# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Voorwoord

In 1949 was Jan Smuts, leier van die Verenigde Party en voormalige eerste minister, een van die sprekers by die inwyding van die Voortrekkermonument. Met sy effens formele Afrikaans het hy liries oor die Afrikanergeskiedenis gepraat. "Watter jong volk kan op 'n meer romantiese geskiedenis roem, een van meer ingrypende belang? Kleur, insident, tragedie en komedie, nederlaag en oorwinning, vreugde en smart...Ons voorgeskiedenis is van die aangrypendste menslike belang. Had ons maar die pen van die Grieke wat 'n literariese (sic) bydrae sou ons nie maak tot ons toekomstige skatte! Daar is 'goud' nie alleen in ons aarde nie, maar nog meer in ons geskiedenis. Daar was so min teken van 'n deurdagte plan, so veel van die misterie..."

Die Afrikaanse nasionalistiese geskiedskrywing van die vorige eeu het die romantiese, die heroiese, die goud van die Afrikaners se geskiedenis beklemtoon, maar dit was dikwels 'n skewe voorstelling. Die lyding,die swaarkry en die geringskatting van bruin en swart mense en hul groot bydrae tot die totstandkoming van die komplekse samelewing en gesofistikeerde ekonomie en infrastruktuur is onderbeklemtoon of verswyg. Dit was 'n toejuiging met net een hand wat klap. 

In die afgelope veertig jaar wa die voorstelling dikwels skeef na die teenoorgestelde kant. Die heroiese stryd van swart en bruin teen onderdrukking het - tereg - groot aandag geniet. Maar daar was 'n neiging om die rol van wit mense, en veral dié van die Afrikaners, tot dié van onderdrukkers en uitbuiters te reduseer. 

Dit het 'n sentrale deel van die African National Congress se propaganda geword en vind byvoorbeeld neerslag in Thabo Mbeki se toespraak "The Historical Injustice", oorspronklik in 1978 gelewer en opgeneem in sy Africa: The time has Come, 'n bundel toesprake en essays wat in 1998 verskyn het. Hy skets 'n geskiedenis van 350 jaar van menseslagting, verslawing, uitbuiting en die oordrag van siektes. Hoewel die swartes "the producers of wealth" was, was dit nie vir hul eie voordeel nie, maar vir "appropriation by the white population". Terwyl die kapitalisme onder Britse beheer aan die spits van die uitbuiting van swart mense gestaan het, het die Boere volgens Mbeki alles wat dinamies is laat vaar "and lapsed into a state that was feudalistic, primitive, stultified and reactionary".

Hierdie siening van die Afrikaners van die agtiende eeu is ook te vind in Allister Sparks se invloedryke The Mind of South Africa, wat in 1990 verskyn het. Die Europese koloniste wat aan die Kaap wortelgeskiet het was volgens hom "surely the simplest and most backward fragment of Western civilization in modern times". Hierdie bewering word gemaak sonder om te let op die genuanseerde oordele van ervare reisigers in die negentiende eeu. George Thompson het byvoorbeeld in sy Travels and Adventures in Southern Africa van 1827 onderskei tussen die Afrikaners as individue, onder wie daar sommige was wat hy barbaars, lui en beginselloos gevind het, en die groep, wat hy as van 'n hoër gehalte beskou het as hul eweknieë in baie ander Europese kolonies, ook in die twee Amerikas. Thomas Pringle, 'n opgevoede Britse setlaar, het sy Afrikaanse bure in die Oos-Kaap as ongekultiveerd en bevooroordeeld teenoor die Khoi-Khois beskryf, maar die groep in die geheel het hy as beskaafde, opgeruimde mense met 'n knap sakesin beskou.

