Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Deurmekaar Breiwol
Eendag het ek 'n vriendelike dame ontmoet wat my vertel het dat sy vir jare 'n verpleegster was by 'n groot weeshuis. Sy het my baie staaltjies vertel. Hier is een oor 'n arme seun genoem Willie.
Willie was bedlêend, en van die een maaltyd na die ander het hy niks gehad om te doen nie. Die verpleegster het heen-en-weer geloop in die saal om haar groot gesin te versorg, en te kyk dat hulle enige kattekwaad aanvang nie. Sy het al haar pasiënte liefgehad, al het hulle haar soms moeg gemaak.
Willie het daar in sy bed gelê en dan hiernatoe en dan weer daarnatoe gekyk. Eindelik het hy een van sy kouse sien hang oor die leuning van die stoel langs sy bed. Waarom hy skielik in die kous begin belangstel het, weet ek nie, maar hy het. Moontlik was dit omdat daar 'n klein gaatjie by die knie was en daar 'n stukkie los wol gehang het.
Willie het sy hand uitgesteek en die kous voor hom op die bed geplaas; toe het hy aan die los stukkie breiwol begin trek. Julle kan seker almal raai wat toe gebeur het.
Die stukke wol waaraan hy getrek het, het al langer geword. Dit was vir hom snaaks, en hy het aangehou trek en trek. Baie gou was daardie gat by die knie groter, en voor hom op die bed het jaarts en jaarts los wol gelê, alles deurmekaar.
Terwyl hy nog ewe lustig die kous verder uitrafel, het 'n stem hom hard aangespreek. "Willie! wat op aarde doen jy?"
"Ek speel sommer met my kous," het Willie onskuldig gesê.
"Speel sommer met jou kous!" het die verpleegster uitgeroep, terwyl sy vinnig na hom toe aangestap kom. "Jy is baie stout, Willie. Ek kon daardie gat gestop het binne 'n paar minute, maar nou sal dit ure neem."
"Ek is jammer," het Willie gesê, "ek het nie gemeen om kwaad te doen nie. Ek wil u nie meer werk gee nie; regtig nie."
"Maar wat help dit om nou so te sê?" het die verpleegster gesê; jy het klaar kwaad gedoen."
Toe het Willie 'n goeie plan gekry.
"Suster," het hy gesê, "leen my 'n paar breipenne, en dan sal ek die kous weer heelmaak."