# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Pannekoek vir die Hart

Pannekoek vir die Hart is 'n lekkerluister versoekprogram op Radio Kuber Kontrei, waar ons ouer treffers van die jare '50 af speel. Kom luister elke na Deona Aucamp se program. Kontak my by deona@radiokuberkontrei.co.za. Elke woensdagaand om 20h00 tot 21h30.

Ek is in 1962 gebore in Roodepoort, Gauteng. Maar daardie jare was daar nog nie GPS nie, dus het die ooievaar nie besef hy moes my eintlik in die Kaap afgelewer het nie. In 2004 het ek uiteindelik my plekkie by die see oopgeskrop gekry, in Stilbaai in die Suid-Kaap. In daardie besondere dorpie het ek werklik héél-mens geword, na baie emosionele trauma.

Tans bly ek en my man, Louis, tydelik in Centurion sodat hy sy ingenieurskontrakte kan afhandel. Ons het 4 kinders, 2 kleinkinders, 2 honde en ‘n astrante African Grey papagaai.

Na matriek het ek my akademiese draaie op die Puk gemaak. Ek was die tweede vrou in die Gereformeerde Kerk wat ‘n volledige teologiese opleiding van 7 jaar klaargemaak het. Alhoewel vrouens vandag nog nie toegelaat word op Gereformeerde preekstoele nie, sal ek nooit spyt wees oor die kennis en ondervinding wat ek tydens my studies en praktiese tye opgedoen het nie. Pastorale werk is nog steeds baie lekkerder as preekmaak...!

Op ‘n meer gevorderde ouderdom het ek teruggekeer skoolbanke toe en ‘n regsgraad by Tukkies gedoen. Die regswese is egter nie die wêreld waar my hart lê nie.

My paar jaar ondervinding as joernalis het my gewys dat my hoërskooldroom om ‘n uitsaaier te word, nog steeds lewendig is. Ek was ‘n nuusskrywer by TVNuus in die vroeë negentigs, aktualiteitsredakteur by Kosmos Radio ‘n paar jaar later, en daarna koerantjoernalis by verskeie gemeenskapskoerante, maar radio het bly wink.

Hier by Radio Kuber Kontrei kan ek my uitsaai-droom en my passies kombineer. As klassiek-opgeleide sanger met ‘n besondere wye musieksmaak, is dit my voorreg om sowel ‘n program met ligte musiek as een met ernstiger musiek aan te bied.

Behalwe vir uitsaai en sangoptredes, doen ek ook gel-naels as ‘n stokperdjie. Dis nou waar die kleur-ding heerlik tot uitlewing kom! Dis baie bevredigend om ‘n kliënt wat met ‘n afdraande gesig by die hek ingekom het, stralend daar uit te stuur omdat sy weer spesiaal en versorg voel.

Ek is ‘n Afrikaanse Christen en ek glo ek verdien die vryheid om my waardes in my taal uit te leef. Net so gun ek enigiemand anders die vryheid om hulle kultuur en waardes uit te leef, solank ons in vrede naas mekaar kan bestaan en niks op iemand anders afgedwing word nie.

O en die humor, vra jy...? Dis die skitter-gom wat oral in my wese ingevleg is, net soos musiek en taal en letterkunde. Glimlag en almal wonder wat jy nou weer beplan!

Pannekoek vir die Hart 5 20 Maart 2016.mp3

Pannekoek vir die hart 4 13 Maart 2016.mp3

Pannekoek vir die Hart 3 6 Maart 2016.mp3

Pannekoek vir die Hart 2 28 Feb 2016.mp3

RandallWicombSNRPaul.2016-01-11.190036.mp3

VergeteMusiekPaul.mp3

AlabamaSNRPaul.2015-12-11.210248.mp3