# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Dertien

"Du, Nachbar Gott...
Nur eine schmale Wand ist zwischen uns"


Agtuur in die môre, as al die ander van hul kamers en woonstelle straat toe stad toe kom vir die dag, kom hy van die nagwerk terug by Olympic Heights en reis allenig in die hysbak boontoe. Eentweedrieviervyfsesseweagtnegetienelftwaalfdertien. Die hokkie is ses by ses by agt en vaal en vuil, met baie inskripsies en tekeninge en kolle. 'n Diep gekerfde hoofletter F met 'n onleesbare veegsel daarna. 'n Uitnodiging Want a nice time honey phone me tonight daarby . Die twee opvandeste graffiti is links en regs van 13 getatoeëer. Links die diagram van 'n kersvlam. Regs twee koeëlronde oë met 'n lang dun neus daartussen. En 'n stippellyn skuns bo-oor die 13 loop van die punt van die neus na die kersvlam.

Hy staan elke oggend as hy opry en elke nag as hy afry en tuur na die twee  sketse by sy nommer en wonder waarom hulle juis met soveel sorg ingegrif is. Niemand anders ty tog ooit op na 13 of kom daarvandaan nie. Tot by en vanaf 2,3,4,5,6,7,8,9,19,11,12, ja, maar nie 13 nie. 13 is bo hoër as al die ander geboue in die omtrek verder van die grond, nader aan. En 13 is kleiner as 1 tot 12. Op 1 tot 12 is ddaar ses woonstelle elk. Soms loop hy snags voor hy werk toe gaan met al die gange van die gebou langs, op elke verdieping, om kennis te maak met die nommers waarmee hy saamwoon.

12A, 12B, 12C, !2D, 12E 12F. Dan weer 11A, 11B, 11C, ensovoorts. Hy ken al almal uit sy kop, tot by 1F in die portaal onder by die hysbakdeur.  Maar op 13 is daar nie ses nie. Daar is net 13A en 13B. Ek is 13A. 13B is net 'n deur. Nee: 13B was 'n deur, maar daar is nie meer 'n leegte agter soos tevore nie. Daar is iets agter. Daar is agter 13B, in 13B, iets wat beweeg. Daar is iemand wat beweeg in 13B. Daar is iemand wat waarskynlik sogggens van 13B af met die hysbak uitry stad toe soos die ander en saans of laat smiddags weer uit die stad opry na 13B en oopsluit en ingaan en toemaak. Ek weet nie wie dit is nie maar ek vermoed wel dat. Dit kan die wind wees. Dit kan 'n wind wees. Ek stel my soms voor dat dit die son is wat daar slaap in 13B, in 13B langs 13A, langs my. Ek woon in 13A. Maar soms as ek agtuur in die môre agter my deur terug is, is 13A, en die son al op is, is daar nog roering langsaan in 13B. Tensy die maan bedags daar bly, maar soms skyn die maand bedags oor. 'n Wind kan dit natuurlik wees, maar ek sou dit tog vreemd vind dat 'n wind langs my woon 'n in woonstel met die nommer 13B in 'n blok met 'n Engelse naam Olympic Heights. En ek weet nie of die wind sou bad nie terwyl iets iemand in 13B  wel soms bad ek hoor dit deur die muur as ek my oor daarteen druk, tensy ek slaap dan kan ek natuurlik niks hoor nie.

Hy wonder nooit oor die ander nommers in sy gebou nie, dis tog vanselfsprekend dat daar niks omtrent 'n nommer soos 3D of 7A of 10F is wat mens kan nuuskierig maak nie. En as daar 13ABCDEF was sou dit hom ook nie ontstel het nie maar daar is net 13A en 13B en 13B is langs my en daar roer soms iets stap soms iets kaalvoet kaal rond trek soms 'n toiletketting maak soms 'n kasdeur saggies oop en laat soms 'n enkelbedjie effens kraak. net soms. Een maal 'n week, een maal in drie dae miskien, want hy slaap bedags, hy kom agtuur smôrens tuis en begin weer middernag werk, hy kan nie heeldag teen die muur staan en luister nie. Buitendien is daar nie heeldag iemand langsaan nie iets langsaan nie, net vroeërig soggens of in die aand. dit vind ek vreemd. Mens sou verwag dat as daar net twee inwoners op 13 is, in 13A en 13B, hulle dieselfde gewoontes sou hê, dat 13B soos ek middernag sou gaan werk en agtuur terugkom, mekaar sou ontmoet, soms sou gesels, soms sou. Maar nou is 13B se gedrag nie net anders nie dis ook ongedurig dit onstel my. Mens behoort dit met die opsigter te bespreek, maar ek sien hom nooit en die saak is te delikaat om per brief te bespreek, ek kan nie. As ek snags gaan werk, slaap die opsigter al en soggens agtuur is hy uit en het el gaan kyk. ek sien nooit iemand nie. Ek het die advertensie in die koerant gesien en skriftelik geantwoord en 'n kontrak ontvang en geteken, en elke maand stoot ek my huurgeld in 'n wit koevertjie virbyses deur die opsigter se gleuf, gewoonlik net voor ek werk toe gaan die dertigste of een-en-dertigste van die maand Februarie die agt-en-twintigste en eenmaal elke vier jaar die nege-en-twintigste.

By die werk ook. Hy het skriftelik aansoek gedoen en moes daarna die baas bel, die telefoon was krakerig, hy sal die man se stem nie weer herken nie. Hy het 'n aanstellingsbrief ontvang en in die vaal koevert, vierbyagt, was 'n klein stadsplan  met die fabriek waar hy sou werk daarop aangedui, en S.O.S. onderaan gedruk, en ommesyde was 'n diagram van die fabriek met 'n pyltjie na die deur waar hy moes ingaan. Daar was 'n volledige stel regulasies ingesluit. Snags gaan hy by die deur in, net hy, want die skofte is so gereël. Teen 'n muur is 'n bord met rye kaartjies, elk genommer, syne 31, die haal hy van die hakie af en druk hom by 'n gleuf van 'n ponsmasjien in wat die juiste tyd van aankoms daarop druk, dis noodsaaklik vir kontrole en loonberekening. Daarna stoot hy die kaartjie deur 'n gleuf en wag tot 'n hand 'n sleutel deurskuif. Hy gaan sy masjienkamer oopsluit en maak weer die deur agter hom toe, en tot halfagt beheer hy die masjien volgens die aanwysings op 'n metaalplaat agter die deur. Van die masjien loop 'n band deur 'n gat hoog in die muur. Wat anderkant die gat is, weet hy nie. Wat anderkant die gat is, weet ek nie ek het nog nooit gekyk nie. Halfvier het hy 'n halfuur etenstyd. Daar is 'n self-service in die gebou waar mens op 'n kaart die nommer soek van die gereg wat jy wil eet en dan die betrokke hefboom gaan trek en wag tot jou kos deur 'n luik geskuif word. Daar is 'n lang ry eethokkies waar mens afgesonder by klein tafeltjies een-een kan sit en eet. Halfagt skakel ek die masjien af, sluit toe, lewer my sleutel in, kry my kaartjie terug, laat dit pons, en hag dit weer aan sy hakie op. Dan kom ek met die ondergrondse trein huis toe en gaan alleen in die hysbak op eentweedrieviervyfsesseweagtnegetienelftwaalfdertien met die inskripsies en die kersvlam en die neus-en-oë.

Dis gewoonlik net mooi agtuur in die môre as hy in sy woonstel terug is, in 13A. Dan maak hy dadelik aandete, sop of iets, en gaan slaap. woensdae en Sondae bad hy eers. As hy die aand wakker word, lê hy eers na die plafon en kyk, daar is 'n kolletjie, staan dan op en maak ontbyt, maak die plek aankant, engaan 'n ruk op die balkon staan en uitkyk. Onder kan mens niks sien nie, want die straatligte is ver uitmekaar en dis gewoonlik mistig of rokerig. Hier en daar is ligte in vensters van ander geboue, maar ver, en almal veel laer as myne. Die sterre kan ek wel sien, al maak die stad se gloed hulle dof, en die maan as daar 'n maan is, en die wind natuurlik. Daar is altyd effens wind hierbo en ek het gou met hom maats gemaak. Ons kom goed klaar. En dan is dit weer tyd vir werk. My dae is dus baie vol, ek het nie tyd vir leeglê nie. En as ek wel 'n kwartiertjie vry is, besoek ek die deure van my groot gebou, almal netjies eenders, almal bruin, maar elke met sy eie nommer, elke verskillend.

Eers was 13B net so 'n deur soos die drie-en-sewentig ander in Olympic Heights, 'n deur met 'n nommer. 13B, 'n nommer wat ek uit my kop geleer het, dit was nogal maklik om te onthou want dis baie soos my eie, 13A, net 'n letter verskil. Maar toe het daar eenag iets geroer, iemand dalk, agter die deur, binne-in, langs my, naby my. dit was nag, elfuur die aand, en ek het so pas ontbyt geëet, ek wou regmaak om te gaan werk. 'n Effense geluid, dit kon 'n voetstap gewees het, of iets wat skuif oor 'n sagte mat, of 'n roering van 'n bed, iets. Hy het na sy balkon gestap en uitgekyk, menende dat dit die wind kon wees, maar dit was nie. Hy het na die partisiemuur terrugekom en sy oor daarteen vasgedruk, maar dit was doodstil. Dalk het ek my dit verbeel, maar ek het nie, ek verbeel my nooit dinge nie. Daar was 'n geluid langsaan, 'n voetstap, of iets wat skuif oor 'n sagte mat, of 'n roering van bed, iets. Maar wat was dit as dit nie die wind was nie, wie was dit?

Was daar dan in 13B ook iets, ook iemand, soos ek, maar nie ekself nie, iemand wat ook eet, ook slaap, ook werk toe gaan en terugkom, ook aantrek, ook uitrek, ook soms verbaas aan sy eie liggaam raak en nakend voor 'n spieël gaan staan, ook praaat met die wind, met net 'n muur tussen ons? maar wie? maar wat? en van wanneer af? en sou dit so bly? en sou ek ooit weet wie? en hou sou ek voortgaan kon opstaaneetwerkterugkomeetslaap as ek nie weet nie? As ek nie. Weet nie.

Langsaan was dit stil. in 13B was dit stil.

Hy het uitgegaan in die gang die skemergang die lang gang tussen die mure tussen die roerlose mure onder die dak, hysbak toe, op die verste punt, ver van 13A af, nog verder van 13B af. Maar hy het 'n paar maal gaan staan en omgekyk: sê nou 13B gaan oop, sê nou iets kom  uit, sê nou iemand kom uit en ek is alleen in die gang, ek is alleen, sê nou. Ek kon nie meer my rug draai nie. Ek het agterguit geloop tot by die hysbak en die knoppie gedruk en eers weer veilig gevoel toe ek alleen binnekant hom met die ry knoppies en die ry syfers en die kersvlam en die neusenoë wat my bly aanstaar bly aan bly staar aan het bly.

Hy was twee minute laat by die werk.

Halfvier in die self-service het hy gereg 13B gedruk vleiskoolspinasie wat hy nooit eet nie.

Agtuur het die oë my aangegaap en die kersvlam was 'n mond wat glimlag vir my en vir die oë wat vir die deus sê kom kom gerus kom.

Die gang was leeg. Die deure het niks gesê nie. Die son was buite al uit. Hy moes aandete maak en gaan slaap. Maar hy het teen die partisiemuur bly staan en geluister geluister. Buite het die stad geraas. Ek het iets gehoor, ek weet nie wat nie, iets. Toe die deur, 13B, die deur wat klik. Ek het doodstil bly staan. In die gang het ek niks gehoor nie die mat is dik. ek het opgespring en deur toe gehardloop en dit oopgeruk maar die gang was  leeg. Die hysbak het gezoem. Dan tog dan tog dan was daar iets in 13B iemand langs my wie wie wie. Ek het nie geëet nie en het bly wag dwardsdeur die dag, maar toe aan die slaap geraak, verslaap, niks weer gehoor voor ek weg is werk toe nie weer laat drie minute.

Daar was drie dae niks. Hy het sleg geslaap hy het begin droom dat sy deur snags oopgaan al het hy dit gesluit en die grendeltjie ook toegeskuif wat hy voorheen nooit gedoen het nie, en gedroom dat iets inkom, ietsiemand uit 13B op sagte voete iets onsigbaars want ek kon my oë nie oopkry nie en eenkeer het ek wakker geword van 'n stem wat skree dalk was dit ek self my eie stem maar dalk was dit die vreemdeling langsaan, en sy werk het daaronder begin ly en een nag was daar 'n nota van waarskuwing langs sy masjien. Ek sou iets moes begin doen anders verloor ek my werk maar wat maar en toe ek in die hysbak terugkom, het ek die vanselfsprekende oplossing gevind.

In sy kamer het hy 'n potlood gaan haal in sy badkamer 'n nuwe ongebruikte lemmetjie en daarmee na sy deur gegaan, na 13A, en buitekant, netjies onder die chroomletters 13B het hy die Neusenoë van die hysbak nageteken en die buitelyne met die lemmetjie diep wit in die bruin sagte hout uitgesny en toe my deur toegmaak 13A en gerus gaan slaap want in my drome snags het die deur nie meer opgegaan nie.

Maar hy het nog bly luister. En hy het amper verlang dat hy weer iets moet hoor. Sagte voetstappe een nag net voor hy uit is, langsaan heen en weer, en sy oor teen die muur, maar toe het dit opgehou en hy het 'n skakelaar hoor klik, 'n bed, teen die muur, en stil. die gek gek ding langsaan het gaan slaap. Maar hy het 'n plan gekry en saans vroeër opgestaan en dan op sy balkon gaan staan en ver oorgeleun oor die afgrond oor die stad onder die dowwe sterre en soms kon hy 'n effense skynsel ig oor die balkon langsaan. 13B, sien uitstreep, dit moet deur 'n gleuf in die gordyne gewees het. Dit het hom rustiger laat voel.

Maar hy kon tog nie net geluide hoor en lig sien nie. Ek moes uitvind ek moes weet anders. Anders sou. Hoe kon ek gerus wees leef as ek nie eers weet wie hier langs my woon nie. Ek kon tog nie altyd dink iets, iemand, dit ding, nie, ek moes dit 'n naam gee, dit moes tog 'n naam hê, dit moes na iets lyk, dit moes heet.

Hy het weke bly soek na 'n naam 'n woord, maar hy kon niks kry nie. By die werk was hy te besig en tuis het hy geslaap of tuis het hy geluister. Sy enigste dinktyd was in die hysbak op smôrens in die hysbak af snags. Hy het ontdek dat hy makliker dink as sy streel oor die mure van die hokkie oor die Kersvlam die Neusenoë. Oor en oor het sy vingers die buitelyne van die tekeninge gevolg, oor en oor, en hy het begin om elke keer wanneer hy hysbak ry drie keer heen en weer te ry, of hy opgaan of afkom, sodat hy beter kon dink.

Dit het stadig gekom, nie skielik nie, stadig, soos die buitelyne van die stad soggens as hy voor die venster staan vorm kry deur die mis. En toe het dit gebeur, toe het die naam gekom, toe hy een aand vroeëerig die deur langsaan hoor klik, 13B hoor klik. 'n Rukkie het hy roerloos bly wag, toe na sy eie deur gestorm, uit in die gang, die gang was leeg. Maar by die onderpunt van die gang was die hysbak se buitedeur aan die toeswaai en ek het 'n vae silhoeët daardeur gesien, deur die matglas, 'n vae silhoeët van 'n wit rok, en toe het die deur geklik en die hysbak het weggezoem.

Tioe het ek geweet wat in die kamer langs my woon, 'n vrou. In my woonstel het ek 'n potlood gaan haal in die badkamer 'n nuwe ongebruikte lemmetjie ek het my klere uitgetrek my kaal uitgetrek en uitgeloop in die gang se skemerlig, by my eie bruin deur uit, 13A, na die bruin deur langsaan, 13B, en stadig en versigtig en met behoedsame vingers die Kersvlam daar geteken in gegegrif, diep en sekuur, en toe teruggestaan en gefluister: "God."

En ek het skaam geword omdat ek nie klere aanhet nie en na my eie kamer teruggegaan en my deur agter my gesluit en begin lag en begin huil en op die vloer neerval en heen en weer begin rol rol rol tussen die deur en die balkom rol rol rol en gestik van die lag en gesnik van die huil godgodgodgodgodgodgodgodgodgodgodgodgod dertien maal.

Hy het nie geweet waarom hy juis dié woord gesê het nie, dit was een wat hy tevore al gehoor het, uit sy kinderjare dalk onthou het, daar was soveel ander wat hy kon gebruik die woorde in die hysbak byvoorbeeld, dié het ook amper almal drie letters.

Die res van die nag het ek bly wag bly lê en wat tot die deur langsaan klik en ek stil voete oor die  mat hoor roer en die bed en die skakelaar, en ek het geweet dat my woord goed was en gaan slaap, want daar was lig, die son was amper op, gelukkig was dit sondagnag afnag.

Maar nou dat hy geweet het, moes hy meer weet, nou moes ek sien, ek wou haar sien, wou haar van aangesig tot aangesig sien, god, maar hoe kon ek daar was 'n muur tussen ons en twee geslote deure 13A en 13B, albei 13, noodlottig eenders maar die een A en die ander B, noodlottig anders. En ons was alleen op ons hoë verdieping, op ons hoogte, hoër as die stad, tussen die winde, onder die sterre en soms die maan en bedags die son en altyd altyd die wind die winddiehemelsekind altyd en ek hier en sy daar die onbekende daar die vrou kersvlam god daar en tussen ons die muur alleen op ons verdieping op 13 alleen saam en die wind god die wind.

Hy het geluister en min gehoor. Hy het soms gaan klop aan 13B, maar dit het toe gebly, dan was daar niemand binne nie, en as sy binne was god dan was ek te skaam of bang vir klop omdat ek dan sou moes weggaan van die muur waar ek kon luisterluister na stappe of 'n bed of watertap en altyd na my hart, my hart in my anderkant ook 'n hart, haar hart, 'n ander hart, maar ook 'n dertienhart, anderkant die muur. Wat beteken dit dertien 13 doodengeboorte 13 dertien dit beteken wat. Hy het begin tuisbly snag om meer te hoor, te bed te hoor, my hart te hoor al harder slaan. en toe was daar een nag 'n finale gedrukte kennisgewing by sy masjien met 'n koevertjie geld daarby, sy ontslag.

En nag laasnag my ontslag.

En vannag:

Ek kan nie langer hier bly nie, ek moet weggaan, ek het reeds die opsigter laat weet, ek het nie geld om te bly nie, nog net vannag is ek hier, môre moet ek weg, môre moet ek weet. Ek sal na vannag nooit weer kan staan en luister nie. Vannag sal ek moet. Vannag sal ek moet. Sal. Ek. Moet.

Hy was nenou op sy balkon. Daar was 'n strepie lig langsaan. Maar nou, nou dat hy weer gaan kyk, is die lig dood. Sy slaap. Dis donker. Oor die stad hang 'n newel. Hy is alleen wakker op 13. Ek voel my hart agter my oë klop en in my hande klop en baie laag in my onderbuik klop. ek voel sweet sweet sweet op my voorkop onder my neus tussen my blaaie tussen my dye. My oë brand my bors brand. Hart. sy hande beweeg sonder hom, beweeg op na sy nek en begin sy hempsknope losknoop. Hy probeer sy hande keer, maar hulle knoop-knoop laer los. Sy hande laer laer los. My hande dringender. Ek weet ek word koud en gloei van vuur.

Hy skop sy klere uit, oor die reling van die balkon, uit oor die newelstad, weg van hom. Hy gaan sit op die reling wat koud onder hom brand. Hy swaai sy bene oor die reling uit oor die stad onsigbaar in die newel. Hy voel met sy tone na 'n dun gleufie tussen sierstene. Hy voel met sy vingers na 'n dun gleufie tusssen sierstene. Sy gewig trek aan sy arms en sy kuite. Sy kaal lyf is vas teen die growwe stene. My kaal. Ek klop soos 'n hart teen die muur. Ek skuif duim vir duim vir duim. Dit pyn godditpynhoorjymynie. Ek kom. 'n Duim 'n duim 'n duim. Die balkon langsaan is anby. Ek gooi my kop agteroor en hang oor die afgrond en sien die sterre wegdraai. Ek sien sterre en maan en ver son verduister kolke kolke sfere, ek hang oor die afgrond en sien die uitspansel, sien my hart rooi klop-klop teen die hemel. As ek val verskiet ek soos 'n ster. Draai draai, pyn, klop draai. Duim. Duim. Duim. My vringers raak 'n ysterreling. Balkon.

Hy swaai sy lam bene oor. Hy gaan huil God ek is hier god ek is hier. Ek huil Hy voel-voel met sy hande vooruit na die glasdeur. Dit gaan oop in sy hande. Ek voel verder voel in die donker voel my hart slaan.

Ek huil.

'n Lig gaan. 'n flitslig. 'n ronde kol skrikwekkende lig in sy oë in die donker. Neem weg die lig, wil ek vra, dat ek kan sien, jou gesig kan sien, dat ek jou kan sien, ek woon al so lankal langs jou ek ken al so goed en jy is heeltemal vreemd vir my. Neem weg die lig ek wil jou sien ek wil sien. Neem weg ek wil. Maar ek huil 'n Stem vra: "Wat maak jy hier? 'n Sagte vrouestem meisiestem mooi stem godstem, 'n sagte stem, bang. Wat maak jy hier?

Gaan weg! Loop. loop! wat maak jy hier loop loop!

Ek skud my kop. Ek kom nader. Ek steek my hande uit. Ek sien 'n sien 'n klein swart sirkeltjie langs die lig verskyn. En sonder dat hy sien wie, sonder dat hy sie Wie, skiet iets hom dood.

André P. Brink                                                                                                                   

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Afrikaanse kortverhale,