In baie opsigte was die beeld vwat radikale opponente van die Nasionale Party-regering geskilder het die teenoorgestelde van die verheerliking van die Afrikaners deur die Afrikanernasionaliste gedurende die eerste helfte van die vorige eeu. Hulle het 'n idealistiese prentjie opgebou wat ewe min verband hou met die werklikheid as die karikatuur van die anti-apartheid-beweging. By baie Afrikaners van 'n jonger geslag het dit die opvatting laat posvat dat die geskiedenis op sy ergste 'n nagmerrie is waarvan hulle graag wil ontstnap. Saam met die ondergrawing van die geskiedbeeld het die snelle afskaling van Afrikaans as openbare taal gekom. Daar het 'n opvatting ontstaan dat die kultuur rondom Afrikaans, ook die Afrikaanse geskiedskrywing, irrelevant is vir die uitdagings waarvoor Afrikaners in die een-en-twintigste eeu staan. 

Een van die simptome hiervan is die houding van mense wat in Afrikaanse skole en universiteite was en Afrikaans as hul eerste taal praat, maar nie as Afrikaners bekend wil staan nie. Die vernaamste rede is dat hulle - foutief en ahistories - meen dat die term Afrikaner deur sy assosiasie met Afrikanernasionalisme en apartheid fataal besmet is. 'n Verwante simptoom is om die term Afrikaner net tot wit mense te beperk omdat gemeen word - weer eens foutief - dat min mense, behalwe wit, konserwatiewe mans, daartoe aangetrokke voel. Hierdie boek toon aan dat die term Afrikaner dikwels in die geskiedenis op 'n oop en inklusiewe wyse gebruik word en dat mense uit 'n breë spektrum bereid is om hulle self ook as Afrikaners te beskou, mits die term nie met rassisme en uitsluiting vereenselwig word nie. 

Ander dink weer dat hulle 'n keuse tussen Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap moet maak. Daar is 'n wanopvatting dat 'n mens moet kies tussen jou betrokkenheid by jou land en die samelewing as geheel en jou bepaalde taal- of etniese gemeenskap. In die huidige tyd van postmodernisme, met die stryd tussen die kapitalisme en die kommunisme verby, word die idee van 'n meesternarratief en 'n meesteridentiteit verwerp. Daar word besef dat die demokrasie juis versterk word as subnasionale gemeenskappe en minderheidstale geborge voel. Die toekoms van Afrikaners  en Afrikaans as taal lê in veelvuldige lojaliteite: Afrikaner en Suid-Afrikaner, Afrikaner en Afrikaan, Afrikaner en Westerling, Afrikner en wêreldburger. Hierdie boek is gerig op plaaslike lesers, maar op 'n spesiale manier ook op Afrikaners wat in die buiteland woon, onder wie my twee kinders. Die boek Tribes van Joel Kotkin, wys daarop dat die wêreld se suksesvolste uitgewekenes, onder wie die Jode, Britte, Chinese, Japannese en Indiërs, mense is wat nie in die buiteland in hul nuwe omgewing wil wegsmelt nie, maar baie bewus is van hul eie, unieke geskiedenis en kultuur en baie moeite doen om bande met hul geboorteland en "stamgenote" te behou en instellings in die land finansieël en geestelik ondersteun. Die sleutel tot hul sukses is 'n sterk gebondenheid aan 'n gemeenskap in hul vaderland en saam daarmee 'n goeie opvoeding, hardwerkendheid, spaarsaamheid en sterk familiebande.

In onlangse jare het die gestaltes van Afrikaner-wees radikaal verander. Dit beteken nie meer om deel te wees van 'n gemeenksap wat die land vir hom self toe-eien en op ander mense trap nie. Dit beteken nou 'n vrye, mobiele en soms virtuele gemeenskap, wat mekaar op kuns- en musiekfeeste vlugtig ontmoet, op die internet met mekaar in aanraking bly en moeite doen om Afrikaans in die huisgesin en op skool en universiteit lewend te hou. As Afrikaners as gemeenskap en Afrikaans as taal wil oorleef, sal mense moet weet uit watter hoek hulle kom en hul eie storie - hul eie 'historie' - ken. Netwerke tussen die Afrikaners in die diaspora en die mense by die huis is lewensbelangrik vir die oorlewing van Afrikaans en Afrikaanse gemeenskappe. Een van die bande is die besef van historiese wortels. Soos 'n Chinese digter 'n millenium gelede gesê het: As die verlede wegval, disintegreer die wil. Ek het die boek veral geskryf vir mense wat vandag na hul wortels soek, maar geen begeerte het om met die tradisionele nasionalistiese interpretasie, wat praat van 'n volksiel of goddelike bestemming, gekonfronteer te word nie. 

Tot dusver het daar al ses boeke in Engels oor die geskiedens van die Afrikaners verskyn. Daar is, merkwaardig genoeg, geen werk in Afrikaans wat die Afrikaners se geskiedenis in 'n enkele band beskryf nie, maar wel die agt bande van G.D. Scholtz se Die Ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, wat die tydperk van 1652 tot 1948 behandel. 

Toe ek in 1992 as genoot van die Woodrow Wilson Center for International Scholars in Washington met 'n manuskrip oor die Afrikaners begin, het ek besluit om dit eerste in Engels te skryf. In die VSA was daar intense belangstelling in Suid-Afrika en die onderhandelings oor 'n nuwe grondwet. Ek was aanvanklik van plan om 'n korterige boek net oor die meer onlangse tydperk in die Afrikaners se geskiedenis te skryf en om veral by Amerikaners 'n beter begrip van die ingewikkeldheid van ons situasie te bevorder. Dit het in die loop van my nege maande  in Washington duidelik geword dat die Afrikaners nie volgens 'n nuwe grondwet die mag sou deel nie, maar dit waarskynlik sou verloor. Ek het dus besluit om 'n heeltemal ander boek te skryf, en wel 'n boek waarin die geskiedenis van die Afrikaners deur meer as drie eeue beskou word vanuit 'n posisie waarin hulle dikwels was: dié van 'n minderheid afhanklik van bondgenote, maar veral van die wil om te oorleef al staan hulle alleen. ek het aanvanklik gedink die manuskrip sou binne twaalf maande voltooi wees; op die ou end het dit meer as tien jaar in beslag geneem. Die Engelse weergawe het in 2003 verskyn as The Afrikaners: Biography of a People, met die University of Virginia Press as die uitgewer in die VSA, Hurst and Co. in Londen en Tafelberg in Suid-Afrika. 

In die Engelse weergawe en in hierdie werk het ek twee dinge probeer doen. ten eerste wil ek 'n werk beskikbaar stel wat berus op die heel jongste navorsing oor die Afrikaners en voldoen aan die akademiese maastawwe vir 'n grondige besinning. Ten tweede wil ek met dié werk die algemene leser probeer bereik wat belang stel in geskiedenis as 'n storie en in 'n boek wat dit op pakkende wyse vertel. Dit is een van die tragedies van die moderne geskiedskrywing dat, terwyl dit tegnies al meer gesofistikeerd geraak het, dit dikwels vir die algemene leser ook al hoe ververliger geraak het. Die feit dat daar wêreldwyd 'n afname in die verkope van historiese werke is, is nie die publiek se skuld nie. Historici het afgeleer hoe om mense te boei. Ek hoop dat dié boek aan een van die belangrikste eise vir alle skryfwerk voldoen, naamlik leesbaarheid en die verskaffing van lesersgenot. 

Van al Suid-Afrika se gemeenskappe het die Afrikaners tot dusver die heel grootste impak, goed of sleg, op die land gemaak. Hul verhaal is dié van europese koloniste wat inheemse gemeenskappe van hul grond afgestoot, hul gemeenskappe ontwrig en hul kinders as arbeiders 'ingeboek' het, maar ook dié van mense wat met 'n paternalistiese benadering vir 'hul volk' gesorg het. Al was hierdie paternalisme nooit op gelykheid gegrond nie, het dit ontwikkel tot 'n onderlinge afhanklikheid en die ontstaan van 'n veelrassige en interafhanklike samelewing, wat Suid-Afrika in so 'n skerp kontras laat staan met Australië en Noord- en Suid-Amerika, waar Europese koloniste die inheemse bevolking grotendeels uitgewis het. 

