# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Dapper Seuns

Nie so lank gelede nie het twee seuntjies langs die oewer van 'n rivier gespeel. Skielik het die kleinste van die twee in die water geval en met die stroom afgedryf. Sonder om nog te dink, het die groter seun in die water gespring om sy broer te red.

Nie een van hulle kon swem nie, en albei het verdrink. Dit was baie treurig, was dit nie? En hoe edelmoedig was daardie ouer broer nie?

Feitelik elke dag kan ons in die koerante lees van dapper seuns - seuns wat sonder om te aarsel in die yskoue water van die dam sal spring om 'n vriend te red; seuns wat deur die vlamme hardloop om 'n sussie te red; seuns wat nie bang is om op te tree teen bullebakke by die skool nie.

Byna elke seun besit die eienskap van dapperheid, wat op die voorgrond sal tree wanneer die oomblik daar is. Kyk maar na daardie seuntjie in die prent. Sy Vader was 'n soldaat in die dae toe daar 'n bloedige burgeroorlog in Engeland gewoed het. Die Cromwell-manne het sy Vader in die kasteel ingeneem, en hulle het na die Vader gesoek. Hulle moes hom vind, want hy was 'n belangrike man, en sy gevangeneming sou baie vir hulle beteken.

Almal in die huis is ondervra oor die skuilplek van die ridder, maar niemand wou hom verraai nie. Toe het een van die soldate 'n blink gedagte gekry. "Vra die kinders", het hy gesê, "as hulle weet, sal hulle sê."

Hulle het die kinders laat haal. Hulle was vreeslik bang, en die Moeder was nog banger, want sy het nie geweet wat die kinders mag sê nie. Die seuntjie was baie dapper. Hy het beslis geweier om te sê.

Toe die soldate hom vra, "Wanneer het jy jou Pappie laas gesien?" wou hy nie 'n woord sê nie. Niks kon hom beweeg om te sê waar sy Pappie was nie. Hoe trots was sy Moeder daardie dag om hom!

Maar seuns kan vandag net so dapper wees as wat hulle ooit in die verlede was.

'n Paar jaar gelede het 'n busvrag opgeruimde kinders hulle skool eendag verlaat onderweg huis toe. Dit was in die winter en kapok was besig om te val. Nadat hulle vir 'n paar myl gery het, het die bus in die kapok vasgeval, en hulle kon nie vorentoe of agtertoe nie. Toe het daar 'n heftige storm uit die rigting van die berge gekom. Die bestuurder het alles in sy vermoë gedoen om die kinders warm te hou. Hy het hulle hulle boeke laat opskeur sodat hulle 'n vuurtjie in 'n blik kon maak om hulle warm te hou. Na al die boeke opgebrand was, het hulle met die banke van die bus begin vuurmaak.

Toe daar nie meer hout was nie, het die besuurder die kinders laat boks en stoei en sing en dans. Hulle het daarin geslaag om daardie hele middag, en die hele nag, tot die volgende oggend aan die lewe te bly; en toe het hulle ontdek dat een klein dogtertjie gesterf het.

Dit was te veel vir die bestuurder, en hy het besluit om te gaan hulp soek. Maar die sneeu was so diep, en die wind het so ongenadig gewoed, dat hy eindelik geval en verkluim het. Voor hy die bus verlaat het, het hy een van die ouer seuns, Bryan Untiedt in bevel geplaas, en aan hom gesê dat hy ten alle koste die kinders moes wakker hou. Bryan was maar dertien jaar oud, maar hy het sy verantwoordelikheid besef, en het deur sy dapperheid die hele wêreld in beroering gebring.

Die kinders het nou agter in die bus saamgedrom vir hitte. Toe is daar ontdek dat nog 'n kind gesterf het van die koue. Dit het die kinders rasend gemaak, en in die opwinding het hulle van die vensterruite gebreek sodat die ysige wind ingewaai het. Bryan het gebrobeer om hulle op te beur deur hulle weer te laat boks en stoei. Maar hulle was moeg en kon dit nie lank volhou nie. Toe Bryan ontdek dat sy eie broertjie bewusteloos was, het hy sy klere uitgetrek, om sy boetie toe te maak. Maar sy boetie het gesterf, en toe het die kinders een na die ander bewusteloos neergeval op die vloer van die bus.

Laat daardie middag het 'n boer by die bus uitgekom. Hy was verskrik toe hy die hoop kinders in die bus bewusteloos aantref; so vinnig soos hy kon, het hy hulle na sy huis gedra. Baie van hulle was al te ver heen en het gesterf, maar Bryan het weer gesond geword. Omdat hy so dapper was, het President Hoover hom ontbied, en is hy vir 'n hele paar dae by die Withuis onthaal.

Maar nie alle dapper dade geniet publisiteit nie. Baie word ongemerk gedoen, en net God alleen sien hulle, maar hulle is seker onder die dapperstes. Dit is baie dapper om die waarheid te praat wanneer dit lyding mag veroorsaak.

Wanneer 'n onderwyser op skool vra, "Wie het gepraat terwyl ek uit die kamer afwesig was?" is dit baie dapper om jou hand op te steek en te sê, "Ek, Meneer," as jy skuldig is. Die onderwyser mag jou laat skoolsit of jou op 'n ander manier straf, maar in sy hart sal hy jou admireer vir jou dapperheid.

Dit is dapper om versoeking om kwaad te doen te weerstaan; om te sê: "Ek kan dit nie doen nie," wanneer iemand jou wil verlei om te steel of 'n leuen te vertel. Dit kos soms meer moed om dit te doen as om in die water te spring en iemand te red.

Dit is ook dapper om te weier om te lag wanneer dit ander sal seermaak, of om te lag vir 'n vuil grap. Die seun wat sulke geselskap verlaat, of wat sal sê, "Nee, kêrels, hou op daarmee, dit is nie reg nie," is 'n dapper seun.

Die wêreld het vandag groot behoefte aan dapper seuns en dogters.  Hulle is orals nodig. Hulle is nodig in die skool, op die speelgrond, en in die stryd van die lewe. Mag die Here hulle seën!

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell