe seuns en baie XXXXXX

Tod en Ted"

Hulle het die brief in 'n koevert toegelak, 'n posseëel by tante gekry, en toe is hulle na die briewebus om die brief te pos.

Tod het gesê dat hy die brief wil pos, maar toe hulle by die bus kom kon hy nie bykom om die brief in te gooi nie. Ted het hom opgetel so hoog as hy kon, en Tod kon net die gleuf bykom om die brief in te skuif.

Toe Moeder die brief die volgende oggend kry, was sy so bly dat sy gesê het dat sy sommer beter voel.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell