# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die Bol deurmekaar Tou

Dit was vakansie, en George wou baie graag 'n vlieër hê. Dit was glad nie die enigste ding wat George wou hê nie, maar vir die oomblik het hy die meeste belang gestel in 'n vlieër.

"Pappie," het George gesê, "kom kyk asseblief na die pragtige vlieër in die winkel daar op die hoek. Ek wil dit vreeslik graag hê."

"Ek glo dit goed," het Pappie gesê, glad nie te belangstellend nie.

"Maar, kom kyk net," het George hom gesoebat. "Ek het al baie vlieërs gesien," het Pappie gesê.

"Maar daardie een is van die nuwe soort," het George pleitend gesê, "en ek wil dit vreeslik graag hê. As ons nie gaan nie, mag dit verkoop word."

"Ag, moenie so ongeduldig wees nie," het Pappie geantwoord. Daar is baie tyd."

"Nee, daar is nie, want sien Pappie, iemand sal dit baie gou kom koop. 'n Rukkie gelede nog het 'n seun daarna gestaan en kyk, en ek is seker dat hy dit ook baie graag wil hê."

"Laat hom dit dan maar koop," het Pappie gesê.

"Nee, nee, ek kan dit nie toelaat nie," het George gesê, en hy was nou desperaat.  "En Pappie, dit kos net sikspens."

Skielik het Pappie weer begin luister. "Net 'n sikspens? En wie gaan daardie sikspens betaal?"

"Ek sal dit betaal - dit is as e-e-e-e Pappie dit vir my sal leen."

"O!" het Pappie gesê, "Ek het daardie storie al tevore gehoor."

George het weer sy saak bepleit. Hy het gesê dat hy nog nooit 'n vlieër in sy lewe gehad het nie, dat ander seuns altyd vlieërs het. Sommige van hulle het sommer twee en drie. As hy nou ook 'n vlieër het, sou hy baie gelukkig wees. Hy sou niemand ooit weer lastig val nie. Pappie sou sy koerant sonder steurnis kon lees, en hy sou nooit gevra word om die vlieër in die lug op te stuur, of om die tou op te draai nie. Die vlieër sou 'n baie groot seën vir die hele gesin wees. En dit alles vir slegs 'n sikspens wat hy op sy erewoord sou terugbetaal binne die volgende twaalf maande.

Of George hom omgepraat het, en of dit uit pure moedeloosheid was, weet ek nie, maar Pappie het eindelik saamgestap na die winkel.

"Daar is hy nog, daardie ene daar!" het George opgewonde uitgeroep. Hoe bly is ek dit is nog daar. Dit is 'n bestiering dat niemand dit voor ons kom koop het nie."

"Dit is jammer, bedoel jy! Maar hierdie vlieër is darem baie swak."

"Ja, dit is," het George gesê. "n Groter een sou baie beter wees, maar dit sal heelwat meer kos, weet Pappie?"

"Ja, dit weet ek."

Vir 'n hele twintig minute het hulle oor vlieërs gesels met die winkeldame, en eindelik het Pappie een gekoop vir drie sjielings en sikspens.

George kon byna uit sy vel spring so gelukkig was hy.

"Ek sal Pappie weer terugbetaal," het hy hom hart en mond belowe.

"Ja, natuurlik," het Pappie gesê.

Hulle was reeds besig om die winkel te verlaat, toe iets Pappie byval.

"Waar is die tou?" het hy gevra.

"Tou?" het George verleë gesê.

"Ja, tou," het Pappie met nadruk gesê. "Het jy 'n tou?"

"Nee," het George betreurend gesê, "Ek het nie. Ek het nooit daaraan gedink nie. Gee julle dan nie die tou saam met die vlieër nie?" het hy aan die winkeldame gevra.

"Nee, die tou is ekstra; en dit sal 'n verdere sjieling kos."

George het nie geweet wat om te sê nie. "Ek sal die geld vir die tou ook maar by Pappie moet leen," het hy gesê.

Pappie het gelag. "Ek sal di tou ook vir jou koop ou seun. Maar luister nou mooi: Jy moet dit losmaak eers wanneer jy dit wil gebruik, en dan moet jy dit om 'n stukkie stok draai."

"O, dit week ek," het George gesê, "ek sal dit doen."

Toe is hulle huis toe. Die spullejtie het vir Pappie vier sjielings en sikspens, pleks van sikspens gekos. Teo dit tyd vir die middagete was, was daar geen teken van George nie.

"George!" het Pappie geroep. "Waar is jy?"

Toe het Moeder binnegekom en gesê dat George 'n bietjie moeilikheid het, maar dat hy nie lank sal wees nie.

Maar George het weggebly. Pappie het gaan kyk waar hy is. Hy het hom in die ander kamer aangetref met 'n vreeslike deurmekaar hoop tou op die vloer. Die arme George het daar gesit en geprobeer om die boel uitmekaar te kry. Hy het getrek en deurgesteek en gedraai, en hy het te mismoedig gelyk.

"Maar wat het jy dan nou gemaak?" het Pappie gevra. "Is dit die pragtige bol tou wat ons vanmore gekoop het?"

George het na sy Vader gekyk, en toe maar weer gesukkel om die deurmekaal spul reg te kry, maar dit was 'n onbegonne taak.

"George, hoe het dit gebeur? Het jy die bol tou losgemaak voordat jy gereed was om dit om 'n stok te draai?"

George het met sy kop geknik, en daar het trane op die vloer geval. "Wel," het Pappie gesê, "jy was baie ongehoorsaam. Jy is heeltemal te ongeduldig, en jy behoort 'n pak te kry."

"Ja, ek is," het George gesê.

En daardie bol tou, wel almal het probeer, en eers twee dae later het George die tou aan sy vlieër gehad. Van daardie dag af, onthou George, elke keer wanneer hy 'n vlieër sien, hoe hy alles verbrou het, en dan besluit hy weer om homself te verbeter.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell