Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Dennis en die Duikbomwerpers


Dit het vir Dennis gelyk asof al die seuns in die buurt na die oorlog gaan. Hy het by die hekkie van sy huis gestaan en kyk hoe hulle verbymasjeer - dit was vir hom baie interessant.

Hulle het houtgewere en houtswaarde gedra; ander was bewapen met skerp stokke wat kastig spiese was.

"Waar gaan julle heen?" het hy geskreeu vir sommige van die seuns wat hy ken. "Kom saam," het hulle geantwoord, "ons gaan oorlog toe."

"Wie is die vyand?" het Dennis gevra.

"Ons het 'n perdebynes gekry daar in die bome, en ons gaan hulle aanval."

Dennis is skielik die huis in en hy het uitgeroep: "Mammie, mag ek ook oorlog toe gaan saam met die ander seuns?"

"Wat se onsin is dit nou weer?" het Moeder gevra. "Hulle gaan na die bos toe om met die perdebye oorlog te maak; hulle  het gewere, swaarde, en spiese. Mag ek asseblief ook gaan, Moeder?"

Op daardie oomblik het Pappie ook verskyn en net soos Moeder gevra, "Wat se onsin is dit?" Nadat Dennis hom vertel het, het hy Dennis absoluut belet om saam te gaan.

"Dis 'n dwase ding om te doen," het hy gesê. "Perdebye is gevaarlike goed, en 'n mens moet behoorlik ingerig wees om met hulle te veg. Julle kan hulle nie met stukkies hout beveg nie. Dennis, jy gaan glad nie daarheen nie!"

Pappie se antwoord was baie beslis, en Dennis moes maar by die hekkie staan en wag totdat die seuns weer terugkom.

Na 'n baie lang tyd soos dit vir hom gelyk het, het die seuns teruggekom. Hulle het geskreeu en hulle wapens in die lug geswaai as teken van hulle oorwinning; maar die perdebye het niks van daardie oorwinning geweet nie.

Twee dae later is die seuns weer daar by die huis verby met hulle wapens net soos die vorige keer.

"Kom saam, Dennis," het hulle geskeeu; "moenie so bang soos 'n meisie wees nie!"

"My Pa het gesê dat ek nie moet gaan nie," het Dennis geantwoord.

"Ag, kom maar; hy sal nie omgee nie, en ons gaan groot pret hê."

Dennis het begin weifel. Hy kon baie maklik saam met die seuns gaan, sonder dat sy Vader daarvan weet; hy was nog op kantoor en sou baie later eers tuiskom. En Moeder was ook uit. Hy het gevoel dat dit baie lekker sou wees om saam te gaan, en hy wou baie graag sien hoe hulle die perdebye aanval met hulle wapens van hout.

Dennis het toe ook 'n stok gegryp en by die ander aangesluit.

By die bos gekom het van die groter seuns begin soek na 'n perdbynes, en na 'n rukkie het een van hulle geroep: "Kom, ek het een gekry; daar is dit, en is dit nie 'n grote nie!"

Dit was van die groot soort perdebye. Dit was ook nie lank nie of dardie perdebye het aangeval, en die seuns het in alle rigtings gespaander.

Een van daardie perdebye het Dennis op sy bolip, net onder sy neus, gesteek. Hy het vreeslik geskreeu, en baie gou het sy lip begin swel. Hoe het hy nou gewens dat hy na sy Pappie geluister het! Wat sou sy Pappie nou sê? Sjoe, hoe het sy lip gebrand! Hy kon dit nie uithou nie.

Toe Moeder tuiskom en sien wat gebeur het, was sy baie onrustig en sy het die dokter ontbied. Die pyn was so erg dat Dennis gedink het hy sou doodgaan. Dennis is so gekasty, dat sy Pappie, toe hy tuiskom, gesien het dat Dennis alreeds genoeg gestraf was, en toe het hy hom nie 'n pak gegee nie. Later, toe Dennis beter was, het Pappie gesê: "Wel, Dennis, het daardie seuns die slag gewen?"

"Nee," het Dennis geantwoord. "Die vyand het te veel duikbomwerpers gehad. Ons kon niks teen hulle uitrig nie."

"Ek weet van nog 'n rede," het sy Pappie gesê; "twee redes om die waarheid te sê.

"Watter redes?" het Dennis gevra.

"Wel, die eerste is dat hulle verkeerde wapens gehad het - hulle het geen afweer kanonne gehad nie; en die tweede is; julle het geen bevel gekry om aan te val nie."

"Ja, dit is seker so," het Dennis geantwoord.

"Ek weet dit is so," het Pappie gesê.

En, natuurlik was hy reg.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell