# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Die-aader-naait-deer

Op 'n Junie-oggend in nege-en-veertig het ek en Klei'Gert Byl haastig elkeen 'n groot beker koffie weggeslaan en met karwatse ingeval agter die trop karakoele wat toe net van die werf af geroer was. Die oggendwindjie het skerp oor die swart Boesmanlandse vlaktes gesny, maar die hot-en-haar-lopery agter die agterskaap het ons gou warm gemaak.

Die Boesmanland het lankal meer geen lewe gehad nie. So ver as die oog kon sien, was die wêreld een swart dooie see van tot in die grond afgevrete graspolle. Die Binneveld het in die voorwinter 'n paar vlagies misreën gekry en die xhouroe-bossies was darem daar 'n bietjie uitgeswel. Die sestig myl daarheen moes in die korste tyd afgelê word, maar die moelikheid het gekom by die deurmekaar gehalte van die skaap. Daar was die groot sterk hamels wat, hoewel maer, nog goed kon loop. Dan was daar die gusooie wat darem nog 'n bietjie kon uitstaan, maar daar was ook die afspeenlammertjies, party bly-lê gehalte. En almal moes saam. Die meeste lammers was nie meer as bondels gekoekte swart hare nie. 

Voor elfuur die oggend was daar van hulle wat ent-ent gedra moes word. En as jy hier agter aan die lammers dra is, loop die voorskaap skoon weg van jou af. Klei'Gert was 'n bietjie ouer as ek en omdat hy al so lank by Pa gebly het en ook dikwels vir Ma kombuishulp gespeel het, het ons soos halfbroers teenoor mekaar gevoel. Maar Gert was geneig om van sy ouderdom misbruik te maak. Hy het my graag 'n bietjie "georder" en so was dit weer die oggend. As die sterk skaap te ver vooruit was, het hy in my rigting aangesukkel met 'n lam of twee oor die skouers en dan op sy hakkelende manier gesê: "Jong, an-an, loop stuut dan vir ons daar voor." Op hierdie "order" het ek dan maar die skommelende sakgereedskappies in my baadjiesakke vasgedruk en krom-krom teen die windjie links of regs van die trop gedraf om voor te "stuut". 

As ek dan eindelik by die voorlopers om gedraf het, het daar darem bietjie rus gevolg, want ek moes keer totdat Gert weer met die agterskaap bykom. Dan het my oë oor die vlaktes gedwaal. Hier was werklik nie vir 'n skilpad kos nie. Die skaap het ook lankal opgehou soek na iets te vrete en die voorstes staan my met onrustige groot oë en aankyk: so asof hulle my wou vra waarheen ons hulle neem; of hulle ooit iets te vrete op hierdie trekpad sal kry. 

Teen dié tyd het ons dors begin raak en ook honger. Gert het geweet van 'n droë puts teen 'n heuweltjie daar naby. In sy velsak het hy 'n bietjie koffie, 'n swart blik en 'n leë bottel gehad. Toe ons in die ou puts afloer, blink 'n bietjie sugwater diep onderin. Die twee karwatse  aangemaak gebind, het die bottel nog nie by die water gebring nie. Gert se kruisbande en 'n stuk riem waarmee hy die swaklammers se bene aanmekaar knoop om hulle oor sy skouers te dra, het dit darem saam met die kwarwatse gehaal. die eerste bottel is uitgedrink en die tweede moes koffie maak.

In sy sak het Gert 'n stukkie skraper en een vuurhoutjie gehad. Maar toe doen hy 'n ding wat my laat ys dat daar nooit koffie sy kom nie. Hy vat sy knipmes, druk die "mêtjie" op sy veldskoenpunt en "split" hom. Gelukkig bars die kop van die vuurhoutjie ook middeldeur en daar het ons toe twee vuurhoutjies. Die een maak die vuurtjie en die ander word sorgvuldig gebêre vir later. Solank die swartblik op die vuur gestaan het, het Gert in sy sak gekrap en sy koffie uitgehaal. Toe hy dit oopmaak, sak my moed, want daar was geen koffie in nie, net 'n stukkie skaapvel met die hare nog so daaraan. Hy beduie dat hy altyd die vel in sy koffieblik hou. as hy nie meer koffie het nie, sê hy, kan hy nog een maal koffie maak. 

Hy begin skud die vel oor die blik, slaan dit sorgvuldig op sy hand oor die water uit en 'n stywe treksel val uit die hare. "Die-die koffie is sommer reg," sê hy tevrede en begin dit roer met 'n stokkie wat hy argeloos op die grond optel. "Jy-jy kan uit die bottel drink en ek sal sommer die blik vat."

Geen suiker, geen melk, pikswart, maar dis lekker, want dit spoel die moegheid weg. Ek gooi my dwars neer in die sand en vat kort-kort 'n lekker sluk uit die bottel. Die voorskaap wys nog net sy stof in die verte. Die agterste lammertjies lê sommer hier kort onder teen die bultjie. 