Ook in 'n ander opsig was daar 'n groot verskil tussen die Afrikaners en die koloniste in ander Europese kolonies. Teen 1790 was daar vier miljoen wit Amerikaners, wat teen 1850, 24 miljoen geword het. In Suid-Afrika was daar in 1798 maar 20 000 Afrikaners, wat in 1878 ongeveer 220 000 gestyg het. Die Boererepublieke se bevolking was so klein dat die vrees dat die bevolking kon uitsterf een van die belangrikste redes was waarom die Boerevegters in 1902 besluit het om vrede te sluit. Eers in 1931 het die Afrikaners die miljoen-merk verbygesteek, en teen 2003 was daar volgens Jan Sadie se berekening maar 'n skrale 3,2 miljoen Afrikaners, van wie ongeveer 150 000 oorsee woonagtig was. 

Hierdie getalswakte van die Afrikaners was die vernaamste oorsaak van die vrese oor veiligheid en kulturele oorlewing. Hierdie het nog gekom dat die Afrikaners gemaal is deur die rotsblokke van die swart mense met hule getalsoorwig en die Engelssprekendes met hul kultuuroorwig. G.D. Scholtz het daarop gewys dat die Afriakners nooit "safety in numbers"  geken het nie, en wat dit betref het die Afrikaners vergelyk met die Baltiese volke, wat gevorm is deur hul vrees vir die groot getalsoorwig van hul russiese bure. Aan die begin van die twintigste eeu was die Boere die eerste vryheidsvegters van die eeu. Die Afrikaners is mense wat laat verstedelik het en in die finansiële wêreld en die industriële ekonomie dikwels verlore gelyk het, maar van die 1920's af 'n ongelooflike skeppingskrag en oorlewingsvermoë aan die dag gelê het. Generaal J.B.M. Hertzog se Nasionaliste het met Yskor en Eskom die voortou geneem in die vestiging van staatskorporasies en die stimulering van plaaslike nywerhede wat, saam met die hoofsaaklik Engels-beheerde private sektor, daartoe bygedra het om Suid-Afrika ekonomies selfstandig te maak. 

Dit vertel die storie van mense wat Afrikaans binne 'n kort tydjjie omskep het in 'n gevorderde kultuurtaal wat op alle terreine van die lewe gebruik kon word - een van net vier tale in die wêreld wat dit in die twintigste eeu kon regkry. Dit is die verhaal van mense wat die vervaardiging van petrol uit steenkool tot 'n hoogs suksesvolle bedryf ontwikkel het, wat atoombomme gebou en die eerste hart oorgeplant het. dit is ook die storie van mense wat apartheid ingestel het - wat van hulle die muishond van die wêreld gemaak het - en wat verwoestende oorloë in Suider-Afrika gevoer het. 

Ten slotte is dit die storie van mense wat in die 1990's  die mag prysgegee het voordat hulle verplig was om dit te doen, iets wat nog selde gebeur het. Wat aan hierdie besluit ten grondslag gelê het, was die oordeel dat hule oorlewingskanse so beter sou wees as onder 'n wit diktatuur. Die Afrikanerdebat oor oorlewing - en heftige meningsverskille oor wat oorlewing behels - gaan ver terug in 'n geskiedenis wat soms heroies, soms tragies, deurgaans boeiend is. Dit is 'n verhaal vol drama, ironie en paradokse. 

Hierdie Afrikaanse uitgawe van die boek en die Engelse uitgawe verskil op die volgende maniere van mekaar: Die inleiding en die laaste deel van hoofstuk 16 is nuut. Hoofstuk 3 van die Engelse uitgawe is aansienlik verkort en hoofstukke 3 en 4 is saamgevoeg. In die ander hoofstukke is hier en daar materiaal in die Afrikaanse uitgawe bygewerk om die stof duideliker te maak, terwyl daar op 'n paar plekke besprekings van abstrakte akademiese kwessies weggelaat is. Die vertolkingslyn bly egter deur die hele boek dieselfde. Anders as hierdie uitgawe is die Engelse uitgawe voorsien van omvattende bronneverwysings en 'n omvattende bibliografie. Die leser wat die bronne wil naslaan waarop die feite en vertolkings berus, word na die engelse uitgawe verwys. 

Die inleiding van die Engelse uitgawe verduidelik hoe die vertolking aansluit by of verskil van die vernaamste benaderings van vakhistorici. Ek verskaf meer inligting oor die agtergrond van die skryf van die boek in die C.J. Langenhoven-gedenklesing wat ek op 18 September 2003 op uitnodiging van die Universiteit van Port Elizabeth gehou het. Die universiteit het dit onder die titel "Rediscovering and re-imagining the Afrikaners in a new South Africa: autobiographical notes in writing an uncommon biography" in hul reeks "Seminars, Simposia and Lectures" gepubliseer. 'n Hersiene weergawe het verskyn in die Nederlandse vaktydskrif Itinerario: European Journal of Overseas History, deel 27, nommer 3/4 (2003).

Ek het 'n soepel beleid ten opsigte van aanhalings gevolg. Uitlatings wat oorspronklik in Engels of Hollands gemaak is, het ek in Afrikaans vertaal, behalwe waar ek gemeen het dat 'n vertaling  iets verlore sou laat gaan. Dit is 'n plesier om van die beste stiliste in Afrikaans, mense soos C.J. Langenhoven, N.P. van Wyk Louw, Piet Cillié, Schalk Pienaar en Breyten Breytenbach, in hul eie woorde aan te haal. 

Ek wil graag die volgende skrywers bedank wat my toegelaat het om aan te haal uit manuskripte wat eersdaags verskyn. Ek het aangehaal uit John Kannemeyer se manuskrip van sy biografie van Jan Rabie en dié van sy verwerkte geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Uit Ebbe Dommisse se manuskrip oor die lewe van Anton Rupert het ek dele  van die briefwisseling tussen Rupert en P.W. Botha vroeg in 1986 aangehaal. Dit was 'n plesier om met die volgende mense saam te werk wat met groot profesionaliteit bygedra het tot die publikasie van die Afrikaanse Afrikaners: Corinne Harmsen met tikwerk, Nazli Jacobs met ontwerp en set, Erika Oosthuysen met redaksionele bystand en P.A. Joubert met teksversorging. Hannes van Zyl, voorheen van Tafelberg, het van die begin af in sowel 'n Engelse as 'n Afrikaanse Afrikaners geglo. Met dank ook weer aan Ton Vosloo, Richard Elphik, Jeannette Hopkins, Nicky Stubbs en al die ander mense wat bygedra het tot die oorspronklike Engelse boek, sowel as die Universiteit van Stellenbosch, wat my as buitengewone professor in geskiedenis aangestel en aan my 'n kantoor en navorsingsbystand gebied het. Ek kon steeds reken op die ondersteuning en advies van Albert Grundlingh van die departement. Die dank wat ek in die Engelse uitgawe teenoor Annette Giliomee uitgespreek het, bly net so waar. Ek dra die boek op aan die nagedagtenis van my vader, wat op Porterville my geskiedenisonderwyser was, en my moeder. Hulle het hul gemeenskap met 'n gees van republikeinse betrokkenheid gedien...Ek dra dit ook op aan my kinders, Francine en Adrienne, wat in twee taalwêrelde leef, en my kleinkinders, James Giliomee Lake en Emma Frances Lea. My hoop is dat hulle, saam met veelvuldige ander identiteite, ook met die Afrikaners sal identifiseer en dat hulle vir Afrikaans lief sal wees of word.

Hermann Gililomee

Stellenbosch

Augustus 2004