Ek het nou beter gevoel en nog voor Gert sy orders kon gee, was ek al aan die draf. Die voorskaap het met met mening getrek en toe ek al byna regoor die voorstes was, moes ek sommer uithaal om regtig voor hulle te kom. Dit was op die rand van die laaste vlakte van die Boesmanland. Hiervandaan breek die veld en gee dit koppies en bossieveld. Voor 'n klomp rooi kranse wat sommer so ewe skielik hier uit die sand uitsteek, het ek voor die skaap om gedraf en met my hande in die lug geswaai om hulle te keer. Dit was mooi op 'n skaapwerf en ek het al lank daar gestaan voor ek die vaal goiingsakpondokkie 'n paar tree agter my teen die rotse opmerk. Ek was weer dors van die lang draf en stap dadelik nader. 'n Paar poedelkaal kleingoed met boepensies staan my nuuskierig en bekyk. 'n Bruin vrou sit in die plat bossiekookskermpie, maar sy kyk nie op nie. 'n Maer hond wat in die son langs die pndokkie lê en slaap het, spring nou op en hardloop met maanhare gerys en stert tussen die bene grommend 'n wye draai om my. Nou merk ek ook 'n jong seun teen die opening van die pondokkie op. Hy is seker so twintig jaar oud en het net 'n ou gelapte langbroek aan. Maer, verdraaide voete steek by die pype uit, maar bokant die broek met die uitgedroogde onderlyf, vertoon 'n groot gespierde bolyf soos hy daar teen die deurpaaltjie leun. Kinderverlamming, dink ek en groet vriendelik. 

Ek vra water en een van die groter kinders wys my 'n sinkemmer in die skaduwee van die bossieskerm. Ek huiwer eers, maar waai dan die vlieë weg en drink sommer uit die emmer. Ek wys met my oë na die vrou wat nog nie opgekyk het nie en vra woordeloos aan die seun wat dan skeel. "Blind", antwoord hy sag. 

Die vrou voel rondom haar en trek een van die kinders nader. "Wie is dit?" fluister sy. Die kind beduie skaam-skaam iets van 'n "vrimme witman". Toe neem ek maar oor. "Ons is op die trekpad. Jan Niekerk se skaap. Trek Binneveld toe. Klei'Gert van ou Gert is agter die skaap." Sy glimlag dankbaar vir die inligting. "Die oë kan sien," vertel sy sag. "Die tjind kan ook maar min help, want hy kan mos net kruip. Die ander is nog sommer tjommetsa" (baie klein en nikswerd). Ek voel skielik half tuis daar teen die verlatenheid en ellende. Die kleingoed gaap my nie meer so aan nie; hulle hurk nou op 'n ry langs hul moeder teen die bossieskerm; die hond lê weer rustig en slaap en die vlieë het teruggeswerm na die wateremmer. Die skaap staan stil op die werf en Gert kom nog ver met die agsterstes aan. Ek moet tog hier wag. Ek gaan sit op 'n geroeste paraffienblik en begin gesels. 

Die vader is 'n afgedwaalde en ontstamde swartman wat hier skaap oppas. Hulle het nog ander kinders ook, maar dié is al groot genoeg om los werkies te doen en nou bly hulle op die plaas. Die gebreklike seun moet die middag nog met die donkiekarretjie daar gaan water haal. Hoe hy dit regkry? Hy span die donkies self in, beduie die moeder torts. Die donkies ken hom en as hy op sy knieë gaan staan, maak hy al die "gespers" self vas en tel ook die draaghout op. Die drom laai hy ook self op en gooi dit vol water. 

Die seun sit kop in die grond en luister oënskynlik glad nie. Ek merk hoe die pragtige spiere van die bolyf beweeg as hy maar net met sy knipmes aan 'n stokkie sit en sny. Hy is besig om vir hom 'n nuwe strykstok te maak. Toe wil ek ook sy viool sien. Hy trek dit nader uit die pondokkie. 'n Geroeste blikkie met 'n greinhoutnek en kitaarsnare. Ek soebat hom om iets te speel. 

Eers weier hy, maar ek hou aan en hy begin die instrument stel. Sy ou perdestert-strykstok is nie so reg nie, vertel hy. En dan begin hy speel. Ek herken dadelik die deuntjie. "You are my sunshine, my only sunshine." Die klanke is yl en huil die eensaamheid in. En skielik begin die wêreld verander. Die vlakte word wyer en eensamer en swarter, die rooi rotse rooier. Die ou liedjie word 'n simfonie. 

"Die aader-naait-deer", begin hy met 'n ryk diepbas saamsing. Die potsierlike voetjies wat by die pype van die gelapte langbroek uitsteek, verdwyn. Ek sien net die pragtige blinkswart bolyf en ek hoor die primitiewe viool en die diepste bas. 

As die musiek ophou, slaan die hond vriendelik 'n paar slae met sy stert op die grond. Eenvoudige, opregte applous. Die vlieë warrel 'n oomblik op van die kospot op die dooie vuurherd in die middel van die bossieskerm. 

Die aand sit ek vér van die rooi rotse teen 'n bos en sluimer. Die vuurtjie flikker-brand nog effens. "Die aader-naait-deer" en die fynsnaar se lied van verlange bly in my naspeel. En dié nag deurleef ek in 'n droombeeld die ervaring van die dag: 'n wye swart vlakte met rooi rotse en 'n gespierde,  glimmende bolyf wat hoog bokant die rotse uittroon en later selfs die vlakte verdwerg en hy speel sy viool en hy sing sy lied. 

A.A.J. van Niekerk

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7